
RIDDERS VAN DIE YSTERPAD HOOFSTUK 2
HOOFSTUK 2
Dit is net toe hy lekker wegraak wat Maureen hom kom wakker maak om op te staan. Eers gaan bad hy en trek dan aan om saam met sy gesin te eet voordat hy aan diens moet gaan. Die Meiring huishouding is al gewoond daaraan om soms op die onmoontlikse tye te eet want Tiny dring daarop aan dat hulle as n gesin saam aan tafel moet wees as die geleentheid daar is. Gewoonlik hou hy na ete huisgodsdiens en dan groet hy sy mense om op sy fiets te klim, die kosblik agter op die draer vas te maak, en dan in die pad te val loko toe om sy trein te gaan werk.
Vandag is geen uitsondering nie en sit die son al laag in die westerkim toe Tiny sy mense groet, op sy fiets klim, om die pad te vat loko toe, in Kroonstad n algemene gesig om die ridders van die ysterspoor op hulle fietse oppad werk toe of oppad huis toe te sien. By die loko aangekom stoot hy sy fiets in die fietsloods, sluit dit vas en haal sy blik van die draer af. Rustig begin hy aanstap roosterkantoor toe om te gaan aanteken vir sy trein. In die roosterkantoor is daar altyd treinpersoneel wat aan en af teken. Dit is ook die tyd wat vinnige skindernuus uitgeruil word voordat elkeen sy eie koers inslaan, of huis toe of lokoloods toe.
Vir Tiny is dit altyd n mooi gesig om die lokomotiewe in n ry langs mekaar in die loods te aanskou waar hulle rasend en blasend met hulle swart gesigte staan en wag op hulle personeel om hulle te kom haal om die pad te vat.
Vandag is nie anders nie en staan hulle op n ry in die lokoloods. Langs die loods staan paar dooie lokomotiewe met boë water wat uit hulle spuit. Hulle ketels word uitgewas en as dit klaar is en die uitwasproppe weer teruggedraai is sal die loko rangeerlokomotief hulle kom uittrek en op n lyn sit dat hulle vure weer opgesteek kan word. Dan sal die lokorangeer weer n paar lokomotiewe insleep wie se vure reeds uitgegooi is om hulle ketels te laat uitwas.
Asof hy sy belangrikheid wil onderstreep hoor Tiny juis nou die klas 19D van die lokorangeer met n vinnige geblaf deur die skoorsteen n entjie van die loods af. Hy is nou besig om spoed op te tel om twee trokke steenkool teen die koolsteier uit te stoot. Die helling teen die steier uit is kwaai en hoor jy aan sy blaf hoe die 19D spoed verloor met die twee trokke teen die helling uit. Dit is nogal n kuns om hierdie trokke te plaas want stoot jy hulle te ver op die koolsteier in gaan hulle oor die kant afstort. Die drywer moet dus net weet waar om te stop.
Aan die anderkant van die loods is die werkswinkel waar lokomtiewe van buffer tot buffer oorgedoen word. Hierdie is die passers se doemein waar hulle ook die vakleeringe oplei. Hier word n lokomotief van bo tot onder uitmekaar gehaal, die swaar wiele word met domkragte wat in n put loop laat sak om in n trok gelaai te word Bloemfontein toe om weer gesny te word. Die elemente in die ketel word ook uitgehaal en vervang en word alles volledig geinspekteer.
Nie al die lokomotiewe word hier so oorgedoen nie, die meeste gaan Bloemfontein werkswinkels toe.
Die loko het ook sy eie werkswinkel waar baie van die nuwe onderdele van die lokomotiewe vervaardig word.
Die stoorman in die stoor is die man wat verantwoordelik is om die passers van sommige gereedskap te voorsien maar is hy ook die man wat die stokers van olie, ghries en poetskatoen voorsien wanneer hulle dit voor die rit kom trek.
Elke drywer het sy eie sluitkas waarin sy gereedskap gebêre word en wanneer die stoker die gereedskap kom haal gaan hy sommer by die store om om die nodige vir hulle rit te trek. Dan word die hele vrag met n kruiwa oorgestoot lokomotief toe om gebêre te word en kan die stoker begin met sy pligte om hulle lokomotief reg vir die pad te kry.
Voor op nr. 1 pad staan sy, gitswart en blinkend met n n wit stoomveer wat hard deur die veiligheidsklep op die stoomketel ontsnap en rook wat lui by die skoorsteen uittrek. Sy is Tiny se trots, 3205 klas 23, sy skakelloko wat hy en sy stoker, Kosie Jooste, met groot sorg en baie aandag so blink hou.
