Jongste aktiwiteit:

TOERIS IN MY EIE LAND

Hierdie flentertjie het ek seke al tien jare gelede op wyle WOES geplaa.
Miskien is dit interessant om te lees HOE VOEL mens na so Ün lang afwesenheid as jy weer huistoe kom.

Ek was tweekeer in my „tuisland”: Agt jaar gelede en nou kersfees. Dis nie moontlik om alle tekste om te skryf asof dit gister geskryf sou wees nie, dus is dit dikwels merklik uit watter tyd ‘n gedagtegang stam. Ek bly by die aanhalingstekens „onder”.

TOERIS IN MY EIE LAND
Toe ek ‘n paar jaar gelede na lange afwesenheid in Johannesburg aankom, het my skoonsuster my in haar kar deur die strate en straatjies van die stad huistoe gebring: „Onthou jy dit? Ken jy dit nog? En dit? Daar het julle mos in- en uitgegaan!” „Wat? Wie? Ék? Hier? Nee, hier was ek nog nooit nie!” „Daar het hulle óók nog vir die nuwe deurgangspad huise gesloop. . .”
Na slegs drie-en-dertig jare! Onbekende strate, wildvreemde stad; ek kon ewe goed in Tokio geland het! — Buiten dat die skriftekens op die reklameborde anders sou uitsien.
Dan die skokkende ontdekking: In die buitewyke is die strate met hoë mure omsoom, tot drie meter hoog, met doring- of elektrodraad bo-op. Die vrye blik van die straat op die stoep (van die stoep op die straat) is weg. Bolwerke is dit, soos die middeleeuse burge in Europa. Dit is waar dat sommige vensters wat op die straat uikyk, vóórheen al met diefproef „versier” was; deesdae sien ek, dat selfs die mooiste, nuutste huise ysterpanser dra – soos ‘n tronk in ‘n amerikaanse film.
Waar kom ons vandaan, dink ek, waar gaan ons héén?

Heengerý het ek na my neëntig-jarige oom in Brakpan. Sy voortuin se muur is ook hoër: Vroeër was dit so heuphoog, nou is dit ongeveer skuoerhoog; hy het intussen vier of vyf lae bakstene bo-op laat aanbring – ek kan nog die naat sien. Teen die rondloperhonde wat tussen sy blomme gewoel het, sê hy. Sommige bure het ja ook hoë heinings, maar die meeste kàn van die stoep af met die mense op die sypaadjie praat – nie heeltemal soos Paul Kruger toentertyd in Pretoria se Kerkstraat nie. Maar tog.
Aan die kus verder gereis, waar my seun ‘n huis in ‘n straat het waar die meeste aanwoners hul grasperk van die huisdeur vier, vyf meter ver tot aan die teerstraat maai! Agter die huise is omheinings van die oumodiese soort – om jóú kinders uit mý boom en mý hoenders uit jóú mielies te hou. Daar het my hart bollemakiesie geslaan! Natuurlik ìs hier en daar ook palisades, en die meeste huise is al lankal met die skild van ‘n armed-response-firma versier. Maar tog.
Aan die anderkant van die dorp op pad na die skilderagtige steilkus, ry ek tussen twee okergeel vestingsmure met af en toe ‘n rooi-wit slagboom en ‘n uniformeerde, wat daar wagstaan, en ek dink dis nes ‘n voorstad van Johannesburg. Aan die einde van die straat, wat as openbare pad op die kaart aangedui is, is nòg ‘n slagboom en ‘n driemetermuur links en regs: Geen toegang vir normaalsterflikes, geen deurkomkans aan die kus nie. Dit ìs ja ‘n voorstad van Johannesburg! Met die verskil, dat die Johannesburgers slegs een maand (of twee weke) in die jaar hier woon. Dis die sogenoemde „absentee landlords” wat in die „up-market golf estates” (Ag, ek hèt die Afrikaanse woorde êrens in die koerant gelees. . .) hulle geld investeer het. Ook dìè uit Pretoria – èn Chicago èn Tokio èn Dubai èn Turino … – en die hele wêreld. En hulle het hulle in hul miljoenêrsghetto’s ingesluit, ingebolwerk.
Maar hoe kom ek aan hierdie skilderagtige kusgebied? Hoe kom die plaaslike hengelaars aan die plekke op die rotse wat hulle al die jare graag benut het, die natuurliefhebbers en kunsskilders aan hul erfenis? Die kinders aan hul avontuurspeelplek? Waarskynlik is daar ander voetpaatjies en weë. Maar dis vir my snaaks, dat die inwoners met sluipweë en omweë aan hul geboortsreg moet kom.
Eintlik glad nie snaaks nie.

Andersom is dit ongetwyfeld lekker om soggens vroeg en ook saans te sien hoe die pêrelhoenders/tarentale (en ander diere) in kleinere woonbuurte deur die drade om die tuine deursluip en op die straat omloop.
Én: In die tuin van my boetie se huis aan die rand van die miljoenestad kom veelkleurige singvoëls aan die suipbakkie onder die boom – met wolkeskrapers in die agtergrond en die onophoudelike gedreun van verkeer op die N1 doer regs agter die bult.
Én met bont skoenlappers hier links om die rose kaperjollend.

Hoe bly was ek om weer tuis te wees!
…oo✽oo…




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed