Jongste aktiwiteit:

  • Ricco het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Anze en Profiel foto van RiccoRicco is nou vriende

  • Ricco het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Ricco het n geregistreerde lid geword

  • Amanda het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Colin het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Jessica Venter het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Anze en Profiel foto van CHRISTELLECHRISTELLE is nou vriende

  • Anze het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • MC Horak het ‘n nuwe publikasie gemaak

Uit die argief van my dagboek

Na bykans 60 jaar, maak ek weer Oupa se plaashek oop.  Daar is ’n opgewondenheid in my hart. Ek dink terug aan my kaalvoet-kinderjare hier op Oupa se plaas waartydens my kaalvoetjies die paadjies op Oupa se plaas deurgetrap het oor watervore deur vlaktes, vleilande en oor die brug by die rivier.  Oral is my kaalvoet-kinderspore verewig in die sand van sorgvryheid, altans so het ek gedink.

Dan word my gedagtes met ’n skok teruggeruk tot die werklikheid.  Ek kyk, en ek kyk en ek kyk weer. Daar is dan niks! My oë skiet vol trane, dit hardloop vrylik teen my wange af, my skouers begin ruk soos wat ek onbeheersd met hartverskeurende snikke begin huil. Waar is Oupa se plaas dan? Daar is letterlik niks. Nie ’n werf, nie ’n opstal, nie pakhuise, nie ’n kraal, net mooi niks! Oupa se plaas is tot in die afgrond vernietig.

Eenkant tussen die lang gras staan drie sinkhuisies en een wat lyk of dit ’n long-drop kan wees, terwyl kinders met ’n bal speel en met uitbundige gille heen en weer hardloop, salig onbewus van my teenwoordigheid en die hatverskeurende pyn in my binneste. Selfs Oupa se longdrop is nie meer daar nie, en die familiebegraafplasie waar Oupa en Ouma ter ruste gelê is, is toegegroei onder die bossies en die lang gras. Daar Is geen heining meer om die grafte nie. Ek moet myself met moeite in bedwang hou om nie ’n graaf en ’n skoffelpik te gryp en die begraafplaas te gaan skoonmaak nie.

In stille eerbied het ek blomme uit die veld gepluk en dit op die grafte gaan neerlê, terwyl dominee se woorde helder in my gedagtes opkom: ‘ … gij zijt stof, en git zult tot stof wederkeeren. Hoe hartseer en finaal is hierdie woorde nie?  ‘ … dis ’n graf in die gras, dis ’n vallende traan – dis al.’ Dan hoor ek myself hartop sê: ‘Oupa, Ouma, baie dankie, julle was vir my alles wat ’n kleinkind kon begeer om te hê.’

Waar daar eens lande was en waar die kraal was staan die gras bykans skouerhoogte. Selfs die voetpaadjies wat ek so gereeld as kind gestap het is toegegroei. Ek stap deur die lang gras af rivier toe. Die watervoor wat eens die belangrikste lewensaar op Oupa se plaas was, is net ’n smal stroompie met stankende poeletjies hier en daar. Die rivier vloei nog, maar nie meer soos destyds toe hy helder en vrolik oor die klippe gekabbel het nie.

Dit is juis hier by die rivier waar ek en Simon destyds met ons dolos-osse gespeel het. Ons het hierdie dolos-osse gekry en versamel, wanneer Oupa van sy skape of bokke geslag het. Die dolos is die knobbelbeen van ’n skaap of bok. Ons het hierdie dolosse versamel todat ons elkeen ’n spoggerige kudde dolos-osse opgebou het. Die dolos-osse is dan in krale wat ons van klippe gebou het gehuisves. Elke dollos-os het ’n naam gehad. Vaaltyn, Rooie, Kolbooi en Potberg, was my gunstelinge. Twee-twee langs mekaar is hulle ingespan met jukke op hul skowwe verbind. ’n Hele span het bestaan uit sestien, soms vier-en-twintig van hierdie dolos-osse. Die voorste twee se name was Kolbooi en Rooie. Hulle was met ’n voorslag riempie om hulle ‘horings’ verbind. Die doel van hierdie voorslagriempie was om as leiband te dien waaraan ek die osse gelei het in die rigting waarin ek wou gehad het hulle moes loop. Heelagter die span dolos-osse was die kakebeenwa. Die kakebeenwa was die die onderste gedeelte van ’n kakebeen van ’n skaap wat Oupa geslag het. Ek en Simon het elkeen so span dolos-osse met ’n kakebeenwa gehad. Dan het ons ure-lank heerlik met ons spanne dolos-osse en kakebeenwaens in die sagte riviersand gespeel.

Maar vandag? Dit wat ek vandag hier sien getuig daarvan dat ons dolos-osse van destyds heeltemal deurmekaar gegooi en uitmekaar gejaag is. Selfs in die vloei van die rivier is daar ’n hartseer, so al of hy vir my in sy treurnoot iets wil vertel, iets uit vergange se dae.

Ek het op my knieë neergesak in die sagte riviersand en met my hande deur ’n waas van trane hoopvol begin grawe in die klam riviersand. Skielik voel ek iets, ’n voorwerp, wat kan dit wees? Jou werklikwaar ’n dolos. Daar lê hy. Hier reg voor my oë. Een van my of Simon se dolos-osse uit toeka se dae. Skaars 500mm onder die sand. Kan dit wees? Na soveel jare? Ek gryp bewend en angsvol daarna, en druk dit styf teen haar bors vas. Uiteindelik iets om aan vas te hou, dink ek hartop, iets van my en Simon, iets uit ons kaalvoet-kinderdae. Ek druk dit styf teen my boesem vas, terwyl die trane vrylik oor my wange vloei en wegsyfer in die sand.

Ek en Simon sal nooit weer met ons dolos-osse en kakebeenwaens hier in die sand by die rivier op Oupa se plaas kan speel nie, want hulle is deur die politieke woelinge en die moderene tegnologie, vir ewig deurmekaar gegooi en uitmekaar gejaag.

Saggies prewel ek met trane in my oë, ‘Aanstap rooies die pad is lank en swaar … ’  terwyl ek die dolos wat ek uitgegrawe het stewig in my hand vasklem en haastig terugstap na waar ek my motor parkeer het.

———————————————-oo00oo—————————————–
©Pieter Mostert
(Silwer)
AANHALINGS UIT: Die Nederlandse Bybel van 1914 (Genesis 3 vers 19); Jan F. E. Celliers se gedig Dis Al; en uit die bekende liedjie Aanstap Rooies.




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Ricco het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Anze en Profiel foto van RiccoRicco is nou vriende

  • Ricco het ‘n nuwe publikasie gemaak