Jongste aktiwiteit:

Verdraaide kaleidoskoop. Woorde 431

Daar is ʼn wilde waterloot wat spruit uit die laaste bietjie krag van ʼn niksbeduidende wortel. Ja, ʼn bekwame boer laat nie toe dat uitgediende boomwortels sy akker verder onvrugbaar maak nie. O, hoe slim kan geleerdes word by mense wat onbevoeg is om enige leiding te ontleed? Slim mense sê: dis die snuiter se eie skuld, oordat hy nie by sy omstandighede kan aanpas nie! “Ek is net ʼn veertien jarige wêreldling met voete van klei, wat in die smerige modderbad van verleiding en maak-soos-jy-wil vasgeval het.”

Lekker word die dobbelsteen van onskuld weer gewerp vir daardie gelukkige ses … op die dobbeltafel van die lewe … dan kan hulle mos verder van die waarheid af wegskuif. Net môre … ja, net in daardie môre wat so vêr in die toekoms lê … word die jeug rypgedruk vir ʼn sogenaamde slimmer en beter wêreld.

Ek moes uit ʼn beker drink waar liefde lankal gesterf het … ʼn ma liefde wat ook op droë liefde moes teer vir oorlewing … dit het ek as erf-liefde ontvang. My integriteit is gedreineer soos wat Ma en Pa die een na die ander bottel alkohol met liefde verorber het. Ek is daardie nuttelose weggooi bottel … daardie laaste bietjie vog en aroma het jul aan die dorheid van julle omgee status bygevoeg.

Daardie vernedering wat teen my oë vlies weerkaats; gewillig wil ek die poorte van sien sluit, want in dorheid kan ek nie meer enige traan van berou stort. Ongelukkig word die stiebeuel van my gehoor nie vol van woorde wat elke menslike aspek in repies opkerf. O, en hoe verlekker mense hul in daardie nuwe braakland van bestaan om so graag alles te wil kom omdolwe. Onkruid-gedagtes wat rond en bont gesaai word, net tot voordeel van die saaier.

Dit is om die klok van vermoeiende dae en kil nagte se omdraai en weer omdraai tot by die verraad van hanekraai voor die dag stil ontwaak… Onverpoos worstel my siel en gedagtes oor dinge waaraan ek niks kan doen nie. Al my gedink het iewers by deurgetrapte voorgee sypaaie gekom en my net so wees gelaat as wat ek daar aangekom het.

Weet u hoe dit voel om soos ʼn vreemdeling in jou eie woorde rond te ploeter; woorde wat g’n gewig dra by beterweters met hul eie meulsteen om die nek?

Hoe graag leef elk in struikel en val … weer probeer met nog ʼn groter agteruitgang … wat ʼn eentonige vooruitsig, waar elk soos ʼn passer om sy eie kern wentel net om weereens by die beginpunt uit te kom.

*

©Arnold

22 April 2024 om 12:35




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed