Slagveld op Eden
Gister toe ek jou daar sien staan—so verrinneweer
kon ek die trane nie keer
Tyd het die septer geswaai, my vriend
en noodlotsleer was jou verdiend
leeg jou mond, net twee tande oor
een onder en een bo
ʼn lang snor bedek die gat; donker, diep en broos
jy sluk jou lag, skaam vir net die twéé se prag
jou hare is al lankal weg
jou vel van rubber met padkaart bekruis
die Son was so genadeloos
buite was jou huis
kos was daar nie veel
pap en koffie moes jy deel
my ou vriend, toe ek jou daar sien staan—so verrinneweer
het jou gesig my hart verskeur
twintig jaar het verloop
my lewe was soet soos stroop
pienk blommerok en wit sambreel
ek kan myself mos wát verbeel!
jou oë is dof
die eens hemel-blou is langsamerhand uitgestof
jou bene is maer, die sokkie-lyn, die vuil waarop jy staan
ek strek my hand uit om te groet, “Aagh! Kom hie’so,” sê jy, omhelsend, soos ou vriende moet
jou stem nog steeds so diep soos gister
swaar weggesteek in jou vandag
ʼn gesneuwelde van Tyd
jy het dit lekker afgelag!
ʼn stem is al wat oorbly van die mens wat jy eens was
die prys betaal, verrinneweer—die wêreld het jou krag gesteel
teen jou bors stort my trane neer, my lyf bewe van die seer!
“My liewe vriend,” fluister jy besorgd. “Gee hier al jou pyn—ek dra dit met liefde saam met my.”
2 Kommentare
-
Pieter Mostert
Puik. Diep gedig Jacqueline
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Fanus Strydom
Laat my onherroeplik dink aan die bekentenis: "But for the grace of God, there goes I..." Dankie vir die diep skrywe.