Jongste aktiwiteit:

Voor my in die klas

Voor my in die klas

Jy staan voor my in die klas
by jou tafel, met jou moedertaal …

Die hele deurmekaarspul en debat oor taalregte in onderrig, klasgelde en klipgooiery deur ongelukkige studente, is nie eintlik vir my ’n steurnis nie. Dit skeel my min of die lot wat die strydbyle opneem om Afrikaans in die klaskamer te beskerm suksesvol is al dan nie; wat my wel gaan pla, is wanneer hul weerhouding van fooie en speelgoedgooiery ( “toy-toy” ) my seuns van die geleentheid gaan ontneem om behoorlike onderrig te geniet!

Dan mag politieke korrektheid moontlik met grenslose onverdraagsaamheid vervang word…

Elkeen van die onderwysers of leerkragte en dosente wat ek op die pad na my mildelike middeljare in herinnering kan roep, het elk op hul eie unieke manier ’n deel tot my lewenservaring bygedra. Elkeen van die handjie vol wat ek kan onthou, het hul rooi of groen pen se merkies op my menswees gelaat. Jammer vir die res; ongelukkig het ek hulle vergeet!
Ironies genoeg is dit ook so dat die taal wat die noemenswaardige opvoeders en opleiers gepraat het of in hul klas gebruik het, geensins bepalend in hul nalatenskap vir my was nie.
Die waarde van elkeen van hierdie manne en vroue was verdiend uit die toewyding tot hul roeping en was die resultaat van hul liefde vir die taak, maar moontlik meer nog, daardie deel van hul persoonlikheid en karakter wat ek kon raaksien, glo en aanvaar.
Dit het niks met spreektaal te doen gehad nie; net menswees.

Op Laerskool in die laat sewentigs in Bellville, was daar net een onderwyser wat op my ’n indruk gelaat het. Weens my stuitigheid en verskeie balhorigheidskete het die ander onderwysers en die skoolhoof meer as gereeld verkies om eerder ’n afdruk op my sitvlak te laat!

(Iets waaroor ek beide spyt en dankbaar is.)

Vandag, 36 jaar later, onthou ek en baie ander van my tyd steeds van die inhoud van die geskiedenislesse wat hierdie leerkrag aangebied het. Hy het by my ’n liefde vir my taal en die mense van die verlede aangewakker. Alhoewel ek ten spyte van verskeie pogings nooit as verhoogakteur onder sy leiding kon opspring en nóg ’n Chris Vorster of dalk ’n blesser weergawe van Arnold Vosloo kon word nie, was ek ook deel van sy verhoogstukke en sy pogings om kultuur tot ons dae by te voeg. So kon ek as Judas in Andrew Lloyd Webber se Joseph saamsing; soveel so dat ek dit vandag steeds kan doen!

Niemand beweer dat hy die perfekte leerkrag was nie. Sommige mag moontlik nie eens dieselfde ervaring gehad het nie, maar vir my is sy invloed en die stempel wat hy as mens op my geheuekis geplak het blywend en dít het van my ’n beter mens gemaak.

Met storm en ’n lae drang is ek na die hoërskool oorkant die straat. Daar moes ek aanvanklik stoei met die aanpassingsgedagtes en ander kopsere en gou het die kinders en van die leerkragte ’n spreekwoordelike bordjie om my nek gehang. Die begindae was goor en om onder die “radar” te vlieg, het ook nie veel gehelp nie.
Maar, met genoeg tyd kom daar genoeg raad.

Twee leerkragte, onderwyseresse, het hulle vierkantig in my hoed van goeie gedagtes kom staanmaak. Beide taalmense, een Ingels en die ander Afrikaans. By hulle het ek geleer taal-dink. Hulle wou ons toelaat om skrywers en digters van ouds se werke te ontleed; as’t ware te bepeins en daaroor te gesels. Sommige van ons wou net die betekenis hoor en neerskryf, maar teen die einde van my skoolloopbaan was ek driftig oorgegee aan die verslawende lekkerte wat tussen die lyne van poëtiese beelde geskuil het. Soms tot hul frustrasie en tot op hede eintlik my geheim.

Briewe skryf en van tyd-tot-tyd ’n opstelletjie en soms ’n gediggietjie is deel van my dag se werk en ontsnapping en elke keer wat ek die een of die ander doen, dan hoor ek hul insette; dan hoor ek hul spelreëls- en grammatiese leiding.

(Soms onthou ek egter ’n bietjie verkeerd!)

Van ons klasmaats mag moontlik nie dieselfde ervaring gehad het nie, maar vir my was hul invloed en die stempel wat hierdie twee vrouens op my geheuekis geplak het blywend, en na 26 jaar, het dít van my ’n gesonder mens gemaak.

Kortom, ons elkeen, ongeag van geslag, ras en ouderdom behoort die voorreg te hê om iemand uit sy of haar skoolloopbaan te koester. Om te wil erken dat Meneer Sis of Mevrou So ’n vormende invloed op jou lewe gehad het.
Soortgelyks en weereens sonder voorbehoud van gedaante en geloof, behoort elke leerkrag die soetheid van sy nalatenskap te mag ervaar, sodat hy of sy kan weet dat die kleinerige salaris nie alles was nie, dat die vloek en skel by die afrolmasjien nie onnodig was nie en dat daar aan die anderkant van die skool se grensdraad volwassenes rondloop wat die waarde van verantwoordelike optrede vind, wat die geluk in menswees soek en by hul kinders dieselfde waarheid probeer wakker maak.

My ode aan hierdie soort onderwyser is …

Onderwyser
van Antjie Krog

Jy staan voor ons in die klas
by jou tafel, by jou moerdertaal
by jou boeke, jou hoedjie en jou tas
Jy staan voor ons soos ‘n klein Jericho
en al het jy mure om jou gebou
dra jy tande van silwer en goud
en al het jy wagters in al jou torings
bly daar ‘n Ragab in jou
Tog bly jy sterk,
al trek ons elke dag óm jou
met die ark van die jeug op ons skouers,
met trompette van ligsinnigheid voor ons monde
Tog bly jy werk,
al krummel jou mure op die sewende dag
al val jy vooroor op die aarde
jy sal nie kla oor jou lot
want Malherbe is jou here en
Totius jou god.




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed