
Waar Liefde Begin – Hoofstuk 11
Hoofstuk 11 — Van Gister na Vandag
Dit is die agtiende Desember, agtuur in die oggend as Laurie deurstap na die paspoort beheer by Oliver Tambo Lughawe. Met die instap in die saal is die beampte by haar — “Dokter Kilber volg my asseblief, ek gaan u bystaan deur die proses.”
Hy neem haar aan die arm en hulle stap na die toonbank waar hulle onmiddellik gehelp word. Laurie weet, soos met die reëlings in London dat Sir Ronald Brooks daarvoor verantwoordelik is. Vir ʼn stonde wonder sy, hoekom al die hulp van die mense — wie of wat is hulle werklik en waarom?
Dit vat enkele minute om deur paspoort beheer te stap. Die beampte neem haar aan die arm en hulle draf saam na ʼn sydeur wat hulle terug na die ‘Vertrek’ area neem.
Sy sien die bordjie met haar naam op en die beampte stuur haar in die rigting van die jongman wat haar dadelik nader wink.
“Dokter Kilber?”
“Ja.”
“Ek is Johan Degenaar van ‘Flying Wings Vliegskool’, Dokter Koot Froneman het ʼn helikopter gehuur om u dadelik na die Unitas hospitaal te vlieg. Ek gaan u deurvat na die uitgang waar ʼn motor reeds wag om u aanloopbaan toe te neem.”
Die beampte skud Laurie se hand — “Dankie, baie dankie hiervoor.” Hy knik sy kop en glimlag.
ʼn Ruk later stop hulle langs die helikopter waar sy ʼn oomblik stilstaan en kyk na die hemel, sy sluit haar oë en voel die warmte van die Afrika son op haar gesig. Skielik is daar ʼn gevoel van onbeskryflike vreugde in haar en weet sy, sy glo — dinge sal reg uitwerk.
In die helikopter help Johan Degenaar haar om haarself vas te gord voor hy langs die loods gaan sit. Die loods glimlag en met die lig van sy hand wys hy hulle is gereed om te vertrek en sy knik haar kop.
In Londen is daar pandemonium by die kantore van Skotland Yard waar al vier families byeengekom het met die hulp van Sir Ronald Brooks. Die uitslag van die Waarheid en Versoenings Kommissie is ontvang — Die Kommissie het amnestie verleen aan die persone by name van Selma Elizabeth Townsend, Gregory Rochester Phillips IV, Josua Joseph Parker en Laurika Anne Ruben op een voorwaarde: – die amnestie kan net bekragtig word indien al vier persone in Suid Afrika voor die Kommissie kan verskyn of as daar ʼn amptelike sterfte sertifikaat ingedien kan word.
Johan se woede ken geen perke toe Rodger King vorentoe stap en direk met hom praat — “Kolonel selfs al sou die uitslag van die Kommissie nie in die guns van die vier persone wees nie, kan ek hulle nie aan u oorhandig nie.”
“Waarom nie!” skree Johan.
“Ons moet protokol volg omdat hulle Switserse burgers is en kan hulle net aan die Switserse Owerheid oorhandig word. Verder is daar geen bewys dat hulle die persone is waarna verwys word nie omdat die identiteit dokumente aan die persone by name van Monique Belzar, Josephine Brunel, Jarques Laporte en Jean Ellisalde uitgereik is en wat ons reeds met die Switserse Konsulaat bevestig het.”
“So hulle kom weer weg?”
“Kolonel as hulle die persone is na wie daar verwys word is dit hulle reg om as vry persone na Suid Afrika te reis om hul permanente vryheid te bekom maar vir nou is my hande afgekap omdat ek opdrag gekry het om hul vry te laat. U aan die anderkant is nie vry om te gaan nie, ek het opdrag om te verseker dat u op die volgende direkte vlug terug na Suid Afrika vertrek.”
“Wat — wat de hel sê jy?” Johan is wasbleek van woede.
“Slegs u sal weet wat dit beteken Kolonel.”
Almal is eers verstom voor daar ʼn gejuig uitbreek en Selma vir Matthew vasgryp en hom teen haar druk. “Ons is vry Matthew, ons gaan weer ʼn familie wees.”
ʼn Sorgelose lag volg, gemeng met trane en vir die eerste keer in jare is daar vreugde wat gemeng is met trane by Selma te bespeur.
Rodger King stap vorentoe en skud George se hand — “Sir George, julle is vry om te gaan maar om ʼn einde aan alles te maak, raai ek julle aan om na Suid Afrika te reis om die amnestie te bekragtig.”
Sir George weet al die feite rondom die vier is bekend aan Rodger King en deur hom, wat empatie betoon het met die hantering van die saak by Skotland Yard, het die saak nou tot ʼn punt gekom.
“Ons sal nie die wonderlike geleentheid verbrou nie, dit sal afgesluit word voor Kersdag.”
Hy neem Rodger King se hand in syne — “Dankie Rodger vir alles.”
Rodger King stap na sy kantoor en skakel Sir Ronald Brooks — “Dit is gedoen Sir Ronald, die families gaan vertrek en Graham sal op die volgende vlug na Suid Afrika vertrek, u kan nou gaan rus.”
“Ek is in jou skuld Rodger en dankie van ons almal.”
Ronald Brooks lui af, sy skuld omdat hy in negentien ses en tagtig nie Matthew saam met hom uit Suid Afrika gebring het nie, is nou betaal.
Hy sluit sy kantoor en gaan huis toe. Dit wat hy moes doen, is gedoen. Die beste nuus is, sy kleinseun leef en hy is dankbaar vir haar wie dit moontlik gemaak het.
Selma stap tot voor Johan — “So Graham, ons sal weer ontmoet in Suid Afrika.”
Sy kyk hom in die oë en vervolg met ʼn jammerte in haar stem — “Jy is die mees patetiese mens wat ooit geskape is.” Met dit gesê, draai sy haar rug op hom, stap na haar kind en Johan besef, vir die eerste keer het hy nie beheer oor sake nie.
“Ons moet Laurie probeer kontak en haar laat weet ons dink aan haar in die moeilike tyd,” sê George.
“Ek het die nommer van Laurie se prokureur, hy sal ons kan sê hoe dit gaan,” antwoord Matthew en haal haar visite kaartjie uit sy sak.
Rodger bied dadelik hulp aan — “Julle is welkom om my foon te gebruik.” Hy wys hulle moet hom volg na sy kantoor.
Joos is nie verbaas om die diep stem van Matthew te hoor nie, hy het die oproep lankal verwag.
“Is dit met Matthew St. Nicolas wat ek praat?”
Matthew se erkenning volg en sonder om te wag gaan hy voort: “Net ʼn oomblik, ek wil die foon op interkom plaas sodat almal kan hoor wat ons sê?”
Joos stem in om te wag — Uiteindelik, dankie Here, uiteindelik is daar ʼn kans vir ʼn gelukkige einde.
“Weet u wat die situasie met Laurie is en hoe dit met haar pa gaan?” bereik Matthew se stem hom weer.
“Nathan is oorgeplaas na Pretoria as gevolg van ʼn aneurisme wat in sy brein ontwikkel het,” antwoord hy, hoor die geskokte uitroepe van almal voor hy weer vervolg: “Ongelukkig het ek nie die detail rondom sy toestand nie. Laurie is per helikopter vanaf Oliver Tambo lughawe na die hospitaal in Centurion geneem.”
Matthew se stem neig om te breek — “Sal u asseblief vir haar sê dat sy en haar pa in ons gebede is.” Matthew voel die begeerte om te sê — Sê vir haar ek het haar lief asseblief maar hy weet — nou is nie die regte oomblik nie.
“Ek sal die boodskap oordra maar Matthew onthou, dis belangrik dat almal so gou as moontlik na Suid Afrika moet reis sodat die bekragtiging van die amnestie deur die kommissie gedoen kan word. Ek sal jou bystaan met al die reëlings. Laat weet net die getal persone en die datum wat julle sal land.”
Almal knik instemmend en Matthew vervolg: “Dankie ons waardeer dit. Ons reis oor drie dae na Suid Afrika maar ek sal meer detail teen môre vir jou kan deurgee.”
“Matthew gee my jou telefoon nommer waar ek jou kan kontak.” Voordat Matthew iets kan sê oorhandig jong George Ruben sy nommer en foon aan Matthew — “Laat hy my nommer skakel en hou die foon by jou solank dit nodig is.”
Matthew voorsien die nommer en Joos antwoord: “Ek het hom Matthew, en Matthew ek is Joos hoor.”
Met dit afgehandel draai Matthew om en Laurika stap nader — “Wat doen ons as Nate sterf voor ons hom om vergifnis kan vra?”
Matthew druk haar teen hom vas terwyl sy oë na sy ma soek wie se oë vol liefde en trots op hom rus, dan kyk hy na die ander waarin hy dieselfde kommer lees. Almal skuld Nathan en Laurie ʼn verskoning — en sy vrees verwurg hom. Wat sal hy doen as sy hom haat?
Tog voel hy geluk in hom, sy mense is hier, sy ma is hier en al ken hy haar nog nie, is daar ʼn ‘onthou’ iewers in hom. Daardie ‘onthou’ wat hy met Laurie ondervind het en hy weet dit sal kom.
Laurie word onmiddellik verwys na die hoë sorg afdeling toe sy die hospitaal instap. Sy haas haar daarheen en is verlig toe sy Suster Engela de Jong agter die toonbank herken. “Suster…”
“Aa… Dokter… Laurie, hallo, en jammer oor die omstandighede, maar welkom terug,” antwoord Engela.
“Hoe gaan dit met my pa? Kan ek hom sien?”
Engela de Jong stap om die toonbank en sit haar arms om Laurie se skouers. “Jammer, hy is reeds geruime tyd deur na die teater..”
Sy sien die vrees op die pragtige gesig. “Dokter Rutovich kon nie langer wag nie, die swelling het te veel geraak wat jou pa in ʼn koma laat gaan het.”
Laurie voel duiselig en vat Engela se arm vas om haarself regop te hou. Skielik voel sy sterk arms om haar gaan en as sy die bekende stem hoor is die helderheid terug. “Nee-a nooi, daar is nie nou tyd vir omkap nie.”
“Oom Joos… wat maak jy hier?”
“Ek wag vir jou…” Die lag is in sy stem.
Hy hou haar styf teen hom vas en die volgende oomblik borrel alles net uit — “Ek het my ma gesien oom Joos.”
“En…”
“Dit was wonderlik, maar oom Joos, ek kan mos nie ʼn ma bykry en dadelik daarna my pa verloor nie?”
“Dis tyd dat jy moet glo en vertrou nooi.”
Sy woorde herstel haar balans en sy knik instemmend. Tevrede vra Suster Engela of sy nie intussen iets wil gaan eet om haar kragte op te bou vir wanneer sy dit gaan nodig kry nie en Joos neem haar aan die arm en lei haar in die rigting van die kafeteria.
Terug na ʼn heerlike ete saam met oom Joos vra Laurie aan die suster: “Wat het Dokter Rutovich gesê?”
Engela verduidelik: “Hy is vol hoop dat dit goed sal gaan.”
Laurie kyk tevrede na Joos en hy neem aan dat die gesprek nou kan verander. “Terwyl ons wag kan jy ons meer vertel van jou heldedaad daar in Engeland.”
Engela is dadelik nuuskierig — “Vertel asseblief.”
Laurie gee ʼn verkorte weergawe van haar redding van klein Timothy wie Sir Ronald se kleinkind is en die twee is verstom.
“Die Here alleen weet wanneer om ons op regte tyd en die regte plek te plaas,” gee Joos sy mening.
“Dis waar. Dis as gevolg van die gebeure wat daartoe gelei het dat Sir Ronald Brooks sy invloed en ondersteuning gebruik het om ons te help. Daarsonder sou ek nooit op die vliegtuig gekom het en nou hier gewees het nie,” antwoord Laurie en Joos stem met ʼn knik van sy kop saam.
Engela moet terug na haar pligte, verskoon haarself en terwyl hulle wag gebruik Joos die geleentheid om meer uit te vind — “Ek wil alles weet wat gebeur het met jou, jou ma, Selma, en die ander mense.” Hy sien die verbasing op haar gesig — “Selma?”
Hy besef dat Laurie nie weet dat Selma en die twee mans wel na vore gekom het nie.
“Dit lyk of Oom op die oomblik meer weet as ek.”
“Matthew het my geskakel…” en hy sien die opflikkering in haar oë. “Almal se gebede is met jou.” Hy merk hoe haar verbasende krag na vore tree.
“Selma, Gregory en Joshua is saam Londen toe.” Hy sien hoe geskok sy is en besef hy moet die vrees dadelik wegvat. “Die amnestie het deurgekom nooi… hulle is vry…” Hy hou sy oë op die gesiggie voor hom “Hulle moet binne die volgende tien dae in Suid Afrika voor die Kommissie verskyn.”
Die stilte wat volg is amper onuithoudbaar en hy vervolg saggies: “Almal moet in die volgende paar dae hier wees Laurie.”
Trane van vreugde verskyn vir die eerste keer in haar oë — en hy hou haar hand vas. Dankie Here, dankie oom Louis.
“Wat van Johan?”
“Ja, hy is ook op pad terug. Natuurlik nie uit vrye wil nie maar ook nog nie onder enige arres nie. Of daar iets van gaan kom sal ons later uitvind want hy is ʼn geswore ANC lid en ondersteuner, wie die party nou al vir jare beskerm. Een ding wat ek van verseker is, is dat sy heksejag oor is. Die familie kan nou met ʼn nuwe lewe begin.”
Die ontsettende hartseer is in Laurie — Wat van haar en Matthew, en van hul liefde.
“Ons kan almal plaas toe vat sodra alles afgehandel is met die Kommissie. Dan kan hulle by oom Louis se graf gaan afskeid neem van hom.”
Hy stem saam: “So sal ek reël dat die meubels en alles terug gesit word waar dit hoort?”
“Asseblief oom, Dawid, Joyce en Joseph sal weet wat waar moet gaan.” Na ʼn paar sekondes vra sy — “So Matthew het sy ma gekry?”
“Ja. Sy ma en pa.” Laurie deel in sy vreugde.
“Nooi, ek glo die volgende nuus wat ek het gaan jou nog verder opbeur.”
Sy kyk hom fronsend aan.
“Zuluika het ook amnestie gekry.”
Laurie smoor die gil wat oor haar lippe wil kom met haar hand en vervolg met groot oë. “Oom Joos daar is werklik ʼn God. Wanneer kan ek haar sien?”
“Sodra sy uitkom, dit behoort binne die volgende dag of twee te wees.”
“Wie kyk na haar sake oom Joos?”
“Advokaat Lize Burg, sy het my geskakel en ons sal seker maak dat julle twee mekaar sien sodra sy uit is.”
“Sal sy weer in Suid Afrika kan praktiseer oom Joos?”
“Ons werk daaraan Laurie. Die amnestie sluit haar herstel as mediese dokter wat kan praktiseer in, maar die proses gaan baie maande vat. Ons sal ook moet wag om te weet wat Zuluika wil doen.”
“Oom as sy nie kan praktiseer in Suid Afrika nie maar net in die buiteland, sal ek dit reël. Oom weet mos dat ek saam met Dokter Hermann Helder in verafgeleë plekke regoor die wêreld gewerk het.”
Joos knik sy kop want hy weet, die hele gemeenskap is bewus van die bydrae wat die mensie in haar lewe aan die gemeenskap en sy mense gemaak het.
