Jongste aktiwiteit:

Regverdigheid en Imma se Auntie

Regverdigheid en Imma se Auntie

Een oggend kom James, ons huiswerker, by die werk aan met die nuus dat daar ‘n dooie ou so entjie van die huis af in die straat lê. Ek en die seuns en Imma, ons tuinwerker, klim dadelik in die voertuig, want dit moet ‘n ding wees om te aanskou. Soos ons in die grondpad van die huis af ry, sien ek ‘n hele spul mense saamdrom om ‘n paar polisiemanne in die pad. Imma spring uit en meng met die skare om die storie uit te vind, terwyl ons stadig verbyry. Daar lê inderdaad ‘n man, morsdood in die pad, met ‘n panga in sy agterkop.
Later kom vertel Imma die storie. Blykbaar het die knaap en ‘n handlanger ‘n motor probeer steel by ‘n huis so entjie in die pad af. Die honde het die eienaar wakker geblaf en hy hardloop toe agter die diewe aan. Ongelukkig vir hulle was daar maar min petrol in die motor, en toe gaan staan die ding. Die diewe spring toe uit en hardloop weg, maar die eienaar was te vinnig en die een dief is met die panga van agter gekap, en hy is dood. Die ander dief het ontsnap. Die motoreienaar sal nie vir moord aangekla word nie, want hy het die stelery probeer verhoed en die dief is dood as gevolg van die diefstal en dis alles sy eie skuld.
Die logika hieraan is so ‘n bietjie skeef, maar as gas in ‘n vreemde land praat ek nie uit oor my sieninge van reg en geregtigheid nie. Soos ek dit verstaan is ‘n dief (mwizi) die laagste op die lys en as enigeen homself sou skuldig maak aan diefstal, boet hy met sy lewe, is hy verantwoordelik vir sy aksies en die gevolge van sy aksies. Dit maak die hele saak van bos-hof baie “oop”. Die gevaar is dat enigeen dan die gereg in sy eie hande kan neem en iemand van wie hy nie hou nie, kan vermoor, met die verskoning dat die persoon ‘n dief was. So is ‘n man doodgesteek omdat hy kwansuis ‘n televisiestel uit ‘n huis wou steel, maar daar was geen inbraak gewees nie.
Imma, kort vir Immanuel, was die snaaksste van snaakse mense en het altyd ‘n snaakse storie gehad. Hy was oorspronklik van Zambië, maar het in Tanzanië grootgeword en het hul taal en gebruike goed geken. Een mooi dag kom Imma by my aangesit met die versoek dat hy asseblief ‘n paar dae verlof kan neem. Ek stem toe in, maar vra sommer so terloops of daar nou fout is en of alles reg is. “Wel,” antwoord Imma, “by my is als reg, maar by my `uncle’ is daar probleme, matatiso mkubwa!” (Groot probleme). Imma is toe daar weg en drie dae later is hy terug, elke oog so groot soos ‘n piering.
Nadat ons almal tee en ‘n beskuitjie genuttig het, is ons op ons gebruiklike sitplekke om die verhaal van Imma se “uncle” se groot probleem te hoor. In Tanzanië word kinders in krale groot en elke ouer mens is elke kind se oom of tannie. Elke volwassene neem verantwoordelikheid vir die grootmaak van elke kind, dus is die kinders altyd veilig. So kom dit dan dat Imma se “auntie” en sy “uncle” nie bloedverwant aan hom is nie, maar wel net van die kraal of stat waar hy grootgeword het. Hulle beskou hom steeds as hul kind en hy respekteer hulle steeds as ouer mense in sy lewe, soos ‘n oom of ‘n tannie. Ongelukkig is Auntie nou al in die vyftig iewers en Uncle is al oor sestig en hulle het geen ander familie nie, net vir Imma. Imma vertel ons toe die storie.
Auntie het blykbaar ‘n plaas in die noorde, naby Arusha. Die plaas is nou nie ‘n plaas soos ons plase in die bosveld ken nie, maar meer net ‘n plot of ‘n lappie grond. Sy betaal mense wat daar woon om die grond namens haar te bewerk, en dan neem sy wat hul ook al verbou, en verkoop dit op die mark in Dar es Salaam. Auntie reis dan ook so een of twee maal per maand die negehonderd kilometer na die plaas om dan daar te gaan inspeksie hou, want volgens Imma is sy maar ‘n moeilike kalant. Met die maande van heen en weer reis het die dame snuf in die neus gekry dat haar man ‘n verhouding met ‘n ander dame aan die gang het. Sy was seker hulle ontmoet mekaar die oomblik as sy na die plaas vertrek. Dis toe net hier waar Auntie ‘n plan beraam, want sy wil mos nie haar man aan ‘n ander flerrie afstaan nie.
Sy reël met Imma dat hy op ‘n sekere dag by haar huis sal wees. Sy verduidelik aan hom dat hy net as getuie daar sal wees en dat hy niks mag sê of tussenbeide mag tree nie, hy moes net getuienis wees. Ek vra hom toe van watse getuienis praat hy, en hy verduidelik toe dat dit die gebruik is om ‘n getuienis teenwoordig te hê om seker te maak gepaste dissiplinêre straf is korrek en sorgvuldig uitgedeel. Met so ‘n verduideliking kon ek nie anders as om stil te bly en verder te luister nie. Die hele vertelling kom natuurlik met gebare en gespring van Imma, soos ‘n verhoogopvoering, en word deur James en ook my oudste seun vertaal, sodat ons almal kan verstaan presies wat aangaan.
Imma vertel dat hy, soos afgespreek, vir Auntie om die draai van haar huis gekry het. Sy het blykbaar die oggend vir Uncle gesê sy gaan Arusha toe, maar sy het net ‘n entjie gery, by iemand gaan tee drink, en toe vir Imma gewag. Die twee is toe saam na Auntie se huis. Toe hulle instap, vind hulle nie net ‘n ander dame wat by Uncle kuier nie, maar hulle vind vir Uncle en ‘n baie jonger ander dame in ‘n baie intieme oomblik, kaalbas op die bank in die sitkamer. Uncle was blykbaar so fluks aan die gang dat hy hulle nie hoor inkom nie, en die jong dame se gilletjies was volgens Imma op ‘n baie hoë noot. Met die vertelling rol hy op die gras soos hy lag en ons moet net keer dat die twee jonger manne nie mooi verstaan waarvan hy praat nie. Imma sê hy dog toe dis hier waar die moeilikheid gaan begin.

Auntie het blykbaar die situasie net een kyk gegee, die deur gesluit en die sleutel in haar sak gedruk. Daarna het sy die twee se klere alles opgetel en by die sitkamervenster in die straat uitgegooi. Die bank-manewales het intussen gestop en die jong dame se gilletjies het in ‘n sagte gehuil verander. Uncle het in hierdie stadium reeds op sy knieë rondgekruip en om vergifnis gesmeek. Nie lank nie of die jong dame het vreeslik aan die huil gegaan en alles probeer om haar naaktheid te bedek. Imma het net stilgebly en gekyk. Intussen, met al die geskree en geraas, het mense van buite om die huis begin saamdrom om te sien wat nou eintlik die probleem is. Omdat hulle privaat sake in hul eie hande neem, word die polisie nie ontbied nie, en al sou hulle opdaag sal hulle nie inmeng in so ‘n private aangeleentheid nie.
Die volgende oomblik pluk Auntie ‘n karwats uit en toe die tweede hou oor die jong dame se boude streeptrek, toe gil sy blykbaar soos ‘n kat wat in die nag skreeu. Imma sê dit was verskriklik, en hy maak die gegil so na dat die honde begin blaf. Nadat ons hulle gekalmeer het vertel hy verder. Die dame is blykbaar, heel kalbas en al, onder die tafel tussen die stoele in, maar Auntie het haar daar uitgepluk aan haar hare en sommerso tussenin nog twee houe met die karwats toegedien. So hardloop Auntie al om die tafel agter die kaal vrou aan en elke tweede draai dan klap die karwats en dan gil die vrou en dan vloek Auntie iets vreesliks. Imma sê hy het maar in ‘n hoekie weggekruip en die petalje aanskou. Daar was omgekeerde stoele en tafeltjies en potte en al wat ‘n ding is. Die vroumens het haarself ‘n paar keer probeer verdedig, maar soos sy stop, het Auntie net gemoker met die karwats dan gil die vrou en dan harloop hulle weer deur die huis.

