Jongste aktiwiteit:

Waar Liefde Begin – Hoofstuk 9

Hoofstuk 9 — Van Aangesig tot Aangesig

So ontroosbaar as wat Laurie die ure na Matthew se oproep was, so sterk is sy as sy deur die doeane op Heathrow beweeg. Niks, maar niks sal haar keer nie, dit weet sy, nie eers die stadige proses of die land se koue nie. Die waarheid moet sy kry al is dit net vir Matthew en haar pa se onthalwe.
Haar verblyf is bespreek in die Thames Riviera Hotel vir twee weke, sodat sy genoeg tyd sal hê om met James Kernes se hulp, te probeer om ʼn afspraak te kry by Baldwin & Gossard. Laurie het haar bedenkinge of die besoek aan Baldwin & Gossard enigsins iets sal oplewer oor waar die vier persone hulle huidig bevind, gegewe die geheimhouding rondom hulle. Net dalk kan hy haar in verbinding met haar ma se familie bring. Sy het ʼn gevoel dat sy self ook na Dorset County sal moet gaan want dit is haar enigste ander werklike leidraad.
Die Desember winterkoue slaan haar in die gesig as sy uit die hoofgebou stap na waar die huurmotors geparkeer is en sy moet stilstaan om haar asem terug te kry — Hoe leef mense hier? Gaan dit deur haar gedagtes. Sy beur egter voort — niks gaan jou stop nie Laurie Kilber — niks — flits dit deur haar gedagtes.
Wanneer Laurie later deur haar hotelkamer se venster staar, weet sy, al is die besoek nie ʼn vakansie nie, al is dit net ʼn soek na mense en die waarheid, dat die prag van die plek haar raak. Sy kyk na die rivier wat hier vlak voor haar kamervenster verby vloei en dit maak ou herinneringe oor die water van die Tugela wakker in haar. Herinneringe van sy, haar pa en oom Louis langs die rivier — maar sy weet ook van haar ‘hand-hou’ maatjie wat sy meer en meer onthou.

Sy stap later na die restaurant vir aandete en wanneer sy aansit is sy honger, vir die eerste keer vandat sy die dag weg is van Matthew en die seuns, is sy honger. Skielik weet sy dat sy die depressiewe gevoel wat in haar is, stadig maar seker sal oorwin en sy is dankbaar — sy kan haar eie en Matthew se toekoms verseker — dit weet sy.
Sy slaap deur die nag sonder die afgelope weke se wakkerskrik en onrus. Laurie besef, die besoek en haar soeke na haar mense is die enigste pad wat sy kan stap, en sy ontspan — Johan kan haar tog nie hier bykom nie — of kan hy? Gaan dit deur haar gedagtes en ʼn klein bietjie van die vrees is terug.
Laurie haal al die briewe en dokumente uit haar tas en sit dit in die nota sak wat sy saamgebring het, sy wil alles met James Kernes deel, alles wat kan help om op te spoor dit wat hulle almal se lewens weer normaal moet maak.
Laurie vra die hotel ontvangs om vir haar ʼn huurmotor te bespreek en hulle dui aan dat sy rustig moet sit aangesien die portier haar sal roep sodra die huurmotor arriveer. Die portier wink haar nader en Laurie trotseer die koue tot by die huurmotor waar die portier vir haar die deur oopmaak en haar die motor in help.
Sy gee die huurmotor bestuurder James Kernes se kantooradres en sodra hy in die verkeer in vleg, sit Laurie terug teen die sitplek, en daar is ʼn vreugde in haar — uiteindelik is sy op pad om die verlede oop te maak.
Wanneer die huurmotor haar in Hays Laan aflaai, verduidelik hy haar om deur die Hays Gallirea te stap na die gebou ingang wat op die waterfront geleë is. Laurie gaan staan vir ʼn paar minute stil om die wonder van die omgewing in te neem. James Kernes se kantore is op die Waterfront in ʼn ou Victoriaanse kaai pakhuis wat omskep is in pragtige moderne kantore. Net die wandelvlak van ʼn paar meter skei die geboue en die Thames rivier.
Laurie stap na die reling by die Thames rivier en draai om en bewonder die pragtige karakter en eiesoortige sjarme van die boog vensters en baksteen fasade. Wanneer sy op en af in die Gallirea kyk, strek die versameling winkeltjies en restaurante so vêr as haar oog kan sien.
Amper teen haar sin stap sy uiteindelik oor die wandellaan na die gebou se ingang — Waarom kan die lewe nie net so rustig soos vandag wees nie. Waarom kon dit nie sy, Matthew, haar pa en die seuns gewees het wat hier op vakansie is nie? Sy voel ʼn ontsettende verlange na Matthew, die seuns, haar pa en oom Louis — Here maak dit reg vir ons asseblief — gaan dit deur haar gedagtes.

Die oomblik as sy deur die deur van ‘Kernes & Kroft Solicitors’ stap, kyk die ontvangsdame dadelik op en groet Laurie op haar naam. “Goeie dag Dokter Kilber, kom asseblief saam met my, meneer Kernes is gereed vir u.” Laurie groet terug en volg haar.
Laurie skat James Kernes in sy middel vyftigs, so oud soos Joos en neem sy uitgestrekte hand in hare. “Welkom in Londen Dokter Kilber.”
“Laurie asseblief — en dankie vir jou gewilligheid om my te sien.”
Hy glimlag en sê: “Laurie,” terwyl hy na die stoele by die konferensie tafel wink.
Wanneer hulle teenoor mekaar sit, kyk hy haar ʼn oomblik stip aan. “Voor ons kyk na wat ek reeds uitgevind het die afgelope paar dae, wil ek hê jy moet my meer vertel van jouself en jou familie.”
Hy haal ʼn opnemer uit en as sy knik, skakel hy dit aan om die gesprek op te neem. Hy haal ook ʼn notaboek en pen uit, skryf die datum en haar besonderhede op ʼn nuwe bladsy. Laurie sit terug in haar stoel, sluit haar oë en met Matthew se beeld in haar gedagtes begin sy vertel — sy begin by die eerste briewe van Gregor Armsby.
Na omtrent ʼn uur kom die ontvangsdame binne met ʼn trollie waarop daar tee, koffie en verversings is.
“Kom ons breek ʼn paar minute vir tee en versnaperings, ons het ʼn baie lang sessie voor ons, aangesien ek die volle dag uitgesit het vir ons.”
James staan op en nadat Laurie vir koffie gevra het, skink hy dit vir haar. Die gebaar laat Laurie intens verlang na Matthew en sy sien hom in haar gedagtes — en sy verlang terwyl sy daaraan drink.

Hulle het deur al die feite en briewe gewerk toe James die lêer oopmaak wat voor hom op die lessenaar lê.
“Ek kan bevestig dat nie een van die vier persone in Engeland oorlede is nie.” Laurie snak na haar asem uit pure blydskap, dit is wat sy oor die afgelope weke gebid het.
“Daar is ook geen rekord dat persone by die name Europa of Engeland ooit weer binne gekom het nie.” Hy sien die teleurstelling op Laurie se gesig en steek sy hand in die lug en sê — “Daar is geen rede om te glo dat hulle gesterf het nie, aangesien ons vermoed dat hulle met ander identiteite wel Europa, of selfs Amerika binne gegaan het.”
“Het ons niks om op te gaan nie?”
“Ek sal nie sê totaal niks nie, al vier families is nog steeds op hul onderskeie landgoedere in Dorset Country, en ons aanvaar dit is jou vier mense se families want niks het oor die afgelope dertig jaar op die landgoedere verander nie. Ons kon ongelukkig nie bevestiging kry dat enige iemand wat op landgoedere is, een van die vier persone is nie. Laurie die families is baie bekende en invloedryke families met eeu oue affiliasie met baie hooggeplaasde persone in die land.”
Laurie se hoop flikker op en dit wys op haar gesig.
Hy huiwer ʼn oomblik en asof hy ʼn besluit neem, haal hy ʼn dokument uit die lêer. “Ek vertrou dat die volgende feite nie jou van voorneme sal laat verander nie, maar ek het ʼn verslag van ʼn medewerker ontvang wat aandui dat die vier in die tagtigs deur die Suid Afrikaanse Regering van daardie tyd as terroriste gelys is. Wat dit egter ook sê Laurie is dat die aanklagte teen die vier wel so sterk was dat nie eers die families se aansien of affiliasies dit kon verander nie.”
Nou is die desperate hartseer terug op Laurie se gesig. Sy haal die koerant berigte uit haar dokumente tas en sit dit voor hom neer — “Ons weet van die insident en ons is oortuig na al die briewe van Selma Townsend aan Louis Olivier dat hulle onskuldig is. Dat hulle nooit betrokke was by die bom ontploffings nie. So, nee, niks sal my van voorneme laat verander nie, ek is desperaat om hulle of hulle families op te spoor.”
James Kernes neem een vir een berig en lees dit deur. Wanneer hy opkyk glimlag hy. “So dit is uitstekende nuus, en ek weet jy is reeds bewus van die aansoek by die Waarheid en Versoenings Kommissie in Suid Afrika, waarin al vier persone se saak gestel is vir die verwydering vanaf die terroriste lysting.”
“Ja ek weet, oom Louis het dit geïnisieer maar ek kon nie uitvind wat die status van die aansoek is nie want die prokureur wou nie met my praat nie.”
“Goeie nuus is dat daar huidig vertroue is dat die ANC Regering as deel van hul viering op sestien Desember van die jaar, moontlik duisende persone amnestie sal gee en die aansoek word as deel van die amnestie toegewing ingedien.” Hy sit ʼn dokument voor Laurie neer.
”Die Kommissie vind dat die betrokkenheid van:
Selma Elizabeth Townsend
Gregory Armsby Rochester Phillips IV
Josua Joseph Parker
Laurika Anne Ruben
In die Durban bom ontploffing in negentien ses en tagtig nie bewys is, of bewys kon word oor die afgelope agt en twintig jaar nie. Hul betrokkenheid kon daarom nie bo twyfel bewys word nie. Hul moontlike betrokkenheid by die Durban insident was bloot deur hul oënskoulike affiliasie met die ANC gedurende die tyd. Geen rekord van ANC lidmaatskap of betrokkenheid by enige ANC aktiwiteite kon as bewys deur die staat ter tafel gelê word nie. Die Kommissie verwerp dus die ANC affiliasie as rede tot samewerking met die geïdentifiseerde persone, wat wel aan die terreur aanval gekoppel is.
Die Kommissie se bevinding is dat daar geen bewys gevind kon word wat die vier persone aan die gebeure koppel nie en dus is daar geen bewys waarop enige regsgeldige aksie geneem kan word teen die vier persone nie.
Die Kommissie het besluit om ʼn amnestie voorstel aan die Raad voor te lê vir bekragtiging vir die verwydering van die vier persone se name van die terroriste lys en die vryskelding van die vier persone van alle aanklagte wat huidig of in die toekoms as gevolg van die terreur insident in Durban aanhangig gemaak was.

Die verligting is amper te veel vir Laurie om te verwerk en sy kyk vinnig na die datum op die verslag 12 Oktober. “Dit is meer as wat ek ooit sou kon uitvind… weet jy of die Raadsvergadering al plaasgevind het?”
“Nee, maar my informant glo dat dit wel voor sestien Desember sal wees, aangesien die persone vanaf sestien Desember vrygestel sal word — ʼn skamele twee weke van hier af.”
“Waarom kom die vier nie net uit nie, hulle moet seker ook hiervan weet?”
“Ek glo nie hulle of enige iemand wat nie by die aansoek betrokke is, weet hiervan nie. Laurie, dit word onder die grootste geheimhouding gedoen, so geheim dat my informant wat werklik enige inligting kan bekom, geweldige invloed moes gebruik om die inligting te bekom.”
Hy kyk een oomblik op en gaan dan voort — “Ek het verder die prokureur, wie se detail Joos deurgegee het, gekontak. Die respons was dieselfde wat jy gekry het — hulle is nie bereid om enige iets, met enige iemand te bespreek nie. Toe ek jou navraag meld, het Cedric Baldwin dit bevestig en gesê, ek behoort te weet wat hy vir jou gesê het.”
“Wat nou?”
“Wel jy het die geleentheid om na jou moeder se familie se landgoed te gaan en te gaan kyk of hulle jou te woord sal staan. Ek het nie die reg nie en wou nie spoke opjaag deur enige navraag direk aan die familie te rig nie. Ook kan ons nou die afspraak by Baldwin & Gossard Prokureurs vir jou maak.”
“Ja asseblief James, probeer vir my dringend ʼn afspraak reël.” Laurie voel die vreugde in haar en sy staan op, en met die nuwe gevoel in haar vandat Matthew in haar lewe gekom het, vat sy James Kernes se hand in hare — “Dankie, baie dankie vir alles sovêr, en vir die nuwe hoop wat dit wat jy reeds uitgevind het, my gee — dit is wat ek nou meer as enige iets nodig het. Al wat ek nou verder nodig het, is genoeg moed om na Dorset County te ry en te gaan vra. Wat doen ek as my of Matthew se ma reeds oorlede is want die aansoek by die Kommissie kan ook vir die herstel van iemand se naam wees as die persoon nie meer lewe nie. Dit sal soos die einde van al ons hoop op die toekoms wees, vir my, my pa en Matthew.”
“Moet nooit vergeet dat die bewoners van Dorset County die langste lewens verwagting het in die hele Brittanje” sê James met ʼn glimlag.
“Dankie James.”
“Daar is ongelukkig geen ander manier nie Laurie, jy moet gaan uitvind wat daar te vinde is, vir jou, jou vader en Matthew se res van julle lewens, soos jy tereg gesê het.” James skakel die bandopnemer af en staan op.
“Kom ons gaan uit vir middag ete.” Hy neem Laurie aan die arm en begelei haar die kantoor uit.
Met die instap by die ontvangs sê die ontvangsdame: — “Middagete is bespreek by Côte Brasserie vir julle James.”
“Dankie Liz.” — en hy begelei Laurie na buite.
Buite kan Laurie nie anders as om die prag van die omgewing te besing nie en James glimlag en knik instemmend. “Ja, dit is ʼn absolute sprokies omgewing hier waar ons nou is.”
James verseker dat Laurie die sitplek kry waar sy op die rivier kan uitkyk en Laurie waardeer dit. “So wanneer dink jy om na Dorset County te gaan?”
“Ek dink ek moet môre ry James, uitstel gaan my nie help nie. Ek sal maar die moed bymekaar moet skraap om in te stap en te vra of hulle my familie is. Ek het bietjie internet navorsing gedoen en gesien dat dit ʼn twee en ʼn half uur rit is. So ek dink ek moet ʼn motor huur en môre oggend die pad vat, al is dit net om te sien waar my moeder vandaan kom.”
“Goed vir jou Laurie, jy kan een van die praktyk se motors leen. Ek sal Liz vra om te reël dat die motor môre oggend vroeg na die hotel vir jou gebring word. Sê net hoe laat jy wil ry.”
Laurie is oorstelp oor die ondersteuning van die man en sê dit vir hom, hy waai dit weg met die swaai van sy kop en hulle eet in ʼn gemaklike stilte verder. Laurie voel die vreugde aan die kos noudat haar eetlus herstel het.
Hulle bespreek die reëlings rondom die motor met Liz, en James gee Laurie ʼn kaart met al vier landgoedere gemerk. Hy stap saam met haar tot onder in die wandelgang teen die rivier. Wanneer hy sy hand uitsteek, hou Laurie dit styf vas. “Dankie, dankie weer vir dit wat jy vir ons doen.”
Hy glimlag en sê gerusstellend: “Ek sal Joos skakel en hom op hoogte bring van alles.”
“Dankie James.” Sy stap in die rigting van Hays laan met vreugde in haar. Die grou van die weer buite laat Laurie ongelooflik baie verlang en sy weet sy moet met iemand praat, en die hartseer dat dit nie Matthew kan wees nie, brand in haar.
Sy bel haar pa en die hoor van sy stem laat haar opnuut besef hoe sy hom mis. Sy weet sy moet dinge hier klaarmaak en huis toe gaan. Sy vertel hom in ʼn baie lang gesprek wat sy alles die dag uitgevind het, ook haar voorneme om die volgende dag na Dorset County te gaan, om net eers te kyk. Wanneer sy uiteindelik die foon neersit nadat sy ook met Joyce en Joseph gesels het, om seker te maak alles reg met haar pa is, voel sy ontspanne en sien sy kans vir die volgende dag.
Laurie trek die gordyne oop en staar op na die grys hemel met net een gedagte — Ag Here, al kan sy en Matthew nooit intiem saam wees nie, gee dat hy en die seuns altyd veilig sal wees.

Dit is dieselfde uur wanneer Matthew met die twee seuns in Durban in die bakkie klim — paspoorte, Visas en vliegkaartjies vir die volgende aand se vlug veilig in sy besit. Daar is net een gedagte in sy kop, in minder as drie dae sal hy en die seuns in Londen wees en sal hy sy ouers of sy ouers se familie opspoor, en al die onsekerheid vir hulle almal opklaar. Hy sal terugkom na Laurie en haar smeek om hom en sy familie te vergewe, en hom lief te hê.
Hy weet al voel hy hoe oor Laurie, hy kan nie nou na haar toe ry en met haar praat nie, nie nou na dit waar sy en haar pa deur is nie. Hy weet die ellende wat hulle deurgemaak het al die jare, is indirek sy skuld en die skuld van die twee mense wat hom soos hulle eie kind wou beskerm. Veral die skuld van sy ouers en sy hart huil. Here asseblief laat sy my liefhê soos ek vir haar.
Terwyl hy deur die skemer na die plaas ry, bly sy gedagte by Laurie, dink hy aan haar kliniek wat nog elke dag met die staf wat sy opgelei het aan die gang is en Duane se toewyding wie ʼn wonderlike diens lewer. Hy besef die ondersteuning wat hy van al die mense en veral die Polisie beamptes kry, ook Laurie se invloed op hulle lewens is — en hy voel die pyn van verlange in hom na haar wat sy hele wese besit.

Die lig is grou en koud wanneer Laurie in die motor klim wat vroeg reeds by die hotel gelaat is. Sy tik die adres van die landgoed in op die navigasie stelsel van die motor en voel die opgewondenheid in haar.
Sodra sy die A303 teken op die aanwysing sien en die rit na die Suid Weste begin, voel sy die opgewondenheid in haar verhoog. Sy weet Stonehenge is op die pad maar sy weet ook dat dit nie vandag haar rit sal onderbreek nie.
Die rit voel kort toe Laurie die eerste behoorlike uitsig oor Poole Hawe kry. Sy weet uit haar navorsing oor die gebied dat dit Brownsea eiland is wat aan die voet van die reënboog is. Laurie vleg die laaste paar kilometer deur die strate van die dorpie, op pad na die landgoed van die Rubens.
Die oomblik wat die landgoed se naambord voor Laurie verskyn, is haar bravade om net aan die deur te klop en te vra of hulle haar mense is weg. Sy sluit die motor af en sit ʼn paar minute voor die koepel wat die ingang aandui. Sy praat met haarself, sluit die motor aan en ry onder deur die koepel op na die indrukwekkende geboue wat sy anderkant die grasgroen veld sien.
Laurie gee haarself nie kans om weer te dink of te twyfel nie, sy klim uit die motor en stap doelgerig na die kolossale houtdeure. Wanneer sy die onderste trap bestyg gaan die deur oop en ʼn jongman geklee in ʼn pak klere kom na buite.
Laurie gaan staan en groet effens verbouereerd — “Goeie dag.”
“Goeie dag Juffrou, kan ek help?”
“Ja, asseblief ek wil graag met die mense wat hier woon praat… die Rubens.”
“Het u ʼn afspraak Juffrou?”
“Nee, maar ek moet regtig met hulle praat, dit is baie belangrik.”
“Ek is baie jammer Juffrou maar sonder ʼn afspraak kan ek u nie hier inlaat nie.”
Laurie voel teleurgesteld. “Ek is Laurie Kilber van Suid Afrika… sal jy nie asseblief gaan uitvind of hulle my sal sien nie… asseblief?”
“Juffrou ek kan nie… ek het streng opdrag rondom enige besoeker aan die huis.”
“Hoe maak ek ʼn afspraak?”
“Deur die Prokureurs firma van Craig Humber.”
Laurie blaas haar asem stadig uit — “U is seker dat u nie net kan gaan vra terwyl ek hier wag nie?” Hy glimlag — “Nee Juffrou, ek is seker.”
Laurie draai om en met trane van teleurstelling wat oor haar wange loop, draai sy terug na hom en sê — “U sal hulle asseblief sê dat ek hier was… Laurie Kilber van Suid Afrika.”
“Ek sal beslis so maak Juffrou.”
Laurie kan haarself skop omdat sy nie ʼn visite kaartjie by haar het nie, sy het nie vir een oomblik gedink dat hulle haar nie sal sien nie.
Sodra Laurie deur die groot ingang ry, skreeu sy haar hartseer en teleurstelling uit teen die hemel — Wat nou nog — waarom kan alles nie net eenkeer reg loop nie?

Waar Laurie die dorpie inry, oorweeg sy dit eers of sy nie moet probeer om uit te vind of die prokureur in Poole is nie maar besluit daarteen. Wat sal dit help, sy sal nie vandag ʼn afspraak kry nie en sy kan nie nog ʼn teleurstelling vandag hanteer nie. Laurie weet dat James makliker met ʼn ander prokureur sal kan onderhandel as sy. Sy vat die pad terug na Londen terwyl die trane vrylik vloei en die teleurstelling haar naar maak.
In Laurie is ʼn vasberadenheid, die terugslag sal haar nie keer nie, dit is haar mense en teen haar sin verstaan sy waarom daar sulke uiterste maatreëls by die spesifieke huis is. Hulle sal nooit die afgelope jare geweet het wie ‘vriend’ en wie ‘vyand’ was nie.
Laurie weet as die afspraak deur die prokureur die enigste manier is om hulle te sien, is dit so. Verder weet sy, die reis was die moeite werd, sy het nou reeds soveel meer inligting as voor sy gekom het. Sy weet dit is haar mense, sy weet wie hulle prokureur is — en dit tel haar gemoed op. Laurie kan haarself skop dat sy nie gevra het met wie sy praat nie maar dit daar gelaat weet Laurie, sy sal baie vroeg môre oggend by James moet wees.
Wanneer Miranda Ruben die voorportaal instap vra sy — “Wie was by die deur Jeffrey?”
“ʼn Jong dame Lady Miranda.”
“Wat wou sy hê?”
“Sy wou met u praat maar sy het nie ʼn afspraak gehad nie en ek het haar versoek om die landgoed te verlaat.”
“Het sy gesê waaroor sy met ons wil praat?”
“Nee Lady Miranda maar sy het gevra dat ek vir u moet sê dat sy Laurie Kilber van Suid Afrika is.”
Daar kom ʼn doodse stilte oor Miranda Ruben en sy verbleek tot ʼn doodse kleur.
“Jeffrey kyk asseblief of sy nog buite is.”
Jeffrey Parks voel die koue deur hom gaan as hy die ontsteltenis op Miranda Ruben se gesig sien en die bewing in haar stem hoor. Hy stap onwillekeurig vorentoe want hy besef dat sy enige oomblik in mekaar gaan stort.
“Sy is nie Lady Miranda, ek het gewag totdat haar motor deur die landgoed hekke is en toe het ek die hekke toegemaak.”
Dit is wanneer sy ineenstort dat sy hom vasgryp en voor die donkerte oor haar kom sê sy duidelik — “Sy is my kleindogter, sy is Laurika se Laurie.”
Jeffrey Parks tel die tenger lyfie op, dra haar na die sofa en sit haar versigtig neer. Hy voel na haar pols en bepaal dat dit effens abnormaal is. Hy neem ʼn paar oomblikke totdat hy seker is dat dit slegs ʼn floute is voor hy die alarm lui. Onmiddellik kom twee dames ingeloop.
“Neem Lady Miranda na haar suite asseblief. Skakel die dokter en vra hom om onmiddellik hierheen te kom, terwyl ek Sir George se kantoor skakel en hom vertel van die situasie.”
Jeffrey Parks weet, die een persoon wat die hele Ruben familie se welstand in haar hande hou, was hier en hy het haar weggestuur. Hy weet nou waarom sy so ontsettend bekend gelyk het. Sy is amper die ewebeeld van Laurika Ruben toe sy jonk was.
Hy weet dat Laurika Ruben by die aanhoor van vandag se gebeure, net soos Lady Miranda, sekerlik ineen sal stort. Hy skud die verwyt af, na al die jare se ongewensde besoekers en die nodigheid van die streng reëlings kan hy homself nie verder verkwalik nie. Sy werk is om die mense op die landgoed veilig te hou — maar die verwyt bly. Hy neem dadelik die foon en skakel Sir George Ruben se kantoor.
Sir George Ruben en die drie raadslede sien die sekretaresse die raadsaal inkom, al drie sien die erns op haar gesig. Almal weet, slegs ʼn geweldige ernstige saak sal haar die vertrek laat inkom terwyl hulle vergader. Voordat hulle kan reageer is sy by George Ruben en sonder om na die ander sittendes te kyk, buk sy af en praat saggies in sy oor.
George Ruben voel die skok in hom en wanneer hy orent kom, kan die ander drie persone aan die bleekheid in sy gesig sien dat iets ernstigs verkeerd is. Hulle vou amper gelyk hul lêers toe en staan op, om sodoende aan te dui dat hulle aanvaar die vergadering onderbreek sal word.
George Ruben is een oomblik amper besluiteloos oor wat die volgende stap sal wees maar kyk na die drie mans vir ʼn oomblik asof hy ʼn besluit maak oor wat presies hy moet deel. “Verskoon my asseblief maar Miranda is nie wel nie, ons het ʼn dringende familie saak om aan aandag te gee.”
Die drie mans wys hul instemming en simpatie met die knik van hul koppe. Hulle en George Ruben kom ʼn baie lang pad en hulle weet iets werklik ernstig is verkeerd. Met die uitstap hoor hulle sy opdrag — “Lisbeth laat weet Christopher ons sal onmiddellik terug na die landgoed vertrek, hy kan die motor dadelik bring.”
George Ruben neem die foon sodra hy agter sy lessenaar sit. “Jeffrey wat gaan aan?”
Jeffrey gee ʼn vinnige relaas van die gebeure en as hy die naam Laurie Kilber noem is daar ʼn enorme vreugde in George Ruben. In hom is daar net een gedagte — Sy is hier, sy het gekom om ons te vind.
“Hoe gaan dit met Lady Miranda?”
“Sy het van die floute herstel Sir George, Dokter Hodgeson is nou by haar.”
“Ek gaan onmiddellik vertrek, gaan sê asseblief vir Lady Miranda om nie bekommerd te wees nie.” In George Ruben is daar geen twyfel dat hy Laurie sal opspoor as sy in die land is nie, daarvoor het hy genoeg invloed.

Die oomblik wanneer George Ruben die vertrek instap gaan sy hart uit na sy vrou. Hy sien die bleekheid op die skraal gesiggie en die tengerigheid van haar lyfie vat opnuut aan hom. Vir haar vyf en sewentig jaar is sy pragtig maar George Ruben weet hoe desperaat hulle is om Laurika se kind op te spoor en hoe hartverskeurend die jare was wat verby is.
Hulle is telkemale verhoed om haar te kontak, aangesien enige poging van hulle kant af Laurika en die ander drie mense se lewens in gevaar sou stel. Daar was altyd die een dreigement as dit by die wegneem van Laurie gekom het en die kans kon hulle nooit vat nie.
“Geen rede tot kommer my lief, ek het reeds met Craig gepraat en hy sal onmiddellik in aanraking kom met sy kontakte om vas te stel waar sy tuis gaan.”
“Ek weet George maar sy was hier. As ek geweet het dat my kleindogter hier voor ons deur staan, sou sy nou hier langs my gesit het.”
George gaan sit by sy vrou op die sofa en trek haar teen hom vas. “Jeffrey sal jy asseblief Pearson skakel en hom vra om onmiddellik na die landgoed te kom. Ons moet besin hoe ons dit aan Laurika gaan oordra, hoe ons haar in kennis stel sonder om haar in gevaar te stel. Jeffrey kry asseblief ook die sekuriteit opname gereed vir my en Lady Miranda om ons kleindogter te sien.”
Die vreugde is skielik in almal, die sekuriteitskameras sou haar opgeneem het, hulle gaan Laurie vandag sien — al is dit net op film.
“Goed Sir George.” Jeffrey stap onmiddellik om die oproep te maak na ‘Pearson’. Die persoon wat vir solank as wat hy weet die tussenganger tussen die families en hul kinders is.
Die gesprek is kort en as enige iemand sou inluister, sou hul niks wys word nie aangesien daar deur die jare ʼn kode geskep is wat geen sin vir iemand anders sal maak nie. “Sir George — “Pearson” sal binne ʼn uur hier wees.”
“Dankie Jeffrey, sê asseblief vir Amanda ons sal ons middagete in ons suite neem. Is die film gereed?”
“Ja Sir George.”
“Jeffrey sodra Pearson aankom, bring hom op na ons suite.”
“Goed Sir George.”
In Jeffrey se hart is daar net een wens — Asseblief Here laat hulle haar opspoor, gou opspoor.
Wanneer George en Miranda Ruben voor die TV gaan sit, hou hy haar teen hom vas, die eerste sien van hulle kleindogter wil hy met haar teen sy hart beleef.
Hy druk die knoppie en hulle sien die motor deur die landgoed se hek kom. In albei is daar ʼn kort-asem opgewondenheid vir die eerste sien van haar wat hulle ʼn leeftyd voor gewag het.
Wanneer Laurie uitklim is haar lieflike gesig vol na die kamera gedraai en George druk die knoppie en vries die lieflike gesig op die skerm. Miranda bars in trane uit — “O sy is so pragtig… sy lyk so baie na Laurika.”
Hulle staar vasgenael na Laurie se beeld op die skerm. George druk die knoppie en hulle sien Jeffrey die deur oopmaak… en hulle wag vir haar stem… die stem waarvoor hulle so gebid het. Hulle sit versteend en luister na die kort gesprek — vasgevang deur die pragtige mens met die stem waarvoor hulle gewag het.
Hulle sien die trane wat oor haar wange rol as sy omdraai — “U sal hulle asseblief sê dat ek hier was… Laurie Kilber van Suid Afrika.”
“Ek sal beslis so maak Juffrou.”
George stop die opname en Laurie se beeld met haar traan benatte gesig bly vasgepen op die skerm.
Hulle sit daar ineengestrengel soos soveel keer die afgelope jare, ʼn eenheid in hulle hartseer maar op die oomblik ʼn eenheid in hul vreugde — Here asseblief, gee haar terug vir ons, asseblief gee Laurika en Laurie terug aan ons — is al wat deur hulle gedagtes gaan.
Matthew vou die kombersies om die twee seuns wat nou na ure se kyk na die televisies die stryd verloor het teen die slaap. Albei haal reëlmatig asem hier in die vliegtuig sitplekke en Matthew sit terug, laat sy kop teen die kopstut rus en maak sy oë toe — Hoe wens hy dat Laurie nou hier by hulle was. Na al die weke huil die seuns steeds onophoudelik oor hulle ‘mamma’ en Matthew weet dit gaan nie verander nie.
Hy voel weer die teleurstelling as hy dink aan ʼn paar uur gelede toe hy wel haar nommer vanaf die lughawe geskakel het en daar geen antwoord was nie. In hom weet hy dit is nie uit kwaad nie want sy het gesê sy het hom lief — daar moet ʼn ander rede wees.
Nou weet sy nie eers dat hy en die seuns op pad is na Engeland nie. Wat sal sy dink as sy op die plaas terugkom en hulle is weg? Hy weet die besoek moet sy en moontlik Laurie se hele toekoms verseker. Met Laurie se beeld in sy gedagtes raak hy ook aan die slaap.

Wanneer Pearson saam met Jeffrey die suite instap, voel hy die opgewondenheid aan. “Goeie naand Sir George… Lady Miranda.”
“Goeie naand Pearson.” Kom dit van beide George en Miranda. Voordat Pearson enige vrae kan vra of selfs kan gaan sit, kom dit opgewonde van Miranda.
“Sy is hier… Laurie is hier in Engeland, kyk na haar, kyk na ons kleindogter.” Lady Miranda wys in die rigting van die televisie skerm. Pearson is oorstelp, en sonder dat hy dit kan keer voel hy ʼn vreugde wat hom amper versmoor — Dankie Here, dankie vir die genade — maal dit in sy gedagtes.
“Is sy hier, waar is sy?”
“Ons weet nie, maar sy was hier… Jeffrey vertel asseblief.”
Jeffrey vertel vir die derde keer die verhaal en die verwyt is duidelik op sy gesig. “Wat jy gedoen het, is reg Jeffrey, ons het dit baie oor die jare bespreek. Dat dit toe wel Laurie was, Laurika se dogter, sou jy nooit weet nie en die meeste van ons ook nie want ons het nie die naam wat Nathan haar gegee het of haar gesig tot nou toe geken nie.” Kom dit van George.
Die spontane gebruik van die naam ‘Laurie’ herinner die ander drie persone in die vertrek weer aan al die jare wat dat die naam die meeste in die gesin genoem was en almal is dankbaar dat Nathan tog die naam wat Laurika haar gedoop het, behou het.
“Pearson ons moet Laurika dringend laat weet. Kan jy ʼn boodskap deurkry na haar?” Voor Pearson kan antwoord kom dit van Lady Miranda. “Ons moet ook ons ander kinders onmiddellik laat weet wat gebeur het, hulle verdien om ook dadelik die goeie nuus te kry maar nie voor Laurika weet nie.”
“Ek kan die boodskap in die volgende uur deurkry na haar Sir… Lady Miranda…”
“Wanneer ons Laurie opspoor sal sy Laurie wil sien Pearson, hoe sal ons dit kan reël?” Kom dit weer van Lady Miranda.
“Ek weet Lady Miranda en dit is iets wat ek sal antwoord sodra ek van my mense wat na Laurika en die ander omsien gehoor het.”
Terwyl sy die trane van haar wange afvee, kom dit in ʼn stem wat breek — “Ons moet ook die ander families laat weet want Laurie mag net weet wat met Matthew gebeur het.”
George Ruben trek sy vrou teen hom vas en sê met ʼn stem wat die spanning wat hy ondervind weergee — “Pearson kontak asseblief ook die ander drie families deur jou kanale, lig hulle in oor die omstandighede en sê hulle sodra ons Laurie opgespoor het, sal ons reël dat almal haar ontmoet. Ek het reeds Craig opdrag gegee om namens my by al sy kontakte te vra of hulle kan uitvind waar Laurie tuisgaan.”
“Dit is uitstekend Sir George. Laat ek my reëlings gaan tref om die boodskap deur te kry na Laurika en die ander gesinne.” Pearson kyk terug na die TV en met ʼn frons sê hy met erns op sy gesig. “Ek is bevrees, die oomblik dat Laurika en Selma hoor dat Laurie hier in Engeland is, niks hulle sal weghou nie. Hulle sal alle veiligheid oorboord gooi en dadelik hierheen reis.”
“Ja ons weet, dit is waarom jy hulle ʼn indikasie moet gee dat julle wel besig is met planne om hulle Laurie te laat sien.”
“Ek weet Sir George, vertrou my ek het ʼn plan, laat my net alles in plek kry. Los dit eers net by my.”
Met ʼn handdruk tussen Pearson en Sir George, en ʼn sagte kus op Lady Miranda se wang, seël hulle die geheim. Met ʼn laaste kyk na die pragtige gesig op die TV draai Pearson om en Jeffrey vergesel hom deur die groot huis na buite.
Terwyl hulle hand skud sê Pearson weer — “Jeff niks is jou fout nie. Onthou jou werk is om die mense en daardie vier veilig te hou, en dit het jy nog altyd gedoen, ook vandag.”
“Dankie Pearson.”
Jeffrey hou die motorligte dop tot dit uit sig verdwyn en verseker dat die hekke toegaan.”
Pearson dink aan die afgelope jare, die vermindering van die navrae na ‘die vier’ en hy weet of die persoon wat hulle so naarstigtelik gesoek het, het opgegee. Of hopelik is die persoon oorlede. Hy weet egter hulle kan nie hulle waaksaamheid verslap nie.
Jeffrey vertoef ʼn oomblik buite en herroep die afgelope tien jaar wat hy hier werk. Weer gaan sy simpatie opnuut uit na die twee ou mense wat hulle kind onder die grootste geheimhouding en sekuriteit seker slegs tien keer gesien het.
Hy bewonder steeds die wyse waarop die identiteite en presiese plekke waar Laurika Ruben en die ander drie persone hulle deur die jare bevind het, ʼn waterdigte geheim gebly het. So waterdig dat nie hy of die twee mense daarbo in die huis, of die ander drie families ooit geweet het, wie hulle is of waar hulle is nie.

James Kernes stap om tien uur by die kantoor in en sien Laurie raak waar sy op hom wag. Hy sien die moegheid en wanhoop op haar gesig en weet, dinge het nie verloop soos wat hy gehoop het nie. Hy stap dadelik na haar toe en neem haar hand — “Môre Laurie — Kom ons stap deur na my kantoor.”
Sy volg hom woordeloos die kantoor in. Wanneer albei sit, sê hy — “Te oordeel aan jou gesigsuitdrukking, het jy hulle nie gevind nie?”
Laurie glimlag hartseer — “Nee, ek glo ek het hulle, die regte Rubens gevind. Ek kon as gevolg van die veiligheidsreëlings by die landgoed, nie met hulle praat nie maar ek het die naam van die firma deur wie ons ʼn afspraak kan reël.” James Kernes voel ʼn ontsettende verligting in hom opstoot — Dankie Vader hiervoor.
“Dit is wonderlike nuus Laurie, wie is hulle, ek sal onmiddellik skakel vir ʼn afspraak.”
“Dis Craig Humber maar ek het nie ʼn kontak nommer nie.”
“Dit is nie belangrik nie, ek sal hom vind.” Hy druk haar hand sag en Laurie weet hy sal Craig Humber vandag nog opspoor.
“Eerstens vertel my alles wat gebeur het.”
Laurie vertel James elke detail van die besoek en hy kan sien haar teleurstelling is werklik groot.
“James ek het baie gedink op pad terug. As ek die sekuriteitswag van die amnestie vertel het, sou hy my dalk ingelaat het.”
“Ek twyfel Laurie, dit mag dalk net agterdog gewek het. Ek weet jy is teleurgesteld maar ons gaan dit regmaak, ons gaan die afspraak vandag nog reël.” Laurie knik maar sy is spyt dat sy nie harder probeer het om die sekuriteitswag te oortuig nie.
“Het jy al ontbyt geëet Laurie?”
“Nee ek wou net hier kom en het baie vroeg die hotel verlaat.”
“Kom ons stap af op die marina en gaan eet ontbyt by die ‘The Horniman at Hays’, dit is direk langs die water kant en het ʼn pragtige uitsig.”

Hulle stap uit en al voel Laurie die geniepsigheid van die koue as hulle in die wandellaan na die restaurant stap, is dit heerlik om hier langs die bekende rivier te loop.
James laat haar weer op ʼn stoel sit wat haar ʼn uitsig oor die rivier gee. Wanneer Laurie sit, kyk sy uit na die vloeiende rivier en terwyl daar geen vergelyking is nie, laat dit haar tog aan die Tugela dink, en die verlange na Matthew, haar pa, oom Louis en die twee seuntjies wil haar versmoor — As hy maar net kon weet dat dit wat hy al die jare probeer doen het vir sy geliefde, dalk in die week vrugte sal afwerp.
Al wat sy verder kan dink is — Here asseblief laat daar ʼn wonderwerk gebeur vir my en Matthew, ek wil nie sy bloedfamilie wees nie, ek wil sy vrou wees.
James sien die absolute desperaatheid op Laurie se gesig en hy kry haar innig jammer. Hy moet erken dat die saak enig in sy soort is, hy het nog nooit in sy lang loopbaan te doen gekry met ʼn saak wat in werklikheid amper drie dekades terug begin het nie en hy glo, hy sal ook nooit weer so ʼn saak sien nie.
Wat hy wel geleer het uit die saak sovêr, is dat mense baie versigtig moet wees wat hulle doen, want dit kan verreikende gevolge vir almal hê wat daarna kom en dis mense wat die hartseer en ellende nie verdien nie.
Sy gedagtes gaan terug na ʼn ander saak wat enig in sy soort was. ʼn Saak uit dieselfde land wat hy as jong man in negentien vier en negentig hanteer het. ʼn Saak wat ook uit politieke oortuigings ontstaan het en hy herroep die naam — Steven Carter — en hy bid dat die saak ook so ʼn gelukkige einde sal hê soos Steven se saak in die negentigs.
Hy wonder of die vier persone wat in die saak betrokke is en Steven Carter se paaie ooit in Suid Afrika gekruis het — maar hy laat die gedagte met rus. Eendag weet hy sal hy Steven weer opsoek en hom die vraag vra.
Dit is wanneer Laurie haar koppie koffie oplig om te drink dat James haar gesig wit sien word en as Laurie met ʼn vaart orent kom sê sy — “Vader James, ʼn kind het nou net in die rivier geval.” James kan vir ʼn oomblik nie registreer wat Laurie sê nie.
Laurie hardloop reeds oor die wandellaan na waar verskeie mense gillend langs die reling afhardloop. Sy sien die rooi jassie van die kind enkele meters weg van die kant van die rivier. Sy stroop haar jas af en sonder om een oomblik te huiwer klim sy op die reëling en duik die rivier in.
James hardloop uit die restaurant, hy sien die chaos, hoor die geskree van die mense wat langs die reling hardloop. Sy oë soek na Laurie maar hy sien haar nie, hy hardloop vas in die man wat haar jas vashou en ysige vingers gryp sy hart vas.
Hy hardloop saam met die skare langs die reling af en hy sien hoe Laurie na ʼn rooi voorwerp gryp. Die volgende oomblik draai sy op haar rug met die voorwerp op haar bors en verdwyn vir ʼn oomblik onder die water in.
James hoor die geskree van die mense en die helikopter se gedreun in sy ore. Wanneer hy opkyk sien hy die BBC Nuus helikopter en besef dat iemand reeds die noodroep deurgesit het.

Wanneer Laurie uiteindelik die kind op haar bors met haar een arm vasdruk en sy die gehuil hoor, bedaar haar vrees — Die kind leef en dit is al wat nou tel.
Laurie voel die koue deur haar sny en sy weet dat sy uit die water moet kom as hulle twee wil oorleef. Sy draai haarself om in die water sodat sy in die rigting waarin die stroom hulle vat kan kyk. Sy sien verskeie bote voor haar en sy weet dat hulle op een van die bote moet kom.
Te midde van die situasie gaan die gedagte deur Laurie — Wat kan nou nog verkeerd gaan? Die koue verdryf egter dadelik die gedagte en Laurie begin skuins saam met die stroom swem in die rigting van die bote.
Laurie beur met alle mag in die rigting van die bote en van vêr af bereik ʼn stem haar deur die koue — “Vloei met die stroom nooi, nie teen hom nie.”
Skielik is sy in die Tugela besig om ‘Rapids’ te ry en is dit oom Louis en haar pa op die wal wat haar raad gee. Sy weet dat nie eers die koue van die water haar onder sal kry nie en begin sy saam met die stroom werk en beweeg geleidelik na die kant van die rivier.
Laurie merk die reddingsboot en sy weet hulle sal binne enkele minute uit die water wees, uit die koue wees. Al wat sy kan dink is — Dankie Here, dankie pappa, dankie oom Louis.
Laurie sien die drie mans oor die kant van die boot buk en as sy langs die boot is hou sy haar een arm uit en hulle gryp haar stewig vas. Dit vat slegs enkele sekondes om Laurie en die kind oor die reling van die boot te trek, hulle toe te maak met komberse en binne in die kajuit neer te sit.
Met haar tande wat behoorlik op mekaar klap, druk Laurie die seuntjie stywer teen haar lyf vas. Hy klou aan haar vas soos Kyle en Christopher die eerste dag op die plaas en sy wuif die mediese beampte weg met haar kop sodat sy die seuntjie eers tot bedaring kan bring.
Dit vat Laurie ʼn paar minute voor die outjie teen haar bors bedaar. Met sy armpies om haar nek en sy rukkende lyfie klou hy vir lewe en dood aan haar vas. Sy kyk op na die reddingswerkers — reg om hulle vrae te beantwoord.
Daar is vir eers geen vrae, net gelukwensing. Net ongelooflike bewondering vir die mensie wat sonder om te vrees in die water geduik het en die seuntjie gered het.
Maar hulle wil weet — “Wie is jy?”
“Laurie Kilber.”
“Wel Laurie Kilber jy is ʼn heldin — al wat ons kan sê is, welgedaan.”
Laurie vra die klein seuntjie — “Wat is jou naam,” en dit kom gelyktydig van die reddings werkers — “Timothy Brooks, die kleinseun van Sir Ronald Brooks.” Laurie sluit haar oë, meer van oorstelptheid met alles, as van uitputting.
Dit vat enkele minute vir die boot om vas te meer by die dok en met die kleine “Timothy Brooks” teen haar hart vasgedruk word hulle onder honderde selfoon foto’s en kameras na die ambulans gestoot.

Die oomblik wat die eerste nuusflits oor Laurie se heldedaad gebeeldsaai word, staan Advokaat Steven Carter vasgenael voor die televisie op sy landgoed. Hy weet, die gevolge van die gebeure in die tagtigs, wat hy vir al die jare beheer het, is op die punt om te ontplof.
Weet hy dat die web van geheimhouding wat hy oor twee dekades geweef het, om die veiligheid van vier onskuldige mense te verseker, in die volgende paar uur tot niet sal gaan.
Hy neem sy foon en skakel die nommer wat hy maandeliks vir een en twintig jaar geskakel het en gee hy ʼn dringende boodskap deur vir Miranda Ruben.
Die foon lui in die Ruben huis en binne sekondes kom die diensmeisie die vertrek ingestorm — “Lady Miranda, Pearson sê jy moet onmiddellik na die BBC Nuus Kanaal kyk.” Die diensmeisie skakel die televisie aan en gaan na die BBC Nuus kanaal.
Die nuusflits wys waar Laurie die klein seuntjie teen haar vasdruk en op haar rug in die water draai. Miranda hoor die nuusberig “Hierdie reddingspoging het tien minute gelede in die Thames rivier naby die ‘The Horniman at Hays restaurant’ plaasgevind waar Timothy Brooks, die kleinseun van Sir Ronald Brooks, in die rivier geval het.”
Die kommentator swyg ʼn paar sekondes — “ʼn Jong dame het nie vir ʼn oomblik gehuiwer om in die rivier in te duik om die seuntjie te red nie.”
Miranda sit versteend, sy sien die chaos, sien die twee mense in die rivier en alhoewel hulle en Ronald Brooks jarelange boesemvriende is, kan sy nie verstaan waarom Pearson sou bel om haar die televisie te laat aansit nie.
Die kommentator se stem dring tot Miranda deur — “Die jong dame wie nie vir ʼn oomblik gehuiwer het om haar lewe in gevaar te stel vir klein Timothy Brooks nie, is Laurie Kilber van Suid Afrika.”
Miranda voel vir ʼn oomblik hoe die lewe uit haar gaan maar die keer gryp sy vas aan die hede, die keer sal sy haar kleindogter vind — dit weet sy. Sy hoor die volgende woorde duidelik — “Laurie Kilber en jong Timothy Brooks is binne minute na hulle uit die rivier gered is, deurgeneem na ʼn nabygeleë hospitaal.”
Wanneer die berig terug na die ateljee gaan hoor Miranda die laaste deel van die berig waarin die kommentator die Thames Rivier Polisie se vinnige optrede prys en verwys na die Marchioness ramp in negentien nege en tagtig toe een en vyftig persone gesterf het, waarna die beveiliging van die Thames uitgebrei is om die Maritieme en Kuswag agentskap sowel as die Londen Hawe gesag in te sluit.
Miranda sluit haar oë en dank God.
Terwyl albei vroue nog amper versteend na die televisieskerm staar, lui die foon wat die diensmeisie steeds in haar hand hou. Sy oorhandig die foon onmiddellik aan Miranda en sy groet. Dan herken sy die hartseer stem — “Moeder dit is Laurika, het moeder die nuus gesien, my dogter is hier, Laurie is hier, Laurie is in Londen.” — Moeder en dogter huil vir die soveelste keer oor die jare, troosteloos saam.
“Ek weet my lief, ons het probeer om gisteraand ʼn boodskap deur te kry na jou.”
“Het mamma haar gesien?”
“Nee,” en Miranda vertel die gebeure aan haar snikkende dogter.
“Ek kom onmiddellik Londen toe moeder, ek gaan binne die volgende uur vertrek, niks en niemand gaan my nou keer nie, vind asseblief uit by watter hospitaal Laurie is — Sir Ronald sal weet.”
“Laurika dit is nie veilig nie, wag vir Pearson om julle veiligheid te verseker.”
“Mammie, ek kan nie, ek het al die jare gewag en my kind kon vandag dood gewees het, sonder dat ek haar ooit weer gesien het. Ek kan nie wag nie, nie nou meer nie. Ons kom Londen toe vandag.” Laurika lui af voordat Miranda verder kan praat.
“Jean bel Sir George se kantoor. Sê vir Lisbeth ek moet onmiddellik met hom praat.”
Voor Jean Grant die nommer kan skakel lui die foon weer en gee sy dit weer aan Miranda. “Tannie Miranda dit is Selma, het jy die nuus gesien? Laurie is hier en sy mag dalk weet waar Matthew is.”
Miranda se hart skeur aan flarde — Ons het deeglik betaal vir al die onbesonnenheid in ons verlede, help ons nou.
Met die emosie wat onophoudelik op haar gesig verander, vertel sy Selma Townsend die hele verhaal en twee vroue huil oor al die verkeerde besluite in die verlede wat soveel hartseer en chaos veroorsaak het.

Dit is dieselfde nuusberig wat Matthew vasgenael in die Heathrow Lughawe gebou staan en kyk. Met sy twee seuns teen sy bors vasgedruk en vreugde wat deur hom gaan, kan hy net staar na die skerms teen die mure — Here hou haar veilig vir ons asseblief.
Ook hy kan nie glo wat alles met Laurie gebeur het vanaf die helse dag toe hy en Johan daar in haar voorkamer gestaan het nie — en die verwyt lê naak in sy hart. Daar is ongelooflike vreugde in hom omdat sy hier in Londen is en omdat sy veilig uit die watermassa gekom het en hy weet hulle is albei hier om die verlede oop te vlek — en hy mis haar met ʼn fisiese pyn.
Matthew sien die bestuurder van die hotel met die bord wat duidelik lees ‘Matthew St. Nicolas’ en hy sit Christopher en Kyle bo-op die tasse, op die bagasie trollie neer en stoot die trollie in die bestuurder se rigting. Sodra die bestuurder hom nader sien kom en hy met ʼn kopknik bevestig dat hy Matthew St. Nicolas is, kom die bestuurder nader en neem die trollie by hom oor.
“Naand Meneer St. Nicolas, welkom in Londen. Ek is Christopher Jardine van die Londen Star Hotel.” Matthew skud die uitgestrekte hand.
Christopher kyk op na die groot skerm en sê — “Kan u die heldhaftigheid van die dame glo meneer?” Matthew glimlag — “Ja ek kan.”
“Het hulle die hospitaal se naam genoem waarheen hulle geneem is?”
“Nee meneer, hulle het nie. Ken u haar?”
“Ja, ek ken haar baie goed en moet haar vind.”
Sodra hulle by die hotel se bussie kom, maak Matthew die twee seuns vas in die kindersitplekkies, terwyl Christopher die tasse in die bagasie ruimte sit.
Verskuil agter die getinte glas staan Johan en die genoegdoening is op sy gesig as hy wegdraai van waar Matthew staan. Nou het hy Matthew St. Nicolas nie meer nodig om hom na Laurie en moontlik na hulle wie hy al vir jare soek te lei nie, daarvoor het die televisie so pas gesorg. Hy weet Laurika en Selma sal ook die berig sien, waar hulle ook al wegkruip en hulle sal Londen toe kom en hy sal hulle inwag.

Wanneer James Laurie by die hospitaal oplaai, is hy oorstelp met emosie en terwyl hy haar teen sy hart druk sê hy — “Laurie, jy is ʼn ongelooflike heldhaftige mens, die nuwe heldin in die wêreld, weet jy dit?”
Laurie lê teen haar nuwe vriend se breë bors terwyl sy haar kop heen en weer beweeg. “Ek is nie ʼn heldin nie James, jy sou dieselfde gedoen het.”
“Nee, definitief nie en dit gaan vir al die mense daar op die marina vandag. Dit het ʼn ‘boertjie’ van Afrika gevat om ons ‘Pommies’ weer te wys waarom julle die wilde Afrika kontinent kan oorleef.”
Laurie lag — “James, Suid Afrika is nie ‘Afrika’ nie en waar kom die woord ‘Boertjie’ vandaan?”
“O! Dit is wat Joos jou genoem het toe ek hom ʼn paar uur terug geskakel het en vertel het wat gebeur het met vandag se ‘held episode’.”
Laurie voel die onrus in haar, sy wil haar ma sien — “James ek hoop nie die insident gaan ons reëling vertraag nie. Sal jy nog probeer om vandag ʼn onderhoud met die Ruben familie te kry?”
“Nee, inteendeel Laurie, die insident het jou familie en al die ander families hierheen gebring en moontlik weet die hele Europa dat jy hier is. Ek dink hulle sal nou na ons toe kom.”
Laurie wil net klaarheid hê, sy wil haar ma vind as sy nog leef, sy wil vir haar sê haar pa is jammer oor wat ook al. Bo alles wil sy weet of Selma Townsend en haar pa werklik bloed familie is en of haar pa net deurmekaar was toe hy die woorde geuiter het — dit is al. Nie al die intervensies in haar lewe nie.
Weer voel Laurie of al die dinge sedert daardie dag toe oom Louis dood is, net ʼn kort tussenspel in haar lewe is en in haar bly die gedagte — Is ek nie al genoeg getoets oor my vyf en dertig jaar nie? — gee my ʼn breek asseblief.
Die wanhoop wat Laurie in haar voel hou sy vir haarself en al wat sy moedeloos kan vra is — “Hoe sal hulle weet waar om my te kry?”
“Dit my klein heldin is waarom ons op pad na die BBC se kantore is, hulle wil so gou moontlik met jou ʼn onderhoud beeldsaai. In die onderhoud sal ons sorg dat my detail duidelik vir die wêreld gegee word en dan wag ons vir hulle oproepe.”
“James dit is briljant maar ons kan nie die werklike rede vir my soektog bekend maak nie.”
“Nee — maar daar is geen rede waarom ons nie kan sê jy wil vasstel of daar enige voorouers van jou familie nog hier in Engeland is nie want jou moeder was van hier.”
Hy help haar soos ʼn kleinood in sy motor en as James om die motor stap is sy treë energiek en weet hy — hy het lank laas so absoluut wonderlik gevoel — Maggies hoe so ʼn klein brawe mensie van Suid Afrika, so baie lewens kan aanraak, sommer net so — en hy glimlag as hy in die sitplek inskuif en die motor aanskakel.

Matthew skakel onmiddellik die televisie aan en verander kanale na die BBC Nuus kanaal waar Laurie se heldedaad op die oomblik toe hy inskakel weer gebeeldsaai word. Die seuns weet iets gebeur en sit styf teen Matthew op die sofa.
Dit is wanneer die omroeper Laurie se naam noem, dat Christopher opspring en skree — “Dit is mamma, dit is ons mamma!” en klein Kyle spring ook op die bank en al wat hy skree terwyl hy op-en-af wip is “Mamma!… mamma!… mamma!”
Matthew se hart ontplof van vreugde en hy skree sy vreugde saam met die twee seuns uit. “Ons mamma! ons mamma!…”
Matthew hou die seuns een oomblik vas wanneer die aankondiging deurkom — “Laurie Kilber sal in die volgende uur of twee in die ateljee wees vir ʼn onderhoud. Die normale programme sal onderbreek word sodra sy hier is.”
Matthew is buite homself van vreugde en swaai die seuntjies deur die lug — “Mamma is hier en ons gaan haar haal!” sing hy saam met die seuns en hy weet dat hy voor die televisie vasgenael sal wees totdat hy haar gesien het.
Hy vat dadelik die foon en as die ontvangs die foon beantwoord vra hy dringend — “Kan u my asseblief die nommer vir die BBC Nuus kantore gee.”
Hy wag ʼn paar sekondes — “Meneer wil u die nommer neerskryf of u kan neersit en ek sal die oproep vir u deurskakel na die kantore.”
“Ja asseblief gee my die nommer en skakel dit ook vir my.”
Matthew skryf die nommer op die notaboek wat die hotel langs die foon geplaas het en skielik is hy geduldig, en wag hy vir die oproep om deur te gaan. Matthew gryp die foon as dit lui — “Meneer u kan voortgaan, die BBC ontvangs is aanlyn.”
“Hallo, ek is Matthew St. Nicolas van Suid Afrika. Ek weet u gaan Laurie Kilber se onderhoud in die volgende uur uitsaai.” Matthew wag vir die bevestiging — “Dit is korrek meneer.”
“Kan ek u vra om ʼn boodskap aan haar te gee asseblief?”
“Meneer ek kan die boodskap deurgee na die nuus ateljee en die omroeper Daniël New vra om die boodskap oor te dra.”
“Asseblief, skryf asseblief die boodskap neer.” Hy wag vir haar om aan te dui of hy kan voortgaan.
“U kan die boodskap gee, ek is gereed om dit af te neem.”
“Sê asseblief vir Laurie Kilber dat Matthew St. Nicolas en die seuns hier in Londen by die ‘Londen Star Hotel’ is en gee haar die nommer asseblief.” Hy gee die nommer vir die ontvangsdame en lui af.
Matthew weet hy gaan voor die televisie wag tot Laurie se onderhoud gebeeldsaai word. Hy skakel die restaurant en vra of hulle middag ete vir hom en die twee seuns na die kamer kan stuur. Dan gaan sit hy by die seuns voor die televisie en wag.
Miranda bars in trane uit as sy Sir Ronald Brooks se woorde hoor — “Miranda ek is baie jammer maar Laurie is reeds ontslaan toe ek daar aankom. Die dokter sê sy het daarop aangedring, want sy het glo ʼn baie belangrike afspraak vandag.”
“O Ronald! jy sal dit nie glo nie maar Laurie Kilber is Laurika se dogter.”
Ronald Brooks se bene knak onder hom en hy gaan sit op die stoel langs sy kleinseun se bed — “Miranda dit is wonderlike nuus. Na al die jare is sy hier en sy red my kleinseun. Ek dank God vir die genade. As sy nie vandag daar was nie, nie op die spesifieke oomblik nie, sou Timothy gesterf het in die koue water.”
“Ek weet Ronald, dit is asof daar tog ʼn plan is, ek verstaan dit net nie. Ronald ons moet haar vind. Ons moet nou die vier se name skoonmaak, ek het jou en alles wat jy kan doen nodig asseblief, jou invloed in die Parlement — asseblief.”
“Ek sal alles in my vermoeë doen Miranda, kom ons vind net eers vir Laurie Kilber.”
Sodra Miranda Ruben aflui, lui Ronald ʼn nommer en al wat hy sê is — “Ek kort nou die guns want ek het nou meer as een lewe om terug te betaal. Ek kan moontlik nou na agt en twintig jaar vergoed omdat ek Matthew Townsend nie in die tagtigs terug na Engeland kon bring nie. Vandag het die ander kind wat verlore vir ons was, die lewe van my kleinseun wat nou so oud is as wat Matthew agt en twintig jaar gelede was gered Rodger. Jy moet my so gou as moontlik kom sien, ek is nou by die hospitaal indien jy hierheen kan kom.”
“Sir Ronald, enige-iets vir u.”

Wanneer James Kernes en Laurie voor die BBC ateljee stilhou is daar ʼn groot groep mense wat oënskynlik vir Laurie gewag het en daar weerklink ʼn spontane applous wanneer sy uit die motor klim.
Laurie is oorstelp — Al die dinge en al wat sy wil hê is haar ma, sekerheid en Matthew en die seuns. Vir die eerste keer besef sy hoe verskriklik haar lewe verander het van die dag toe Matthew Townsend weer in haar lewe ingestap het en sy weet voor die dag het sy net bestaan — nou leef sy.
Laurie word soos ‘elite’ behandel van die oomblik dat hulle die BBC ateljee instap. Sonder dat Laurie of James hulself voorstel word Laurie herken en gekomplimenteer. Laurie besef skielik, met die hoeveelheid mense wat buite die ateljees is, sowel as die hoeveelheid mense wat die nuusberig gesien het, en die wat ook die onderhoud gaan sien, dat die onderhoud beslis die resultaat sal kry wat James voor gehoop het. Dalk het die insident gebeur om haar te help.
Skielik is die haas in haar, hoe gouer haar mense weet wie om te kontak, hoe gouer kan sy die verlede oopmaak en aangaan met haar lewe.

Die volgende oomblik is Daniël New by hulle, sy steek haar hand na hom uit, hy neem dit en trek haar teen hom vas.
Hy stel homself bekend — “Dit is moontlik die grootste oomblik in my loopbaan. Elke persoon wil ʼn held of heldin ontmoet — en hier is jy, die persoon wat ek en elke persoon wil ontmoet.”
Laurie voel die emosie in haar opstoot en sy weet, sy is nader aan haar breekpunt op die oomblik, as enige tyd voorheen in die ongelooflike vier maande wat verby is. “Ek is nie ʼn heldin nie, enige iemand anders sou dieselfde gedoen het.”
Soos met James kom dit — “Nee, hoeveel persone het saam met jou in die koue water gespring?” Hy stoot haar weg en kyk in haar oë — “Jy is ʼn held en ek weet nie hoe ons, die mense van die land, jou ooit genoeg kan bedank vir die lewe van klein Timothy Brooks nie.”
Sy staar net op in sy gesig terwyl sy sluk om die trane te keer — Is dit al wat ek kan doen — huil? — skiet dit deur haar gedagtes.
“Ek was in die regte plek, op die regte tyd.”
“Ja dit is waar maar las asseblief by… die regte persoon, op die regte plek, op die regte tyd. Dit is die regte persoon wat die verskil gemaak het.” James beaam dit met die knik van sy kop.
“Miskien moet ons ook net eers vir James dankie sê dat hy jou na die ‘The Horniman at Hays’ vir ontbyt geneem het. Ek sal ook graag die detail rondom die toeval wil hoor.” Daniël sit sy arm om Laurie se skouers en skud James se hand.
“James, dankie dat jy die besondere mens na die regte plek, op die regte tyd geneem het.” James lag en skielik is die spanning verbreek as al drie spontaan lag.
Wanneer hulle saam deur die gang na die ateljee stap, vra Daniël New — “Kan ek jou Laurie noem?”
“Ja asseblief, en ek sal by Daniël hou,” lag Laurie.
“Kom ons gaan werk deur die vrae vir die onderhoud voor ons begin.” Laurie voel skielik ʼn gerustheid oor haar kom, sy glo die is die breek waarvoor sy gebid het.

Dit is presies vieruur as die aankondiging gemaak word dat die onderhoud met Laurie Kilber in tien minute sal begin. Die lede van die Ruben gesin, wat almal naby Poole woon, Laurika se twee broers, George en Rudolph, met hul gades en kinders, sowel as Laurika se jonger suster Catherine en haar gesin, is saamgetrek voor die kolossale televisie in die Ruben herehuis.
Daniël New doen ʼn kort inleidende opsomming van die gebeure van die oggend en dan speel die hele toneel weer af voor al die kykers se oë. In die Ruben gesin is daar openlike afwagting vir die kamera om op Laurie te fokus.
Sodra die kameras op Laurie fokus, snak die familie na hul asems want Laurie lyk soos op ʼn druppel water soos die jong Laurika Ruben gelyk het.
Miranda se trane vloei van vooraf en George Ruben trek haar styf teen hom vas — “Sy is pragtig my lief, Laurika sal so trots wees.”

Die onderhoud begin met erns en in doodse stilte wag die Ruben gesin vir die eerste woorde wat Laurie sal uiter.
“Laurie ek bedank jou uit die diepte van my hart en ek sluit ons totale nasie in omdat jy bereid is om nou hier te wees na so ʼn ongelooflike dag. Soos ek vroeër gesê het, elke persoon wil ʼn held ontmoet, ek het een ontmoet en vandag sal my mede-landgenote ook die voorreg kry.”
Laurie sit sprakeloos, nie seker wat om te sê nie en glimlag net.
“Ek dink die kykers sal graag, voordat ons hoor wat jou in die rivier laat spring het om klein Timothy Brooks te red, wil weet wie is Dokter Laurie Kilber?”
Laurie knik net haar kop en iewers sê ʼn klein stemmetjie in haar — Laurika Ruben as jy kyk luister asseblief.
“So, Laurie vertel ons waar kom jy vandaan?”
Skielik het Laurie die moed om te praat, weet sy die is haar kans om haar mense te kry en sy weet die kans moet sy gebruik. Sy weet wat die vrae sal wees want dit het sy, Daniël en James die afgelope twintig minute deurgewerk en sy herhaal dit wat Daniël voorgestel het. Wanneer haar effens hees, perfekte stem oor die netwerk kom, kom daar ʼn stilte in en om die ateljee.
“Daniël, eerstens dankie, dit is vir my ʼn voorreg om hier te wees.” Hy buk vooroor, druk haar hand en sy weet dit is om haar te ondersteun.
“Ek het grootgeword in een van die mooiste plekke in Suid Afrika en sekerlik in die wêreld. Ek woon naby die dorp Ladysmith in KwaZulu Natal, op ʼn plaas aan die voet van die majestueuse Drakensberge.
Ek het my mediese studies tien jaar gelede aan die Universiteit van Pretoria voltooi. Ek is ʼn geneesheer verbonde aan die Ladysmith Hospitaal en het ʼn paar maande gelede ʼn kliniek in die berge in Lesotho begin op ʼn baie dierbare persoon se plaas.”
Sy draai haar gesig terug na hom en glimlag — “Dit is in ʼn neute dop die verlede van Laurie Kilber — dink ek.” Skielik is sy sorgvry en lag effens verleë.
“Vertel ons ʼn bietjie van jou familie in Suid Afrika?”
“My vader Nathan is in Suid Afrika.”
“So Laurie, wat het jou na Londen gebring?”
Skielik weet Laurie sy moet haar mense laat weet sy soek hulle. “Ek het kom kyk of ek enige van my ouers se familie kan opspoor, my moeder was van Britse afkoms.”
“Wel ek vertrou die uitsending sal jou help om wel jou familie te vind.” Daniël kyk direk na die kameras en sê gemaak ernstig — “So almal daar buite, as julle Laurie se familie is of haar familie ken, moet julle Laurie laat weet, ons sal later kontakbesonderhede bekend maak.”
Laurie bid in haar hart dat haar mense vandag na die uitsending kyk.
“So Laurie kom ons keer terug na vanoggend se ongelooflike insident. Eerstens, jy sê jy is nie ʼn held nie en dat enige ander persoon dieselfde sou doen. Ek het jou reeds gesê, dit is nie waar nie want hoeveel ander persone het vanoggend saam met jou in die yskoue rivier gespring? — niemand anders nie, net jy. So jy is ʼn held en dit is die presiese vraag wat Sir Ronald Brooks gevra het ek moet jou vra. Daarmee saam stuur hy saam met sy gesin hul ewige dank.” Laurie is verbaas dat Daniël dit nie vroeër genoem het nie.
“So Laurie vertel aan die luisteraars presies wat vanoggend gebeur het, wat het jou laat reageer. Begin by die belangrike punte — die regte persoon, regte plek, regte tyd…” Daniël sit terug en wag vir die pragtige mens oorkant hom om die verhaal te vertel.
Laurie begin by James se uitnodiging en maak seker dat sy James se naam duidelik sê — sy beleef weer elke sekonde vandat sy die kind oor die reling sien val het en elke mens wat die vertelling hoor voel of hulle by die Thames rivier was. Die oomblik toe Laurie afsluit is daar binne en buite die ateljee luide hande geklap en applous.
Daniël weet, Laurie is gedaan en sluit die gesprek af deur te sê — “So al Laurie se voorsate daar buite, maak seker dat julle James by die volgende nommer skakel met inligting — en Laurie, ek sou baie graag jou familie wou wees.”
Hy staan op, stap na haar en druk haar teen sy hart, en die kameras bly op hulle terwyl Laurie se trane duidelik vir al die kykers stadig oor haar wange rol.
Met die wegdraai van die kameras, bars totale chaos in die Ruben huis los. Indien daar enige twyfel was, is dit weg want die bekendheid van die stem, Laurika Ruben se stem, bring die ‘onthou’ terug by al die Rubens.
Die oomblik na die onderhoud verby is sê almal gelyk: “James Kernes, ons moet onmiddellik kontak met hom maak?”
Die jong George is reeds op die foon na hul eie prokureur en voordat hy sy versoek kan rig kom dit van die ander kant af — “George ek het reeds met James Kernes se ontvangs gepraat, die oomblik wat hy in die kantoor is sal hulle ons skakel, ons hou al die lyne oop tot die oproep deurkom.”
Die familie gryp mekaar vas en dans met vreugde terwyl Miranda en George stil langs mekaar sit met vreugde wat oorloop.
Dan kom dit van Rudolph — “En bo alles is sy ʼn mediese dokter, die eerste mediese dokter in die familie van besigheid mense. Is dit nie wonderlik nie?” Daar ontstaan ʼn spontane handeklap tussen die familie en George sluit sy oë en dank sy God vir die genade.

Matthew en die seuns is buite hulself van opgewondenheid. Eerstens het sy hom ʼn baie dierbare persoon genoem en hy bid dat Laurie sy boodskap gekry het. Ook hy het James se naam en nommer gehoor en hy het reeds gevra dat die ontvangs die nommer van James vir hom skakel. Hy weet vandag nog sal hy Laurie sien.
Terwyl Laurie, James en Daniël deur die gange stap sê hy — “O, ja ek het ʼn boodskap van ʼn jongman by name Matthew St. Nicolas vir jou.” Laurie gaan staan doodstil, beide mans kan die vreugde op haar gesig sien en albei weet die is die persoon wat die vrou se hart besit.
“Ek neem aan dat die man ʼn persoon van belang is?” en Daniël lag gemaak ernstig en gee haar die kaartjie met die inligting op. “Hy is blykbaar tuis in die ‘Londen Star Hotel’ — so ek neem aan, jy het ʼn afspraak Dokter Laurie Kilber.”
Wanneer hy haar hand vat om te groet, is die erns daar: “Asseblief kom sien my voor jy terugkeer na Suid Afrika, ek wil baie graag weet of jy jou familie gekry het. As daar ooit iets is wat ek kan doen, moet nooit huiwer om te vra nie.”
“Jy het reeds meer gedoen as wat jy ooit sal weet Daniël.” Hy druk haar teen hom vas en gee haar ʼn soentjie op die voorkop.
“Onthou net, indien enige ander groot dinge met jou gebeur, laat my weet asseblief.” Die glimlag op sy gesig gee haar die gevoel van vriendskap — maar sy sien ook die erns.
“Ek bid dat die groot ding waarvoor ek wag, wel sal gebeur en indien dit wel gebeur sal ek jou laat weet, en jou ʼn eksklusiewe onderhoud gee.” Daniël kry die gevoel — alles om die vrou is soos ʼn sprokie.
Hy neem James se hand en sê — “Jy het die regte ding gedoen deur Laurie vir ontbyt te neem, die volgende ontbyt is op my. Ek het dit klaar met die restaurant gereël, siende dat Laurie nooit haar koffie gedrink het nie,” en hy lag terwyl hulle al drie na buite deur die swaai deure stap, waar honderde mense spontaan begin handeklap. Almal skreeu een of ander goeie wens na Laurie en sy kan net verleë wuif.

Dit is as Laurie afstap met die trappe dat sy haar naam duidelik hoor, skielik is daar ʼn ontsettende bekendheid aan die stem. Laurie gaan staan stil en wag vir die stem. “Laurie,” kom dit helder deur die gezoem van stemme. Sy draai om, om die mens agter die stem te sien.
Dit kom weer duidelik deur al die lawaai — “Laurie dit is ek, Laurika, jou moeder.”
Laurie soek in die skare en sy sien die gesig, en sy weet, al het sy die gesig vergeet herken sy dit nou. Sy voel die skok en die vreugde in haar, voel hoe daar ʼn swart sluier oor haar kom en voel hoe iemand haar vasgryp en vas teen hom trek. Sy hoor James se stem hier teen haar hare — “O nee, jy gaan nie nou omkap nie, nie nou nie, wees sterk Laurie, wees nou sterk.”
Sy sluit haar oë en wanneer sy dit weer oopmaak is die gesig daar — en sy ken dit — sy vat versigtig daaraan en die trane loop onbeheersd oor haar wange — en haar emosie vind weerklank in die gesig voor haar.
Daniël is een oomblik versteend voordat hy beide vroue aan die arm neem en hulle terug die trappe op trek tot binne in die gebou. “Wat is dit James… wat het so pas gebeur?”
Die drie mense voor Daniël kyk hom stom aan. Hy kyk na Laurika en hy weet skielik presies watter wonderwerk gebeur het en hy weet nou moet hy dit eers laat. “Kom deur na my kantoor, dit is privaat daar.”
Laurie en Laurika laat Daniël hulle deur die gange lei en dieselfde gedagte is by albei — Dankie Here…
Wanneer hulle uiteindelik teenoormekaar in Daniël se kantoor staan, weet Daniël dat hy hulle nou eers tyd moet gee. “James en ek sal ʼn paar minute buite wag maar ek wil die hele storie hoor.” James vat Daniël aan die arm en trek die deur agter hulle toe.
Daar is doodse stilte in die vertrek en twee vroue kyk deur ʼn amper drie dekade sluier en sien mekaar vir die eerste keer. Laurika leun vooroor en vat Laurie se hande in hare — “Kan jy my onthou Laurie?”
“Ek dink so.”
Laurika stap een treë vorentoe tot teen haar kind en trek Laurie vas teen haar hart — “Maak nie saak wat verder gebeur nie, ek sal jou nooit weer laat gaan nie, ons was sulke dwase.”
Laurie sit haar hand op Laurika se mond — “Laat ons nie vandag die pad loop nie, laat ons net die oomblik geniet.” Hulle staan ineengestrengel, twee mense wat so verskriklik eenders is.
Laurie ruik haar ma se reukwater en sy weet daar is bekendheid daarin. Laurika beaam dit sonder dat Laurie vra: “Chanel No. 5 — jy het so baie daarvan gehou, ek het deur die jare nooit my reukwater verander nie, dit het my aan jou laat dink.”
Laurie sit haar arms om haar ma en hou haar styf vas.
Na ʼn paar minute sê Laurika — “Ek het so baie om boete voor te doen, jou vergifnis voor te vra.” Laurie skud net haar kop — “Kom ons laat al die verwyte vir ʼn ander dag.”
“Ek moet weet of jy my ooit kan vergewe, net dit?”
Laurie stoot haar effens weg en kyk haar reguit in die oë — “Ek kan en ek het reeds maande gelede. Ek het mamma lief, al het ek mamma nie onthou nie was my liefde altyd daar.”
Laurika kyk haar aan met vrae in haar oë — “Die afgelope maande?” Laurie skud net haar kop — “Met tyd sal ek mamma alles vertel.”
“Laurie ek mag jou in geweldige moeilikheid bring as ons saam gesien word.” Alhoewel Laurie die antwoord weet vra sy tog — “Hoekom?”
“Ons het iets baie dom lank gelede gedoen…” Laurie sien die pyn en verleentheid op die pleitende gesig. “Ons is op die terroriste lys geplaas.”
Laurie hoor haar ma se sug — “Daar is dit nou in die ope, weet net ek is jammer vir die pyn wat ons almal veroorsaak het.”
Laurie vat die bewoë gesig tussen haar hande en sê sag maar duidelik — “Ek weet van alles en ook dat daar ʼn aansoek om amnestie op die oomblik by die Raad van die Waarheid en Versoenings Kommissie vir bekragtiging is, wat julle moontlik van die lys sal afhaal.”
Met absolute ongeloof op haar gesig is dit Laurika se beurt om haar verbaas aan te gaap. “Wanneer, hoe weet jy dit?”
“Oom Louis het die versoek in Februarie die jaar ingedien, as deel van die ANC se viering op sestien Desember is daar ʼn moontlikheid dat julle amnestie sal kry en dan sal julle vry wees.”
Laurika Ruben is stom. “Hoe lief het ons hom nie gehad nie, hy het nooit opgehou om te probeer om ons name skoon te maak nie, hoe gaan dit met hom?”
Dit is te veel vir Laurie en sy bars in trane uit — “Hy is Julie die jaar oorlede.”
Die geluid wat uit Laurika se mond kom, is die van ʼn gebroke mens, Laurie gryp na haar en hou haar teen haar vas.
“Selma gaan vernietig wees as sy dit hoor.”
Laurie voel skielik ʼn hartseer vir Selma wat haar vir ʼn paar minute haar houvas op haarself laat verloor, sy weet watse pyn sy sal deurmaak by die aanhoor van die tyding van sy dood en haar hart huil vir haar.
Laurika los haar dogter om beheer oor haarself te kry en met ʼn stem wat nog die trane saamdra gaan Laurie voort — “James het die bevestiging van sy medewerker ʼn rukkie gelede ontvang.”
Laurika trek haar dogter teen haar vas terwyl sy in ekstase sê — “O Laurie, ons kan dalk in ʼn kort tyd vry wees, vry om weer ʼn familie te wees. Hoe gaan dit met Nate?”
“Pa was baie siek maar is uit die hospitaal.” Laurie sien die openlike skok op Laurika se gesig, dit is amper vrees wat sy sien. “Ag Vader, Laurie, net nie Nate ook nie asseblief.” Met beslistheid in haar stem vervolg sy — “Laurie ons was nooit by die bom ontploffing betrokke nie, glo my asseblief.”
“Ons weet julle was nie daar nie.” Die aanhoor van die woorde van haar kind laat Laurika in trane uitbars, soos so baie kere oor die verkwiste jare wat verby is.

Die volgende oomblik breek daar absolute chaos uit as die deur oopswaai. Al wat Laurie oor haar ma se skouer sien is Johan se grynsende gesig, gevolg deur James, Daniël, en twee Britse polisiemanne in uniform en ʼn persoon in siviele klere.
Laurie weet die tyd het hulle ingehaal, Johan se haat het hulle ingehaal. Sy klou aan haar ma en deur die floute wat sy voel kom, hoor sy haar eie stem asof van ver af — “Nee… nee… nee, los haar uit.” Skielik is Laurie weg uit die chaos, is sy weg, ver weg in absolute vergetelheid in.
James vang Laurie waar sy afsak grond toe, die doodsbleekheid van haar gesig skok hom en hy weet, Laurie het die einde van haar uithouvermoë bereik. Hy tel haar op, dra haar na die bank en sit haar versigtig neer — “Daniël bel asseblief ʼn ambulans, Laurie het nou mediese behandeling dringend nodig.”
Daniël stamp Johan uit sy pad met ʼn woede in hom, ʼn woede wat na die kort vertelling van James ʼn veragting in hom gebring het vir die mens wat hy nie eers ken nie.
“So Laurika, uiteindelik na agt en twintig jaar het julle geluk uitgeloop, nou het ek julle.”
Laurika stap vorentoe en klap Johan deur die gesig met ʼn krag wat soos ʼn geweerskoot klap. “Jy het niks en niemand na al die jare nie Graham Hill, jy is alleen met jou haat, jy sal ook betaal vir die leuens wat jy vertel het en vir die hel waardeur jy ons en ons families gesit het.”
Johan voel niks, gryp haar vas en skud haar terwyl hy skree — “Waar is Selma!… waar is Selma Townsend?”
“Waar jy haar nooit in jou lewe sal vind nie, as jy haar ooit weer sien sal dit wees omdat sy self na vore kom, nie omdat jy haar gevind het nie.”
Johan tree terug en klap Laurika met dieselfde geweld. Die twee Britse Polisie manne gryp hom vas en sleep-dra hom weg van Laurika af.
James en Daniël is stomgeslaan en waar James langs Laurie by die bank kniel, skree hy dit uit — “Neem die man onmiddellik uit hierdie vertrek uit!”
“Nee, neem die vrou in hegtenis, sy is ʼn terroris, ek het ʼn lasbrief vir haar arres,” — kom dit in ʼn skril stem van ʼn stoeiende Johan terwyl hy ʼn dokument uit sy baadjie se sak ruk en voor die Polisie manne en die siviel geklede persoon se gesigte swaai.
Die een polisieman neem die dokument en gee dit vir die man in siviele klere, hy vou dit oop en hy lees dit vlugtig — “Die dokument dateer uit negentien ses en tagtig Kolonel.”
“Dis reg, dit is hoe lank ek op hulle spoor is, plaas haar nou onder arres.”
Die man is ferm wanneer hy sê: “Kolonel ek is Rodger King van Skotland Yard, ek is aan die saak toegeken, uitsluitlik om na Dokter Kilber se veiligheid om te sien. Ek sal met my superior konsulteer, niemand in die Buro ken u, of weet waarna u verwys nie. Ons sal eers die feite sowel as die egtheid van die aanklag en dokument moet verifieer voordat enige persoon, onder enige arres geplaas sal word.”
Johan is buite homself — ”Dit is eg, jou moroon.”
Nou is daar emosie op Rodger se gesig. “Kolonel, laat die dame onmiddellik gaan, die konstabel sal haar en Dokter Kilber vergesel totdat daar klaarheid oor die aangeleentheid is. Verder wil ek u waarsku, indien u weer ʼn vinger op enige persoon lê sal ek u onmiddellik in hegtenis neem en laat verwyder.”
Hy kyk Johan eers met openlike minagting aan en na hy stilbly, stap Rodger met die lasbrief uit die kantoor. Sodra hy uit die vertrek is skakel hy onmiddellik Sir Ronald Brooks van sy selfoon af.
“Sir Ronald ek het ʼn Kolonel Johan van Graan hier met ʼn baie ou lasbrief vir die in hegtenis name van “die vier”, ek sal hom onder toesig hou en sake so lank moontlik vertraag.”
Hy hoor Ronald sy asem skerp intrek — “Hou hom weg van Laurie, Rodger.”
“Ek sal, en Sir Rodger sodat jy weet, Laurika Ruben is ook hier. Ek het geensins laat blyk dat ek enigsins bewus is van wie Laurika is nie. U moet asseblief die saak dringend met die families opneem. Ek kan Johan van Graan verwyder aangesien hy Laurika Ruben aangerand het, maar ongelukkig het ook sy hom ʼn taai klap gegee, so ek is bietjie huiwerig om enige iets te doen.” Sir Ronald Brooks hoor die effense lag aan die ander kant en hy glimlag net.
“Ek sal wag vir u terugvoer en u opdrag maar weet net, nie hy of enige ander persoon sal aan hulle raak nie, vergeet van in hegtenis neem. Ek persoonlik dink ons het nou die persoon in ons midde wat ‘die vier’ al die jare jag. O ja — Laurika het hom egter Graham Hill genoem en ek sal dit laat nagaan.”

By Ronald is daar vir die eerste keer in agt en twintig jaar weer die gevoel dat die einde van die nagmerrie vir hom en die mense vir wie hy soveel skuld, in sig is en hy sê dit vir Rodger King — “Nou weet ons ten minste wie agter die jarelange nagmerrie sit want net hy kan die oorspronklike lasbrief hê en weet dat Laurie Kilber, Laurika Ruben se kind is. Ek gaan onmiddellik met die vier families praat, hou jy hulle net veilig vir ons.”
Rodger King bêre die bevel in sy sak en verlaat die kantoor.
Een van die polisiemanne vra — “Kolonel van Graan wie is u werklik, waarom ken die dame u by die naam Graham Hill?”
“Sy lieg, ek is Johan van Graan, jy het my paspoort gesien, jy kan my regering vra.”
Laurika se stem kom helder en baie kalm — “Jou verlede is besig om jou in te haal Graham, moet nooit vergeet dat behalwe ‘ons vier’, daar baie ander persone is wat jou hier in Engeland geken het en verskeie ander wat van jou verlede weet voor jy jou naam verander het. Weet net, indien ons die res van ons lewens in die tronk sal deurbring, sal jy ook, hoor wat ek vir jou vandag sê.” Laurika Ruben draai haar rug op Johan en gaan kniel by haar dogter.
Met haar rug na hom gekeer kom dit duidelik van haar terwyl sy Laurie se kop teen haar vastrek — “Ek sal weer deur dieselfde hel gaan net om die oomblikke met my kind te ondervind. Jy sal dit nie weer van my wegneem nie, nie nou of ooit in die toekoms nie.”
Die oomblik as die paramedici instap vra Daniël die polisie manne om die vertrek te verlaat en hulle trek Johan tussen hulle uit die vertrek.
Laurie word vinnig ondersoek, op die trollie vasgemaak en met James, Daniël en Laurika wat agter hulle aanstap, stap hulle by die deur uit voordat Johan enige beweging kan maak. Sy woorde agtervolg haar deur die gang — “Die aanklag sal nie weggaan nie Laurika, of ek jou vandag vat of môre, of wanneer ook al, ek sal jou terug vat Suid Afrika toe, almal van julle.”

Daar kom ʼn doodse stilte oor almal in die vertrek, wanneer die Ruben familie die skok op George se gesig sien. “Pa wat is dit?” Kom dit van die jong George Ruben.
“Laurie is in die hospitaal opgeneem, daar was ʼn insident by die BBC se kantore.” Hy sak in die naaste stoel neer — “Laurika is met haar en Graham Hill is hier om Laurika in hegtenis te neem.”
“Nee… nee… nee.” Kom dit asof uit een mond.
“Pa julle kan in Londen binne ʼn uur wees as Sir Ronald die helikopter stuur, ek bel hom dadelik terug om hom te vra. Ons gaan onmiddellik met ons voertuie Londen toe, ons sal binne etlike ure daar wees.”
Die volgende oomblik kom daar lewe in Miranda, sy staan op uit die stoel asof sy in haar vyftigs is — “Niks sal my keer om ons kinders vandag te sien nie. George laat ons, ons jasse kry en laat ons gereed wees om te vertrek as die helikopter hier is.”
Sy kyk na haar kinders — “Kry julle gereed om ons in Londen te ontmoet en tussen julle besluit wie skakel die Townsend’s, die Parker’s en die Phillips’. Vertel hulle wat gebeur het en vra hulle om onmiddellik Londen toe te kom. Ons sal by die hospitaal ontmoet. Vandag moet ons vier families saamstaan, niemand gaan ons keer om ons kinders te sien nie en niemand gaan ons kinders net neem nie.”




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed