Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Uitslae en kommentaar Oktober 2020 projek

Deur Anze
Datum gepubliseer: 7 Desember 2020 Aantal woorde: 2080 210 Kere gelees 7

Baie geluk aan hierdie 11 lede!

Wenners
GEDIGTE:
Goud:
(W) No 19 – Caren Kearley met oestyd na droogte
(2de) No 26 – Anzé Bezuidenhout met Jy is die rooi van my Kannabos
(3de) No 25 – Anzé Bezuidenhout met Steenson

Silwer:
(W) No 12 – Barbara Smit met Sou jy bly
(2de) No 21 – Andries Fourie met Die dorpdigter
(3de) No 33 – Loretta Szikra met Kunstenaar

Brons:
(W) No 17 – Helena Mellet met Stil geboorte
(2de) No 11 – Elmarie Nienaber van Kampen met Kindjie
(3de) No 34 – Jessica Venter met Immergroen

GORREL:
(W) GEEN

ARTIKELS:
(W) No 1 – Driekie Grobler met Dood waar is jou angel

RUBRIEKE:
(W) GEEN

VERHALE:
(W) No 1 – Amanda De meillon met Ouma Stienie en die lockdownbier
(2de) No 3 – Palet met Die Disa-blom
(3de) No 4 – Amanda De Meillon met Die wilde perde van Aus

KOMMENTAAR:
GEDIGTE:

Brons

1. Sandkasteel:
Jou gedig deel ‘n afhanklikheid wat die meeste mense vind in ‘n Opperwese. Jou gedig herinner baie (nie dat dit enigsins intertekstueel daarmee omgaan nie) aan die gedig “Foorprints in the sand”, waarvan die outeur onder heuwige dispuut is. Die nosie van God wat die mens “dra” kan ook verwys na Deut. 1:31. Desnieteenstaande, met of sonder al die verwysings (indien enige) lees jou vers eerlik en aangenaam. In die laaste strofe meld jy “hulpsoeken” wat eintlik “hulpsoekend” moet lees. Ek stel ook voor dat jy jou metrum in die laaste twee sinne verander deur die woordorde te skommel, nl.:
“kyk ons hulpsoekend op en weet,
tree vir tree, stap Hy saam”
Dit is ‘n aangename vers.

2. Praat:
Die gedig spreek ‘n sielestryd aan; ‘n warboel van gedagtes wat probeer sin maak van die menslike kondisie binnne-in die post-moderne samelewing. Dit is baie duidelik, en die onsamehangende gedagtes en woord herhaling verlig die “probleem”.
Ek sou voorstel dat jy die vers weer onder oog neem en bietjie daaraan redigeer.
Dankie vir jou deelname.

6. Perikodo:
Wat beteken jou titel? Jy gebruik ook die woord in jou vers en in die voetnota beskryf jy dit as omtrek/omvattende eenheid. Ek het verskeie woordeboeke nageslaan en selfs die soekenjins gefynkam, maar helaas, geen verwysing hierna nie. Ek sal graag wil weet in watter dissipline hierdie woord in gebruik is.
Ek dink werklik die gedig sal veel meer impak hê indien dit geredigeer word en eerder minder as meer probeer sê. Ook, selfs al stel jy ‘n retoriese vraag moet dit vir seker met ‘n vraagteken gesluit word.
Interessante vers, maar ‘n goeie snoei sal voordelig wees.

7. Kras in die ore:
Daar is ‘n paar huishoudelike dingetjies wat ek eerste wil aanspreek:
1. By die gebruik van die [‘n] moet die regte merkie gebruik word. Die aksent wat jy gebruik word die “tilde” / “virgulila” genoem en word in Spaans gebruik om die [n] as [enya] uit te spreek. Let daarop asseblief.
2. Die sinne: “ñ Jong plaasboer met sy soldate-aanleg se liggaam…” is lomp en maak die leser verward. Verder, die “jong” sal nie met ‘n hoofletter geskryf word nie, en nog ‘n voorbeeld van die verkeerde aksent-teken kan gesien word.
3. Jou titel: “kras in die ore” is totaal in teenstelling met wat jou vers probeer beweer.
4. Soebatte kan nie buite “stembereik” wees nie. Dit behoort “oorbereik” of iets dergliks wees. Die digter het grenslose digterlike vryheid, maar die inhoud moet ten minste anatomies korrek wees, of hoe?
Jou vers raak ‘n dreigende probleem aan, veral in die tyd waarin ons nou lewe. Ek stel voor jy werk weer deur hierdie vers om die potensiaal daarin te ontsluit.

8. Vryheid van bataan:
Die titel bevat “bataan” wat na ‘n WO II film verwys en dan in die vers meld jy “basaan” (ook ‘n film) of “Bashan” wat verwys na ‘n area Oos van die Jordaan rivier; of “Basan” wat ‘n spesifieke voël is. Ek is geheel verward en weet nie hoe om die vers te interpreteer nie.
Jy kan my gerus kontak op inkmoderator@gmail.com dan kan ons die vraaagstukke hieroor uitklaar.

9. Bitter
Die gedig is ‘n persoonlike worsteling (of ten minste in die mond van die karkater daarin), en daarom dink ek, omdat dit sterk emosioneel is, sou die vers defnitief kon baat deur die gebruik van punktuasie. ‘n Enjambiese aanbieding, in hierdie geval, versnel die gedig se tempo en verloor jy die aandag van die leser. Ek dink die gedig het baie potensiaal, maar die moet geredigeer word.

10. om te skryf…
Ek dink dink die erotiese ondertoon in jou vers is briljant. Die skryfproses (en ek hoef dit nie eens te kwalifiseer nie) is ‘n uitdagende proses, en daarom is jou aanslag vars en interessant.
“Woordvervulling” sal een woord wees. Baie slim gedig met ‘n heerlike aanbieding.

11. kindjie
Dit is ‘n aanroerende gedig. Baie mooi en sensitief geskryf.
As ek kritiek moet lewer sou ek wou sien dat jy die slot van jou gedig effe aanpas om die “stompheid” daarvan te vermy.
Welgedaan.

13. Filipika
Dit is ‘n baie interessante vers wat die leser boei. Die beelde en metafore daarin is vars en skerpsinnig. As ek beweer ek verstaan die werklike interpretasie daarvan sal ek moet jok, maar tog het dit my geboei. Die gebruik van die “tilde” op jou [‘n] is nie in Afrikaans gebruiklik nie. Gebruik asseblief die korrekte aksent.

14. Domein
Korte n kragtige vers. Ek wil nie onnodig krities wees nie, maar die inhoud hiervan is nie vars nie. Die idees daarin is al menige kere deur ander digters verwoord.

17. Stil geboorte
Jy het jou goed gekwyt om hierdie pantoem (Villanel) aan te bied. Dit is ‘n onaardige pyn wat ouers seker moet deur maak; wat jy met diepe simpatie en baie sensitiwiteit aangebied het. Jou vers is uitstaande.

18. Annie
Ek dink dit is ‘n lieflike, ligte vers wat mooi omsien na die emosies wat Annie in die skrywer se hart ontketen. Heerlike, lekker-lees vers.

22. Ontluikende passie vir jou
Hierdie gedig is lomp, woordoorbodig en swaar. Die sinne hier-in is te lank, die omslagtige beskrywing van gevoelens en omgewing maak die lees daarvan baie swaar.
Ek stel voor jy redigeer die vers, maak die sinne meer kompak want dit sal met die ritme en metrum help. Stuur gerus vir my ‘n epos na inkmoderator@gmail.com indien jy hulp verlang.

23. Die spieëlbeeld
Ek het baie respek vir die lewensles wat jy hier wil vasvang, maar dit voel werklik dat dit jou woordorde so aangepas het net om te rym. Inversie in digwerk is toelaatbaar en soms nodig, maar mens moet waak dat dit nie tot dwangrym aanleiding gee nie. Ek hou van die les hierin maar ek stel voor jy oorweeg ‘n redigering.

24. tuin van die lewe
Die woordorde en -keuses in jou vers is slegs om rym aan te help en daarom lees sommige daarvan lomp on onsinnig. Die gedig is ook nie vars nie. Die idees daarin is al menige kere deur ander digters verwoord.

27. om te skryf… (2)
Die inhoud is ‘n filosofiese vraagstuk. As die digter nie ‘n gelowige is nie, beweer jou vers dat die inhoud sal “dood” wees? Dit is natuurlik ‘n groter vraag met ‘n groter antwoord en kan ek dit nie in ‘n eenvoudige paar sinne behandel nie. Die gedig maak ‘n aanname, wat dalk vir die skrywer waar is, maar wat ook vir andere nie waar mag wees nie. Ek beoordeel jou vers vir die inhoud en die meriete en nie vir die filosofiese daarvan nie, maar ek het dit goed gedink om my gedagtegang met jou te deel.
Sterk vers.

29. Oer-oue liedjie
Ek hou van die musiek metafoor vir die reën wat voorspel word. Ek dink egter jy het die woordorde in sekere van jou sinne so gekies slegs om te rym en daarom klink die inversie lomp.

34. Immergroen
Jy merk interteks met Sheeran se musiek. Daar is ook ‘n bekendheid hieraan wat my aan “Evergreen” laat dink. Jou vers is ‘n mooi afskeid. Ek hou hiervan.

SILWER:
3. f-knoppie op die tikmasjien
“Aflei” en nie “aflui” nie.
Nou ja, wat sê die moderator oor ‘n “OK” sonder ‘n “F”…dit sal ‘n Picasso wees tussen die Rembrandts in die museum. Ek vertrou jy voel beter nou dat dit “FANATIKUS” in die binneste ontsluit is en “F” inderewigheid nooit weer sonder sy manskappe O en K sal wees nie.

4. Sy plan
“Feëverhaal” is een woord.
Die herhaling van “doodgewoon” is bloot onnodig. Daar behoort sinonieme daarvoor te wees.

5. Geskryf in die sterre
Alhoewel ek dink dit is ‘n emosionele vers, dink ek dat dit nie werklik op silwer standaard is nie.

12. Sou jy bly?
Dit is ‘n besonderse teer, aardseerlike vers. Die deursnit leser, en baie skrywers selfs, dink dat liefdesverse die maklikste genre in digkuns is. Ek stem nie saam nie. Die sensuele, smaaklike en onopgesmukte liefdesvers verg aangrypende selfdissipline en ingrypende oordeel. Jou vers is sag en ‘n bewys in die kleine hoe mooi liefdesodes kan wees sonder die soetsappige onnodigheid van oordrywing. Welgedaan.

15. ‘n Retrospektiewe studie op immigrasie
Ek kan nie voorgee dat ek die inhoud van die vers ten volle verstaan nie. Dit is dan ook nie jou werk as digter om te skryf dat almal dit verstaan nie, maar dit maak dit net makliker as die leser ten minste ‘n idee kan vorm wat die digter probeer doen.
“Uit die see se bloute wildheid” byvoorbeeld,sou dit nie eerder “bloue wildheid” wees nie. “Bloute” dui op ‘n verrassingselement. Die titel en veral “immigrasie” laat my kop krap.

16. Liefdesblyk
Dit is ‘n pragtige ode van verlange. Heerlik, sag en aards.

20. Kompas Cowboy
“Vrouman”, jou verduideliking ten spyt, is verwarrend. Dalk miskien “vroueman”?
Ek weet nie of ek van die vermening van die tale hierin hou nie, maar die laaste stansa werp bietjie lig hierop. Styllose, en aardse “cowboys” is seker nie die beste voorbeeld van taalpuriste nie, of hoe? Miskien as die forum hom daartoe verleen het sou jy darem die Engelse woorde in kursief skryf, neem ek aan.
Interessante vers.

21. Die dorpdigter
Dit is ‘n ongelooflike talentvolle vers. Jy moet jou talent bewaar en koester. Dit is min dat ‘n komiese vers my so beïndruk. Welgedaan met ‘n voortreflike stukkie werk.

28. Dryfhout uit die stormsee
Ken jy die kuns van Kintsugi? Dat daar selfs in die gebroke ‘n pragstuk verskuil is? Lees gerus op daaroor. Jou vers laat my aan die herwinbaarheid van selfs die gebroke mens dink. Mooi vers.

32. Leë beloftes
Mooi met lieflike beelde. Pragtige vers.

33. Kunstenaar
Die vergelyking tussen die digter en die musikant is geensins vergesog nie. ALbei gebruik die intrensieke oordeel van ‘n innerlike wroeging; ‘n soeke, in die ware sin van die woord, na die dieper, en soms die nare maar ware, crux van die menslike kondisi(e)onering. Jou vers is slim ontwikkel. Mooi gemaak hier.

GOUD:
19. oestyd na droogte
Dit is ‘n uithaler vers. Geen kritiek hierop nie. Welgedaan.

25. Steenson
Onoortroffe!

26. Jy is die rooi van my kannabos
O hoe lieflik, o hoe lekker, o hoe wonderlik…daar waar die kannabos bloedrooi blom. Pragtig!

30. Stildors
Geen kritiek hierop nie. Dalk net appel pleks van “apple”.

31. Soos die see
Nie goud standaard nie.

GORREL:
1. Glen se Landie:
As dit kom by skryfwerk, hetsy digkuns of prosa, is die belangrikste deel van die skrywer se arsenaal, woorde. Woorde verloor egter hul waarde as die spelling afgeskeep word. So ook het die woordorde ‘n belangrike rol. As ‘n skrywer, al die vermening van taal buite reken gelaat, die een belangrike aspek van behoorlike skryfwerk, naamlik spelling verwaarloos, is die werk slordig. Die belangrikste ding vir ‘n skrywer is sy gehoor. Indien jou gehoor tyd uitkoop om tyd om jou werk te spandeer dan is die kleinste teken van respek en dankbaarheid wat jy kan toon, afgeronde werk. Klein spelfoute is ‘n teken dat die skrywer nie eens sy eie werk oorgelees het om seker te maak alles is op standaard nie. Dit hoort nie so nie.
Spelling: Leë, bierblikke, in, gesê, sê,
Woordorde: “begin onderdele koop”

RUBRIEKE:

1. Dit is mos nog die mooiste maand, Oktober:
Dit is ‘n goed-voel rubriek wat die fokus verskuif. Selfs in die moeilike tye is daar ‘n titsel lig, of is dit pers? Mooi so.

ARTIKELS:
1. Dood waar is jou angel?
‘n Artikel is ‘n goed nagevorsde inligtingsvoorlegging. Wat jy geskryf het is eerder ‘n rubriek. Ek kan nie jou inskrywing in hierdie kategorie beoordeel nie.

VERHALE:
1. Ouma Stienie en die lockdownbier
Komies en koddig. Lekker leesverhaal.

2. Die oproep
Let asseblief op spelling!!!

3. Disa blom
Heerlike verhaal.

4. Die wilde perde van Aus
Dit sal wonderlik wees om hierdie verhaal ten volle te ontgin. Dit is asof dit bietjie stomp eindig en die leser vra vir nog.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 288
Kommentaar telling: 3222

Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 2 kleinseuns en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 230 gaste aanlyn

Bydraes – Argief