Potjiekos vir ‘n Engelsman
Dié Engelsman word opgekommandeer uit Londen uit, om die assistent te word vir ’n opregte boerseun pastoor in die Boland. Geen mens, Engels of Afrikaans, is by magte om dié man te verstaan nie. Behalwe dat dit soos ’n wildvreemde taal klink wat hy praat, praat hy ook soos ’n snelbouler teen honderd en veertig kilometer per uur.
Die gemeente is egter geduldig en hy probeer sy heel beste om ten minste die woorde verstaanbaar uit te spreek en onder die spoedgrens te bly. Een van die Afrikaanse lede wil Afrikaner hartlikheid en gasvryheid bewys en nooi die Rooinek vir potjiekos. Einste Rooinek vertel anderdag, ’n heel paar jaar later:
Ek het nou al geleer om aan te pas by ’n opregte Suid-Afrikaanse braai. Voor ek gaan, eet ek eers, want ek het nou geleer dat as ek daar aankom, sal daar nog geen vuur eers brand nie.
Voor daar enige taak verrig word, skink ons eers ’n ietsie. Dan, glas in een hand, word die koerantpapier gebondel en bedek met fyn houtjies. Wanneer dit brand, word daar geleidelik en sonder enige haas, dikker groter stompies opgepak. En nog. En nog. Tot dit naderhand soos Guy Fawkes se kampvuur lyk.
Dis nou al ’n uur na Engelsman se aankoms. Die vuur neem so om-en-by twee ure om effe uit te brand, sodat mens ’n vleisie kan gaarmaak sonder om dit te veras. Drie ure later is hy weer honger genoeg om te eet. Net in tyd vir die braaivleis wat nou gaar is.
So word hy op ’n ander keer genooi vir potjiekos.
‘Het jy al potjiekos geëet?’
Engelsman weet nie waarvan die man praat en is nie eers by magte om die woord oor sy Britse lippe uit te rol nie.
‘Nee,’ sê hy en hy word beveel, eerder as genooi, om Saterdagaand half ses aan te meld vir ’n lekker Suid-Afrikaanse potjiekos kuier.
Verheug dink hy: ‘Uiteindelik! Daar is voorwaar een Suid-Afrikaner wat respek het vir ’n ordentlike tyd om te eet.’
Daar gekom brand die vuur darem al. Weer moet almal eers ’n glasie in die hand kry en toe bring die gasheer die rondste, swartste pot te voorskyn wat Rooinek nog ooit gesien het. Dis op hierdie oomblik dat sy lesing in ‘potjiekos maak’ ’n aanvang neem. Rooinek en vroutjie is die enigste gaste tot eers ’n uur later, want al die ander gaste is mos goed kapabel om pot te maak.
Eers die olie en toe die gekapte uie en knoffel. Deurlopende kommentaar verskaf al die redes, hoeveelhede, metodes en variasies vir hierdie dis. By die toevoeging van die skaapskenkels, besef Engelsman: ‘hier is moeilikheid!’ Potjiekos ken hy nie, maar een ding wat nie twee is nie, hy weet dat skaapvleis in ’n pot, enige pot, swart of blink, nie binne ’n halfuur of selfs ’n uur, gaar sal word nie.
Wat hy ook weet is dat hy moes geweet het om eers te eet voor hy vir sy potjiekos-les aangemeld het, want hier gaan ’n man nog bewerig honger word vanaand. Daar is egter nie ’n tekort aan sap vir die dors nie. Hy bid net dat die potmaker sal staande bly tot die kos gaar is.
Drie en halfure, honderd en vyftig minute later, mag die deksel vir die eerste keer, gelig word. Tienuur daai aand, net voor Rooinek se knieë knak van hongerte, word daar uit-bloemieng-eindelik opgeskep.
Rooi nek het vir die tweede maal dieselfde les geleer. Eet eers ’n bord kos, voor jy by enige Suid-Afrikaner gaan braai. Of gaan potjiekos maak!
4 Kommentare
-
Toom
Sie'jy! Sie'jy?! Ek sê mos altyd: 'n blik deur ander mense se bril (of rooi of nie) bring die heerlikste self-erkentnisse! Mos. Nè? Of hoe? GvT
-
Anze
hahaha, kostelike vertelling... en ons gaan NOU braai kry sommer n nuwe betekenis!!!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Okatopi
Pragtig gese Kiekies :-)