“Ek gaan hom bel en jou besonderhede vir hom gee, as Zuluika wil praktiseer sal hy haar help.” Joos voel tevrede, hy weet Zuluika Zuess sal ook met ʼn nuwe lewe kan begin.
Albei merk Engela op waar sy hulle vanuit die deur nader wink en begin praat toe Laurie binne hoorafstand is — “Carl Rutovich het laat weet dit het goed gegaan en hulle behoort in die volgende uur klaar te wees.”
Laurie voel verlig en ook dankbaar — Dankie Here.
In Londen is Matthew uitgelate besig om te pak waar hy die twee seuns om die beurt op die bed gooi en met hulle stoei. Al is die vrees daar oor Nathan se gesondheid, word dit oorweldig deur sy gevoel van vreugde. Hy, die seuns en Laurie het ʼn ma, ʼn pa, oumas, oupas, neefs en niggies ryker geword — en hy het vrede gemaak met die afgelope agt en twintig jaar se gebeure.
Hy dink aan die ure se gesprekke van die afgelope drie dae, die konstante verskoning oor wat aan hom gedoen is, dit wat hy ontneem was, dit wat kon wees en wat is. Hy weet sy lewe is nou wonderlik en in liefde omhul vandat hy Laurie teruggekry het. Daar is geen verwyt oor die verlore jare nie. Hy weet as al die dinge nie gebeur het nie, sou hy haar nooit weer gesien het nie, moontlik haar nooit eers onthou het nie en dit weet hy sou die grootste verlies van sy lewe gewees het.
Hy besef sy liefde vir Laurie Kilber is groter as alles verder in sy lewe. Hy weet, en hy voel skaam om te erken maar dis groter as die terugkry van sy ma, sy pa en al sy familie. Ongeag wat Laurie se liefde sal vra, dit sal hy gee, hy sal nooit ophou probeer om haar liefde te wen nie — nooit solank hy leef nie.
Daar is ʼn klop aan die deur en hy maak dadelik oop om die portuur in te laat wat kom help met die bagasie. Na alles op die trollie gelaai is, tel hy Kyle op, trek die deur toe en met Christopher aan die hand volg hulle die portuur terwyl hy dink — ons gaan huis toe… hopelik na Laurie toe.
Hy vereffen sy rekening en stap dan agter Sir Ruben se bestuurder aan en soos hy na buite stap raak hy weer bewus van die geweldige invloed en ondersteuning wat Laurie en sy familie hier in Engeland het.
In die groot motor op pad na die lughawe sluit Matthew sy oë, bewus van die tamheid maar ook sy vreugde. Hy weet sy en Laurie se families wag op die lughawe, hulle gaan almal oor die volgende twee dae in Suid Afrika wees, en hulle is reg vir wat ook al in Suid Afrika vir hulle wag.
Nathan se beeld is voor hom — asseblief Here… vir my en vir Laurie… hou hom veilig.
Laurie voel die verligting toe sy Carl Rutovich se ontspanne gesig sien, daar is baie vrae in haar oë.
“Hallo Laurie, bly om jou veilig terug te sien. Hallo Joos, bly om te sien jy is nog hier.”
Joos knik na Carl waar Laurie die hand vat wat sy weet haar pa se lewe vir nou verseker het, sy ruik die bekendheid van die teater aan hom en skielik voel die omstandighede reg.
“Hallo Carl, hoe gaan dit met my pa?” en hy glimlag — “Goed… onder omstandighede, ek glo die bloeding is gestop. Ek sal jou later inlig oor wat gebeur het, maar vir nou is hy buite gevaar.”
“Kan ek hom sien?”
“Jy kan Laurie maar onthou hy is in ʼn Medies-geïnduseerde koma om te verseker dat daar minimale brein aktiwiteit is vir die eerste paar dae.”
Laurie knik, nie in staat om te praat nie — my pa leef, en hy gaan hier deurkom.
Hulle stap saam die hoë sorg saal binne en sy sien hom teen die wit kussings — bleek… deurskynend bleek… maar lewend — en dit is al wat tel.
Carl vertoef nog vir ʼn wyle voor hy Laurie en Joos alleen agterlaat. Hulle bly by Nathan tot laatnag voor Joos vertrek, met die belofte dat hy die volgende oggend vroeg terug sal wees.
“Jy is welkom om by my in die hotel te kom slaap nooi, daar is twee kamers.”
“Dankie oom maar ek gaan liewers van die hospitaal se kwartiere gebruik maak, ek wil naby my pa wees.”
Hy respekteer haar keuse — “Beloof jy sal my skakel as iets verander nooi.” Sy beloof en hy druk haar vir ʼn oomblik teen hom vas — “Hy gaan dit maak nooi en ek het ʼn voorgevoel dat dinge besig is om reg te kom vir almal. Ek wil kyk of ek ʼn boodskap na Matthew kan deurkry maar ek glo hulle is reeds op pad na Suid Afrika en dalk reeds op die vlug.”
Laurie voel die trane in haar opstoot by die hoor van Matthew se naam — Wat van my en Matthew en die onoorkomelike vloek van ons bloed band?
Dit is na twaalf as die saalsuster haar kom vra of sy ʼn bietjie wil gaan lê in die kwartiere en sy weet, sy moet nou gaan rus as sy enigsins môre iets wil beteken.
“Ons sal Dokter dadelik laat haal as daar enige verandering is.” Laurie stap dankbaar saam met haar deur na die kwartiere.
Die volgende oggend, op pad na haar pa se kamer is sy verbaas om Matthew en die seuns voor die deur aan te tref. Haar hart begin bons van vreugde toe sy liefde in sy oë lees terwyl haar verstand haar vertel van hoe onmoontlik die liefde is toe sy in sy verwelkommende arms instap.
Aan die een kant wurg sy aan die gedagte, van dit wat hulle verdoem en aan die ander loop haar beker oor — Net dit is wat sy begeer.
Hy druk haar vas teen hom en ook vir hom is dit vir die oomblik genoeg — Hy moet regmaak met Nathan en hy moet by die graf van Louis Olivier uitkom en om vergifnis smeek voordat hy Laurie se liefde kan vra.
Voor hy kan praat gaan sit Laurie voor die seuns en druk sy hulle teen haar vas, soen sy hulle voorkoppies terwyl die twee haar vasgryp en al wat sy hoor is — “Mamma, mamma…” Sy staan op met die twee in haar arms en draai na Matthew wat met verwondering op sy gesig staan.
“Hoe gaan dit met hom?”
“Goed… dokter is oortuig dat hy volkome sal herstel.” Matthew voel die verligting in hom.
”Kan ek ingaan… is hy in staat om te praat?”
“Hy is tans in ʼn medies-geïnduseerde koma maar as alles goed gaan, sal Dokter Rutovich hom van vanaand af uit die koma bring. Hy behoort teen laatmiddag môre te reageer.”
“Kan ek net ʼn paar minute alleen by hom wees, asseblief? Daarna moet ek en jy gesels.”
Sy knik net. “Gaan in, ek sal na Kyle en Christopher kyk… kom kry ons in die kafeteria wanneer jy reg is.”
Laurie sê die verpleegstaf dat Matthew ʼn rukkie by haar pa sal wees terwyl sy en die twee seuntjies kafeteria toe gaan.
Die doodse bleekheid van Nathan ruk Matthew en hy voel die vrees in hom. Hy gaan sit langs die bed en neem Nathan se hand in syne… skielik ken hy Nathan Kilber, flits grepe uit sy kleintyd deur sy gedagtes.
Matthew sit verwondering oor wat met hom gebeur. Hy kan nie eers sy ma onthou nie en hier sit hy en hy beleef die gevoel van die hand om syne, so asof hy ses jaar oud is. Hy hoor die stem van hoe die man sy naam met liefde sê. Hoor sy eie stem laggend antwoord: “Oom Nate swaai my hoër.”
“Oom Nate, dit is ek, Matthew… Here asseblief laat hy my hoor… oom Nate ek onthou nou… ek onthou jou liefde… vergewe my, asseblief kom hierdeur, nie vir my nie maar vir Laurie se onthalwe. Dit is vir haar geluk wat ek nou veg.”
Matthew se stem is vol boetedoening en skielik voel dit of die las van sy skouers verdwyn het, hy staan op en stap by die deur uit.
Hy kry die drie in die kafeteria… laggend… die seuns is besig om haar elke prentjie wat ingekleur is te wys, terwyl sy gelukkig meedoen, soos wat dit ʼn moeder betaam wie omgee vir haar kinders en soos wat hy wil hê hulle as ʼn gesin moet wees.
Hy gaan sit teenoor Laurie, neem haar hand in syne en Laurie sien hoe Matthew veg teen trane wat opwel in sy oë en sy wink die kelneres nader en wys haar dat sy twee koppies koffie moet bring. ʼn Stilte volg totdat die koffie voor hulle geplaas word en Matthew sy gevoel en stem onder beheer het.
Matthew voel ʼn opwelling in hom en is verwonderd dat te midde van al die spanning sy liggaam so kan reageer, maar hy weet dit is hoe sy liggaam altyd sal reageer as sy by hom is.
“Eerstens liefste…” en die woord ‘liefste’ raak Laurie daar waar net hy haar kan aanraak.
“Dankie dat jy braaf genoeg was om ons mense te gaan soek… my ma, jou ma en al die ander.” Laurie wil praat maar hy maak haar stil met sy hand.
“Tweedens dankie dat jy braaf genoeg was om in die Thames rivier te spring en klein Timothy te red.”
Nou is dit Laurie wat die trane moet wegsluk.
“Dan sê ek ook dankie dat jou oom Louis nooit aan my ma en jou ma se onskuld getwyfel het nie… Ek weet ook nou dat jou pa my liefgehad het en my na my ma toe wou laat gaan.”
Laurie wonder vir ʼn oomblik waar Matthew sy inligting gekry het, het hy met sy ma gesels of het hy al die feite uit sy pa se dokumente gekry? Maar wat in die einde saak maak is dat hy nou die waarheid weet.
“Jy het my en my kinders liefgekry en daarmee ons die gelukkigste mense in die wêreld gemaak. Dankie daarvoor.”
“Matthew daar is iets wat ek jou moet vertel…”
Hy lig sy hand en maak haar stil — “Nie nou nie Laurie… die dag wanneer jy reg is om Emafweni toe te kom… daardie dag praat ons oor al die struikelblokke. Vandag praat ons net oor jou, my en jou liefde, en die hoop dat ons van hier af kan wees waar ek hoop en bid ons sal wees.”
Laurie voel die verligting wat hy haar gee om haar te spaar om nie nou dit wat tussen hulle en hulle liefde lê, te bespreek nie. Sy weet die waarheid sal weldra uitkom en sy hou sy hand vas met die krag van iemand wat ʼn ander wil red van die val na ʼn sekere dood.
Hulle drink koffie in stilte, en as sy haar koppie neersit vra sy — “Wat gebeur nou met my ma en jou ma?”
“Almal land later vanaand in die land. Oom Joos, tesame met Sir Ronald Brooks, die Britse Minister van Buitelandse Sake en ons Minister van Buitelandse Sake werk saam om hulle te help. Almal sal Maandag die een en twintigste Desember voor ʼn ʼnood’ Kommissie verskyn.”
Hy sien die paniek op haar gesig. “Dit is net ʼn roetine verskyning Laurie, wat geen gevaar verder vir hulle sal inhou nie, glo my.”
Sy is tevrede, sy vertrou hom.
“Ek weet nie hoe jy daaroor sal voel nie maar almal wil graag jou pa sien voor hulle teruggaan,” vra hy.
“Wanneer gaan hulle terug?”
“Na alles in Pretoria afgehandel is, wil my ouers, jou ma en die families graag die plase besoek.”
Sy knik instemmend en hoor haarself sê: “Dit is reg en sal wonderlik wees Matthew.” Wanneer hy na haar kyk is die lag in haar oë.
“Ek wil oor die plase met jou praat.”
“Nie vandag nie… onthou.”
“Ek het die meubels en alles terug laat neem na die plase toe. Jou ma, my ma en al die familie kan op die plase gaan bly solank hulle hier in die land is. Al ons mense is op die plase en Kobus Rossouw die voorman, sal sorg dat hulle almal versorg is,” lig sy hom tevrede in.
“Dankie Laurie.” Hy druk haar hand teen sy lippe.
“Sodra my pa uit die koma is en wel genoeg is om ontslaan te word sal ons julle op die plaas sien.” Die dankbaarheid is in sy oë — “Sal julle ook op die plaas wees?”
“Ja, ons sal albei daar wees terwyl ons mense hier is — en jy?”
“Ek sal moet terug Emafweni toe om seker te maak alles is reg maar ek sal so gou as moontlik by julle wees, as daar plek vir my en die seuns is?”
“Daar sal altyd plek wees Matthew, dit moet jy weet.”
“Dit beteken dat jy Kersfees alleen hier sal wees.”
“Nee, ek sal nie alleen wees nie — ek sal by my pa wees,” sê sy met ʼn glimlag.
“Laurie my ma het bevestig — die plase het nooit aan haar behoort nie, haar pa het dit aan oom Louis gegee want sy wou nooit die plase hê nie.”
Laurie is bly dat hy nou die waarheid weet en sy is dankbaar teenoor Selma wie daarvoor verantwoordelik is.
“Jammer dat ek en Johan jou die plase laat ontruim het en jou weggejaag het van die grond.” Hy worstel met die een sin wat hy soveel keer in die verlede vir haar wou sê en selfs nou kan hy homself nie sover kry om dit te doen nie — Ek is jammer dat ek oom Louis se dood verhaas het.
Die gevoel van liefde bly by haar toe sy motor later, stadig uit die hospitaal terrein ry met die twee seuns wat wild hulle armpies in ʼn totsiens groet swaai.
Sy gaan slaap en half sewe die oggend is suster Engela in die kamer — “Dokter Carl sê jy moet kom.”
Laurie voel die doodsheid in haar maar Engela glimlag net. “Jou pa is wakker en hy vra na jou, alles is reg Dokter, alles is regtig reg.” Laurie gryp haar hande een oomblik vas.
Dokter Rutovich wag vir haar voor haar pa se kamer, en aan die glimlag op sy gesig kan Laurie sien dat hy tevrede is… werklik tevrede is.
“Jou pa het self wakker geword Laurie, hy is helder en sterk, hy wil jou sien.”
Die oomblik as sy die deur oopstoot, is sy oë op haar — “Nooi… liefste van my…” Laurie voel die vreugde in haar, hy onthou die groet wat hy altyd gegroet het toe sy klein was — en sy weet hy onthou. Sy soen hom sag op die amper kleurlose lippe maar die warmte van lewe is daar, en dit is al wat saak maak. Sy sit haar kop op sy bors en bly so vir ʼn paar minute lê.
“Het jy jou ma gekry?” kom dit hier teen haar hare.
“Ja… ja ek het haar gekry en hulle het almal laat gisteraand hier in Suid Afrika geland.”
“Ek wil hulle sien.”
“Pa sal — ons gaan plaas toe so gou as wat Pa sterk genoeg is, hulle sal almal daar wees.” Nathan is tevrede. Sy bly by hom deur die ure wat hy rustig slaap en terwyl sy ʼn alles oorheersende vreugde ondervind oor sy herstel, is dit onbeskryflike seer in haar, oor haar en Matthew se situasie — dit wat sy diep in haar wegsteek.
Die foon lui en as sy die onbekende nommer sien, kry Laurie daardie koue gevoel in haar, sy stap dadelik uit haar pa se kamer die gang af. Dit is Matthew se stem en sy is in ekstase. “Ek het vandag ʼn foon en ʼn kontrak gekry,” begroet hy haar. Die opgewondenheid is in albei.
“Die kommissie is afgehandel en ons mense is amptelik vry. Hulle het ʼn apologie van die Kommissie ontvang vir die onreg wat aan hulle gedoen is.”
“Dit vat nie regtig die verkwiste jare weg nie,” sê Laurie met hartseer in haar stem.
“Ja ek weet liefste, maar dit gee ons kans op die res van ons lewens saam.” Sy weet hy is reg.
“Wanneer sien ons julle op die plaas?”
“Ek glo my pa sal die ses- of sewe en twintigste ontslaan word, ek sal jou laat weet.”
Hulle gesels nog ʼn paar minute en lui af. Laurie voel eensaam na die oproep beëindig is en die hartseer vir dit wat sy hom moet vertel en wat die einde van hul samesyn sal beteken en die wete daarvan versmoor haar.
Laurie stap terug na haar pa se kamer en steek verras vas toe sy Zuluika voor die deur opmerk — daar in die hospitaal en agter haar merk sy ʼn glimlaggende oom Joos. Die gevoel in die twee vroue is ongeëwenaarde vreugde — die vreugde wat al die hartseer oombliklik wegneem.
“Jy is vry… jy is hier.”
Zuluika hou Laurie teen haar vas — “Ja. Ook ek het ʼn tweede kans gekry… ek was so verskriklik verkeerd, maar nou is ek vry om op te maak.” — Laurie se lewe is volmaak, al die verkeerd van die verlede is uitgewis met die hede se vreugde.
Laurie loer eers by haar pa se kamer in en toe sy sien hoe rustig hy slaap, draai sy terug en stel voor dat hulle ʼn koppie koffie moet gaan drink, net om hulle die geleentheid te gee om mekaar in die oë te kyk.
Wanneer hulle rustig, met elk ʼn koppie koffie en toebroodjies sit borrel die afgelope dae se gebeure uit en al drie weet dat daar sekerlik ʼn God is — want daar is ʼn nuwe lewe net om die draai vir hulle almal.
“Ek gaan die drie maande locum pos in Amerika vat wat ek deur Dokter Hermann Helder gekry het,” en Laurie kyk verbaas na oom Joos.
“Ek wou nie die verrassing uitlaat voor Zuluika hier is nie. Ek het Hermann gekontak die dag na Lize versekering van die amnestie ontvang het. Ek het op jou verhouding met Hermann staat gemaak en hom gekontak. Dit is belangrik dat Zuluika vir ʼn tyd die land verlaat.”
“Mag sy die land verlaat?”
Die emosie op albei se gesigte gee haar, haar antwoord. “Oom Joos wat steek julle nog alles vir my weg?”
Die erns op sy gesig maak haar stil en skielik kry sy dieselfde gevoel wat sy daardie nag toe sy haar pa uit die land gesmokkel het gehad het — en dit dwing haar tot stilswye —
“Ek is bly dat my vriendskap met Hermann kon help, gaan jou vreeslik mis maar ek weet op die tydstip is dit beter om net ruimte tussen jou en die land te sit. Wanneer gaan jy?”
Zuluika vertel van haar plan om eers Namibië toe te gaan vir ʼn kuier by haar skoonouers voordat sy Amerika toe vertrek. Laurie herinner Zuluika om James en Sally Bruyns te bedank vir die tyd wat haar pa daar kon gebly het.
Al drie probeer wegskram van die noodlottige gebeure tien jaar terug maar Zuluika en Joos weet dat Laurie verdien om te weet wat oor die afgelope jare uitgevind is oor die twee jong mans wat Rudolph vermoor het.
Laurie is nie geskok oor die feit dat Rudolph se dood in werklikheid ʼn moord was nie. Die stilswye oor die identiteit van die opdraggewer het hulle weerhou omdat hulle bekommerd was oor hoe dit Zuluika sou raak.
Met die twee vriendinne nou hard aan die gesels maak Joos verskoning en stap uit. Zuluika begin uitvra oor Matthew, oor die ongelooflike toeval dat na al die jare die mens uit Laurie se verlede, weer in haar lewe ingestap het. Skielik weet Laurie dat Zuluika die enigste persoon is wat sy op die oomblik kan vertrou en erken hardop haar liefde vir Matthew maar oor die familieband bly sy stil.
Zuluika se vreugde ken geen perke vir die mens wat soveel in haar lewe opgeoffer het nie, en sê dit vir Laurie, en hulle rek die praat oor die lekker wat daar was uit hul verlede uit. Die wonderlike tye vandat Zuluika daar in hulle graad nege jaar by oom Louis op die plaas kom bly het. Hulle saamwees op Tukkies al die jare en die susterskap wat tussen hulle is. Die onthou is lekker maar albei weet dat hulle nou moet laat gaan en dat die tyd vandag verby is. Hulle weet iewers in die toekoms sal hulle hopelik weer so gelukkig kan wees soos voor al die hartseer begin het.
Hulle stap na haar pa se kamer en die vreugde na hy Zuluika herken bevestig dat Nathan se ‘onthou’ vir die eerste keer in baie jare helder is.
Die trane vloei vry wanneer Laurie en Zuluika later afskeid neem. “Ek sal elke oomblik vir jou bid Zuluika… bid dat jy weer gelukkig sal wees.”
“Dankie my maat… dankie vir jou liefde en jou geloof — ek sal elke dag bid dat jy gelukkig sal wees en dat Matthew jou so lief sal kry soos jy vir hom het.” Dan is Zuluika weg en die eensaamheid wil Laurie oorval maar die gevoel word vinnig verdryf deur die vreugde van ʼn nuwe lewe wat op hul beide wag.
Nathan word die ses en twintigste Desember ontslaan en die ambulans staan gereed om hom terug Ladysmith toe te neem. Carl Rutovich sou verkies dat hy nog ʼn paar dae in Pretoria moet aanbly maar daar is geen keer aan Nathan nie, hy wil dadelik terug plaas toe gaan. Laurie en Carl Rutovich besluit dat dit beter sal wees as hy die rit in die nag onderneem.
Twee uur in die oggend maak Laurie haar gemaklik langs haar pa in die ambulans en die rit na Ladysmith begin. Oom Joos het haar voertuig wat in Pretoria by die gaste huis gestaan het reeds teruggeneem na Ladysmith.
Sewe uur die oggend stop hulle voor die huis waar hulle verwelkom word deur hul mense op die plaas. Daarna neem Kobus en die jong mans Nathan na sy kamer waar hy in die bed gesit word — en Nathan en almal wat hom liefhet is gelukkig.
“Waar is die mense Joyce?”
“Hulle is na Matthew se plaas maar sal betyds terug wees vir aandete. Ons het ʼn groot ete gekook, dis om op te maak vir Kersete wat almal gemis het.”
Laurie wag hulle in op die wye stoep wanneer hulle drie uur die middag die werf inry. In haar is daar ʼn vreugde wat haar wil versmoor, al vier families is hier en binne die volgende paar minute sal Matthew opdaag. Sy voel weer die nuwe rustigheid en vrede in haar.
Haar pa is helder maar daar is ʼn angstigheid in hom te bespeur. Iets groots pla hom en sy is seker dit het met haar ma te doen.
Die minibus stop en toe Matthew met die seuns uit die voertuig klim begin Laurie aanstap. Sy merk haar ma op waar Laurika die deur oopswaai en Laurie begin hardloop na waar haar ma amper uit die voertuig val in haar haas om by haar dogter te kom. In stilte klou hulle aan mekaar, Laurie weet, ongeag haar ‘nie onthou’ en die verlede, sy haar ma elke dag in haar toekoms naby haar wil hê.
Laurika draai om en met haar arm om Laurie se lyf, kyk sy in die rigting van ʼn pragtige petit vroutjie wat uit die bussie klim — Laurie weet… ‘Selma Townsend… dis oom Louis se Selma.’
Laurika stoot haar dogter in die arms van die huilende Selma. “Dankie, dankie…” is al wat Laurika hoor terwyl Selma Laurie styf vashou. Laurie steek haar hand uit na haar ma en so staan hulle daar — drie vroue wat so baie in gemeen het.
Matthew sien die vrae in Laurie se oë. “Die res van die familie sal binnekort hier wees, hulle het by die Tugela gestop om van die klei figure te koop wat die outjies maak. Tien teen een is dit om ons tyd te gee om alleen te wees.”
“Is Nathan hier?” Kom dit van haar ma en Selma tegelyk.
“Ja, pa is in sy kamer.”
“Kan ons hom sien?” Matthew stap saam met die seuns en die vroue die huis in.
“Laat ek net seker maak of hy wakker is.”
Die oomblik wanneer sy die kamerdeur oopstoot vind sy Nathan se blik op haar. “Is dit hulle wat aangekom het?”
“Ja, hulle is hier en wil pa graag sien.”
Nathan sluit sy oë vir een sekonde en met ʼn beslistheid kom dit sag. — “Kan jy jou ma laat inkom asseblief nooi, net eers jy en sy.”
“Pa moenie pa vermoei nie.”
“Ek moet die onreg wat my so swaar op die hart lê net eers oopmaak en vergifnis by Laurika kry voordat alles gaan regkom, nie voor dit nie.”
Sy voel sy gemoedstemming aan, eerder as om dit te sien toe sy na sy bleek gesig kyk en sy weet wat dit ook al is… dit moet nou van sy gewete af. Sy stap deur toe en vra haar ma om in te kom.
Laurie staan versteend as sy om die beurt na die twee gesigte kyk, die emosies is onverstaanbaar vir haar. Laurika stap vorentoe, buk oor Nathan en soen hom sag op die lippe. Dan met deernis in haar stem praat sy: “Hallo Nate, dankie dat jy Laurie veilig gehou het, veilig deur al die jare. Dankie vir alles.”
Nathan se trane loop oor sy wange — “Maar ek het jou kind weggeneem van jou af.”
“Nee, jy het haar veilig gehou, jy het haar meer liefde gegee as wat enige iemand anders ooit kon. Ek dank God vir jou vasberadenheid om haar hier veilig te hou.”
Laurie besef sy het reeds die waarheid uitgevind… dit het sy uit die briewe van oom Louis en Selma gekry. Sy onthou van haar pa se onwilligheid om oor haar ma te praat, wat natuurlik as gevolg van sy skuldgevoel was wat toe op die einde geen skuld was nie.
“Jy en Josua haat my seker.”
“Nee, ons is vir ewig in jou skuld.”
Nou is Laurie verstom, wat het Josua Parker met haar te doen?
Nathan se oë vind die van Laurie en hy besef die bitterste oomblik van sy lewe het aangebreek. Laurika kyk beurtelings na die twee mense se gesigte en sy weet, Nathan het nooit vir Laurie die waarheid vertel nie.
Sy vat Nathan se hand en steek haar ander hand uit na Laurie — “Daar is iets wat ons jou moet vertel Laurie.”
“Laurie ek het ʼn boetedoening wat ek moet maak, ek het jou ma van jou weggehou omdat ek gesê het dat ek die polisie sal vertel wie hulle is en waar hulle is, as hulle jou ooit probeer wegvat van my af.”
Trane loop oor Nathan se gesig en Laurika vat sy gesig tussen haar hande en sê stadig maar duidelik: “Nate die dreigement het geen gewig gedra nie. Jy het na die eerste paar dae self nooit geweet wie ons is, of waar ons is nie en ek weet jy sou dit nooit doen nie.”
Hy druk haar hand teen sy mond — “Dankie, ek verdien nie jou vergifnis nie maar dankie daarvoor want ek het dit so nodig.” Laurie vat haar pa en haar ma se hande en skielik voel sy soos wat Matthew dae gelede moes gevoel het met die besef dat die ʼn bepalende oomblik in haar lewe is.
Laurika kyk na haar dogter terwyl die trane vrylik loop — “die volgende bekendenis gaan moontlik die mees pynlikste iets wees wat jy ooit gaan hoor maar weet dit was vir jou veiligheid en geluk.”
Nathan weet na al die onreg wat hy die vrou aangedoen het, sy die een is wat vandag gaan probeer verseker dat sy kind hom nie sal haat nie.
“Wat dit ook al is maak nie saak nie, ek was by my pa en dit beteken meer as enige iets in die lewe vir my.”
Die pyn wat Nathan in sy hele wese beleef is in Laurika se stem — “Nathan is nie jou biologiese pa nie Laurie, ons was nooit getroud nie, nie eers romanties betrokke nie. Josua Parker is jou biologiese pa.”
Laurie besef dis die antwoord op haar gebede en toe sy na haar pa se gesig kyk en die verlorenheid… die vrees daarop sien, buk vorentoe, soen hom herhaaldelik op sy gesig, dan op sy mond terwyl haar vreugde neig om uit haar te bars.
“Dit maak nie saak nie pappa, vir my is jy my pa… bloed of nie bloed nie.” Sy weet ʼn bloedband waarborg nie noodwendig liefde nie en sy is dankbaar dat sy dit in oormaat van hom ontvang het… sy beskou hom nog as ‘haar’ pa, maar met geen bloedband tussen haar en Matthew nie word haar geluk vandag verseker vir die res van haar lewe.
“Dankie, dankie, dankie pappa vir jou liefde, vir dit wat jy my deur die jare gegee het en nou weer gee. My Suid Afrikaanse geboorte sertifikaat met jou en my ma se name op, waar kom dit vandaan?”
Nathan weet daar is nog ʼn geheim wat openbaar gemaak moet word, die geheim van sameswering tussen hom, Louis, en al die mense wat hom en Louis met die dade gehelp het, om die waarheid in negentien ses en tagtig toe te smeer.
“Die geboorte sertifikaat is oorspronklik uitgereik deur iemand wat ons bygestaan het daardie jare.” Hy sien die vrae in Laurie se oë — maar hy weet, hy moet eers toestemming kry van die wonderlike persoon voor hy die identiteit openbaar maak en hy sê dit vir hulle.
Laurika weet vir Laurie sal Nathan altyd haar pa wees en dit is reg met haar. Sy sit haar arms om Laurie se skouers en sê die woorde sag, verskonend, verduidelikend — “Ons het jou pa en Louis vir alles wat verkeerd was gebruik, vir ons miserabele ‘vryheids’ geveg. Jou pa was so ontsettend lief vir jou van die eerste oomblik af en dit het ons gepas, ons die vryheid gegee om te doen wat ons gedink het reg is. Jy en Matthew het agter hom aangeloop en was onafskeidbaar, hy het alles vir julle gedoen en dit het ons gepas.”
Laurie sien die pyn wat die erkenning in haar ma se oë bring. “Dit maak nie saak nie, pa sal altyd my pa bly.”
“Ons weet maar ek en Josua wil so graag deel van jou lewe wees.”
Die waarheid tref Laurie nou eers werklik en sy weet dat sy niks verloor het nie maar dat sy so verskriklik baie meer gewen het. Sy weet ook as dit nie vir Matthew se liefde was nie dat die nuus ʼn doodstraf sou wees maar nou gee haar pa haar ʼn kans op ʼn nuwe lewe.
“Ons is so jammer Laurie, ons weet dit is ʼn skok.” Kom dit van haar ma.
“Ja, maar dit beteken dat ek vry is om Matthew lief te hê, hy is nie my bloedfamilie nie.”
Vir ʼn oomblik is daar skok en verbasing op Nathan en Laurika se gesigte — “Natuurlik Nate en Selma is albei Gregor se kinders.”