Toe Tiny sy blik op die voetplaat sit sien hy Kosie is al daar. Hy het klaar die gereedskap opgelaai, olie en ghries in die store gaan trek, en is hy besig om die smeerder vol olie te gooi en met n stuk poetskatoen al die meters ook skoon te maak en blink te vryf en word Tiny hartlik gegroet.
Tiny groet terug, sit sy blik in die opening in die kolewa en kry sy ghries pomp en oliekan om die nodige olie en ghrieswerk te gaan doen. Al die koppelstange word vol ghries gepomp waar hulle aan die wiele gekoppel is en al die oliepotte vol olie gemaak om die ander bewegende dele te smeer.
Hiermee klaar klim Tiny terug in die kajuit om op sy sitplek te gaan sit. Kosie sit ook op sy plek en is besig om aan die wiele te stel wat die meganiese stoker voer. Die stoker se wurm kraak en knars om die kole na die vuurkis te voer en die stoom wat die kole in die vuurkis inspuit raas met n harde sisgeluid. Hierdie spuiters moet presies reggestel wees om die kole oor die hele vuurkis te versprei anders ontstaan daar koue kolle wat die stoomvorming in die ketel kan belemmer. As jy by die vuurkis inkyk sal jy sien hoe die kole eweredig deur die spuiters oor die vuur versprei word. Hierdie sisgeluid word aangevul met die geroggel van die injekteur wat water van die kolewa na die ketel toe pomp, ook deel van Kosie se werk.
Tiny laat sy oog met genoegdoening oor die meters in die kajuit gly. Die stoomdrukmeter staan bewend op 210 kpa, die vakuummeters op 0 dm. Sy oog vang vinnig die peilglase wat die hoogte van die water in die ketel meet, hulle is bietjie onder half. Tevrede met alles is Tiny Meiring reg om met 3205 die loko te verlaat stasie toe. Die remme word losgemaak en die vakuummeters se naalde klim dadelik na 17 dm toe. Die omstellerhefboom langs Tiny teen die kant van die kap van die kajuit word terug getrek en die naald hardloop terug. Met die silinderkrane oop word die regulateur half oopgetrek en 3205 begin sissend en blasend, kolewa eerste, met wit stoomwolke blasend uit die silinders, kontrolepunt toe beweeg om stasie toe te gaan. By die kontrolepunt word gestop en gee Tiny hulleself aan by die kontrolepunt rangeerder wat Kroonstad-Suid seinhuis bel om hulle aan te gee. Hulle moet n paar minute wag vir n dubbelvoorspan met twee klas 15F lokomotiewe voor n vrag leë graantrokke wat op spoed, met blaffende lokos, van die Noordwerf af deur die op hooflyn hardloop. Hierdie manne is oppad Klerksdorp toe en sal later met n gelaaide vrag graantrokke huis toe kom.
Nadat hulle deur is gaan die rangeersinjaal op en kan Tiny uitbeweeg om sommer op die ophooflyn te gaan staan en wag vir 435 wat alreeds besig is om stadig op platform een in die stasie in te trek met n klas 6E elektriese lokomotief vooraan met sy bekende huilgeluid.
Langs die spoor sit die wa en rytuig ondersoekers met hulle langsteelhamers om die wiele te klop om te luister vir krake in die wiele soos die trein verbybeweeg. Hulle sal nou nou langs die trein afbeweeg vir verdere ondersoek om te kyk of daar nie dalk n warm askas op die rit ontwikkel het nie.
Platform 1 is pure bedrywigheid van passasiers wat op die trein wag. Baie van die passasiers is weermaglotelinge wat hoop op n plekkie en het die kaartjiesondersoeker, nadat hy sommer in die ry uitgeklim het, sy hande vol om te kyk of hy nie vir almal n plekkie op n reeds oorvol trein kan kry nie.
Die lotelinge is maar te bly om n plekkie te kry, al druk hy tot tien van hulle in n kompartement. Gelukkig is die meeste ander passasiers bespreek en is hulle nie n probleem nie want hulle plekke is oop.
Van agter af waai die kondukteur die trein aan om die kondukteurswa op die platform te kry waar die trekkertjie met sy sleepwaens reeds staan en wag met pakkies en possakke wat ingelaai moet word. Dit is nie baie nie en meesal deurverkeer, want die meeste is alreeds met die middagpassasierstrein, trein 11, of soos hy bekend is, elf af, weg.
Die stasieinspekteur staan ook op die plaform met sy netjiese uniform bestaande uit n swart broek en wit hemp met die een breë en twee smal silwer strepe op die epoulette op sy skouers. Hy herhaal die handsein van die kondukteur vorentoe totdat die kondukteur wys stop en hy die stopsein vorentoe oordra om die drywer die trein tot stilstand te laat bring.
Die verversingswaentjies begin dadelik teen die trein af beweeg om enigiets van sjokolade tot siggarette of tydskrifte aan die passasiers te verkoop.
Die rangeerder is dadelik by om die elektriese eenheid los te maak en uit te beweeg werf toe met haar en dan 3205 oor te bring om haar vas te maak voor die trein. Toe die rangeersinjaal opgaan is die rangeerder by en begin 3205 weer met sissende stoomkrane uit die silinders vorentoe beweeg, oor die kruisoorwissels na platform een toe. Oor die wissels draai die seinwagter in Kroonstad-Suid seinhuis die wissels terug en begin 3205 terugbeweeg met die rangeerder wat by die punt van die rytuie hulle staan en terugwaai.
Tiny sit bietjie rem aan toe die rytuie nader kom en die rangeerder koppel wys en n paar oomblikke later koppel hulle met n sagte stampie. Die volgende oomblik val die vakuumnaalde soos die rangeerder die rempyp van die prop aftrek om dit aan die rytuig se rempyp te koppel en dan begin die naalde van die vakuummeter klim om na n paar minute op 17 dm. tot stil stand te kom om te wys dat die vakuumtoevoer deur die hele trein is. Die kondukteur sal dit op die vakuummeter in die kondukteurswa kontroleer.
Kosie maak van die kansie gebruik om gou n bietjie koffie te maak. Die blik vol water word vinnig met n vuuryster in die vuurkis gedruk en na n paar oomblikke borrelend en kokend uit die vuurkis uitgehaal. Dan word dit aan die dak opgehang en die koffie, suiker en melkpoeier word ingegooi om dan in hulle bekers te gooi. In dieselfde tyd word die meganiese stoker aangesit om die kole blasend en sissend in die vuurkis in te spuit. Die rook begin uit die skoorsteen uittrek terwyl die veiligheidsklep op die ketel met n harde geluid n wit stoomveer uit n blinkende 3205 die lug instuur.
Die kondukteur verskyn aan die kant van die kajuit om die vrag aan te gee as 800 ton vir 60 asse en begin dan haastig terugloop kondukteurswa toe om alles daar reg te kry voor hulle rit Bloemfontein toe begin.
Die miernes op die platform begin ook nou rustiger raak met almal af wat wil af en almal wat n plekkie gekry het nou in die trein is. Intussen is die wakende oog van die spoorwegpolisie in hulle bruin uniforms daar om toesig te hou en seker te maak dat alles reg loop.
Met alles gereed vir vertrek bel die stasieinspekteur Kroonstad- Suid seinhuis om die trein aan te gee. Die seinwagter slaan kloksein 3-1 op die Tyres instrument om lyn te kry Gunhill- Noord toe wat paar oomblikke later antwoord met 3-1 en die Tyers instrument op lyn vry gestel het. Die seinwagter bedien die sinjale en kry die stasieinspekteur die woord van die kaartjiesondersoeker af dat hy reg is om te vertrek, al sy passasiers is in.
Die kondukteur maak seker dat die vakuummeter op 17 dm. is en gee dan in sy groen vlag vorentoe nadat hy n wit vlag van die stasieinspekteur gekry het. Die stasieinspekteur wys n groen vlag vorentoe wat deur Kosie met n handsein erken word, trein 435 is gereed om te vertrek met 3205 en groot Tiny Meiring in beheer op sy volgende skof Port Elizabeth toe.
“Alles reg oom Tiny, ons kan maar ry”, sê Kosie vir Tiny nadat hy die groen vlag van die stasieinspekteur met n handsein erken het.
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Toom
Dis nou 'n fenomeen! Hier skryf iemand iets wat vir die spoorwegmanne (en -vrouens) vanselfsprekend is. En dit in 'n taal wat glad nie opruierig is nie. En vir iemand wat van buite af inkom, is dit tog so spannend om al die klein stukkies van die legkaart te erken, wat nodig was (en waarskynlik nog is) om 'n eenvoudige rit met 'n trein te onderneem. Totaal interessant -- ofskoon nog niemand gesoen of 'n pistool afgevuur het nie . . . Soiets, wraggies! Dankie maat! GvT