Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Waar is hulle… Kan jy die voëls hoor?

Deur Hennie Fritz
Datum gepubliseer: 30 Mei 2016 Aantal woorde: 1020 899 Kere gelees 17

Die afgelope tyd het hierdie gedig en die pad soontoe weer woelig kom kuier…

Kos vir ‘n Mossie vir ‘n aand
Hennie Fritz
[2014-02-19]

Kom ons kyk vir die voëls,
in die lang doringtakke,
die digte plante, bosse,
kossoekend op die grond.

Dis vroegaandtyd
en moeder aarde is koel,
die lug is soos ‘n rivier
wat die stilte skud.
Die ruik van jenewer,
ruimte en wortels
op ‘n oorhoofse liefdeslied.
Dit is hoe ‘n voël moet vreet,
hoe hy uit sy keel moet sing
mossieman, kleiner as my vinger –
vanaand spoel daar waters
waar sy snawel die kos verslind.

Word vervolg later…

Soms gaan soek ek op ’n Sondag die sonderlinge waarheid wat uit die ontleding en bediening van die Woord aan my opgedis word. Soms is daar egter warm terapie en strome van seëninge en verlossing in die keurige raserige boodskappe wat in die gekwetter en gesels van die voëls uit die bome rondom ons huisie verkondig word.
Die amper nimmereindigende keur van deuntjies wat dan en wan deur ’n geskarrel of ’n kat versteur word en net so vinnig voortgaan met selfs ’n harder geroep en gesing, so-by-so dat die kerkklok en goedsdienstige spitsverkeer verswelg word deur die voëls se “wiet¬wieiet”, ‘n skerp “hiehiehie¬hiehie” gevolg deur “hoeiet¬hoeiet”, verskeie “foee¬iet” ’s gevolg deur “hie¬hoeei”, “woe¬hie¬hoe” of “whoe¬ie-oei” gevolg deur “oei¬hie¬hoe”, “fong” gevolg deur “fioeu” en “shie” en ’n “chiep.”

Die ander dag stuur die een of ander vreemde diensverskaffer vir my ’n boodskap op die slimmer-as-ek-foon. Kortom, hulle wil voëlgeluide se luitone aan my verkoop. Net R36 per maand, elke maand, sodat ek ter enigetyd na die gesang van ’n voël kan luister, of sodat die selfoon kan sing wanneer ek ’n oproep of so iets ontvang.
’n Vars sintetiese voëlgesang met die druk van ’n knoppie of die gly van my voorvinger. “Hierts” en die “wiet-wieiet” is daar!

Soms sit ek in die verkeer, tussen die hope metaaldoppe met hul kentekens en “fensie” sitplekke aan die een sy en op ‘n ander die rokerige onpadwaardige gedrog wat sy baas vir net een keer nog erens heen moet neem.
Die Minibusbliksem wat geen agting vir enige iemand of lewe het nie, behalwe dat die “guardtjie” se geldsakkie vetgevoer moet word. Dis egter die werklikheid wat by mý verbygaan; die rêrige werklikheid wat agter elkeen van hierdie self-opgemaakte stories oor mense en hul karre en hul wese leef.
Wat my moontlik net so vêr van hulle verwyder, soos die nagemaakte selfoon-gekwetter van ’n Budgie verwyderd sit van die Vinke in die bome in ons buurt.
Nie alles wat ons sien is waar nie en min van wat ons hoor, is eg.

Die afgelope tyd was die sosiale media weer vrot gepos met die boodskappe van welwillendheid en goeie geestesgesondheidsriglyne. Prentjies met bekende Amerikaanse akteurs wie se gesigte omsoom word met sensasionele woorde van waarheid…”there are far better things ahead, than any we leave behind” of “Life is very interesting… in the end, some of your greatest pains, become your greatest strengths.”
Wat de joos beteken al die snert wat ons mensdom kwytraak? Het stellings en sê-goed ewigheidswaarde bloot omdat ’n sogenaamde bekende so sê of is dit die treffende effektiwiteit van goeie reklame en bemarking?
Is al my vooropgestelde oordele, idees en gedagtes van wat reg en werklik is geregverdig en is dit eg in hul invloed net soos die woorde of lettergrepe wat herhaaldelik in ’n mantra gedreunsing word?
Ek weet nie, maar wat ek wel weet en alhoe meer besef, is dat ons voorgeslagte en elkeen sedertdien die kuns van persepsie behoorlik bemeester het.