Die pyn waardeur Laurie gegaan het, is skielik oop en albei ouer mense besef weer die skade wat hul onbesonne dade in hulle jeug, die twee kinders wat hulle bo alles liefhet, aangedoen het.
“Ek is ongelooflik jammer vir die pyn wat my ‘onthou’ van die feite jou aangedoen het, dit het nooit een oomblik by my geregistreer watse impak dit op jou gehad het nie.”
“Is Selma hier?”
“Ja Nate.”
“Laurie kan jy Selma asseblief laat inkom, ek moet ook vergifnis kry oor wat met Matthew gebeur het, dit was alles my skuld.”
Laurie weet dat sy nou aan hulle moet verduidelik wat presies aangaan: “Voor Selma inkom, wil ek hê pa moet weet, dit is juis omdat Matthew nie betyds by die missie aangekom het nie dat hy nog lewend is. Dit het ons ook weer die geleentheid gegee om mekaar weer raak te loop en vir mekaar lief te raak. Indien pa betyds was sou ek hom nooit weer gesien het nie, sou hy en my ma en almal in vergetelheid weggeraak het en dit sou die grootste verlies ooit in my lewe gewees het.”
Hy gryp haar hande dankbaar vas. “Weet net dat pa alles vir my, Matthew en al ons mense moontlik gemaak het met die daad.”
Laurie stap uit en kyk na Selma waar sy met haar hand in Matthew se hand sit. “My pa vra dat u -asseblief moet ingaan, hy wil met jou gesels.”
Selma staan op en druk Laurie een oomblik teen haar hart vas. “Dankie Laurie, dankie vir alles.” Sy laat haar alleen ingaan, wat nou gesê sal word, is nie haar waarheid nie.
Laurie sien deur die wye vensters die twee mini busse stop, sy steek haar hand uit na Matthew en hy druk dit sag.
“Stap jy so lank uit liefste, ek gaan net een oomblik by die kamer inloer en hulle sê dat die res van die familie opgedaag het.” Hy gee haar ʼn ligte drukkie en stap terug na Nathan se kamer.
Laurie stap met die twee seuns wat voor haar uithardloop na buite en soos sy oor die grasperk stap, sien sy die lang man wie staan met arms wat oop is. Sy weet, die donkerkop man met die groen oë, is haar ander pa en sy loop reguit in Josua Parker se arms in en hulle is stil, stil in die wete dat daar so baie gedagtes is om te deel. Josua weet hy het ʼn tweede kans gekry en hy weet die keer sal hy nie opmors nie.
Hy hou haar hand vas en draai om, om twee ou mense uit die bussie te help. Laurie sien hulle, grys, statig, en pragtig in hulle ouderdom en sy weet die is haar ouma en oupa Parker. Sy loop in hulle arms in, al ken sy hulle nie. Sy staan daar teen hulle harte en weet terwyl sy en Matthew geen verlies of verlange gevoel het nie, het die mense, soos ook Matthew se mense, elke oomblik van elke dag die verlies van hulle kinders en kleinkinders beleef, want die kinders en kleinkinders was van alle rekords afgevee, en haar hart huil vir hulle en sy weet sy wil die leemte vir hulle vul in die toekoms.
Wanneer sy opkyk sien sy hulle, haar ouma en oupa Ruben, hulle stap vorentoe en om-arm haar, dan volg Josua en haar ander grootouers en Laurie voel of haar lewe volkome is — sy het so ontsettend baie gekry. Met arms ingehaak stap hulle die groot huis binne, almal weet, hier in die huis gaan hulle mekaar leer ken, leer verstaan, leer liefkry.
Laurika en Selma stap die vertrek binne en omhels hulle ouers. Laurie draai om en stap na haar pa se kamer. Sy kry hom sittend op die rand van die bed met twee koeverte in sy hand. Wanneer hy opkyk is die trane daar — “Hierdie is die enigste twee briewe wat ek bereid was om van jou ma te ontvang, ek het die posmeester daardie jare opdrag gegee om alle verdere briewe dadelik as ‘Return to sender’ te merk en my nooit te sê as daar briewe was nie.”
Laurie neem die briewe by hom en gaan sit langs hom op die bed, haal die briewe uit die koeverte en lees hulle in stilte deur. Die bekentenis van haar ma se liefde, die feite rondom hulle verdwyning, die feit dat Nathan nie haar biologiese pa is nie, dit is daar in skrif.
Sy draai na haar pa en druk sy kop teen hare vas en terwyl sy in sy oë kyk, sê sy sag — “Nou weet ek hoe lief sy my gehad het, so lief soos wat pa my altyd gehad het. Alles is nou duidelik en nou kan ons aanbeweeg, nie terug na die verlede toe nie.”
Hulle bly vir ʼn wyle alleen by mekaar, twee mense met ʼn leeftyd se liefde tussen hulle en hulle is tevrede, tevrede met alles wat gebeur het.
Hy dring daarop aan om sitkamer toe geneem te word sodat almal in een vertrek met hom kan gesels.
Nathan ontmoet vir die eerste keer die mense wat sekerlik seerder as hy gekry het, meer hartseer beleef het as wat hy ooit sal verstaan maar daar is vergifnis en vreugde tussen almal, geen verwyt, geen kwade gevoelens, net die ontsettende hartseer oor die verkwiste jare en die feit dat Louis wat alles moontlik gemaak het, nie daar is nie.
Later gaan Nathan terug na sy kamer toe. Matthew – stap daarheen en tref hom aan waar hy vir hom wag, hy lyk moeg maar is ontspanne en tevrede.
“Oom Nate…”
“Ek weet Matt… ek het jou gehoor daar in die hospitaal… jy het niks om vergifnis voor te vra nie, die smeek vir vergifnis lê by my en by ons wie gedobbel het met julle twee se geluk omdat ons gedink het ons kan.”
Matthew onthou skielik die ‘Matt’ van lank terug en hy vat die skraal hand in sy hande, en hy voel die warmte daar, dieselfde lewe wat Laurie gevoel het. Hy weet hy wil vreugde in die man se lewe bring, hy weet hy kan en hy sal — en die ou vreugde tussen hulle is weer daar.
Laurie praat met Matthew oor die gedenkdiens vir oom Louis en hulle besluit om die openbaar maak van die verlede eers uit te stel tot na die gedenkdiens. Laurie skakel ou Vader Jackson en vra hom om Saterdag die gedenkdiens by die graf te kom waarneem.
Deur die dag is daar die wonderlike oomblikke wanneer almal met Nathan kom gesels, net gesels oor dit wat nie in die seer van die verlede lê nie — net die klein dingetjies toe almal net jongmense was en Laurie ʼn klein dogtertjie was, en dit is salf vir die ou wonde. Laurie en Matthew leer hulle ouers en hul families ken en hulle word deel van die mense se lewens.
Laataand vertrek die Townsends na The Buttress om uiteindelik na ʼn wonderlike dag te gaan rus. Matthew druk haar teen hom vas waar hulle alleen in haar kamer by die twee slapende seuns staan wat by haar sal oornag. Die polsing is in hulle liggame en dit klop teen mekaar — maar steeds is dit nie die regte tyd vir hulle om te praat nie. Hy laat haar onwillig gaan, hy weet hulle tyd sal kom, nou eers die familie, die versekering dat almal kan rus vannag.
Almal is weer saam op Fortress die volgende dag en tussen die sien, die gesels, die vreugde, die samesyn, is daar steeds nie tyd vir Laurie en Matthew om te praat nie. Die afwagting is daar, die liefde, die vashou van haar en sy van hom en die kinders — maar albei weet, die is nie die regte tyd vir hulle twee nie, daar is nog so verskriklik baie dinge wat eers gesê moet word tussen die groep mense.
Laurie weet dat sy weldra die bittere stryd wat sy gevoer het met hom sal moet deel want sy moet verduidelik waarom sy so afgetrokke was, sy weet dit pla hom steeds. Wanneer hy haar sag op die voorkop soen en teen sy bors vasdruk sê hy — “Laurie daar is so baie waaroor ons eers moet praat…”
Sy sit haar vinger op sy lippe — “Ons sal praat, ek wil oor so baie dinge met jou praat maar ons albei weet, nie vandag nie — weet net dat ek omgee, regtig omgee vir julle en dat ek jou werklik lief het. Sal jy my tyd gee asseblief?”
Sonder ʼn woord hou hy haar vir ʼn lang tyd vas, met die gedagte wat deur sy kop maal — Hoe lief het hy die mens, meer as die lewe self. “Ek en die seuns sal vir jou wag,” sê hy en daar is ʼn tikkie vrees in hom — wat as sy nie terugkom nie.
Wanneer Laurie uiteindelik na nog ʼn kuierdag laatnag in die kamer op die bed gaan lê, spoel die afgelope maande se gebeure deur haar gedagtes en sy kan steeds nie glo dat so baie gebeur het in minder as ses maande nie.
Sy het meer beleef… meer geleef in die maande as in haar totale vyf en dertig jaar. Die gevoel wat vir so lank in haar draai is weg, die gevoel dat al die dinge net ʼn ‘tussen-spel’ in haar lewe was, is verby. Sy weet die ‘toeval’ of ‘tussen-spel’ het haar hele lewe se pad vorentoe bepaal en die vreugde is in haar.
Dit is die Vrydagoggend voor die gedenkdiens toe oom Joos haar die kissie en die dokumente gee — “Die dokumente kom uit die kluis nooi, ek het dit nie gelees nie, dit is julle reg om dit eerste te lees. Hier is ook die kissie met sy inhoud, ek glo die regmatige eienaars is nou hier en jy kan dit teruggee.” Hy lag saggies en Laurie weet hierdie man is enig, ʼn mens wat soveel omgegee het oor die jare, veral die afgelope maande vir haar en haar familie en sy sit haar arms om hom en hulle staan daar in dankbaarheid.
Wanneer Laurie kyk na die briewe in haar hand, onthou sy die brief van oom Louis aan Selma en sy weet, vandag is die dag om dit vir die regmatige eienaar te gee.
Waar almal later rustig op die stoep sit om tee te drink gaan haal Laurie die kissie, Selma se brief, Selma se briewe aan oom Louis en die briewe uit die kluis wat oom Joos haar gegee het. Sy stap terug na waar die familie sit en koffie drink.
Die brief hou sy uit en dadelik herken Selma die handskrif. Selma neem dit fronsend by haar en sy sê: “Ek het vergeet van die brief wat by die ander dokumente was wat in die solder gehou is. Dit is jou eiendom.”
Die een oomblik as Selma Townsend die brief teen haar lippe hou, is vir Laurie die betaling van al die skuld wat daar ooit teenoor oom Louis was — Sy het hom werklik liefgehad, flits dit deur Laurie se gedagtes — Dankie Here daarvoor.
Sy gee ook Selma se briewe aan oom Louis — “Vir jou sodat jy sal weet hy het hulle gelees en ewig bewaar. U kan in my kamer die brief op u tyd gaan lees.”
Selma stap na Laurie se kamer waar sy alleen die geleentheid sal kry om die laaste boodskap van hom wat sy meer as alles liefgehad het te lees.
Dit is deur trane dat Selma die brief versigtig oopsny met die briefoopmaker. Sy gaan lê op haar rug en begin lees.
11 Februarie 2015
Selma my Liefste,
Indien jy ooit die brief lees, glo ek dat Laurie dit gevind het en dat ek reeds oorlede is. Eerstens moet jy weet dat ek jou bo alles liefgehad het, elke oomblik van my lewe vandat ek jou leer ken het. Ek kan elke dag steeds jou pragtige gesig herroep en ek voel steeds die passie en liefde wat ons gedeel het. Ek het nie vir een enkele oomblik ophou glo aan julle onskuld nie en het nie vir een dag ophou probeer om julle name weer herstel te kry nie. Ek bid dat jy en Matthew gesond en gelukkig is waar julle, julle ook al bevind.
Sê asseblief vir Laurika en Joshua dat Nate Laurie meer as die lewe self liefgehad het. Nate was ongelukkig nadat hy Matthew na die Missie toe geneem het nooit weer dieselfde nie, die verlies van Matthew was te veel vir hom.
Ek het baie inligting ingewin van Graham se betrokkenheid in die bomaanval en alhoewel hy sy naam verander het, het my privaatspeurder hom opgespoor, hy staan nou bekend as Johan van Graan. Hy word ongelukkig deur sy affiliasie met die ANC en die regering beskerm. Ek het weer ʼn aansoek by die Waarheid en Rekonsiliasie Kommissie ingedien en ek bid dat ek nou genoeg inligting het om julle name te herstel.
Ek het my finale testament vandag laat optrek by Joos, hy sal verseker dat reg geskied. Ek het alles aan Laurie bemaak want ek weet dat sy weer reg sal laat geskied aan almal. My lief sê asseblief vir Laurika en haar familie dat die feit dat Laurie by ons gebly het die lewe vir ons moontlik en draaglik gemaak het, sonder haar sou ons verlore gewees het. Sy het al ons verwagtinge oorskry, geen ouer kon vir ʼn groter geskenk gevra het nie, sy het die lewe sonder jou draagliker gemaak.
Nou kan Selma die trane nie net wegvee nie. Sy sit die brief neer terwyl die sluise van haar hart oopgaan, want die besef van wat sy en die ander drie misgeloop het versmoor haar. Dit vat ʼn baie lang tyd vir haar om weer verder te lees.
Ek wil insidente uit ons lewens met jou deel sodat jy kan deel hê aan die liefde wat ons gehad het…
In die volgende vier bladsye leer Selma die verkwiste tyd se vreugde, hartseer en verlange van die drie mense wat hulle agtergelaat het, na die helse dag in negentien ses en tagtig en dit breek haar hart — maar bring haar ongelooflike vreugde en berusting. Sy leer elke detail hoe hy haar dood beplan het en ʼn werklikheid laat word het, met hulp van Nathan en al hulle vriende om haar veiligheid te verseker, van die graf en die kissie met die dokumente — en sy opdrag daarin aan Laurie en sy is ongelooflik dankbaar vir die liefde wat hulle gehad het.
Wanneer sy die laaste bladsy lees, is die hartseer versmorend.
Ek het die dokter vandag gesien en weet nou, ek het aan die einde van my lewe gekom, ek het ʼn paar maande op die meeste oor. Die hartseer omdat ek jou en Matthew nooit weer sal sien nie, versmoor my, my grootste wens is dat ek ons seun weer kon sien voor my dood.
Wanneer ek gaan sal ek jou liefde saamneem na die hiernamaals tot ons weer ontmoet. Wees asseblief gelukkig vir my en vir jouself — gee my liefde vir almal.
Onthou jou liefde is veilig by my waarheen ek ook al gaan.
Louis.
Skielik is daar ʼn ongelooflike dankbaarheid in Selma vir die dag toe Matthew in die huis se sitkamer gestaan het en Louis hom gesien het, en aan hom gevat het. Want dit het die een iets wat hy begeer het, waar gemaak. Sy weet sy wil dit vir haar seun sê, sy wil hê hy moet nooit weer homself verwyt oor daardie dag nie.
Daar is ʼn rustigheid as Selma later die sitkamer instap. Nate is saam met hulle, sy lees dele van Louis se brief voor aan die twee families, daar is trane vir iemand wat so oneindig baie liefde gegee het, so oneindig baie pyn beleef het en so oneindig goed gedoen het.
Selma staan op, sit haar hand op Matthew se wang waar Louis hom aangeraak het en sê met trane wat oor haar wange rol — “Daardie dag toe Louis hier aan jou geraak het, was sy wens bewaarheid — hy het jou gesien, jou gevoel en hy was tevrede.”
Laurie staan op sit haar arms om albei en beaam Selma se woorde. Matthew druk die huilende vrouens teen hom vas terwyl hulle aan hom vasklou.
Laurie haal die briewe van die kluis uit en vra of sy dit kan oopmaak en aan almal kan voorlees waarop almal instemmend knik. Sy maak die brief oop en besef dadelik dat die brief aan haar gerig is. ʼn Brief in die bekende handskrif van oom Louis.
Liefste Laurie,
Ek weet wanneer jy die brief lees, sal ek reeds oorlede wees, moontlik reeds begrawe. My hart is by jou — sal altyd wees my liefste dogter.
Indien Dawid jou deur die tyd gehelp het, soos hy beloof het — gee my dank aan my broer.
Ek het my hele lewe probeer wandel in die weë van die Here — ek hoop ek het Hom end-uit trots gemaak op my.
Laurie voel ʼn vreugde in haar, die vreugde wat sy altyd in sy aanwesigheid gevoel het maar op die oomblik is dit gemeng met ʼn dieper hartseer.
Dit neem Laurie ʼn paar oomblikke om haarself reg te ruk terwyl die woorde wat sy aan hom wou sê deur haar gedagtes flits — Jy het end-uit jou Hemelse Vader en almal wat jou liefgehad het behaag my geliefde oom.
Sy soek na die paragraaf waar sy opgehou het en lees voort terwyl die hartseer in haar bly.
Hierdie grond en die grond van jou vader, is joune. Selfs al sou Selma en Matthew terugkom, wil ek dit steeds aan jou nalaat want die grond is jy — en jy is die grond.
Die verbasing oor die woorde laat Laurie verstom maar as sy opkyk sien sy die goedkeuring van al die ander mense in die vertrek.
Die grond was myne en nou is dit joune, hou dit altyd by jou en gee dit weer aan iemand wat liefde vir die wêreld bedoel.
Laat reg geskied aan almal wat my so trou bygestaan en liefgehad het, ek weet ek kan dit vra want jy is die mees opregte mens wat ek ken.
My gebed is dat jy lief sal kry en dat die een jou sal liefhê tot aan die einde van jou lewe — soos ek liefgehad het.
Jou oom Louis tot in ewigheid
12 Januarie 2015.
Sy kyk op met oë wat swem in haar trane en daar is geen een sonder trane nie.
Laurie maak die volgende twee vergeelde dokumente oop en bevestig dit wat sy vermoed het dit sal wees, die oorspronklike titel aktes van Fortress en The Buttress, nog in die naam van Gregor Armsby.
Die vierde dokument bring klarigheid en rus. Voor sy begin lees weet sy dat dit die brief van Gregor Armsby is want sy herken die handskrif.
Louis,
Ek weet ek is aan die einde van my lewe, die dokter het bevestig dat die kanker versprei het, ek het enkele weke oor om te leef as ek gelukkig is. Moenie hartseer wees nie want ek het ʼn wonderlike lewe gehad. Ek het die twee mees uitstaande vroue liefgehad en ek is reg om my Vader te ontmoet.
Louis ek het jou lief soos my eie kind, jy het my sonder voorbehoud liefgehad en het by my gestaan ongeag my swakhede. Ek dank en lief jou daarvoor. Alles wat ek besit laat ek na vir jou, want ek weet jy sal reg laat geskied.
Die laaste iets wat ek moet doen, moet jy vir my doen asseblief. Ek het voorheen gevra jy moet reg laat geskied vir my twee kinders en ek weet jy sal, maar die plase is joune. Ek sal nie tyd hê om my testament te verander nie, daarom is die nou my laaste testament.
Jou ewige vriend
Gregor.
Laurie voel hoe haar longe wil bars van die inhou van haar asem. Sy voel die klop van haar pols in haar nek — uiteindelik is alles opgeklaar, alles is oop en verby.
Laurie vou die brief toe, sit dit terug in die koevert en gee dit vir Matthew, nou het sy vrede — “Hou jy dit veilig vir ons families Matthew.”
Na die openbaring is almal stil en loop hul gedagtes lang paaie terug na die wonderlike dae in hul verlede wat Gregor Armsby en Louis Olivier met hulle gedeel het.
Na middagete maak Laurie die kissie oop, vou die leerdoek versigtig oop en voordat sy enige artikel uithaal hoor almal die optrek van verskeie asems. Laurie weet, die is deel van die sluiting van die verlede.
Die inhoud is oop voor almal, sy haal die artikels een vir een uit en gee dit vir die persoon aan wie sy dink dit behoort. Die diamantring en die twee goue troupante gee sy vir Selma, die silwer vriendskap pant met die letters — DK & GA — vir altyd sit sy besluitloos neer totdat haar pa sy hand uithou. Die goue sakhorlosie gee sy vir ouma Celine Townsend. Die goue borsspeldjie met die blou lintjie gee sy vir Matthew. Die diamant oorkrabbertjies vat Selma by haar en druk dit aan haar lippe. Laurie vou die brief en die haastig geskryfde vergeelde nota versigtig oop en sy gee die nota vir Selma.
Selma lees haar nota aan Louis Olivier — “Louis my liefste, ek bid dat die nota jou bereik. Ons is veilig. Ons het geen idee waar ons uiteindelik gaan opeindig nie. Ek het jou lief, onthou dit altyd. Kyk asseblief na Matthew.
Selma.
Dit ruk almal want hulle weet in watter toestand hulle kinders was toe die nota geskryf is. Laurie neem die brief en vou dit ook versigtig oop, die een paragraaf brief en lees dit vir almal.
Louis vir jou wat my elke dag liefgehad het, kyk na my seun asseblief. Hy het my rustelose natuur en sal altyd ʼn ferm hand nodig hê om hom te lei, jou liefdevolle hand.
Kyk agter die plase want jy is die een wat die grond so lief het soos ek.
Indien my dogter Selma ooit na Suid Afrika kom, maak dinge reg vir my met haar. Jy ken my tekortkominge, jy sal weet hoe om dinge reg vir my te maak met my kinders.
Ek lief jou vir ewig.
Jou ewige dankbare vriend.
Gregor
5 Mei 1980.
Selma Townsend vertel die gebeure rondom die twee trouringe en dit breek almal se harte — “Ek en Louis het beplan om in Augustus te trou en het die ringe gaan uitsoek en laat graveer. Ek is so jammer om te sê dat ek die ring net daardie een dag aan my vinger gehad het.” Dan sit sy die ring aan haar vinger en sê — “Maar ek sal hom van vandag af dra elke dag tot ek sterf.” Sy haal die ketting wat om haar hals is af en glip die ketting deur oom Louis se ring, en maak dit weer vas om haar nek. “Louis se ring sal ek hier teen my hart hou tot ons weer ontmoet.”
Deur die volgende uur word die geskiedenis van die ander artikels vertel. Matthew is oorstelp oor sy borsspeldjie en Laurie voel die vreugde wat sy gevoel het by die vind daarvan. Laurika en Selma vertel die geskiedenis van die twee borsspeldjies en die fopspene.
Haar pa verklaar die DK & GA — is Dianne Kilber en Gregor Armsby. Laurie en al die ander hoor vir die eerste keer die verhaal van die groot liefde wat oor agtien jaar gestrek het en tog nooit in ʼn huwelik geëindig het nie.
Hy verduidelik die ring met die vreemde embleem — Die embleem is die van ʼn baie ou strokies held ‘Die Skim’. Die ring is deur oom Louis laat maak en aan hom gegee omdat hy konsuis soos ‘die skim’ in die berge was. ‘Die vier’ is dit eens — “Nate jy het werklik soos ʼn skim verdwyn wanneer jy in die berge was’.
Hy neem die ring en sit dit aan sy vinger en almal klap hande — ʼn bietjie van die ou mistiek is terug in haar pa en Laurie voel ontsettend dankbaar.
Selma wag tot almal ophou lag en sê dan baie ernstig — “Nate dit is waarom ek jou gevra het om my seun oor die berg te vat, ek het jou toe vertrou en ek vertrou jou steeds vandag, ongeag wat gebeur het.”
Haar pa verduidelik ook waar die knipmes inpas — “Aanvanklik het die mes behoort aan die eerste Gregor Armsby, my oupa. Maar my pa het dit gebruik tot sy dood. Dit is ʼn baie skaars mes met die wapens van die ou Transvaal en Vrystaat Republieke, en die gesigte van Paul Kruger en Generaal de Wet. Ek is nie seker van die presiese datum van uitreiking nie maar weet dit was tussen 1900 en 1915.” Hy gee dit terug vir Laurie met die woorde — “Julle moet dit wegbêre vir die seuns.”
Laurie lees oom Louis se nota aan haar en sy weet — nou het sy klarigheid, nou weet sy die diepte van die liefde wat in die grond is — en sy is tevrede.
Die gedenkdiens vroeg Saterdag oggend gee sluiting vir ‘Die vier’ en veral vir Matthew. Hy staan langs Louis se graf en dra sy dank oor aan hom, vra verskoning, vra sy hand oor hulle, vra goeie wense van anderkant die graf vir hulle almal se lewens vorentoe.
Matthew vat aan sy wang — daar waar Louis, die stonde voor sy dood, geraak het, hy voel die aanraking weer, warm, sag, liefdevol, en hy snik die woorde uit sodat almal dit hoor — “Hier aan my wang het hy my met liefde aangeraak, die oomblik voor hy gesterf het en ek dank hom daarvoor.” Skielik is daar rus in Matthew, weet hy, hy was meer geliefd in sy lewe as meeste mense en hy is dankbaar daarvoor.
Wanneer hy omdraai staan Nathan daar, met sy twee seuns elk met ʼn arm om ‘oupa’ Nathan se bene, skielik sien hy homself agt en twintig jaar terug op dieselfde plek, en die wete is daar, Nathan is net liefde, net een groot liefde.
Die Sondag oggend woon almal, saam met vriende en die gemeenskap, die nagmaal diens in Vader Jackson se kerk by en vertoef daar terwyl hy staaltjies uit oom Louis se lewe vertel.
Die dae tot na Nuwejaar, gebruik hulle om dit wat oor die jare gebeur het oop te maak — soos hulle ooreengekom het, stap almal die oggend na ontbyt deur na die groot sitkamer.
Wanneer almal die eerste dag gemaklik sit, kyk hulle na Laurie en sy besef dat hulle aanneem dat sy vandag die gesprek sal begin. Sy sit haar hand op Matthew se arm en terwyl sy direk na hom kyk sê sy — “Ek dink ons begin vir my en Matthew se onthalwe by die begin, daar by Gregor Armsby.” Wanneer vader en dogter se oë ontmoet, is die liefde en waardering daar.
Na ʼn baie lang minuut van stilte, is dit Celine Townsend wat begin met die vertelling.
“Ek gaan dit nie ʼn lang storie maak nie maar dit is ʼn wonderlike greep uit my lewe. Ek was twintig toe ek Gregor ontmoet het, hy het by my beste vriendin, Sadiya Grant, sy niggie se ouers kom kuier. Hy was van Suid Afrika af, groot, sterk, bruingebrand, en ja…” Sy vat haar man se hand vas en glimlag verleë. “Dit het bittermin gevat om verlief te raak.”
Celine vat Selma se hand met haar ander hand vas, en sê dit met soveel liefde. “Ses weke na Gregor weg is het ek besef ek is swanger, daar was geen verwyt van my of my ouers nie, ek dank die Here weer vir hom wat my hierdie wonderlike dogter gegee het.” Almal beaam dit met die knik van hul koppe terwyl ou Matthew Townsend oorbuk en haar sag op die wang soen en sê — “Ek dank die Here vir Gregor Armsby se geskenk aan ons.”
Dit is Matthew wat vra — “Het ouma Gregor Armsby laat weet, het hy ooit teruggegaan Engeland toe om my ma te sien?”
“Ja ek het, ʼn jaar later op aandrang van jou oupa.” Sy druk ou Matthew se hand. “Ek het hom gesê ek het my lewensmaat ontmoet en dat hy geen verpligting teenoor ons het nie. Ongeag, het hy oor die jare Engeland ses keer besoek om ons te kom sien en ons het al die jare kontak gehou deur gereelde briewe en fotos van Selma aan hom te stuur. Ons het wonderlike vriende gebly. Ek dank die Here dat hy ons nog verder geseën het met twee pragtige seuns, wat ons deur die jare bygestaan het.”
Almal sit in stilte vir ʼn paar minute totdat Laurie die stilte verbreek en vra — “Ken pa die res van Gregor se verhaal?”
“Ja nooi al het ek vir ʼn baie lang tyd dit nie onthou nie, onthou ek dit wel nou. Ek is net ongelooflik spyt dat ek dit vir so ʼn groot deel van my lewe vergeet het maar ek dank die Heer dat ek nou weer weet dat ek my moeder onthou en ook die twee jaar na my ongeluk voordat sy oorlede is.”
“My ma het vir die Nederlandse Regering gewerk en is aangestel in die Nederlandse Ambassade in Suid Afrika, in Pretoria. Sy en Gregor, was saam op die boot wat haar na Suid Afrika gebring het. Soos my moeder altyd gesê het en soos Celine ook beaam het, was hy ʼn uitsonderlike man. Volgens moeder het hulle die eerste dag op die boot aan dieselfde tafel gesit en was daar onmiddellik iets tussen hulle.”
Hy glimlag, skud sy kop en gaan aan — “Wel wat ek en Selma jare terug besef het, is dat Gregor Armsby binne twee maande twee kinders verwek het.” Nathan en Selma lag die jongmens ‘onthou’ lag saam.
“My ma was reeds in haar laat dertigs toe ek gebore is en my geboorte volgens haar iets waarvoor sy God elke dag gedank het.” Hy dink ʼn oomblik en gaan voort — “Alhoewel my moeder nooit wou trou nie, was my pa altyd in my lewe, ek het amper op die plaas grootgeword. Toe ek sewentien was is my moeder bevorder en het sy terug na Nederland gegaan. Dit was ʼn besluit deur ons al drie dat ek by my pa sou bly en hier is ek nog steeds.”
Dit vat ʼn paar minute vir almal om die verhaal te verwerk en is dit oupa Townsend wat sê — “Ek dank God weer vir Gregor se geskenke aan ons gesinne.” Die instemming is daar.
Dan kom dit met verbasing van Matthew — “Ma en oom Nate is familie?”
Dit is haar pa wat Matthew in die rede val. “Ja Matt ons is.” Matthew staar Nathan geskok en verbleek dadelik. “So oom Nate is my oom?”
“Nee… dan is ek en Laurie bloedfamilie.” Matthew se trane val uit sy oë.
Laurie sit versteen, nie by magte om iets te sê nie want sy weet dit is nie haar waarheid om te vertel nie. Skielik besef almal in die vertrek dat slegs Matthew nie weet dat Nathan nie Laurie se biologiese vader is nie.
Dit is Laurika wat voor Matthew op haar knieë neerval, sy vat sy gesig tussen haar hande vas — “Matt… Matthew kyk vir my, luister.” Matthew is versteend. Laurika dwing Matthew se gesig om na haar te kyk.
“Matt, Nathan is nie Laurie se biologiese vader nie.” Matthew hoor die woorde asof van baie vêr en hy hoor hoe hy sy eie asem uitblaas. “Josua is haar pa.”
