Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: SY HUPPEL SOOS WAFFERSE BALLERINA

Deur Vonnie
Datum gepubliseer: 12 September 2021 Aantal woorde: 756 27 Kere gelees Hou van

In historiese tye het die Romeine plankies wat met was bestryk was gebruik, is daar ook met die verloop van tyd op kleitablette geskryf en in vandag se tyd is ek seker dat nie een van ons ouer garde ons inkpot-en-kladpapier skooldae vergeet het nie. Vandag is dit die rekenaar, die selfoon en ja, wil jy glo, ook die tablet. Maar eeue ver verwyderd van die kleitablet van toentertyd. Aan-die-punte-van-jou-vingers tegnologiese wonders waarop daar geskryf kan word.

En so stik ons as woordkunstenaars ons letterkundige tapiseries in ragfyn woorde aanmekaar. Soos N. P. Van Wyk Louw sê: “Ons fyn, fyn net van die woord.” Elke letter-stekie op daardie tapiserie word woord vir woord, nostalgies ingewerk tot die uiteindelike geheel.

Die skryfkuns kan ook inderwaarheid as legkaart gesien word soos wat Leonie Benghiat, eienaar en bestuurder van SA Vryskutskrywer skryf: “Skryf is ‘n reuse stap vir enige woordsmid.

“Om iets te skryf is nooit maklik nie en verg baie konsentrasie, kreatiwiteit en deursettingsvermoë. Woorde spring nie sommer op hul regte plekke in ‘n sin of paragraaf nie. Die skrywer moet elke enkele woord soos ‘n legkaart op die korrekte plekkie neerplak. Dis ‘n tydsame proses, maar dis regtig lekker.”

Maar daardie “lekker” en ek dink elkeen sal volmondig met my saamstem, spel Afrikaans!

Dis net as jy Afrikaans gebek is dat jy die heerlike soetgebak op jou tong kan proe en die lekkerte daarvan in jou mond rond kan rol. In vergelyking met ons pragtige moedersknie-taal is enige ander taal maar bra ‘n bitter-suur konkoksie en brousel wat maar onverteerbaar is vir ‘n trotse Afrikaner se taal-konstitusie!

Van moedersknie-taal gepraat. Daar is enersyds die hoge akademiese, stywelip of styweboortjie-Afrikaans en andersyds brabbeltaal wat ‘n taal vol vreemde woorde beteken, onder meer babataal wat “Motherese” genoem word.

Daardie besonderse lae tot hoë troetelstem met “woordjies” van mamma wat net sy en die kleinding verstaan. Om van babelse spraakverwarring nie eers te práát nie. Dus, net ‘n heerlike los-lit Afrikaans soos wat San en Jan alleman op straat praat, werk vir my.

Ek wat dink en praat en bid in my taal, wil spontaan en op treffende wyse en in gestileerde skryftaal skryf. En boeiend, onderhoudend in my eie skryftrant en styl my skryfkuns pleeg met ‘n hele woordfabriek tot my beskikking.

Daar waar letters woorde en woorde sinne word en geparagrafeer word as samehangende onderdeel van ‘n geskrewe stuk. En dan altemit opgevolg word deur hoofstukke van ‘n manuskrip. Dus, die hele vers en kapittel!

Afhangende van die genre wat op enige gegewe tydstip geskryf word. Hetsy artikel, rubriek, verhaal en so meer.

Aktuele, inspirerende artikels wat informatief, verslaggewend en op feite en navorsing geskoei is. En rubrieke wat in wese ‘n meningstuk is, van nostalgies tot humoristies. Pasop. . .

Hier kom rubrieke sonder brieke!

Skryfstukke wat uiteindelik tot die volledige produk geproduseer is en dit, let wel, uit nét 26 letters bestaan. ‘n Alfabetiese lys van ‘n klompie karige maar krágtige woorde.

Ook maar goed ons pragtige taal Afrikaans was nog nie in daai historiese tye gebore nie, want op plankies wat met was bestyk is, sou sy nóóit haar danspassies uitgevoer kon kry nie. Bid jou aan! Maar vandag huppel sy behoorlik soos ‘n wafferse ballerina op ons tonge en wil ek haar net skryf en praat en besing. Ek is só hartstogtelik lief en trots op my taal.

Ek lees in Beeld waar Jan Jan Joubert skryf: “Ons is gewoon nie belangrik genoeg nie, ons is soos my pa sou sê ‘n spikkel op die tarrentaal. Om Oscar Wilde aan te pas: ‘Die enigste ding wat erger is as om mee gepraat te word, is om nie mee gepraat te word nie.’ ”

Maar nee! Ons taal sal nóóit uitsterf nie.

Solank as wat ons Afrikaans onbevange praat, skryf en lees en dit suiwer en hups hou, sal dit springlewendig bly. Ons taal was lank, lank gelede ‘n emrio wat lewensvatbaar gebore is en stadig maar seker leer kruip en loop het. En wat nou selfversekerd op haar hoëhakskoentjies spoggend op die podium as taal ter tale rondhuppel.

Laat haar práát, laat haar huil, laat haar lág en ja, laat haar sing, trippel en dans!

Of ek nou weg van my rekenaar gou gedagtes wil neerskribbel met pen op papier, op ‘n hedendaagse tablet of selfs in noodweer op my sél sommer as “sms” of “whatsapp” wil skryf, skryf sal ek skrýf.

En dis hoe Afrikaans gespel word: Aller, fantastiese, roemryke, inspirerende, kan-nie-dood, aitsa aitsa, nimmereindigende skryftaal!




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 30
Kommentaar telling: 1

Ek is allereers die trotse skrywer van Afrikaans, my pragtige moedersknie-taal! 'n Gepubliseerde vryskutjoernalis met artikels in van ons Afrikaanse tydskrifte soos Huisgenoot, Sarie, Vrouekeur en Rooi Rose. Ook digter,  liriekskrywer en komponis. Dus liedjieskrywer van my eie, sowel as ander se gedigte en lirieke en hartstogtelik lief vir musiek en sang. Ek geniet myself gate uit met die skryf van rubrieke, skryf ook verhale en maak ook so nou en dan keel skoon by wyse van 'n lekker ou gorreltjie. En o ja! Na baie, baie jare as skrywer, het ek uiteindelik drie boeke die lig laat sien en is ek nie 'n bietjie trots nie! My biografie Daar huil 'n kind in my, Rubrieke sonder brieke en Gedigte op die vleuels van musiek. Daar...genoeg. Nou moet ek verder aan die skryf kom!

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 121 gaste aanlyn

Bydraes – Argief