In die intensiewe sorg van die luukse mediesegerief in ons dorp, kom ek noem dit die Durbanville-Sun, lê daar mense met pype en papsakke en naalde en drade en monitors en susters uit Durban wat snaakse Engelse praat wat hulle daagliks versorg, terwyl die reuk van die dood met lugversorgers in toom gehou word.
Die werklikheidsdrama wat in hierdie sale draai, is seemyle verwyderd van die werklike mediese sorg wat die gryses, krankes en stukkendes in die sogenaamde staatshospitale ontvang. Hierdie luukse geriewe se doel is om bemoeienis met ’n eintlik gestorwe liggaam te maak, deur die sintetiese bewaring daarvan.
Hier stry die die doodsengel teen die aanslae van die satan én sy trawant, mammon; dieselfde mensgemaakte werklikheid wat ’n monster as ’n heilige uitbeeld en ’n gelowige as goddelik.

In sy Gebed deel Koos du Plessis sy werklikheid met ons; ’n werklikheid wat die temper van tyd, tegnologie en teologie sal deurstaan, want…
“Elke afdraaipaadjie ken ek.
Elke keer het U my iewers kom haal,
Elke dag is ‘n gedagte, elke kamer net gehuur.
Elke aardse droom van rykdom en roem, net ‘n skadu teen die muur.”

Vervolg van bo…

Waar is die voëls?
Miskien is dit die geritsel in die blare
of ’n vlugtige klont bruin fluweel
of ’n verplaaste blaar losgelaat.
Was dit ‘n voël? Is dit stof?
Voëls van die duiwel
met hul geneul en gelui
met hul nuttelose vere
hulle sinlose kommentaar
oor alles wat bestaan;
verniel hul die aarde se oeste
stroop die lande van hul graan!

Ek wil hulle nie streel nie,
ek wil hul pompeus sien,
ek wil hulle nie balsem onder glas nie,
ek wil sien waar hul woon,
ek wil van hul gesinne weet
waar hulle hul kinders versteek,
hoe hulle water- en kosplekke nooit vergeet,
en hoe hulle saans gesprekke voer.
Ek wil hulle op my gehuurde mure sien sit,
beelde van rus, ongestoord, grys, swart en wit.
Kan jy hulle hoor?
singend soos ‘n hemelse koor.

Gisteroggend kon ek die waarheid van die oorweldigende, maar heerlike gesels, van ons geveerde vriende lê en luister en kon ek my oë sluit en dankbaar weet dat niks meer eg is as juis die blare aan ’n boom en sy inwoners en die sagteplek in my hart en elkeen wat daar sit nie.
Kon ek dankbaar my oë gesluit hou… in die wete dat ek nou hier moet wees.




TEMAS
4 Kommentaar
  1. Anze

    30 Mei 2016

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Teenstellings projek

  2. neels

    30 Mei 2016

    Hennie hierdie het ek nou geniet

  3. Evelyn van der Merwe

    31 Mei 2016

    Hoe raak jy nou ‘n sagtepunt aan. Ek bestudeer ook die voëls en hul maniere en ons kan inderdaad baie by hulle leer. Dis net ‘n anderse “praat”uit die natuur wat die hart raak.

  4. Kiekies

    14 Junie 2016

    Presies net daar!! En hierdie moes ek nou en hier lees, want dis alweer so puik dat ek nie woorde het nie!

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 37
Kommentaar telling: 0

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 347 gaste aanlyn

Bydraes – Argief