Só gemaak en so laat staan
(Woordtelling : 1177)
As kind wat noodgedwonge die huis met my ouers moes deel en 24/7 onder hul (verouderde) invloed was, het ek dikwels gehoor dat my pa sê, “so gemaak en so laat staan”. Of, “jy kan nie ʼn ou hond nuwe truuks leer nie”. Die idee van die ouer geslagte was dat wanneer jou brein gevorm is en die patrone vasgelê is, +- op die ouderdom van twee- of drie-en-twintig, niks dit kon verander nie. Genadiglik weet ons vandag van beter en daar is voldoende bewyse dat ʼn persoon nooit ophou leer nie.
Die neuro-plastisiteit van die brein beteken dat sekere dele die funksie van ‘n ander kan oorneem indien eersgenoemde beskadig sou raak. Ook, dat aangeleerde gedrag en dit wat ons oor onsself en die wêreld glo, wel kan verander. Niks op hierdie aarde is in sement vasgelê nie, al het die ouer geslagte so gedink.
Waar ʼn wil is, is ʼn weg en ʼn persoon wat iets wil verander, sal ʼn manier kry. Iemand wat gemaklik is in sy ongemaklike lewe, en vir wie dit te veel moeite is, sal ʼn verskoning kry. Die brein is ʼn hoogs intelligente orgaan wat homself deurlopend herbedraad en herorganiseer, uiters aanpasbaar is, nooit ophou leer nie, en meer vaardighede kan aanleer, veral na ʼn ernstige besering. Verlamdes het bo verwagting weer leer loop en mense wat ʼn beroerte gehad het, het geleer om ou take op nuwe maniere te doen.
Dit is ook onwaar dat mens net 10% van jou brein gebruik. ʼn Meer onlangse studie het getoon dat ons 35% van die brein gebruik, iets wat ek egter betwyfel. Ons is altyd besig om nuwe goed te ontdek en daar is voortdurend nuwe studies om die teendeel te bewys. Verskillende mense gebruik wel verskillende hoeveelhede van hul grysstof, dus is dit gevaarlik om te veralgemeen.
Nog ʼn mite is dat jy meer dominant aan die een kant van jou brein as aan die ander kant is. Vroeër het ons geglo dat die regterkant vir meer kreatiewe denke, en die linkerkant vir logiese denke gebruik word. Navorsing toon egter dat ʼn gesonde brein die hele tyd seine tussen die twee lobbe stuur om inligting effektief te kan verwerk. Jy gebruik dus die hele tyd alle dele van jou brein.
‘n Nie-so-klein jakkals in die wingerd is wanneer ‘n idee deur die meerderheid aanvaar word sonder om eers vas te stel of dit op jou van toepassing is. Om jou denke te verander, moet die persoon egter gewillig wees om te verander. Niemand anders kan dit vír jou doen nie en jy kan op jou eie begin om klein veranderings in jou daaglikse roetine te doen, of die hulp van iemand inroep, waarna die verandering baie vinniger sal gebeur. Dus, ʼn terapeut of sielkundige is nie “ʼn telg van die duiwel” wat jou kop vol nonsens gaan prop nie, maar ʼn bekwame persoon wat opgelei is om mense deur hul probleme en struikelblokke te help.
Wanneer ʼn persoon se kognitiewe funksie verbeter, is hy meer bewus van homself (sy denke, aksies en die gevolge daarvan), kan hy sy emosies beter reguleer en het meer uithouvermoë en veerkragtigheid. Hy is ook meer kreatief, beter met probleemoplossing, en beter in staat om ʼn ander se standpunt in te sien. So ʼn persoon het ook beter begrip van die interaksie tussen sy liggaam en verstand en dit dra als by tot ʼn positiewe ervaring van die lewe in die geheel.
Om daardie interaksie tussen die liggaam en verstand maksimaal te kan benut moet jy leer hoe om jou emosies en gevoelens te identifiseer. Dit help verseker om ʼn “groei-ingesteldheid” te hê, eerder as om te dink dat situasies of denkpatrone vir ewig op ʼn sekere manier vasgelê is en jy niks daaraan kan verander nie. Dit is heeltemal moontlik vir die brein om nuwe paadjies te vorm en anders oor sake te dink, maak nie saak hoe oud jy is nie.
ʼn Gebalanseerde dieet is nie net goed vir jou liggaam nie, maar ook vir jou brein. Dit beteken nie ʼn koekie in elke hand vir goeie balans nie, maar kos wat goed is vir jou liggaam sowel as daardie belangrike grysstof in jou skedel. Bv., groente ryk aan vitamien E soos spinasie en broccoli, en groente ryk aan beta karotene soos rooi pepers, wortels en soet patats. Olierige vis soos tuna en salm bevat belangrike omega-3 vette, en pekan- en okkerneute is ryk aan anti-oksidante.
Oefening is nie net ʼn liggaamlike aktiwiteit nie, maar het ook ʼn invloed op jou die gesondheid van jou brein. Gereelde oefening verminder nie net hartprobleme nie, maar ook die risiko vir dimensie. Dit is nie nodig om elke dag ure lank in die naaste gym rond te spring of gewigte op te tel nie, maar kan so eenvoudig wees soos die halfuur se stap om melk en brood te gaan koop. Fietsry, swem en draf is natuurlik ook uitstekende oefening.
Die brein het skoon lug en suurstof nodig, en is ʼn groot verbruiker van kalorieë. Voldoende water is nodig om als effektief te laat funksioneer en selfs ʼn klein mate van dehidrasie is genoeg om jou gedagtes stadiger te laat werk. Alhoewel cholesterol deesdae ʼn vloekwoord geword het, bestaan 25% van die brein uit cholesterol waarsonder jy letterlik sal doodgaan. Dit beteken nie ʼn hamburger en vetterige tjips elke dag nie, maar bronne van gesonde vette soos dit wat ons in vis en vitamien E kry.
Hou jou brein aktief deur dit te gebruik! Blokkiesraaisels, Sudoku, bordspeletjies, legkaarte en interessante stokperdjies is alles maniere om jou aan die dink te hou. Die slegste ding wat jy aan jouself kan doen is om die hele dag voor die TV te sit of na die gewaande interessante lewens van ander op Facebook te staar. Verbreed jou horisonne deur jou belangstelling uit te brei na meer dinge as die nuus- en sport kanaal.
Wetenskaplike navorsing het nou uiteindelik bewys dat die misbruik van alkohol oor ʼn lang tydperk nie jou breinselle laat doodgaan nie. Tog laat dit jou brein krimp en selfs wanneer jy nugter is, kan ander langtermyn gevolge waargeneem word. Dit sluit in probleme met sig, balans- en koördinasie probleme, stadige reaksies, vergeetagtigheid, en sukkel om te konsentreer.
Voorkoming is altyd beter as nasorg. Kyk na jou fisiese gesondheid deur minder te rook en alkohol gebruik te beperk, jou bloeddruk en cholesterol op ʼn aanvaarbare vlak te hou, gewig te verloor indien nodig, genoeg oefening en slaap te kry, en onthou om genoeg water te drink. Kyk na jou geestesgesondheid vir tekens van depressie, wees betrokke by vriende en moet nooit ophou om die brein te stimuleer nie. Leer gereeld iets nuuts of besoek nuwe plekke.
As jy bereid is om nooit op te hou leer nie, sal jou brein jou nie in die steek laat nie. Wees bedag op jou gedagtes, want dit word jou woorde. Kyk watter woorde jy gebruik want dit word jou aksies. Kyk waarmee jy jou besig hou, want dit word gewoontes. Hou jou gewoontes dop, want dit word jou karakter.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Januarie 2024 - OOP projek