Matthew sê nie ʼn woord nie, staan op en neem Laurie aan die hand, trek haar uit die stoel en stap met haar aan die hand uit die vertrek uit. Die mense wat agterbly sit versteend, vir die eerste keer besef hulle, die waarheid is iets wat Laurie en Matthew nooit geweet het nie.
Nathan vertel in ʼn baie moeë stem, hoe geweldig Laurie gely het vandat hy die dag in die hospitaal haar gesê het dat hy Selma se halfbroer is. Hoe hy nie besef het in watter hartseer die halwe waarheid sy kind gesit het nie, en die feit dat Laurie eers die afgelope dae die waarheid leer ken het. Almal besluit saam om eers weer te breek en koffie te gaan drink, om Matthew en Laurie geleentheid te gee om deur die pyn te werk.
Matthew stap met Laurie se hand stewig in syne tot onder die bloekombome in die begraafplaas. Hy neem haar gesig tussen sy hande en sê sag — “Wanneer het jy uitgevind dat hulle broer en suster is my lief.”
“My pa het in die hospital, na die eerste operasie dit met my gedeel. Ek het nie geweet wat om te doen nie want ek het jou so lief Matthew. Ek het so gebid dat hy deurmekaar was, dat hy nie geweet het wat hy sê nie.”
Hy druk haar teen hom vas — “Liefste, my liefste, deur watter hel het jy nie al gegaan nie en dan moes jy nog die feit alleen dra. Wanneer het jy uitgevind dat Josua jou pa is?”
“Die dag toe my ma hier op die plaas aangekom het. Dit was die swaarste iets ooit vir my pa om te erken want dit het ook bevestig dat hy in werklikheid iemand anders se kind van hulle gesteel het.”
Hy druk haar stywer vas — “Die daad sal ek nooit teen hom hou nie lief, want dit is juis die daad van hom wat verseker het dat ons twee vandag hier kan staan. Ek moet hom daarvoor bedank.”
“Dit is waarom ek so afsydig was lief, ek was buite my self van hartseer.”
Hy hou haar vas en met sy lippe teen haar voorkop, verseker hy haar — “Niks, maar niks sou my ooit van jou weggehou het nie, ongeag wat dit sou vra.”
Dit vat hulle ʼn lang tyd om klaar te gesels, om mekaar te beloof dat hulle geen geheime verder self sal dra nie want nou is hulle een en daar kan nooit weer apart besluit word nie. Hulle gaan terug en kry vir hulle koffie en stap terug na die sitkamer.
Matthew loop na Nathan en druk hom aan sy hart — “Oom Nate, baie dankie dat jy Laurie so liefgehad het dat jy haar as jou eie grootgemaak het. Dit het verseker dat ek en sy vandag bymekaar kan wees.” Nathan kry ook die vergifnis en vrede waarna hy opsoek was.
Matthew druk Laurie se hand teen sy lippe, en vra — “Wel, ek wil weet waar en wanneer die wonder om my lief te hê begin het?” Hy lag die lag wat Laurie so lief het.
Dit is Laurika met haar hand in Joshua se hand wat die vertelling verder neem. “Soos julle weet…” en sy trek groot oë — “Was ek en Selma boesem vriendinne wie vriende was met Gregory en Joshua. Ek glo almal, ons ingesluit, het altyd geglo dat ons vier sal trou en nou ja ons het ook, op dieselfde dag in dieselfde kerk.” Al vier onthou en hul lag vul die vertrek.
“Ons het alles saam gedoen, ook saam swanger geraak en julle twee is drie dae uitmekaar gebore.” Dit is nuus vir Laurie en Matthew.
“Selfs dit was nie genoeg vir ons nie, ons het ons verbeel dat ons iets groots in ons lewens moes doen.” Gregory Phillips gaan voort — “Laat ek die gedeelte vertel, ek voel alles was my skuld, ek met my oordrewe soeke na avontuur.” Hy lag skaam — “Ons wou soos die Crusaders ons merk in die geskiedenis maak, ons was regtig sulke naiewe, bederfde, ryk kinders, van families’ wat eeue oud was en ons het ons verbeel die wêreld wag vir ons groot daad. Ons kies toe Suid Afrika met sy apartheidsprobleme maar ook oor twee ander redes. Eerstens omdat Selma ʼn band met die land in haar pa gehad het en tweedens omdat Matthew ernstige probleme van geboorte af met sy longe gehad het, en die dokter het aanbeveel dat hy na ʼn droeër klimaat geneem moes word.”
Hy dink een oomblik na en gaan voort — “Ons het aangesluit by die ‘Equality for all’ beweging wat aktief op die universiteits kampus was en wat spesifiek gefokus het op die ANC in Suid Afrika se stryd om apartheid te beeindig. Die grootste voorstander was Graham Hill en van die oomblik wat ons in die organisasie ingestap het, het hy ons absoluut uitgesonder. Ons geld, ons status en veral Selma se teenwoordigheid het Graham absoluut oordonder.
Hy was van die eerste oomblik verlief en ongeag die wete dat ek en Selma verloof was, en op die punt gestaan het om te trou, het hy haar die hof gemaak asof dit sy enigste doel in die lewe was. Sy versotheid op Selma was ʼn groot grap tussen ons vier, ons het dit nie ernstig opgeneem nie.” Ook die geheim is nou oop vir Laurie — Johan van Graan se obsessie met Selma Townsend.
“Graham het ook by meer as een geleentheid Selma formeel gevra om met hom uit te gaan en in die maand voor ons getroud is, haar gevra om te trou. Hy wou nie ‘nee’ vir ʼn antwoord vat nie. Die week na ons vier getroud is, is Graham skielik weg en ons het voortgegaan met ons studies en ons lewens — ons het niks van hom gehoor totdat ons vyf jaar later hier in Suid Afrika aangekom het nie.”
Laurika hou haar hand in die lug en sê — “Nou eers my beurt voor ons met die Suid Afrika deel aangaan — die belangrikste — julle twee se geboorte. Dae uit mekaar ons was so gelukkig en geseend.” Sy druk Laurie se hand.
Nadat Laurika en Selma Laurie en Matthew se geboorte en babadae volledig vertel het, gaan Gregory voort — “Ons het al vier begin werk na ons afgestudeer het. Ek en Selma het kort daarna besef dat ons vir al die verkeerde redes getrou het, en gesamentlik besluit om te skei sodat albei vry sou wees indien daar ooit iemand anders in ons lewens kom.” ʼn Glimlag is op beide se gesigte en dit weerspieël die toegeneentheid wat hulle steeds vir mekaar as vriende voel.
“Ons het egter deur die jare ons affiliasie met die “Equality for all” beweging behou en binne die jaar wat ons begin werk het, het die malheid in my ontstaan om Suid Afrika toe te kom om die ‘droom’ van ‘iets groot bydra’ te kom verwesenlik. Ek het Josua omgepraat en saam het ons Laurika en Selma omgepraat. Selma omdat sy haar pa wou sien en Matthew na ʼn droeër klimaat wou neem. Sy het nie geweet dat haar pa reeds oorlede was nie.”
Hulle besluit om eers ʼn breek te neem vir middagete, en om die ouer mense geleentheid te gee om eers te verwerk wat hul gehoor het, en ʼn bietjie te rus. Almal besef, soos die inligting nuut is vir Laurie en Matthew, dit ook die eerste keer is dat die families die feite hoor. Hulle eet en die jonger mense stap saam met Selma na oom Louis se graf, waar hulle ʼn wyle vertoef voordat hulle terugkeer om verder die verlede oop te maak.
Wanneer almal terug is, gaan die vertelling voort. Selma begin die gesprek en die hartseer van die dag wat Selma besef het dat haar pa oorlede is sonder dat hulle geweet het, is voelbaar in die vertrek na al die jare.
“Selfs in die hartseer is dit ook een van die wonderlikste dae in my lewe, toe ons voor die huis stop, staan die mees volmaakte man wat ek ooit gesien het op die stoep — Louis. Ek onthou so duidelik, Nate het om die hoek van die huis gekom en reguit na die motor geloop.” Die absolute vreugde van onthou is op albei se gesigte.
“Ek en Laurika het die motor se agterdeure oopgemaak terwyl jy en Matthew bo-oor ons geklouter het…” en die onthou is weer daar op haar gesig. “Nate hou sy arms oop en julle twee loop daarin en hy tel julle op en swaai julle in die rondte.” Laurie kyk na haar pa se gesig en die onthou is ook op sy gesig en hy lag.
“Ons kon vir geen oomblik glo wat ons sien nie maar jou pa en Louis het ʼn rukkie later dit vir ons opgeklaar.” Sy lag haar pragtige lag wat so min gehoor was die afgelope jare. “Jy en Louis het geweet wie ek is — die fotos van my pa het julle albei later verduidelik — onthou jy Nate?” Nathan knik sy kop oor die herrinneringe wat hy vergeet het maar wat nou weer terug is.
“Nodeloos om te sê — dit was liefde met die eerste oogopslag, ek vir Louis en julle twee vir Nate.”
Sy glimlag. “Ons almal het net aangeneem dat ons hier sal bly en jy en Louis neem ons in julle huis in, en dankie Heer daarvoor in julle harte in.”
Sy dink ʼn oomblik na. “Ek onthou die oomblik toe jy gesê het dat ek en jy halfbroer en suster was.” Laurie voel die verstywing van Matthew se hand en as sy opkyk is daar vreugde op sy gesig. Laurie weet die familieband tussen Selma en Nathan is nou ʼn vreugde in Matthew.
Met die gemoedere wat baie ligter is, vat Gregory die vertelling oor — “Ek en Josua is in die derde week na ons hier aangekom het, weg Durban toe om kontak te maak met die persoon deur wie ons met die ANC sou kon affilieer en deur al die jare onthou ek daardie instruksie so duidelik — Vra vir Justice by die Smuggler’s Inn by die Alexandra Hotel’. ʼn Opdrag gegee deur ‘Equality for all’ vir ons. ʼn Groot man het net gesê — Bly in die hotel iemand sal kontak maak — geen vra vir name of enige inligting nie. Ons moes toe al geweet het iets is verkeerd maar die effense mistiek het ons aangegryp, ons was skoon besete met afwagting.”
Die uitdrukking op ‘die vier’ se gesigte weerspieël hulle hartseer in die wete oor wat die jeugdige onbesonnenheid hulle en almal om hulle se lewens aangedoen het. “Groot was ons verbasing toe ons ʼn dag nadat ons Justice gesien het, skielik ʼn besoek van Graham in ons hotelkamer ontvang. Uit die geprek met hom het ons gou besef dat hy in werklikheid nooit ʼn student aan die universiteit was nie maar ʼn agent vir die vleuel van die Engelse Landsveiligheidsmag wat in Suid Afrika geplaas was as deel van die Britse Regering se span wat observasie vir die Verenigde Nasies die jare gedoen het oor die terreur aanvalle in Suid Afrika.”
Hy bly ʼn paar oomblikke stil en gaan weer voort — “Hy het na ʼn baie kort gesprek, waarin hy ons in werklikheid net gesê het dat daar iets groots beplan word en dat ons terug plaas toe moes gaan en daar moes wag vir verdere nuus van hom — niks verder oor die ANC affiliasie gepraat nie. Sy haas om van ons ontslae te raak het natuurlik verdwyn toe ek hom sê ek en Selma is geskei. Skielik was hy vriendelik en lus vir ons geselsskap. Hy het dit duidelik gestel dat Selma en Laurika in moet wees as ons enigsins betrokke wil raak. Ons is toe terug plaas toe en Graham het nog dieselfde week hier op die plaas opgedaag — konsuis om ons nuus te gee maar dit was om Selma te sien.”
Hy bly weer ʼn paar oomblikke stil en kyk na Selma — dan gaan hy voort — “So het dit vir omtrent twee maande aangegaan, net Graham en van sy ‘vriende’ se kuiers laat aand en verder niks oor die ANC affiliasie nie. In werklikheid net Graham wat nie Selma se ‘nee’ wou aanvaar nie, nie wou aanvaar dat sy Louis lief het en met hom gaan trou nie. Hy was woedend toe sy hom dit sê, dit het die verhouding tussen ons erg vertroebel.”
Laurie herroep die gesprekke tussen haar, Metando en veral Dawid oor die vreemde mans wat die plaas in die nag besoek het en sy weet die is die bevestiging daarvan. Laurie weet ook die is die bevestiging waar die haat teenoor oom Louis vandaan gekom het.
“Een aand baie laat, daag Graham hier op met ʼn man wat hy aan ons voorstel, ek wil nie eers sy naam noem nie want dit het vir ons die mees gehate naam oor die afgelope jare geword. Ek haat hom vir die daad wat hy gepleeg het, wat soveel onskuldige mense se lewens verwoes het, ook ons, en ons mense se lewens. Ek haat Graham dat hy ons aan die mens voorgestel het want ons het wel later besef hy het dit gedoen om ons aan die verradderlike daad te koppel vir sy eie vergelding.” Met die verklaring is die waarheid waarom die vier mense aan daardie terreur saak gekoppel kon word, ook oopgemaak.
Wanneer hy wil voortgaan stop Nathan hom — “Laat ons eers bietjie breek vir middag ete voor julle voortgaan, ek het iemand genooi om later vanmiddag te kom koffie drink en as ek sien hoe vinnig ons deur die gebeure gaan, gaan my verrassing dalk te laat hier aankom.”
Almal is verbaas — ‘wie’ wil almal weet, maar hy lag net — ‘Wag en sien.’ Hulle gaan deur eetkamer toe vir middag ete.
Wanneer hulle na ete weer almal gemaklik sit, sit Gregory die vertelling voort en die ‘ander drie’ laat dit hulle welgeval.
“Die aand voor die helse dag kry ons ʼn ‘opdrag’ van Graham — ons moet die volgende dag in Pietermaritzburg wees — ons al vier. Selma en Laurika wou nie meer gaan nie maar Graham se toon was meer ʼn dreigement as iets anders — hy was beslis — al vier van ons en ons het werklik gedink dat dit moontlik die ANC insweer sessie kon wees.
Hoe verkeerd was ons nie. Laurika en Selma wou julle twee as verskoniong gebruik maar almal het toe reeds maande geweet dat julle twee en Nathan onafskeibaar was. Julle het voltyds by Nathan op sy plaas deurgebring en daar geslaap, hy was julle alles en ons het dit verwelkom in ons jongmens malheid.” ʼn Kyk van waardering, liefde en skaamte volg wat al vier na Nathan kyk en dit laat die trane oor Nathan se wange rol.
“Ons is Pietermaritzburg toe en het in een van die kamers by die hotel ʼn vergadering bygewoon, later het ons besef dit was geen werklike vergadering nie, alles was gedoen om ons op te stel vir die hel wat sou volg.” Nou is die naakte pyn op ‘al vier’ se gesigte. “Voor die kamtige vergadering verby was het die nuus van die bomontploffing in Durban deurgekom. Die ander persone wat in die vergadering was het soos skelms in die nag verdwyn terwyl ons soos gekke daar in die hotel agtergebly het.” Nou is die spanning in Gregory se stem duidelik hoorbaar.
“Die volgende wat ons hoor is toe die polisie met skreuende sirenes voor die hotel stilhou, gewapen tot die tande en vra waar die vier uitlanders se kamer is. Hoe ons uit die hotel gekom het weet ek tot vandag toe nie, ons het deur die gange gehardloop soos besetenis, nie geweet waarheen nie, die volgende oomblik was Justice daar en het hy ons deur die kelder van die hotel uitgeneem na die agterkant van die hotel. Hy het saam met ons in die donker gehardloop tot by ʼn voertuig wat ʼn paar blokke verder geparkeer was. Hy het ons weggeneem na ʼn afgeleë plaashuis waar hy gesê het ons moet wag totdat iemand ons kom haal, hy is toe daar weg.”
“Selma het geweier om daar te bly en het die pad gevat in die donker in die rigting van die dorp, ons het saam geloop omdat ons in werklikheid almal te bang was om nie bymekaar te bly nie. Ons het omtrent so tien minute gestap toe ons die konvooi polisie voertuie sien aankom. Ons het in die veld weggekruip tot hulle verby is en toe deur die veld bly hardloop tot ons baie later by Howick uitgekom het. Later het ons besef dat die ‘reddingspoging’ deel van die opstel van ons was. Indien die polisie ons in die hotel gekry het, kon ons nie fisies by die bomontploffing gewees het nie, dit was te gou na die ontploffing vir ons om die afstand te kon aflê. Ons moes in die rigting van Durban afgelaai word asof ons uit Durban gevlug het.”
“Selma is alleen Howick in en het Louis van ʼn publieke foon gebel en hom vertel wat aangaan. Louis het haar onmiddellik ʼn adres in Howick gegee en gesê dat ons daarna moet gaan en daar moet bly totdat hy iemand kan stuur om ons te help. Daar was geen kans dat Louis of Nate die plaas sou kon verlaat sonder Graham of die polisie se wete nie. Die twee mense wat daar gewoon het, het ons omiddellik ingeneem en vir dae weggesteek — dit was duidelik dat Louis hulle ingelig het oor ons.”
Matthew voel die beklemming in hom en skielik is alles net te erg. Hy staan op en sê met die spanning duidelik in sy stem — “Ek het ʼn breek nodig, ek moet eers net hier uit vir ʼn rukkie.” Almal besluit om ʼn welkome breek te neem terwyl ʼn swaar somberheid in elkeen is. Laurie sien haar pa na sy kamer stap en sy laat hom begaan, sy weet die is die aanloop tot die voorvalle waar hy geweier het om haar te laat gaan, sy weet dit raak hom steeds diep.
Later as hulle weer rustig sit, vra Gregory of Nathan dalk kan vertel wat hy en Louis gedoen het om hulle te beveilig in die tyd. Laurie hoor die motor wat die werf inry. Sy staan spontaan op want sy ken die motor. Haar pa stop haar — “Los Laurie, hulle sal inkom, ek het hulle gevra om te kom.” Laurie is verbaas — het dit iets met die verlede te doen? Nathan staan self op en stap uit op die stoep om die man en vrou te groet en in te nooi.
Sodra haar pa inkom, staan almal op en stel haar pa hul bure bekend aan almal — “Gerbrand en Martinha Zweers.” Almal skud hande en Nathan vra hulle om te sit. “Julle is net betyds — dankie vir die kom.” Sodra hy sit begin hy praat.
“Louis het die nag oorgekom en my vertel wat Selma hom meegedeel het en hy het hulp gesoek, enige iets om Selma veilig uit die land te kry. Dit was onmoontlik om Selma hulle te verskuif as gevolg van die padblokkades wat opgestel was, ook het hulle geen dokumente by hulle gehad nie, hul paspoorte was hier op die plaas by Louis. Nie dat dit sou gehelp het nie — hulle vier was die volgende dag gekoppel aan die terreur en hulle identiteite was bekend gemaak. Dit is toe dat ek voorstel dat ek met my ma se hulp, dalk by die Hollandse Ambassade kan regkom vir nuwe paspoorte.”
Hy dink ʼn oomblik en gaan voort: “Ek is dieselfde nag met die vier paspoorte in my besit oor die berg na Josh Cronje se plaas by ‘Little Switzerland’. Josh het my sy motorfiets geleen en ek is met die motorfiets weg Pretoria toe. Dit is waar Gerbrand inkom in die verhaal.” Nou is almal se aandag gevestig op die twee mense wat die vertelling nou raak.
“Ek het Gerbrand by die Ambassade gaan sien en gevra hy moet my ma in Holland bel.” Nathan kyk na die man wat oorkant hom sit. “Hy het en ek dink omdat dit Gregor Armsby se kind was, en my halfsuster, het my ma goedgekeur dat Gerbrand vier ‘dringende’ Diplomatieke paspoorte hier kon uitreik.”
Laurie hoor die geluid van vreugde van almal. Nathan buk en tel iets langs sy stoel op, Laurie sien dit is ʼn ou babadoek wat vol hegband is wat losgesny is. Hy kyk na Laurie en glimlag — “Dit is wat in die handkluis in my laaikas was nooi.” Wanneer hy haar verbasing sien lag hy — “Ek weet jy moes die kluis gevind het toe jy my goed gepak het.” Die ‘verstaan’ is tussen hulle.
Nathan vou die doek oop en hou die inhoud in sy hand — “Julle vier se paspoorte waarvan Gerbrand die fotos verwyder het die dag om die nuwe paspoorte te maak.” Hy gee die paspoorte aan vir Lady Ruben wat langs hom sit.
Dit is asof die vertrek ontplof. In ʼn koor kom die vraag… “Jy is Ge, jy is die man wat ons twee dae later met ʼn Diplomatieke voertuig uit die land na Maputo geneem het?” Gerbrand Zweers is oorstelp oor die reaksie. “Jy koop toe werklik Nathan se ou plaas en kom woon hier langs hom.” Kom dit opgewonde van Selma.
Gerbrand Zweers skud sy kop stadig heen en weer — “Nee, ek het nie die plaas gekoop nie. Nate het ons die plaas gegee omdat ons julle gehelp het.” Nou bars daar pandemonium los as almal gelyk by Nathan en die Zweerse wil uitkom om hulle te omhels.
“Nate dis ʼn groot ding het jy vir ons gedoen het, om die plaas wat jou ma vir jou gekoop het net weg te gee.”
Nathan skud sy kop — “Dit was niks in vergelyking met wat ek gekry het nie…” nou huil Laurie want sy weet sy is die teenprestasie en sy is bly. Matthew druk haar teen hom vas terwyl hy haar aanhoudend troos.
“Onthou ek het nog ʼn ander plaas gehad.”
Teen die tyd wat almal bedaar en weer sit, gaan Gerbrand Zweers voort — “Ons het die paspoorte onder streng geheimhouding gemaak en ek is toe met die Diplomatieke voertuig Natal toe waar ek julle vier opgelaai het, en met die Noordkus pad deur is na Maputo. Daar was padblokkades maar niemand het ons gestop nie, niemand het reg gehad om ʼn diplomatieke voertuig te stop nie. By die grens het ek die paspoorte deur die beheer geneem. As gevolg van die feit dat ek weekliks deur die grens is en natuurlik die Diplomatieke verhoudings, is ons deur die grens sonder enige voorval.
Daarna was die op die boot kry van julle, soos julle weet — geen probleem nie. Nate se ma het in Amsterdam gesorg vir nuwe paspoorte en met haar hulp is julle deur na Europa waar julle die eerste paar maande vertoef het, daarna sal net julle weet wat gebeur het.”
Die kort maar absoluut oordonderende feite, hou almal vir ʼn paar minute sprakeloos. Laurie staan op en stap na Gerbrand en druk hom teen haar vas. Sy neem Martinha Zweers se hand: “Ek weet niemand hier weet die volgende feite nie maar die M. M. Vrey is nou vir my duidelik. Tannie Martinha, baie dankie vir my geboorte sertifikaat en tannie Selma se doodsertifikaat. Ek weet nou dit kon tannie, tannie se werk en vryheid gekos het, baie dankie vir die dade wat in werklikheid so ongelooflik baie bygedra het tot ons veiligheid.” Martinha Zweers hou haar vas — “Ek wou dit doen en sal dit weer doen as ek gevra word.”
Die verslaendheid van die groep duur voort, dit wat gevra was van so baie mense om hulle kinders na veiligheid te neem, maak hulle nederig en dankbaar.
Nou wil Laurie alles weet oor die mense wat amper haar hele lewe langs hul boer terwyl sy geen idee gehad het dat daar enigsins ʼn verbintenis was behalwe dat hulle bure was nie. “Hoe het tannie my pa geken, was tannie Martinha en oom Gerbrand toe al getroud?”
“Nee, ons het mekaar op die stadium nie geken nie maar dit is deur die gebeure dat ons mekaar hier op die plaas ontmoet het. Ek en Louis het op Memel grootgeword en was saam op skool en later op universitieit, dit is waar ons verbintenis begin het. Ek het die jare by die Department van Binnelandse Sake in Pretoria gewerk en dit is waarom ek kon help.”
Na al die jare is die vreugde weer in Gerbrand en Martinha Zweers omdat hulle dade soveel waarde gehad het. Die dankbaarheid is ook daar van ieder en elk in die vertrek en Martinha en Gerbrand weet, dit wat hulle gedoen het was reg en hulle is tevrede want hulle self het so baie gekry.
Wanneer Laurie omdraai sien sy haar ouers en groot ouers is totaal uitgeput, sy weet, nou tee drink en eers gaan rus — niks verder vandag nie.
Hulle gaan rus en in die laatmiddag son sit almal op die stoep en tee drink. Nathan kom uit en gee die vier oorspronklike paspoorte en Laurie se kinderpaspoort vir Celine Townsend. Matthew staan op en voeg sy kinderpaspoort by die ander. Die paspoorte word van persoon tot persoon aangegee en daar is die kyk na die paspoorte en die teen-blaadjies van die eerste Hollandse paspoorte, asof dit ‘Van Gogh’ skilderye is.
“Jy was bewus van ons aanvanklike identiteite Nate, en tog het jy dit nooit vir niemand genoem nie.” Nathan kyk Laurika in die oë — “Ek sou nooit nie, al het ek gedreig.”
Dit kom eerlik en opreg van die vier — “Ons weet, het altyd geweet.”
Dan die hartseer vertelling oor die onsuksesvolle poging om Matthew uit die land te kry.
“Wie was die gesant wat my uit sou neem?” En Matthew kyk na sy pa.
Dit is sy oupa wat antwoord — “Sir Ronald Brooks.” Kom dit met pyn in sy stem maar ook met die duidelike herroep van al die feite wat hy seker honderde kere oor die afgelope jare herroep het.
“Die mislukte poging het ook vir Ronald ʼn leeftyd se verwyt gebring en ek skuld hom so baie want ek was die een wat hom gevra het.”
Hy bly ʼn oomblik stil en gaan voort — “Ronald was ʼn begaafde sportman toe hy jonk was en het altyd in sport betrokke gebly. Hy was in die tagtigs betrokke by die afrigting van die Australiese Krieket span en het as hulp afrigter saam met die Australiese Krieket spanne na Suid Afrika getoer tydens die Rebelle toere.”
Hy bly een oomblik stil en die verbasing is duidelik op almal se gesigte. “Hy sou na die drie daaglikse wedstryd tussen die Australiese en die Oostelike Provinsie se elftal, wat van twaalf tot veertien Desember op St. Georges Park in Port Elizabeth plaasgevind het, terugkeer na Engeland vir die troue van sy broer Jason.
Ek het hom ʼn amptelike brief gegee wat ek vanaf ons Minister van Buitelandse Sake verkry het, wat hom die reg gegee het om Matthew die land uit te neem. Hy het onderneem om na die missie te reis om Matthew die vyftiende of sestiende te gaan haal.”
Die hartseer is op sy gesig — “Soos ons reeds weet, het soveel onvoorsiene insidente gebeur en was my broer en Matthew nie by die missie toe hy daar kom nie. Niemand by die missie wou erken dat Matthew wel daar was, of daar is nie. Ronald is toe leë hande terug Engeland toe.”
Matthew vat sy oupa se hand en druk dit — “Dankie dat oupa probeer het, ons weet almal ek was geweldig gelukkig en geliefd.”
“Ons het as gesin soveel keer oor die jare probeer om met Christopher kontak te maak maar was onsuksesvol. Ons weet nou nadat Matthew ons in Londen vertel het dat hulle identiteite verander was en ook die onmiddellike verhuising, die rede was waarom ons hom nooit weer kon vind nie.”
Die wete is nou in almal — Wat met die twee kinders gebeur het, moes so gebeur het vir almal om vandag hier saam te wees.
Die Zweers’ beloof om ongeveer tien uur die volgende oggend terug te wees om die einde van die verhaal mee te maak. Terwyl die ouer mense gaan rus vir ʼn uur voor aandete, vat Matthew Laurie se hand en hulle stap uit en gaan soek die seuns wat ewe rustig saam met die ander kinders op die grasperk speel.
“Ons is so bevoorreg vir wat gedoen was vir ons my lief, so ontsettend geseënd dat ons ouers hier is, ons twee hier is, saam is.” Hy buk en soen haar sag op die voorkop, en die begeerte is daar polsend in hulle.
Dit is asof niks anders saak maak, behalwe die afsluit van die verhaal.
Die volgende oggend na die Zweerse aangekom het, gaan die vier voort met die ongelooflike verhaal van hul eerste tien jaar vlugtend deur Europa. Die aanhoudende gevlug van land na land en die families se stryd om te verseker dat hulle kinders veilig is, geld het en beskerming het. Toe skielik die afname van die felheid van die vervolging vanaf negentien vyf en negentig.
Maar die voortdurende aanwesigheid van enkelinge wat elke keer weer opgeduik het, waar hulle ookal was. Almal weet nou — Graham Hill se lewenstaak wat hy homself opgelê het.
Die vreugde en verligting is in almal wanneer hulle herroep toe daar uiteindelik ʼn verslapping in die vervolging van hulle plaasgevind het. Met ongeveer die vyfde identiteits verandering waarmee hulle Switserse Burgerskap ontvang het, kon hul tot rus kom na al die jare se vlug.
Sir Ruben neem die vertelling oor — “In negentien ses en negentig het ons ʼn besoek van ʼn man gekry wat deur ʼn prokureur na ons gestuur was. Die man het homself as Pearson aan ons bekendgestel en na die eerste dag se gesprek, waar hy aan ons sy plan verduidelik het om julle veilig te hou, waarvan die eerste stap die Switserse Burgerskap was.”
Nou huil George Ruben openlik — “Hy het elke dag daarna presies dit gedoen, tot die aand wat ons die tyding gekry het dat julle amnestie goedgekeur is. Hoe weet ons nie, waarom weet ons nie, maar ons dank God elke dag van ons lewens.”
Na ʼn oomblik se nadink kom dit duidelik van George — “Hy het die aand wat hy my kom sê het dat die amnestie goedgekeur is, vir die eerste keer sy werklike naam genoem wat Steven Carter is.”
“Het hy ooit gesê waarom hy by die saak betrokke geraak het oupa?” Die oupa van Laurie, bring die warm vreugde in almal se harte.
“Nee my kind maar hy het beloof om my wel eendag te vertel. Ek persoonlik dink dit het met gebeure in Suid Afrika te doen gehad, wat hom persoonlik geraak het.”
Almal voel die dankbaarheid teenoor die man wat hulle so getrou deur die jare bygestaan het. Almal, Laurie en Matthew ingesluit wonder waarom ʼn vreemdeling soveel moeite oor al die jare vir hulle ouers gedoen het, hulle weet eendag sal hulle hom dit vra. Hulle spreek die wens uit en George beloof sodra hulle terug in Engeland is, en Nathan, Laurie, Matthew en die kinders daar is, sal hulle Steven Carter gaan sien. Hom die vraag vra en hom bedank vir dit wat hy vir die gesinne gedoen het.
Dit is Selma wat voortgaan met die vertelling vanaf negentien ses en negentig — “Skielik kon ons amper normaal met ons lewens in Switzerland voortgaan. Ons het werk gekry in maatskappye wat aan kenisse van ons ouers en Sir Ronald Brooks behoort het. Teen alle waarskuwing het ek weer probeer uitvind wat van Matthew geword het. Binne twee weke nadat ons begin navraag doen het, het Pearson laat weet dat nuwe navraag na ons vier aan Scotland Yard gestuur is. Dit was duidelik, ons moes alle pogings om met julle kontak te maak, staak indien ons julle veilig wou hou en ons identiteite wou beskerm.”
Matthew haal die sak met die dokumente wat hy tussen sy pa se goed gekry het uit — “Ek het ook nog ‘n dankie sê wat ek vandag moet doen, die dankie aan my Suid Afrika ouers — pa Christopher en ma Beatrix.”
Daar is ʼn oomblik van ‘dankie sê’ by almal want dit het die twee families se lewens gespaar en die toekoms van hul seun en kleinkinders verseker.
“Moet ek al die briewe voorlees vir almal?” Die instemming is eenparig, hulle wil elke woord hoor.
Matthew maak die briewe in dieselfde volgorde oop waarin hy dit ʼn paar weke vroeër gelees het en in sy pragtige stem deel hy die feite mee wat sy veiligheid en geluk deur al die jare verseker het.
31 Julie 1986
Liewe oom Christopher,
Teen die tyd is ek seker is u ook bewus van al die berigte wat gepubliseer is oor die terreur daad in Durban, asook dat ek, Selma, Josh en Laurika aan die daad gekoppel is. Ek wil hê u moet weet dat ons nie daaraan meegedoen het nie, ek wil hê u moet weet dat ons nooit so iets sou doen nie.
Ek wil ook hê u moet die waarheid weet indien ons nie lewendig uit die gemors gaan kom nie. Op die oomblik word ons deur elke polisieman in die wêreld gejag en ek is bevrees dat hulle ons een of ander tyd gaan vang. Ek is die oorsaak dat ons vier in die gemors is en sal sekerlik daarvoor boet — vra asseblief ook dat God my vergewe.
Selma en Laurika wou geen aandeel aan enige iets gehad het nie maar ek en Graham Hill het hulle gedwing. Selma wou net in vrede by Louis Olivier en Nathan Kilber bly en dit het ek haar ontneem. Ons is deur ʼn slim slenter van Graham na Pietermaritzburg gelok en amper in ʼn lokval gelei. Weet net as Louis Olivier nie tot ons hulp gekom het nie, sou ons reeds gevange geneem gewees het. Ek het regtig ons lewens opgemors.
Ek en Selma is reeds verskeie jare geskei maar ons het vriende gebly en ek is ongelooflik jammer vir wat ek aan haar, Laurika, Josh en ons kinders gedoen het. Ons het ʼn ongelooflike fout gemaak om Graham Hill te vertrou.
Matthew ons seun en Laurie, Laurika se dogter, is steeds in Suid Afrika by Louis Olivier en Nathan Kilber. Ons gaan probeer om ʼn plan te maak om Matthew Engeland toe te neem, ek sal u laat weet as ek kan.
Bid vir ons asseblief.
Gregory.
Matthew kyk na sy pa en hy sien ʼn man met geboëe hoof wat elke woord herroep van die pynlike erkenning. Hy neem die volgende brief —
12 November 1986
Liewe oom Christopher,
Ek vertrou dat u en u mense veilig is, ons weet dat verskeie persone en lede van die kerk ons die afgelope weke bygestaan het en dat u, Nathan en Louis dit gereël het. Met al die hulp van Nathan, Louis, jouself en die kerk het ons dit gemaak tot in Europa.
Alhoewel ons weet dat dit verskriklik gevaarlik is wil ons tog probeer om Matthew na Engeland te bring. Selma is in absolute depressie oor Matthew en ek moet probeer om hom minstens by haar ouers te kry. Ek het daarom teen alle advies gereël dat iemand hom sestien Desember by u by die missie sal kom haal en hom na Dorset County na Selma se ouers sal neem.
Matthew sal deur Nathan te voet oor die berg na jou gebring word, help ons asseblief hiermee.
Indien enige iets verkeerd loop, neem Matthew asseblief terug na Louis en Nathan, hy sal veilig en geliefd daar wees.
Net sodat u weet, Laurika se Laurie sal nie terug Engeland toe kom nie, Nathan het dit duidelik gemaak, hy kan nie sonder haar leef nie. Alhoewel Laurika absoluut platgeslaan is, het sy dit aanvaar en weet sy dat Laurie sal wees by iemand wat haar ongelooflik lief het. Ek bid dat die verskuiwing van Matthew nie die volgende groot fout is wat ons sal begaan nie.
Bid vir ons — liefde.
Gregory.
“Hierdie brief was vir pa bedoel maar julle het dit nooit gekry nie en dit het ongeopen teruggekom.” Die pa maak skielik so baie reg van die verkeerd en die ontsettende hartseer is in almal.
14 Februarie 1987
Liewe Gregory,
Ek vertrou dat die brief jou wel sal bereik en dat julle gesond en veilig is. Teen die tyd weet julle seker dat Matthew nooit terug na Engeland is nie. Dit was ʼn sameloop van verskeie ongelukkige insidente en het tot gevolg dat ek ook nie vir Matthew terug na Nathan en Louis geneem het nie.
Nathan het probeer om Matthew na die missie te bring deur die pas op die vyftiende Desember — volgens Metando en Seshla Musuri. Nathan was onder die invloed en Seshla was onder die indruk dat Nathan Matthew skade wou aandoen, aangesien hy ʼn geweer by hom gehad het. Seshla het geglo dat Nathan Matthew skade wou aandoen en het hy hom met sy knop kierie gegooi, waarna Nathan oor die krans geval het en teen die berg afgestort het. Hulle het Matthew die nag in die berg weggesteek en eers die sewentiende by die missie aangekom.
Matthew was ellendig siek met sy aankoms en ek en Beatrice het onmiddelik hospitaal toe vertrek met hom. Ek het nooit die persoon wat Matthew moes kom haal, gesien nie aangesien hy seker reeds weg was teen ons na Kersfees eers terug by die missie gekom het.
Almal weet dat Nathan Matthew nooit skade sou doen nie maar wat gebeur het, het gebeur omdat die twee mense Matthew wou beskerm. Ek het Matthew hier gehou en wou hom in Januarie na Nathan terug neem maar van die begin van Januarie het Graham Hill verkeie kere hier opgedaag en wou hy Matthew saam met hom neem. Hy het self sover gegaan om die welsyn beampte saam te bring om te probeer om Matthew weg te neem. Hy het egter geen reg gehad nie aangesien ek geldige bewys van my familieband met Matthew het.
Dit breek my hart om dit te sê maar julle sal nooit ontslae wees van Graham nie, dit gaan ook nooit veilig wees om Matthew terug na Engeland te neem nie. Graham sal julle en julle families vir ewig jag, hy sal nooit ophou tot hy julle vind nie. Indien Matthew Engeland toe gaan sal Selma haar vryheid opgee om hom te sien en dit sal tragies wees. Ek sal geen verdere poging aanwend om Matthew na enige plek te neem nie, dit is nie veilig nie. Ek glo hy sal die veiligste by my wees.
In die afwesigheid van jou en Selma het ek besluit om Beatrix te vra om my vrou te word en om vir Matthew aan te neem as ons seun. Ek het reeds met die hulp van die kerk die aansoek ingehandig en is vol vertroue dat dit toegestaan sal word.
Met die hulp van die kerk is daar ook verdere planne om ons te beveilig. As gevolg van wat ons beplan sal die, die laaste kommunikasie wees wat ek aan jou of enige van die familie sal rig. Weet net dat ons Matthew sal liefhê en met ons lewens sal beskerm.
Vader Christopher.
Soos soveel keer die afgelope dae is daar sprakeloosheid oor dit wat hulle nou leer van al die hartseer en ellende waarin almal gedompel was. Die wete bly by almal, daar was soveel mense wat hulle bygestaan het, waarvan hulle nooit eers geweet het nie.
Almal weet daar bly die een groot dankie sê oor, die dankie aan Seshla en Metando Musuri, die dankie vir Matthew se lewe. Matthew ry die volgende dag vroegoggend deur Emafweni toe en Seshla en Metando is reg vir die besoek aan die plase wat hulle ʼn leeftyd terug verlaat het.
Die weersiens op die grasperk wanneer Seshla en Metando uit die voertuig klim, is onbeskryflik. Hartseer gemeng met die grootste vreugde oorval die vroue as hulle mekaar teen hul harte vasdruk. Selma weier om Metando se hand te los en trek haar langs haar op die rusbank neer. Metando en Seshla vertel vir die soveelste keer die afgelope maande wat die tragiese dag gebeur het.
Nathan staan op en vat Seshla en Metando vas en bedank hulle, bedank hulle vir die daad wat Matthew se veiligheid verseker het. Hulle stap almal na oggend tee, die pad op teen die berg soos agt en twintig jaar gelede. Seshla wys die plek uit waar die tragiese gebeure plaasgevind het, wys die pad wat hulle na ‘Canibal Cave’ gestap het om weg te kruip en daar is geen verwyt, net dankbaarheid.
Wanneer hulle terugstap hardloop Christopher en Kyle by die draai van die Putteril spruit die water in en wanneer almal in die vlakwater staan, kyk Matthew en Laurie na mekaar en hulle weet, dit is hier waar hulle hande in mekaar gespeel het en hulle is oorweldig deur die herrinneringe.
Die familie besluit om die volgende dag almal die rit te onderneem na die twee missies waar Matthew grootgeword het om ook sy lewe te sien en te verstaan.
Die besoek aan die twee missie neem die leemte wat Laurie en die ander gehad het oor Matthew se lewe weg. Hulle word ontvang soos die familie wat hulle is, deur mense wat Matthew se familie vir agt en twintig jaar was. Die trane van dankbaarheid vloei, gemeng met die skaterlag by die aanhoor van al die kattekwaad wat Matthew in sy jeug aangevang het. Matthew probeer ewe ernstig die meeste van die kattekwaad weg redeneer maar niemand glo hom nie.
Die besoeke bring veral die nodige sluiting vir die Townsends en die Phillips’ — ‘Hulle kleinseun was geliefd, gelukkig en versorgd’. Wat hulle besef is dat Matthew se verblyf in die missie vir soveel mense, soveel vreugde gebring het en terwyl hulle dit nie in die verlede sou glo nie, weet hulle dat dit wat gebeur het, nie net pyn gebring het nie maar ontsettende waarde toegevoeg het tot soveel lewens. Nathan kom tot rus met die wete dat dinge reg geloop het vir Matthew.
Hulle besluit om ʼn reuse braai die volgende Saterdag vir die hele gemeenskap te hou. Om die geleentheid te gebruik om die hele verhaal oop te maak vir al die mense wat deur die jare soveel bygedra het om hulle mense in Suid Afrika veilig en gelukkig te hou.
Laurie laat almal weet, oom Joos neem dit op hom om al die mense wat deur die jare haar en die gesin bygestaan het, te laat weet. Sy laat weet die hospitaal personeel en almal verseker haar hulle wat nie aan diens is nie, sal daar sal wees.
Dit word ʼn feesdag soos geen ander. Die families se dankbaarheid en trane is daar. Ook die dankbaarheid van ʼn gemeenskap wat die twee mense wat Matthew opgepas het, terug verwelkom in hul midde. So tussen die braaivleis vure en die kuier, word daar grepe uit die agt en twintig jaar oorvertel, word ʼn gemeenskap bewus van die pyn en hartseer van hulle wat hulle ken en nou weer leer ken. Hul simpatie en liefde is daar vir die mense. Saam met die oopmaak van die verlede kom daar vrede tussen die berge.
Hulle spandeer die laaste dae voor die families Engeland toe vertrek saam, so asof hulle vrees om apart te wees. Hulle maak planne om soveel moontlik tyd in die toekoms bymekaar deur te bring. Hulle besef ook dat daar nie ʼn verwagting kan wees dat iemand werklik sy of haar huidige lewe kan opgee, om net na ʼn ander land te trek nie.
Al vier is dit eens — “Ons gaan ons lewens vorentoe gelyk verdeel tussen ons mense, hier in Suid Afrika en daar in Engeland — en dit bring vrede en geluk.
Die aand voor die vertrek na Engeland, sonder die Townsends en die Phillips mans Matthew af. “Ons vra nie dat jy jou en die seuns se van moet verander nie.” Kom dit verskonend van oupa Phillips en Matthew verseker hom dat hy dit in die lig sien.
Matthew is egter beslis — “Ek het die wonderlikste vader gehad, hy het my elke oomblik liefgehad, dit is sy naam wat hy my gegee het en dit is wie ek is, en wie ek wil bly. My kinders kan as hulle volwasse is self besluit of hulle hul naam wil verander maar ek hoop julle verstaan — ek is Matthew St. Nicolas en wil dit bly.”
Dit word in dieselfde gees aanvaar en Matthew is verlig dat ook die saak afgehandel is.
Hulle gaan almal na Oliver Thambo lughawe om afskeid te neem wanneer die families terug vertrek na Engeland. Die afskeid is met vreugde en hartseer gevul, en die beloftes is daar — nooit weer langer as ʼn paar maande skeiding — en almal weet dit sal so wees.
Selma en Laurika besluit om einde Februarie terug te kom om ʼn onbepaalde tyd op die plaas te kom bly — en die vreugde is in Laurie en Matthew.
George Ruben draai na Laurie — “Met jou toestemming wil ek vir Daniël New laat weet dat jy jou familie gekry het. Dat die onderhoud van hom dit moontlik gemaak het.” En sy druk hom teen haar hart vas — “Dankie oupa.” George Ruben hou haar vir ʼn lang oomblik teen hom vas.
Hulle gaan sien Dokter Carl Rutovich vir Nathan se opvolgbesoek en dis goeie nuus — “Die operasie was suksesvol, daar is geen nuwe gewasse of enige bloeding nie — en die lus vir die lewe kom terug in Nathan.
Hy vind sy rus en vrede met Christopher en Kyle wat heeltyd by oupa wil wees, of aan oupa se hande vashou as hulle stap — en sy lewe is vol.
Die rit terug na Ladysmith, is soos Matthew en Laurie weet hulle dit wil hê — hulle voor in die motor en Nathan agter met die twee seuns slapend op sy skoot. ʼn Familie, die familie en niks anders nie, weet hulle al drie.
Matthew groet haar in die laatmiddag skadu van die groot berg — “Ek sal wag vir jou totdat jy reg is om te kom. Weet net my liefde gaan nooit verander nie. Ek weet daar is dinge wat ek en jy moet bespreek voordat ons die res van ons lewens saam sal kan aanpak.”
Sy klou aan hom vas, wetende, dit is wat sy wil hê en sy weet sy sal gaan — sy sal gou gaan. Sy bly staan en haar oë volg die motor as hulle wegry en die eensaamheid is in haar.
Met die omdraai is haar pa op die stoep — “Gryp die liefde aan my kind, dit kom nooit weer nie.”
Sy druk hom teen haar vas — “Net as hy en ek, jou by ons kan hê, sonder jou sal niks volmaak wees nie.” Hy druk haar aan sy hart, seker dat die lewe wat voorlê, reg vir hulle almal sal wees.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.