Jongste aktiwiteit:

U$S 200 000,00 sonder leerskoeisel Woorde 917

U$S 200 000,00 sonder leerskoeisel

*

Die herfs skud sy laaste vergeelde blare van die huidige seisoen af. Die winter het vinnig by die agterdeur van die laaste paar mooi dae ingesluip. Die getal 13 bring vir baie mense net hartseer en juis moet dit die dertiende November wees wat vinniger swig onder die naderende nag se ysige sluier. Dit wek ʼn onheilspellende milieu met die grondpad wat kronkel-lê … deur yl geraamte bome na ʼn so te sê verlate nedersetting.

Die minute sluip ligvoets verby met ligte reënwolke wat vroeg-vroeg nader skuif uit die noordelike sfeer. Daar is ‘n geniepsige ysige wind wat rusteloos in die lug draal. Verlangs knerp ʼn voertuig oor ʼn stukkie nat gruispad. Skielik, uit die bloute … daardie knerpende wiele se geluid wat met ʼn slag tot stilstand kom. Reëlmatig knerp die gruis onder twee onseker voete wat al nader beweeg.

Hy skrik toe daar iewers ʼn selfoon lui. Sy gedagtes werk in ʼn versnelde tempo. Alles gaan net te vinnig na sy sin … die adrenalien pols al sneller deur die are … en die nag is nie meer so jonk, met vreesaanjaende voete wat na skuiling soek.

Ongestoord hang daar nou swaar mis tussen die kaal gestroopte takke wat stelselmatig druppels vorm, saam met die laaste druppels reën wat na benede val.

Twee dae later is daar by die verlate nedersetting, ʼn klop aan die klooster se swaar houtdeur. Hy wag geduldig dat iemand moet oopmaak. “Goeienaand, Priester Alo Robio.” Sy staan opsy en probeer oogkontak vermy, dat hy kan inkom en maak die deur toe.

“Goeienaand Suster.” Sy begelei hom na sy kamer … onderwyl sy hom oor baie dinge uitvra. Ontwykend antwoord hy slegs die aller nodigste.

Hier moes Alo hom weer opwerk tot ʼn hoër posisie tussen die ander priesters. Sy gewildheid het toegeneem en hy het al meer lof ontvang in die klooster en by die kerkgangers.

Deur die maande het Suster Beatrix en Alo al meer onder bespreking gekom. Die twee was gedurig in mekaar se geselskap. Niemand kon iets bewys dat die twee onverantwoordelik optree, ten opsigte van die klooster se reëls.

Vader Apio bemerk iets vreemds gedurende die laaste tyd in sy kerk … dan wonder hy of hy homself verbeel dat daar stilletjies van die kosbare items uit sy kerk en klooster verdwyn. Hy weet dat hy nie net sommer sy mense kan verdink nie. Die getroue bydraes van die gemeentelede het ook begin voete gekry oor die laaste jaar. Die polisie was al verskeie kere hier om die saak op te los. Keer op keer is daar g’n leidrade om op te volg nie met betrekking tot die vreemde gebeure in die klooster.

Maak nie saak waar vader Apio die geld wegsteek of bewaar nie … die vreemde voete wat die geld laat lyk of dit ook voete gekry het … bly ʼn misterie. Hy moes iets drasties doen omtrent hierdie saak, maar het geen idee waar om te begin nie.

 

Tydens die jaarlikse sangfees wat by die katedraal gehou word, speel vader Apio siek … want hy moes ʼn plan beraam.

Niemand het geweet watter tyd van die nag … dié geld voete kry om so stil-stil weg te sluip. Slaap is soms die grootste vyand as jy skelms wil vastrek.

ʼn Warboel tref die klooster … dis ligte wat aangaan … almal skarrel om te sien wat gebeur. Suster Beatrix lê uitgeklop op die vloer … nie so vêr van waar die geld vir die nag in veilige bewaring was, want die kerk was net nie meer veilig gewees vir die aardse materiële … sy is nou in bewaring en onder die oë van die gereg.

Vader Apio was geskok … en tog ook baie bly dat hulle nou die alias in die hande kon kry. Priester Alo Robio getuig dat hy haar op heterdaad betrap het. Vader Apio stap na sy slagyster wat hy gestel het. Die vlees was lankal nie meer gewillig om die vaak af te weer om die skelm vas te trek…

“Priester Alo Robio kom ek vertel jou iets wat jy nog in die lewe moet leer. Hoe graag hits die duiwel ʼn mens aan om misdaad te pleeg … en daardie selfde duiwel kla jou aan … dis baie interessant nè?”

“Waarvan praat jy … jy het geen bewyse nie, Vader Apio!”

“Jy sien Alo … ek glo jy het ʼn ander naam waaroor jy dalk minder skaam sal wees.

Die senuwees knaag aan die man sonder naam. “Wat bedoel jy hiermee!”

“Jy weet wat daardie nag gebeur het! Twee dae voordat jy hier opgedaag het. Die polisie het al die tyd op die verkeerde plekke gesoek. Soos ek al gesê het; die duiwel is slinks in sy eie planne en hoe sal ons dit verstaan.”

“Bog man! Jy wil my in iets sleep waarvan ek niks weet nie!”

“Dit kon so anders uitgedraai het as jy maar net priester Alo Robio gehelp het. Ons dog jy en Suster Beatrix knyp die kat lekker in die donkerte. Wat Suster Beatrix betref, sy het jou nie vertrou nie … sy en priester Alo was vyftien jaar gelede goeie vriende en daar het baie dinge intussen gebeur.”

“Ek het hierdie geheime kameras laat installeer. Jy was vernuftig genoeg om tot op hede U$S 200 000,00 sonder leerskoeisel te laat ontsnap uit bewaring, so ook jou ontsnapping uit die tronk kon jy nie langer verdoesel. Ongelukkig kon jy nie uit my briljante idee ontsnap om jou onskuld nog langer te bewaar.”

*

©Arnold

2 Mei 2024

Woorde 917




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed