Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: SELFS LEESTEKENS WIL JOU VOORSÊ!

Deur Vonnie
Datum gepubliseer: 12 September 2021 Aantal woorde: 289 24 Kere gelees 1

Waarom woel dit so in my binneste,
so asof ek nie tot bedaring kan kom?
My gedagtes soos ‘n asblik só vol,
maar my skrywersdrif bly dan stom?
Dit maak hoegenaamd géén sin nie,
met my binneste tot oorlopens toe
vol van verskeie genres wat wil uit
maar ek weet gedoriewaar nie hoe.

Dink ek om voorkeur te gee aan ‘n artikel
kom staan gedig met hand in die sy,
vraend met boggelrug soos ‘n komma…
maar wat nou van verhaal en van my?
Jy vrá nog poësie-kind, daar is nog só baie
wat gelyktydig voor mekaar wil indruk.
Hier kom uitroepteken nou juis aangestap,
lyk kompleet hy het ‘n laaistok ingesluk!

Dis waar, jy het uit die oog verloor…
ons is elkeen van ewe veel belang;
nie een wil minderwaardig voel nie,
so wees dus bedag op elkeen se rang.
Daar is selfs die storie ágter die storie
volgens gedig se pleidooi oor die verhaal…
Elke keer ‘n unieke en anderste een
wat jy daar moet gaan loop haal.

Dit is nie net die artikel, verhaal of gedig,
maar nog meer soos byvoorbeeld rubriek
wat opgelyn staan vir ‘n eiesoortige spreekbeurt,
maar daar is ook die tra-la-la van liriek.
Dus, met die besef om genre se range te respekteer;
om elkeen ‘n spreekbeurt te gee in Afrikaans,
moet ek poog om selfs die lééstekens te respekteer
as skrywer hier op die ondermaans.

Maar al die genres kan onmóóntlik nie
hier op ‘n spreekbeurt aandring,
daarom die besluit op woorde
wat ons ook uit volle bors kan sing.
Dus, geniet die volgende as voorrang…
‘n potpouri van gedig en liriek.
Ritmiese liriek en poëtiese gedig;
ook woorde op die vleuels van musiek!

(Kopiereg voorbehou)




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 30
Kommentaar telling: 1

Ek is allereers die trotse skrywer van Afrikaans, my pragtige moedersknie-taal! 'n Gepubliseerde vryskutjoernalis met artikels in van ons Afrikaanse tydskrifte soos Huisgenoot, Sarie, Vrouekeur en Rooi Rose. Ook digter,  liriekskrywer en komponis. Dus liedjieskrywer van my eie, sowel as ander se gedigte en lirieke en hartstogtelik lief vir musiek en sang. Ek geniet myself gate uit met die skryf van rubrieke, skryf ook verhale en maak ook so nou en dan keel skoon by wyse van 'n lekker ou gorreltjie. En o ja! Na baie, baie jare as skrywer, het ek uiteindelik drie boeke die lig laat sien en is ek nie 'n bietjie trots nie! My biografie Daar huil 'n kind in my, Rubrieke sonder brieke en Gedigte op die vleuels van musiek. Daar...genoeg. Nou moet ek verder aan die skryf kom!

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 151 gaste aanlyn

Bydraes – Argief