RESENSIE: Die Seun met die Fiets, die film
Die Seun met die Fiets
Cyril (sê „Suuríél“) is so elf, twaalf jaar oud, en sy pa het hom „voorlopig” in ‘n koshuis gebring omdat hy met sy eie lewe nie kon klaarkom nie. Wie sal hy nog ‘n kind grootmaak? Na ‘n maand kry die seun gedurig „geen verbinding onder hierdie nommer nie” wanneer hy probeer om sy pa te bel. Hy is ‘n choleriese klein rooikop en loop sommer van die skool af weg – om sy pa te soek, natuurlik. Natuurlik weet die onderwysers en die oppassers van die tehuis waar om hom te soek. Maar eers as iemand van die huisbestuur hulle wys dat die woonstel werklikwaar leeg is, moet hy erken dat sy pa nie meer daar is nie. Dan gebeur twee dinge: Hy sien sy eie fiets wat iemand moes gesteel het, en, terwyl hy van die volwassenes probeer wegloop, bars hy in ‘n dokterspraktyk in en klou vas aan iets, enigiets. Dis ‘n vrou, die eienares van ‘n haarkapsalon om die hoek, Samantha (sê „Samânta”)
.
[LE GAMIN AU VÉLO / DER JUNGE MIT DEM FAHRRAD; 2010; regie Jeanne-Pierre en Luc Dardenne; met Thomas Doret, Cecile de France; België/Frankryk/Italië; 87 minute.]
.
Almal by die dokter het gehoor en gesien wat gaan aan, ook Samantha [de France], wat dan self ‘n bietjie gaan navors. Na ‘n paar dae bring sy Cyril [Doret] sy fiets weer. Sy het dit van die nuwe eienaar teruggekoop, wat dit eerlik van sy pa gekoop het. Hulle sien die advertensie in ‘n skouvenster en gaan soek hom by sy nuwe adres op. Hy werk in die kombuis van ‘n restourant. Die vader, Guy (sê „Ghuu”) sê dat hy geldprobleme het en kan sy seun nie in sy kamertjie opneem nie.
Cyril en Samantha word vriende en hy mag haar oor die naweek besoek. Tot hy eendag Wes leer ken, ‘n groot seun, miskien sewentien, agtien, bynaam „die Dealer”. Wes het so ‘n tawwe kêreltjie nodig om ‘n klein sakeman te oorval en die dag se inkomste te steel. Gesag, gedaan; geplan, geleer en geoefen. Alles loop perfek, buiten dat die man se seun uit die winkeltjie kom. Dus moet ‘n tweede keer met die bofbalkolf gemoker word. Wes weier om enigiets met hom te doen te hê. Hy bring die geld na sy pa, wat hom woedend wegstuur. Nou is hy alleen, die ander seun het hom gesien en sal hom weer erken. Aan wie kan hy hom wend?
Samantha. Die twee sluit weer van vooraf vriendskap, en sy tem die opvlieënde sproetgesig, so goed dit gaan. Die geld word teruggebring, die man neem sy verskoning aan, maar sy seun nie. Samantha is ‘n eerstklassige vrou (en mooi ook), en het geduld en verdra Cyril se stoutheid tot hy besef dat hy nie meer na sy pa kan teruggaan nie.
.
Toe ek versoek het om die verhaal van ‘n Afrikaanse weeskind te vertaal, het my Duitse lektor gesê: „Alles goed en wel, dit mag waar wees, maar waarom moet dit geskryf word?” En my antwoord is soos aan die einde van hierdie film: „Weens die oplossing: Alle probleme, hoe uitsigloos hulle ookal mag voorkom, is oplosbaar.” En sulke stories wys ons ‘n pad uit die wirwar van ‘n kindersiel.
‘n Mooi verhaal, goed vertel. Dis asof die daarstellers nie „gespeel” het nie, hulle was hulle self en het „gewees”. Die Dardenne-broers het dit sonder emosie, sonder verhewe wysvinger gefilm. Deels-deels met handkamera om dit soos ‘n dokumentêre beriggewing te laat lyk. Vir my is dit nie moontlik om sterre uit te deel nie. (By die beroepsresensente nestel dit tussen ses en agt uit tien: Drie tot vier sterre.)
©.2013._____________________c};0)-****-)o:[>__________________________tje
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.