Trudie gaan ruimte toe
Mooi man! Hier is ek nou! Op die planeet van die liefde. Venus! Wat meer kon ek vra? Dis mos wat ek wou hê. Hoeveel aande in my lewe het ek sit en staar na die sterre, het ek saans gesit en wag dat Venus moet verskyn? Selfs as kind al het ek saans op my fiets sit en sterre tel. Was ek verlief op hierdie planeet. Hoe romanties! Men are from Mars, Women are from Venus. Venus, die vroueplaneet. Die aandster.
Wie sou ooit kon dink dat ek die voorreg sou hê om Venus te kon besoek? Dat hierdie geleentheid oor my pad sou kom om hier te kom woon, watwou dit net besoek? Nie eers in my wildste drome het ek dit voorsien nie! Toe ek hiervan hoor kon ek nie gou genoeg my hand opsteek nie. Asseblief, kies my! Ek wil gaan! Ek wou juis ’n bietjie asemskep van Tinus. Die liewe, dierbare Tinus wat my so oorlaai met sy liefde. Amper versmoor met sy liefde.
En hier is ek nou op Venus, geklee in ’n ruimtepak wat my van kop tot tone bedek. Om my te beskerm teen die hitte. Ja, hitte, kan jy glo! Ek het altyd gedink Venus is ‘n koel planeet, dis dan die verste van die son af? Toe nie! Tipies die rigtinglose ek, is Venus toe die tweede naaste planeet aan die son! En warm. Vrek warm. Onuithoudbaar warm. So warm dat dit eintlik vreemd is dat ek nog nie gesmelt het nie. Gelukkig is my ruimtepak van ’n besonderse stof gemaak wat die hitte in ’n mate kan weerstaan. Vir ’n rukkie.
Die eerste paar minute het ek opgewonde rondom my gekyk om die plek te verken. Ek weet nie wat ek verwag het nie, maar alles behalwe dit wat ek hier sien! Hoekom het ek aan water en bome en gras gedink terwyl hier net rotse en vulkane is en as ek nie versigtig is nie, beland ek nog onder ’n aktiewe een se lawa!
Hoekom sal Venus die vroueplaneet wees? Hier is dan net mooi niks vrouliks nie? Iewers het iemand verseker iets gemis! Dit is nie eers mooi nie. Dit is glad nie mooi nie. Vroulike planete is mos veronderstel om mooi te wees.
Ek verlang na Tinus. Daar het ek dit nou gesê, dertig minute nadat die ruimteskip my hier afgelaai en verdwyn het. Ja, ek verlang na hom. My Tinus. Maar nou is dit te laat. Spyt kom altyd te laat. Ek het mos my keuse gemaak. Om hier te kom woon. Vir altyd.
Tinus. Ek kan nou nog die hartseer op sy gesig sien toe ek hom die dag vertel het dat ek op Venus gaan kom woon. Die geboë skouers sedertdien. Die amper verslaentheid. Hy kon dit nie verstaan dat ek so ’n besluit kon neem nie. Wat van hom? Wat van ons? Ons wat al begin uitgaan het kort nadat ons skool verlaat het? Ons, wat saam oor ’n toekoms gedroom het? Hoe kon ek hom sommer net los en dit vir so ’n lawwe idee? Wat wou ek daardeur bereik?
Ek het hom lief en nou kan ek niks daaraan doen nie. Hier sit ek nou, vasgevang op Venus en kan nooit weer terugkeer aarde toe nie. Hier gaan ek vergaan van die hitte. Van noutevrees in die ruimtepak. Van eensaamheid. En ek kan vir niemand kwalik neem nie, want dit was my keuse. Net myne, niemand anders s’n nie.
Dis toe wat ek die vreemde dreuning hoor. Kan dit wees? ’n Ruimtetuig? Een wat op Venus kom land? Twee ruimtetuie op dieselfde dag? Sowaar! Ja, dit is sowaar ’n ruimtetuig. Dit is net een stofwolk soos hy land. Ek staan asof versteen en staar daarna. Die deur gaan oop. Daar klim iemand uit. Versigtig sit hy sy voete neer op die vreemde planeet en begin hy na my kant toe stap. Dis … Tinus! Dis my Tinus! So vinnig as wat my voete my kan dra hardloop ek na hom toe.
Toe word ek wakker. Deurmekaar probeer ek agterkom waar ek is. Ek voel met my hande en vind die bekende lyf langs my. Ek is in my eie bed in ons eie huis op ons eie Moeder Aarde. Langs my lê Tinus vas aan die slaap. Ek hoor sy diep, rustige asemhaling wat my nog altyd kalm gemaak het. Tinus, my man al vir amper veertig jaar. My standvastigheid. My sekerheid. In my droom het hy my kom haal, kom red op Venus, net soos wat hy my al soveel keer gered het van een of ander lawwe idee. Ek kan en wil op geen ander plek wees as net hier by hom nie.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die April 2022 En toe ... projek