Jongste aktiwiteit:

TOORDOKTER

TOORDOKTER

Geskryf deur Fanus Strydom

1923 woorde

 

 

“Beste uitvindsel ooit…”

Die gryskopman draai moeilik om na die klein houtvenstertjie toe en wys na die uitgestrekte kaai voor ons. In ʼn ellelange, uitgestrekte lyn lê honderde sement-dolosse slaggereed en wag op die volgende woedende golf om te arriveer vanuit die diepsee uit. Die hoogwater bly onstuimig aanstoot wal toe en die wind stamp onophoudelik teen die klein houthuisie se verweerde deurkosyne vas.  “Nog ʼn dop?”

“ Asseblief.”

Ek hou my beker na hom toe uit. Sien die ligte trilling in my hand.

“Wat bewe jy so, is jy op jou senuwees?” Hy kyk agterdogtig na my en hou die bottel met whiskey eers weer terug.

“Nee,” lieg ek. In my binnekant ril die opgewondenheid meteens. Ek besef as my vermoede reg is, gaan hier ʼn groot ding gebeur vandag. Hy wys weer na die dolosse langs die kaai.

“Die ou wat hulle kamma “uitgevind” het mos te vertelle gehad dat hy die idee by ʼn toordokter loop kry het.”

Hy wys weer met sy beker by die venster uit en lig dit in ʼn siniese saluut bo sy kop. Net toe slaan ʼn reuse brander homself weer skuimend te pletter teen die opgestapelde keerlyn van die dolosse vas.

“Ja?” speel ek saam, “ het die toordokter hom vertel van die dolosse?”

“Nee,” antwoord hy en skud sy kop. “Hy het eintlik die toordokter gaan sien vir raad met geld oor sy moerse klomp skuld. Die perde, jy weet.”

“Hmm…,” knik ek my kop.

“Ja, hy’t gehoop die ou man sal hom uit die gemors uit kry met sy getoordery, maar toe stel die ou hom bitter teleur.”

“Hoeso?”

“Want, toe die toorman die bene voor die armsalige vent se gulsige oë uitgooi op die karos, het die bleekgebleikte dolosse ʼn heel ander uitkoms voorspel as wat hy gehoop het.”

“Hoe dan so?” wil ek weet.

“In plaas van roem en rykdom…” Hy waai stadig met sy beker in ʼn wye kring oor die tafel, nes  ʼn toordokter. Dan kyk hy op na my: “ het die bene eerder ʼn storie van ongeluk en dood vertel.”

“Ja? En toe?” maak ek of ek nie weet nie.

Arnoldus Koeleman kyk lank na my met een skeel oog, asof hy my probeer opsom. Dan lag hy skalks onderlangs by sy beker in:

“Jy’s ok ma lekke nuuskierig, hê?”

In die donker holte van sy geplooide mond blink een goue voortand dofweg in die flikkering van die lantern op die tafel. Om hom is die ooglopende armoede en eenvoud genadiglik verskuil in die dowwe gloed van die lamp.

“Wel, dit klink na ʼn ongelooflike storie, meneer Koeleman. So, ek wonder maar net wat het gebeur.”

Hy mag nie weet ek weet hy lieg nie.

“Arnoldus,” sê hy en maak keelskoon, asof iets oor die naam hom skielik pla.

“Jammer. Arnoldus,” maak ek verkoning en wys vir hom om verder te vertel. Hy kom sit weer oorkant my. Toe hy nog whiskey by my beker in wil gooi keer ek hom met die agterkant van my hand.

“Wel…” Hy skink sy eie beker weer vol en vertel verder: “Aubrey Kruger. Hy was die man wat eintlik die Dolos uitgevind het…”

“Aubrey Kruger?” maak ek of ek verbaas is. Maar die naam stem ooreen met die een op die dokumente  in my baadjie se binnesak.

“Ja,” se Arnoldus. “Hy het jare terug op die idee afgekom toe hy saam met sy kinders met hulle houtblokkies in die sand gespeel het hier langs hierdie einste strand.”

Hy kyk weer verlangend by die venster uit na buite. “Briljante man gewees…”

“Leef hy nog?” wil ek weet.  Ek ken die details van die storie, maar ek wil hom dit self hoor sê. Ek moet doodseker maak.

“Niemand weet nie,” sê hy stadig en begin verder vertel: “Sy baas op daardie stadium was ʼn Ingelsman met die naam Eric Mowbray Merrifield. Soos ek sê: ʼn Ingelsman. Skelm donner…”

“Hoeso?”

“Want, toe Aubrey hom vertel van sy idee oor hoe om die golwe te stuit wat die hawe so teister die heeltyd, sê Merrifield hy dink dis ʼn moerse goeie plan. Aubrey was bly om sy baas te beïndruk vir ʼn slag, want die ou het hom maar sleg behandel meeste van die tyd. Toe vra hy vir Aubrey of hy vir hom ʼn prentjie sal kan teken van hoe die goed moet lyk.”

“En toe doen Aubrey dit?”

“Natuurlik!” antwoord die ou man vinnig. “ Sommer net daar op ʼn stuk papier in Merrifield  se kantoor. Met presiese afmetings, hoeke, grade, gewig. Alles!”

“Toe steel hy Aubrey se ontwerp, nê Oom?”

Ek hou hom stip dop om te sien hoe hy reageer.

Vir ʼn oomblik lyk hy heeltemal uit die veld geslaan. Dan skuif  ʼn hartseer kyk oor sy oë en hy kyk anderpad. Kaai se kant toe. Hy klik hoorbaar spyt op sy tong. Onder by sy voete maak Kobra, sy steekhaarhond, lui-lui een oog oop en kyk op na sy baas.

Buite die beskeie houthuisie strek die kilometerlange lyn deurmekaargegooide sementblokke al langs die kaai af.

Toe die volgende woedende golf daaroor breek, reduseer die dolosse die stomende watermuur in ʼn oogwink weer tot niks. Moeiteloos en pligsgetrou. Soos altyd.

“Einste,” antwoord Arnoldus stadig en sug swaar, sonder om terug te kyk na my. Kobra staan swaar op en kom staan langs my onder die tafel. Hy waai sy stert liggies heen en weer.

“Toe die ding uiteindelik op die lappe kom was dit te laat,” gaan Arnoldus voort, nou asof ʼn wal meteens in sy binneste gebreek het. “ Die koeël was deur die kerk, soos hulle sê.”

Hy lag sinies en kyk na my. Skielik brand daar ʼn helder vuur in sy potblou, oumansoë:

“Merrifield het Aubrey se planne sommer dieselle dag al na die patent office toe gevat en in sy eie naam laat registreer. Toe die eerste dolosse ses maande later hier in die hawe by Oos-Londen uitgestrooi word en Aubrey sy ongelowige oë uitvee,  het Merrifield lankal al die pad bank toe geloop en skaterlag.”

Ek hoor die bitterheid nou vlak lê in sy stem.

“En Aubrey?” wil ek weet.

Kobra kom leuen sy moeë hondelyf teen my linkerbeen en ek streel saggies oor sy stekelrige kop. Ek voel die growwe kankerknoppe orals tussen sy sagte ore.

“Nooit ʼn sent gesien nie,” antwoord Arnoldus sag. Hy spoeg vies ʼn skeut pruimtwak na die vloer toe voor sy voete en vee sy mond met die agterkant van sy hand af.

“Bliksem!” sê ek voor ek myself kan keer. Onder die tafel kyk Kobra op na my met glaserige oë en waai sy stert stadig heen en weer.

Die volgende oomblik kyk die ou man skielik agterdogtig na my:

“Hoe’t jy nouweer gesê is jou naam?”

Ek verbeel my ek sien meteens vrees of iets in sy oumansoë.

“Pretorius. André Pretorius, Oom.” antwoord ek saggies.

“En wat wil jy van my hê, broer?”

Ek brand om hom net daar die waarheid te vertel, maar besef ek moet eers doodseker maak. Ek kan nie bekostig om nou ʼn fout te maak nie. Dit sal hom doodmaak.

“Wat het geword van Merrifield, Oom?” besluit ek om deur te druk.

“Ga!” Hy blaf verontwaardig en sit sy blikbeker hard op die tafel neer voor hom. “Hy’t sy verdiende bleddie loon gekry!”

“Wat bedoel, Oom?”

“Twee jaar later, toe die rykdom en roem van sy “ontdekking” hom al blinkvet gevoer het en log van lyf geloop maak het, het die see hom eendag onverwags ʼn moerse surprise kom gee!”

“Wat het gebeur?”

Ek is bekend met die storie. Die koerantuitknipsels lê in die leer in my kantoor saam met die polisieverslae. Maar ek wil hê hy moet my self vertel. Ek wil die woorde uit sy eie mond uit hoor.

“Die koerante wou ʼn foto van hom kom neem hier buite op die kaai.” Hy wys by die venster uit. Buite waai die wind nou onophoudelik en stamp hardhandig teen die vensters vas. “Uitvinder van die eeu!” het die mense hom genoem. Gmf!”

“En toe, Oom?”

“Wel, toe hy nog so diklyf staan en pose op die dolosse voor die kaai, kom slat ʼn moerse fratsgolf hom van agter af en slaat hy gat oor kop agteroor in die water in. Net daar, voor allie mense ennie kameras!”

Vir ʼn oomblik lyk dit of hy homself verknog in die man se ellende, dan vertel hy voort:

“Gesink soos ʼn bleddie klip, sê ek jou. Die stomme vent. En voor enigiemand nog iets kon doen, toe vat die golwe hom weg diepsee toe. Hulle het hom nooit weer gekry nie… ”

“Oom Aubrey…” vat ek my kans.

“Ja, Boet?”

Hy besef onmiddellik sy fout. Vir ʼn oomblik sit ons mekaar so doodstil in die oë en kyk. Dan kom ek stadig tot die punt:

“Ek is ʼn prokureur, Oom en ons maatskappy het gehoor van Oom se storie. Hoe Oom al daai jare teug ingedoen is deur meneer Merrifield en hoe hy Oom se geld gesteel het.”

Ek bly ʼn rukkie stil om seker te maak my woorde sink in by hom.

“Ja, en?” vra hy na my met onseker oë.

“Wel, ons het laasmaand Oom se saak by die hooggeregshof opgeneem en die hof het verlede week in Oom se guns besluit, Oom.”

“En wat het hulle nogal besluit?”

Hy kyk half-agterdogtig na my en roep skielik na Kobra om weg te kom van my af. Asof ek die vyand is. Kobra bly egter net langs my staan en waai sy stert stadig heen en weer, terwyl hy na sy oubaas kyk onder die tafel deur. Ek vryf weer oor sy knopperige kop.

“Hulle het besluit om die patentreg vir die Dolos in Oom se naam te her-registreer, Oom. Soos dit hoort.”

Hy kyk vir ʼn oomblik stil na my terwyl die woorde insink. Dan waai hy argeloos met een hand in my rigting:

“Ag, wat beteken ʼn patentreg tog nou op my ouderdom?”

“Daar’s meer, Oom…”

Hy kyk stadig na my.

Ek haal die koevert uit my binnesak uit en hou dit uit na hom.

Hy vat dit by my en hou dit vir ʼn lang ruk in sy hande vas sonder om iets te doen, of sê. Dan vra hy:

“En wat is die?”

“Kyk gerus, Oom” Ek lag na hom toe en wys vir hom om die kovert oop ge maak.

Toe hy die bruin koevert oopmaak, val daar, saam met die formele hofdokument, ook ʼn getekende tjek by die koevert uit. Dit land in die dowwe ligkol op die tafel voor hom. Hy lees die dokument aandagtig deur sonder om ʼn woord te sê. Dan tel hy die getekende banktjek stadig en met bewende hande op en hou dit voor hom uit na die ligkol toe. Hy begin stadig en hardop lees:

“Begunstigde: Meneer Aubrey Kruger. Bedrag: Vyf en twintig miljoen rand.”

Buite bedaar die storm meteens en skyn die son in ʼn helder skag deur die klein houtvenstertjie na binne. Die straal skuif oor die tafel en kom rus in ʼn helder halo op Aubrey Kruger se oumanskop.

Kobra begin opgewonde blaf en gaan staan stertswaaiend by die deur om uitgelaat te word.Toe Aubrey die deur vir hom oopstoot, draf hy mank-mank al met die kaai se breekwaterlyn af. Al die pad verby die kilometerlange ry dolosse.

Dolosse wat sy oubaas al daai jare terug al uitgevind het toe hulle die dag saam met die kinders op die strand gespeel het met hulle houtblokkies.

 

©Fanus Strydom




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed