Tussen bravade en bang-geit Woorde 636
Tussen bravade en bang-geit
*
Daar was ʼn tyd waar dae en ongeëwenaarde dae hul waardigheid met trots gestand gedoen het, toe sekondes nog ware sekondes was. ʼn Mens kan sê; dis daardie ekstra spesiale dae wat die jongelinge uitgenooi het om ʼn bok vir sports te wees.
Kom reis saam met my na daardie tyd wat nooit weer aangebied sal word nie, Hoër Landbouskool Kuschke, selfs hier lê ook vergange gouddelwers se honger na rykdom.
Op hierdie Kuschke se bevoorregting of herinnerings gedagtes, lê baie nuuskieriges se mites, eie stories en oneindige staaltjies. Dis ʼn groot jammerte dat net sommige kaperjolle neergepen is.
Jy is net een keer jonk, dit beteken, daardie drie ankers in die lewe. Daardie onlosmaaklike geloof in jou Skepper, daai respek vir jou skool en onderwysers, selfs jou alles gee op sport gebied. Jy moet voluit leef.
Geharde jongmanne wat hul durf en daad kan wys … of is dit kwajongstreke kon staan. Moenie die skone geslag … of is hulle manninne … vergeet nie. Kom ek sê so; ʼn skone geslag wat hul grasie met trots verdedig het. Hulle het net so min bang hare as hiérdie manne gehad.
Ons almal het die een of ander skeet wat reg geskaaf moes word, of dit deur twee vuiste is met kontak sport, of verkleinerende woorde, of wat ook al … daar moes ʼn oplossing gevind word vir daardie kwaal. Ja, die lewe daar buite is ʼn wêreld vir bittereinders.
Kan ʼn mens rêrig enige dag blameer vir wat tussen sy sekondes gebeur? Die vallei tussen die twee rantjies, met sy eksotiese wilde vrugte, het gereeld besoek ontvang, om daai lus te bevredig en die honger te stil. Alles het tog so spontaan en voor die wind gegaan. Iewers in iemand se beswaarde gemoed is daar toe oorlog verklaar. Die manne wil hul bravade bewys voor die skone geslag.
Ons almal ken die vyf klippies en die slingervel. Die slagveld is klaar gekies tussen die twee groepe, ʼn mens kan selfs sê ‘skool bendes’.
Die werp van die lot het klaar bepaal wie staan op watter rantjie. Die een kant met die wind voordeel en die ander met die sonstrale se verblindende lig hier teen die agtermiddag.
Die afstand word noukeurig gemeet oor die vallei na jou vyand, en daarvolgens word die klip gekies, om die teiken te elimineer of om hom iets van die lewe te leer.
Die meisies bemerk dat groot moeilikheid aan die broei is. In alle erns probeer hulle die geveg stop, maar dis tevergeefs. Onweerlegbaar het hulle klaar daardie inherente instink van beskerming vir hul medemens.
Party van die ouens se moed het hul begewe, ander se verstand is nou doelgerig. Die adrenalien pomp alreeds vrylik in die bloedstroom.
Sekuur word die mees geskikte klip in die slingervel geplaas … terwyl die oë stip na jou opponent kyk … stadig maar tog doelgerig word die klip in sirkels bokant die kop opgewen … om oor die swygsame vallei te slinger.
Jy hoor hoe die meisies en onskuldige klippe se waarskuwings krete deur die warm vallei se lugstroom al nader kom … maar jy sien hulle glad nie. Die koes is te laat … daardie fluitende klip wat vir jou bedoel is, het skielik neffens jou die grond getref … elke haar op die lyf staan penorent … daardie intense-benoude-angs-geklop-in-die-hart … wat nie weet wat hom nou so uit die bloute tref … so ook aan die anderkant waar jou geslingerde klip iemand se nekhare laat rys soos suurdeeg wat vergete in die knieskottel lê.
Niemand kan met klaarheid verklaar of die klip reguit of net ʼn rigtinglose klip was … Nooit is daar gedink aan watter lewensduur tussen al hierdie uiterste bravade verskuil lê. Die meisies soebat mooi. Weerskante het genoegsame Dawids en Goliats gestaan wat die ‘tweede ronde tot niet verklaar’ het.
*
©Arnold
10 Feb. 1973
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir April 2024 - Uit die oog van 'n kind projek