Uncle het intussen onder die sitbank se kussings probeer inkruip. So na die agste of tiende hou, Imma is nie seker nie, het Auntie die venster oopgemaak en die jong dame is daar uit soos ‘n vlermuis, al gillend en skreeuend, om haar klere op te tel. Soos sy daar staan en huil en aantrek en gil en vloek het die skare omtrent kommentaar gelewer op die karwats-hale op haar kaal agterent en bene. Meeste mense het gelag en gespot en sy was behoorlik verneder. Imma reken dis toe dat die werklike moeilikheid begin.
Auntie pak toe vir Uncle daar waar hy onder die bank se kussings wegkruip. Sy gryp die kussings van hom af en toe sy onderlyf sigbaar is toe lê sy in met die karwats. Uncle het een gil gegil en bo-oor die ruglening probeer klouter, maar toe hy boude wys, toe klap die karwats weer en hy spring toe sommer in die lug op, loshande oor die ruglening. “Kama nguruwe!” (soos ‘n vark) roep ek uit en beide James en Imma antwoord, “Sawa, indio” (Ja, inderdaad). Toe hy grondvat, slaan Auntie weer en hy trek toe daar weg soos ‘n bliksemstraal. In dié stadium het Imma al ‘n stoel in die hande waaragter hy gebukkend skuiling soek, want hy reken Auntie was “mbaya sana sana” (Baie, baie kwaad). Hy was bang dat sy in haar woede hóm ook sommer ‘n pak slae sou gee.
So jaag Auntie toe vir Uncle, eers deur die sitkamer en dan in die eetkamer om die tafel, dan in die gang af, dan weer deur die sitkamer. Elke keer as Uncle om ‘n hoek gaan, klap die karwats en dan spring die ou sulke bokspronge oor die stoele of ander meubels, en hy skree soos ‘n vark wat geslag word. Auntie het ook so deur die gespring en gehardloop gevloek en met elke hou wat val het sy hom ‘n ander naam toegesnou. Soos Imma verduidelik hardloop en bokspring hy deur die tuin en ons rol van die lag. Dit was blykbaar ‘n petalje om te aanskou, maar elke keer as Uncle binne raakslaan- afstand kom, het Auntie hom met die karwats gelooi. Die ou se boude en sy bene was later bloedrooi van al die slae. Soos belowe het Imma nie tussenbeide getree nie en ook geen woord gesê nie.
Nadat Auntie en Imma al twee gevoel het daar is genoeg dissipline toegepas, is die deur oopgesluit. Uncle is toegelaat om voor al die buitestaanders en nuuskieriges sy klere op te tel en homself aan te trek. Dit is alles deel van die straf, want hy moet volgens gebruik, voor sy gemeenskap verkleineer word en sy skuld, asook straf moes openbare kennis word. Die gemeenskap se misnoeë oor sy wandaad asook hul goedkeuring van die straf wat uitgedeel is was hardop deur gemeenskapsleiers uitgespreek en aanvaar. Op hierdie manier sal die gemeenskap dan sorg dat hy nie weer dieselfde gedrag openbaar nie, of altans so is dit veronderstel om te wees. Die jong dame sal wel deur haar eie gemeenskap oor die kole gehaal word vir haar aandeel in die hele episode, want nuus loop vinniger as ‘n veldbrand wanneer sulke wandade plaasvind en die dade van skuldiges wat hulself in die geheim ontbloot, word gou in die openbaar ontbloot.

Ná die vertelling het ons lekker gelag, maar tog het ek gewonder of daar nie ‘n mate van diensbaarheid in die gebruik is nie. Daar is soveel owerspel in ons eie gemeenskappe, sal dit dan nou nie interessant wees as partye wat verontreg is die skuldiges met ‘n karwats bydam nie? Ek dink die interessantste deel van die oefening sal wees om te sien wie spring uit wie se venster om die karwats te ontduik.

© Grootvissie
September 2017




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed