Vrees
Vrees – Vernielsugtige Redenasies En Erge Stres, deur Stephan Uys
Ek is op voorafbetaalde krag en ek is bietjie bang die krag mag dalk netnou opraak, so ek wil net gou-gou ʼn ietsie sê oor vrees. Ag hemel, gepraat van opraak. Ek hoop ek het nog data oor sodat ek my skryfsel kan instuur en ʼn paar e-posse kan lees. Ek is bevrees my data raak deesdae vinniger op as nagmaalwyn by ʼn konferensie; ek was juis laas keer bang gewees die beker gaan dit nie tot by my maak nie. Kyk, ek is nie ʼn man wat vol vrese en fobies is nie. Nee wat, ek lag vir hierdie outjies wat se broekspype begin bewe as die windjie liggies begin huil. Die knape moet maar by my dokter ʼn paar Prozacs kom haal. Vandat ek vir my arts gesê het ek is bang ek het nie genoeg geld vir petrol om elke maand in te ry nie, gee hy my nou al sommer ʼn voorskrif vir drie maande vooruit. Voorwaar ʼn vriendelike man, maar ek is bang hy doen my in met sy fooi. Miskien moet ek maar ʼn ander dokter gaan soek, maar ek is bevrees goeie dokters is deesdae skaarser as koeksusters by begrafnisse.
Nee ek grap net. Vrees is ʼn lelike monster! Ek onthou as jong knaap was een van my grootste vrese dat die Heer se wederkoms sal plaasvind voor ek trou. As kind het ek in die bed gelê en ure omgebid dat die Here my tog asseblief net ʼn kans sal gee om met ʼn mooi bruid te trou. Die Liewe Heer het getalm en ek is intussen met ʼn pragtige vrou getroud. Dis nou nie dat ek ondankbaar wil klink nie, maar ek het al ʼn paar keer gewens die liewe Heer het maar eerder nie getalm nie…
Ek het egter reeds in die laerskool geleer dit help nie jy vrees nie. Die jaar was 1982. Ek het ʼn befoeterde onderwyser gehad vir Aardrykskunde en Geskiedenis en het menigmaal pakslae gekry omrede my handskrif volgens die onderwyser glo gelyk het soos ʼn agterplaas aborsie. Twee dae voor die Julie vakansie begin, steek ʼn splinter so groot soos ʼn ses duim spyker onder my regterwysvinger se nael in. Deur die trane en pyn kry ek genoeg hout onder my nael uitgegrawe dat ek vir Ma ʼn nuwe koekroller kan maak. Die volgende periode moet ons huiswerk inhandig by die gevreesde onderwyser, en arme ek is nog besig om by Talana huiswerk af te skryf. Ek vee toe maar die snot en trane met die rugkant van my beseerde hand af en hervat die afskrywery in alle erns. My vinger klop so ek kan nie die pen behoorlik vashou nie. Ek sit op ʼn stadium terug om my vinger te vryf en asem te skep. My oog val op my pennevrug en vrees druk sommer al die vredes en vreugdes van die res van my skoolloopbaan net daar dood. Ek het nie in daardie stadium geweet wat ʼn agterplaas aborsie is nie, maar ek kan in my boek sien dis definitief nie iets wat mens oor spot nie. Ek besluit ek sal maar met die linkerhand probeer skryf, want dit kan wragtag net beter lyk. Ek was verkeerd! Ek word skoon kortasem van vrees toe ek moet stoei om te lees wat ek geskryf het.
Net na ek klaar geskryf het, lui die klok en ons stap oor vir Geskiedenis. Ek is bang die Geskiedenisboeke sal eendag getuig dat ʼn jong onskuldige Standerd 4 skolier op die skoolgronde doodgeslaan is, en bejammer myself vreeslik. Die man gee daardie dag klas asof hy werk vir ʼn prestasiebonus, en ons handig ons boeke na die periode in. Ek weet nie of ek moet lag of huil nie, want ek weet my velle is vir nou gespaar, maar die swaard is getrek en lê swaar teen my nek! Ek weet wat gaan gebeur na die vakansie.
My hele vakansie is sommer bedinges. Sodra ek wil lag, onthou ek van my huiswerk en my handskrif. Die vinger is al lankal gesond, maar my gemoed bly stukkend. Ek vrees die skole se heropening soos Dracula sonskyn vrees. Ons gaan see toe, maar selfs die see se branders is minder plesierig die jaar.
Uiteindelik is die vakansie verby en ons heel eerste periode is Geskiedenis. Ek stap sleepvoet by die klas in en sien onmiddellik die stapel boeke wat op die meneer se lessenaar lê. My maag maak ʼn draai en ek sluk hard aan die naar wat in my keel opstoot. Ons het ook skaars gaan sit, toe begin die man boeke uitdeel en leerders se boude verhit. Dit is einde Julie en ʼn klein bietjie hitte gaan baaaaie ver in die koue – en die meneer is besonders vrygewig as hy hitte uitdeel. Teen die tyd dat hy my naam lees, het ek al soveel beloftes aan die Liewe Heer gemaak, as ek almal moes hou sou ek nooit kans kry vir stout wees nie. Ek weet nou nog nie of die meneer se arm moeg was, of hy gesien het hoe bang ek is, en of die Liewe Heer dalk my gebede verhoor het nie, maar hy het my boek oopgemaak, geen aanmerking gemaak nie, en dit net so oop aan my teruggegee. Ek het verstom na my handskrif op die bladsy gekyk. Daar lê my pennevrug – die een letter is leliker as die volgende, en tog stap ek ongedeerd terug na my lessenaar. My hele vakansie was opgefoeter oor onnodige vrees!
Daardie dag het ek besluit dat vrees maar moet wag tot die papaja die verkoeler tref. Mens vrees dinge wat nooit realiseer nie, en spandeer tyd, energie en geld op dinge wat jou vrees moet verdryf. Ek het geleer vrees sit in jou kop en jou hart, en die oplossing lê nie in jou alarmstelsel, versekering of selfs oorsee nie; die oplossing lê op jou knieë. As ons meer tyd in die Vader se teenwoordigheid spandeer, sal vrees minder tyd hê om ons gedagtes te verniel. Ek kry dit nie aldag reg nie, en soms spring vrees soos skelm veldvure oor my geloofsheining. My vertroue is egter op die Here en in Sy voorsiening. Paulus verklaar: “As God vir ons is, wie kan dan teen ons wees?” Dit is ook my vaste geloof, en ek weier dat vrees my lewe beheer en my vrede steel.
©Stephan Uys 2018/08/29
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.