Verloënde Spore (goud)
Die dag toe Afrika my insluk
en sy haar kors vol kluite en klonte
oor my siel stort
moes ek geweet het
te laat sal te vroeg nooit kan vervang
terwyl die laksman oor ons lamtes loer
het ek my skouersak gepak
kaalvoet die mense om my gegroet
verby die leë krale in die Karoo gestap
gehuil oor die misoeste in ons volksverwoeste land
sifsels van gister se stof
het my longe verbrand
maar ek moes aanhou stap
weg van hier
onder toe
verby die karkasse en wit bene
moes ek myself ontheg
van my geboorteland
myself vry gemaak
van hierdie mistifiserende chaos
wat alles en almal
aan flarde skeur.
© Caren Kearley
FB: Nimfoleptiese Woorde
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die April 2023 KLUG projek