Jongste aktiwiteit:

Waar Liefde Eindig – Hoofstuk 12

Hoofstuk 12 – Die regmaak se begin

Sy slaap soos ʼn dooie mens, en wanneer Mauritz baie ure later alleen instap in die hospitaal, is ou dokter Friedrich daar, en weet hy, sy tyd is verby, hy kan nie terugstap na haar huis nie, haar weer in sy arms neem sonder om ʼn baie dwase ding te doen nie. Hy besef haar tyd hier by hulle is verstreke, en hy tel die dae totdat sy sal gaan, vyf dae, en hy weet hy moet gaan, en terug wees in vyf dae.
Hy pak sy tas, neem die armband wat hy in Corvallis vir haar gekoop het, ry terug na haar huis, sit die armband om die pragtige pols van haar wat slaap soos ʼn mens wat aan die einde van haar krag gekom het. Hy soen die pragtige lippe, vou die komberse met liefde teen haar vas, en gaan om te gaan regmaak.
Hy vat die viertrek en ry die berg af na die vierhonderd kilometer ver weg plek waar hy nog nie weet hoe om aan haar wat hy so seer gaan maak boetedoening te doen nie. Hy weet hy moet Maxi sy vryheid gaan vra, en sy hart voel so vergruis soos daardie been wat sy weer aanmekaar gesit het.
Wanneer Zuluika wakker word, alleen, warm toegewikkel soos sy weet hy gedoen het, aanvaar sy dit. Sy voel die armband voordat sy dit sien, sien haar naam gegraveer op die bokant en sy draai die band om, en daar staan dit waarvoor sy so gebid het, maar wat sy weet nooit kan wees nie, ‘Ek het jou lief, Mauritz’, en haar lewe eindig en begin weer, ‘Vir nou is dit genoeg’.
Wanneer sy die hospitaal instap, en ou dokter Friedrich is daar, aanvaar sy dit ook, haar tyd om te gaan is hier, haar tyd om weer die mense in die Suide in die oë te gaan kyk, die boosheid wat die kosbare lewe geneem het, en haar tot tien jaar se verdriet verdoem het, te gaan oopmaak, maar ook ʼn tyd om te gaan probeer vergeet van die liefde wat in haar is.
Sy weet, ongeag die dreigement, ongeag wie gaan seerkry, die tyd om ʼn einde aan haar wegkruip te maak het gekom. Hulle vra haar om te bly, en sy wil, en sy sê hulle dit, maar nie nou nie, later wanneer Mauritz getroud is, en sy vrede gemaak het.
Sy beloof, “Ek kom terug, wag vir my,” en hulle almal weet daardie belofte sal nagekom word, en hulle is tevrede vir nou.
Sy is besig met die babas saam met dokter Friedrich wanneer hy inkom, Hugo Grant, verwese, platgeslaan deur wat die vorige dag gebeur het. Hy vat haar hande vas, gaan op sy knieë voor haar en smeek haar om hom te vergewe vir sy arrogansie, en stort sy trane van dank op haar hande.
“Dankie vir my vrou se lewe, en vir ons drie dogtertjies wat jy vir my gered het.” Sy vergewe hom vir wat dit vir hom werd sal wees, maar sy weet, daar is ʼn ander vergifnis wat sy moet gee, en wat sy moet gaan vra.
Vergifnis gaan gee vir hom wat haar lewenslank tronk toe gestuur het, sodat hy ook vrede kan vind, en vergifnis gaan vra van hulle wie se kinders sy weggevat het, dit is waar haar vergifnis lê indien sy hoegenaamd ʼn toekoms gaan hê.
Die trotse Hugo Grant smeek by haar, “Sal jy asseblief bly,” en sy sê hom, “Nie nou nie, daar is eers dinge wat ek moet gaan regmaak voor ek terug kan kom.”
Sy gaan na haar spreekkamers en skakel Laurie. Sy vertel haar van Desmond en die rekonstruksie wat sy gedoen het, en Laurie is oorstelp by die aanhoor daarvan, sy weet Zuluika het haarself weer in haar werk gevind, is steeds die briljante dokter wat sy altyd was.
Zuluika vra Laurie om vas te stel waar sy Desmond heen kan verwys vir rehabilitasie. Laurie huiwer nie een oomblik nie, en gee haar onmiddellik die antwoord, “Die beste plek is die Veterane Administrasie by die Suid Oregon Rehabilitasie Sentrum. Verwys hom spesifiek na professor Carl Brandon, hy is tans die Hoof Mediese Direkteur, en ʼn uitstaande Ortopediese Chirurg.”
Laurie se raad oorbrug haar tien jaar se onkunde oor wat in die vrye wêreld gebeur het, Zuluika weet, daar sal altyd iemand wees wat haar sal help om die tien jaar se afsluiting te oorkom, en sy dank die Here daarvoor.
Sy gee haar pasiënte oor aan ou dokter Friedrich, en hy, en die ander dokters kyk haar in die oë wanneer hy sê, “Jy is meer besonders as enige iemand anders wat ons ken, gaan maak jou dinge reg, en indien ons, en hierdie plek vir jou so kosbaar is, soos jy vir ons, kom terug asseblief.”
Zuluika beloof weer, sy weet sy het nou eers ʼn haas om te gaan, om reg te gaan maak, maar vir eers net om weg te wees voor Mauritz met sy Maxi terugkom.
In haar hartseer bly sy die dokter wat haar pasiënte se welsyn bo alles plaas, “Kontak professor Carl Brandon, hy is tans die Hoof Mediese Direkteur van die Veterane Administrasie by die Suid Oregon Rehabilitasie Sentrum, en ʼn ekspert in die gebied van ledemaat rekonstruksie, hulle sal Desmond kan rehabiliteer,” en hy beloof.

Sy soek Rhoda op, vra die vraag waarvan sy die antwoord ken, “Waar is Mauritz?” en Rhoda sien die heimwee, en die verlorenheid in daardie besonderse oë.
“Hy het gegaan om te probeer red wat nog te red is.”
Zuluika weet nie wat sy in die woorde moet lees nie, draai weg, en die trane verblind haar, ‘Here ook ek moet gaan red wat nog te red is, wees met ons albei asseblief’.
Sy bêre die hartseer oor die verlies van die een mens wat haar weer opgetel het, haar weer laat voel het, en sy gaan aan met haar werk.
Zuluika en die mediese personeel monitor deur die dag Desmond en die ander mans wat by die reddingspoging betrokke was se toestand en vordering. Hulle weet, enige terugslag sal Desmond se lewe neem, en hulle bid deurgaans deur die volgende agt en veertig uur.
Zuluika spandeer lang periodes by Margret en die babas, en sy is verlig oor die stabiliteit in die babas en Margret se toestand.
Margret se trane het amper geen einde nie, die dankbaarheid vir haar, en haar kinders se lewens loop uit haar siel uit, en Zuluika troos haar soos wat ʼn goeie vriendin sal doen.
Sy vra of hulle haar sal deurneem na die baba afdeling se intensiewe saal sodat sy naby haar kinders kan wees, en Zuluika keur dit goed op voorwaarde dat sy rustig sal wees.
Hugo kom vroeg in, en hy kom vind haar in haar spreekkamers, “Kan ek deurgaan na my vrou en my dogters asseblief?”
‘Die dogters’ val haar weer op, nie ’my kinders’ nie, en Zuluika lees in die woorde, nie net sy aanvaarding nie, maar sy diepe dankbaarheid oor die drie klein mensies, en sy sê ja, want dit is waar ʼn ware vader sal, en wil wees.
Met die vat van haar hand in sy groot hande, en met die spontane val van sy trane op haar hand, is al die leed en kwaad weg, sy sit haar arms om sy skouers, “Wees ʼn goeie en liefdevolle vader vir hulle, dit is al wat tel.”
Hy kyk haar in die oë, en hy sê dit met oortuiging, “Ek sal Dokter, die Here is my getuie, ek sal.”

Werner gee haar ʼn opname van Desmond se operasie, en sê haar professor Crafford het geskakel en gevra of sy Vrydag wanneer sy afgaan Corvallis toe, ʼn lesing sal aanbied vir die studente, “Hy het dit vir die middag 13:00 gereël, om jou geleentheid te gee om daar te kom. Ons het ʼn spesiale rit gereël vir jou en die studente, vir Vrydagoggend om vyfuur.”
By die aanhoor hiervan weet Zuluika weer, die plek en die mense maak vir haar ʼn toekoms moontlik, en hy vra weer, “Kom asseblief terug na ons toe indien jy kan.”
Zuluika weet, ongeag haar hartseer en haar haas om te gaan, sal sy ʼn laaste guns vir die wonderlike man, en mense daar onder in Corvallis doen, en sy berei haarself voor.
Laataand, die laaste aand, wanneer Zuluika deurstap om ʼn koppie koffie in die kafeteria te gaan drink, is ou dokter Friedrich en Rhoda daar, wagtend op haar.
Hy hou ʼn koevert uit na haar, sy neem dit, haal die inhoud uit, en lees die brief, ‘Die Maatskappy se dank vir haar werk die afgelope maande en ingeslote ʼn aanbod en brief van aanstelling met ʼn onbepaalde datum vir die aanvang van haar diens’.
“Die dag wanneer jy terug is, sal ons die datum inskryf. Beloof net, jy sal elke dag wanneer jy weg is, die aanbod onthou,” en sy beloof.

Wanneer Zuluika tuis kom, weet sy, die tyd om afskeid te neem van Mauritz het aangebreek. Sy gaan haal die kartondosie met die sleutelhouer wat sy gedurende haar eerste besoek aan Corvallis vir hom gekoop het. Sy verwyder die glanspapier versigtig van die houer en haal die sleutelhouer met die kleure van haar onmaats oë uit.
Sy gaan sit by die eetkamer tafel, daar waar die viool- en hobo tasse vir haar wag. Sy weet sy wil sit waar hulle soveel vreugde ondervind het. Sy skryf die wonderlike ervarings wat hy haar gegee het neer. Sê hom dankie omdat hy haar weer hoop gegee het.
Sy vou die brief die grootte van die houer, druk ʼn kus daarop, en sit die brief in die houer. Sy haal haar vriendskapsringetjie af, knip dit vas in die sleutelhouer en sit die sleutelhouer bo-op die brief, en sit die deksel glanspapier omhulsel terug.
Wanneer sy kwart voor vyf haar deur oopstoot, is ‘die vyf’ daar, “Ons kom Dokter se bagasie dra,” en die hartseer is tussen hulle.
Rhoda wag voor die ingang van die hospitaal, en met die vashou, die trane en die ‘bly veilig vir ons’, gee sy haar Mauritz se geskenk, “Gee vir Mauritz wanneer hy terug is asseblief.”
Met ʼn laaste wuif uit die kajuit vir hulle, is sy weg soos sy gekom het, stil sonder ophaal, en dit laat ʼn hartseer en ʼn leemte wat nie sy, of hierdie dorpie se mense ooit gedink het hulle na so ʼn kort samesyn sal voel nie.

Professor Crafford se warm groet, en sy oorstelptheid oor die operasie wat Desmond weer heel sal maak, bring vrede vir Zuluika.
Met die instap in die saal, en sy gerusstellende druk van haar hand, voel sy, sy krag en geloof in haar en in haar vermoë, en dit lig haar gemoed. Die lesingsaal is tot oorlopens toe vol, en Zuluika weet wanneer sy die applous erken na die lesing, sy sal weer eendag in hierdie ouditorium staan, en dit is ook genoeg vir nou.
Hy gee, daar voor die gehoor, vir haar ʼn warm baadjie met die Universiteit se Mediese Fakulteit Embleem, en hy herhaal die aanbod wat hy weke gelede gemaak het, “Hier gaan altyd vir jou ʼn pos en ʼn plek wees Zuluika, onthou dit asseblief.”

Sodra Zuluika se bagasie op die lughawe ingeneem is, stap sy deur na die Finansiële area en onttrek geld. Sy weet sy sal die Dollars by Oliver Tambo Lughawe in Rand omskep sodat sy finansieel in staat sal wees om vir ʼn geruime tyd self versorgend te wees. Sy weet ook, sy kan enige tyd haar kredietkaart wat aan haar uitgereik is gebruik, en sy voel so normaal.

Mauritz ry sonder stilhou, dit wat hy homself ten doel gestel het, is iets wat hy dadelik moet afhandel, hy moet terug wees voor Zuluika weggaan. Hy besef die woorde op die armbandjie is leë woorde terwyl hy nie vry is om haar te bemin nie.
Hy weet, hy moes nie sy liefde op so ʼn lafhartige manier aan Zuluika verklaar het nie, maar hy moes daardie anker tou waaraan sy hele lewe hang by haar laat.
Hy weet, al sou sy iets vir hom voel, en hy bid daarvoor, sal sy nooit na hom kom terwyl ʼn ander sy ring dra nie, daarvoor is Zuluika te edel.
Maxine Drury is nie verbaas wanneer sy die deur oopmaak en Mauritz voor haar deur sien nie. Iewers in haar hoop het sy geweet hy sal kom om haar hartseer te kom regmaak. “Dit is ʼn verrassing, maar ek is baie bly jy is hier.”
Mauritz sien die openlike vreugde op haar gesig, voel die hartseer in hom, hoe gaan hy haar sê van die persoon wie se liefde hy in sy hart dra, ‘sal hy dit kan doen?’
Hy probeer homself oortuig, ‘Indien Maxi gaan seerkry, sal hy voortgaan met hulle huwelik, sal hy Zuluika se wonderlike liefde in sy hart wegsluit, en probeer om nooit weer die ekstase daarvan te ondervind nie’, maar hy weet, dit kan hy ook nie, so oneerlik en wreed kan hy nie teenoor hierdie vriendin wees nie. Hy kan haar nie in ʼn huwelik vaspen waar daar geen passie sal wees nie.
Hulle gee mekaar daardie skalkse soengroet. Die groet van ʼn broer en ʼn suster, of twee vriende na ʼn afwesigheid, geen begeerte om in ʼn warm passievolle omhelsing te wees nie.
Sy trek hom die huis binne, saam kombuis toe, met die wete dat sy vandag aan hom gaan bieg oor daardie ander wonderlike mens wat sy lief het, wat haar ʼn ekstase laat ondervind wat hulle verhouding in al die jare nooit gebring het nie. Daardie boodskap wat sy hom in die berge wou gaan gee, maar nooit die moed kon kry om dit te doen nie.
Sy maak tee, sit by hom by die tafel, en die gedagte aan wat sy moet doen versmoor haar. Haar moed begewe haar, en sy vrees die moed om sy hart te breek, is nie in haar nie, en albei voel die spanning aan.
Hulle gaan deur na die sitkamer, en die realiteit is tussen hulle, ‘Daar is ʼn totale afwesigheid van passie, van ʼn alles oorweldigende begeerte om die ander aan te raak’, en albei weet, wat hulle vir mekaar voel, hou nie ʼn leeftyd se intimiteit in nie.
Hy kyk in Maxi se oë, sien Zuluika se pragtige onmaats oë, en hy weet die tyd vir eerlikheid is nou, en praat hulle amper gelyk. “Ek wil,” en albei bly stil.
“Jammer Max, praat gerus.”
Die trane is in haar stem, en in haar oë, “Mauritz, ek weet nie hoe om dit te sê nie, maar ek moet dit vandag sê.”
Sy bly lank stil, en met oë wat die seerkry wys, “Ek is jammer maat, maar ek kan nie met ons verlowing, of ʼn huwelik voortgaan nie. Indien ons wel voortgaan, gaan dit ʼn baie groot fout wees.”
Hy wil praat, maar sy maak hom stil met die skud van haar kop, “Ek het ʼn ander liefgekry… ek het daarteen gestry, gebaklei, gebid, gehuil… maar dit wil nie weggaan nie. Sy naam is Claus Tremaine, en hy is ʼn wonderlike mens.”
Sy veg teen die trane wat haar keel toedruk, maar sy weet, sy moet nou deurdruk, “Ek is so ontsettend jammer vir wat ek jou aandoen, maar dit is beter so, beter om dit nou vir jou te sê, as later wanneer ons ʼn baie dwase besluit geneem het om wel te trou, vir al die verkeerde redes.”
Hy sien haar trane, hy staan op en kniel voor haar, “Max, Maxi, dit is reg,” en hy weet, hy moet nou haar skuldgevoel wegneem, en hy vat haar gesig tussen sy hande en sê sag terwyl hy in haar oë kyk, “Ook ek het iemand anders liefgekry maatjie, ek weet hoe jy voel, ek weet hoe jy moes gely het aan die wete, want ek het.”
Sy huil op sy skouer, “Dankie Mauritz vir die verstaan, al is daar niemand anders nie, dankie vir die verlig van my skuldgevoel. Sal jy hom ontmoet, sal jy jou seën vir ons twee gee?”
Hy voel ʼn ongelooflike vreugde omdat hierdie wonderlike maat van hom ʼn liefde gevind het soos wat hy gevind het. Hy weet weer, daar is ʼn God wat na sy kinders kyk, en sy stem dra die warmte wat sy God altyd aan hom gee, “Ja ek sal, my wense vir julle is geluk en liefde vir altyd.”
Hy neem haar hand in sy hand, en gaan sit langs haar op die bank, “Max ek het waarlik iemand anders lief,” en sy kyk na hom, en sy glo hom, “Zuluika Zuess.”
Sy vat sy gesig tussen haar hande en sy soen hom sag op die voorkop, “Julle gaan so gelukkig wees Mauritz, julle is perfek vir mekaar.”
Hy voel die haas in hom, maar hy weet hulle moet hierdie pad vandag enduit stap, nie los drade oorlaat wat hulle geluk gaan bederf nie, “Max ons twee moet ons ouers inlig voordat ons enigsins verder gaan, hulle verdien om te weet.”
Sy stem in, en die haas is ook in haar. Hulle ry die paar kilometer na hul ouer huise saam, met ʼn ontspanne gemoedelikheid tussen hulle. Albei voel die verligting en vreugde om uiteindelik sonder die leuen te leef.
Daar is vreugde en verbasing oor die onverwagte besoek, en wanneer Mauritz sy ouers groet en vra of hulle saam sal oorstap na Maxi se ouers se huis, kyk Luke na sy vrou, en in haar oë sien hy dit waaroor hulle die afgelope jare so baie gepraat het, albei weet, die realiteit het hierdie twee geliefdes van hulle getref, en hulle weet wat gaan kom.
Wanneer albei ouer pare saam met hulle in Maxi se ouers se sitkamer sit, is dit Mauritz wat Maxi se hand neem en hulle ouers inlig oor die mense wat hulle liefgekry het, oor hulle gevoel vir mekaar wat hulle lankal besef het net vriendskap is, en dit sal nooit meer as dit kan wees nie.
Die erkenning en aanvaarding is in al vier ouers, en hulle neem ook verantwoordelikheid vir die druk wat hulle op die twee geplaas het deur die jare.
Hulle drink koffie en kuier vir ʼn kort rukkie terwyl albei hul toekomstige lewensmaats aan hulle ouers beskryf.
Mauritz deel die twyfel of Zuluika hom lief sal hê en almal verseker hom, sy sal, hy moet net bid en glo.
Maxi skakel haar Claus wanneer hulle terug by haar huis is, en vra hom om oor te kom. Hy kom onmiddellik, die stil geduldige mens. Met sy hand in hare, is die opregte verskoning daar, “Ek is jammer, maar dit was net daar, stilswyend, groeiend soos iets wat nooit stopgesit kan word nie,” en Mauritz skud sy hand en verseker hom dit is reg, en hy bid hulle alle seën toe. Hy voel die haas, weet hy moet terug, hy moet by Zuluika kom, want sy hou sy lewe in daardie perfekte hande van haar.
Hy slaap oor by sy ouers en vroegoggend groet hy en vat die pad terug na haar.

Haar huis anderkant die grasveld, is in duisternis gehul wanneer hy die viertrek tot stilstand bring, en wanneer hy deur die hospitaaldeure gaan, weet hy, sy is nie meer hier nie, sy is weg, en die dood kom oor hom.
“Sy is eergister weg,” sê ou dokter Friedrich en die meegevoel is in sy oë. “Sy het gesê sy kom terug, ons moet vir haar wag.”
“Maar wanneer sal dit wees, ou dok?” en daar is geen antwoord in die skud van die grys kop nie.
Mauritz stap blindelings met trane wat oor sy wange loop uit na waar haar huis is, na waar hulle so wonderlik saam gepas het, en die mense wat hom sien treur saam met hom.
Hy bly wakker deur die nag, treur oor wat hy verloor het deur sy dwaasheid, en gaan met die grys hartseer wat in sy gesig is, af na die hospitaal, gaan sit soos ʼn baie ou man voor Rhoda se lessenaar in haar kantoor, en stort sy hartseer uit, “Hoe sal ek aangaan sonder haar Rhoda?”
Sy leun vooroor, neem sy hand in hare, “Jou geloof, en jou liefde moet jou dra Mauritz. Sy het soveel geloof in jou krag gehad.”
“Ek weet niks van ‘die Zuluika Zuess’, wat iewers in die wye wêreld is nie. Net daardie een verwysing na Suid Afrika, maar nie van waar sy hierheen gekom het nie, nie waarheen sy sal gaan nie, en ek is stukkend van verdriet.”
Rhoda sien die trane, onthou die trane in die onwerklike kleur oë, en sy bid vir genade vir hierdie twee wonderlike mense.
“Waar sal ek haar kry, iemand kry wat haar weg van ons wêreld ken, iemand wat weet waar ek haar sal vind?”
Hy kyk na haar met wanhoop in sy oë, “Iemand moet weet wie sy is, en waar sy is.”
Sy haal die klein houertjie in die geskenk papier uit haar laai en gee dit vir hom, “Sy het ʼn geskenk vir jou gelaat, miskien is daar ʼn antwoord vir jou.”
Hy neem die houertjie wat die besondere hande vasgehou het, toegemaak het vir hom, druk dit aan sy hart, en gaan terug na sy huis.
Mauritz gaan sit in sy sitkamer, haal die pakkie uit sy sak, en met ʼn gevoel van dood in hom, haal hy versigtig die papier van die houer af, ‘alles wat haar hande aangeraak het wil hy bewaar vir ewig’.
Die sien van die blou en swart stene aan die goue ketting, saam met die klein vriendskapsringetjie wat sy aan haar pragtige vinger gedra het, laat die trane uit sy oë val, ‘Here, my Here, hou haar veilig en bring haar terug na my’.
Hy neem die ringetjie, sit dit vir een oomblik aan sy pinkie, en hy glimlag, ‘So fyn en broos’, gaan dit deur hom. Hy neem dit, verwyder die kettinkie van sy nek, glip dit deur die ringetjie, en sit die ketting terug om sy nek, dit is waar hy haar wil voel, teen sy hart.
Hy haal die brief uit, vou dit oop, en sien die perfekte handskrif,
Liefste Mauritz
Ek wil hê jy moet weet, dit is vir my ʼn hartseer dag om weg te gaan van jou af.
Jy het vir my soveel wonderlike ervarings gebring in my tyd hier by julle, my weer laat glo daar kan liefde in my toekoms wees.
Dankie vir die herinneringe wat ek saam sal neem. Die herinnering aan jou, hier in my huis by my, daar in die hospitaal, daar in Corvallis, daar in die natuur toe jy die Psalm vir my voorgedra het. Weet net dit is die kosbaarste besittings wat ek het, dit wat jy my gegee het.
Dankie vir die armband en die kosbare woorde, dit gee my die krag om te gaan doen wat gedoen moet word.
Ek weet dit is nie die regte tyd om te sê wat ek nou sê nie, maar vir my om aan te gaan is die deel hiervan belangrik, reg of verkeerd, ek het jou ongelooflik liefgekry.
Ek weet jou pad verder is met ʼn ander, maar ek sal ontrou aan myself wees indien ek jou nie van my liefde vertel nie, want ek wil iewers in die toekoms terugkom hiernatoe, en jou weer in my lewe hê, al is dit net as die wonderlike vriend en maat wat jy tot nou vir my was.
Ek sal jou in my hart saamdra, tot ons weer ontmoet.
Wees bo alles gelukkig.
Zuluika.

Met die afsak op sy knieë breek die sluise, ‘Here, my Here, dankie hiervoor, gaan met haar, hou haar veilig vir my’. Hy staan op, gaan kamer toe en gaan deur die stryd met homself voor sy God.
In die oggend, met sy gewone oggend besoek aan die pasiënte, voel hy haar in die gange, weet hy sy sal weer eendag hier wees. Weet hy, hy kan wag vir die dag, want die brief en die blou en swart stene in sy baadjie se binnesak teen sy hart, is haar belofte.
Die pleidooi aan sy God kom spontaan, ‘Here gee haar asseblief die krag om te doen wat gedoen moet word, en bring haar veilig terug na my, na ons’.

Twee dae later stap Zuluika deur Oliver Tambo Lughawe se paspoort beheer, geen vrees, Zuluika Zuess bestaan nie hier nie.
Sy gaan haal haar bagasie wat aangegroei het tot twee tasse, die hobo, die viooltas en haar mediese tas, en sy glimlag wanneer sy dink hoe haar wêreldse besittings gegroei het met die klein dingetjies wat hulle haar gegee het.
Sy weet, Lize sal haar vra om by haar oor te bly, sy weet ook, al het sy nou ruimte en vryheid nodig vir dit wat sy wil doen, sal sy wel vir die eerste paar dae by haar wil tuisgaan. Sy wil saam met hulle wat haar wil help, deur die lang gesprekke kom, wil al die feite wat reeds bevestig is weet, voor sy die pad sal stap om die verlede oop te maak, maar ook om dit af te sluit vir haarself.
Haar besoek aan die finansiële instellings, en die ruil van die Dollars, bring ʼn trots in haar wanneer die klerk haar vriendelik en professioneel deur die proses en papierwerk help, ‘Ons hoef vir geen ander land terug te staan nie’, gaan die gedagte deur haar, en die ‘ons’ maak haar weer een met haar land en haar mense.
By die Vodacom winkel vra sy hulp om haar Suid Afrikaanse SIM kaart terug in haar foon te sit en die “swerf” funksionaliteit te kanselleer. Die jongman gaan woordloos deur die aksies en wanneer hy die Amerika SIM kaart in die plastiek sakkie gooi en haar foon teruggee, sê hy met ʼn glimlag, “Behoort enige oomblik operasioneel te wees.”
By die huurmotor area gee sy Lize se kantoor adres in Pretoria vir die bestuurder, en wanner sy inskuif in die passasiersitplek voel sy geen verlies by die wete dat sy eens op ʼn tyd ʼn motor sou gehuur het nie. Die wete is in haar, sy wil ook nie aan die einde van haar tyd hier ʼn bestuurslisensie of enige lisensie in Suid Afrika uitneem nie, sy wil die Zuluika Zuess, met die beperkte verlede bly.
Sy het die saak met haarself reeds uitgeklaar, ‘Geen iets wat haar vas sal maak aan die land nie’, sy wil reg wees om ʼn besluit te maak weg van die herinneringe,’ en sy bid, ‘in die nabyheid van hom wat sy lief het’.
Sy sal die tyd hier wy aan wat dit sal vra om reg te laat geskied, en nie na die toekoms kyk nie, maar wanneer dit afgehandel is, wil sy nooit weer terugkyk en aan die seer en die haat dink nie. Indien sy ooit terug dink, moet dit net liefde en geluk insluit.
Die huurmotorbestuurder parkeer voor die Burlington Arkade in die ou Kerkstraat, wat nou Helen Joseph heet. Hy help haar, haar bagasie die gebou inneem, en plaas die tasse langs die ontvangstoonbank in die ingangsportaal, en Zuluika voel die waardering, ‘Here dankie vir al die welwillendheid wat U op my pad bring’.
Die ontvangsdame vra haar om in die rus area te wag terwyl sy Lize se kantoor skakel om toestemming te kry vir haar om deur te gaan.
Met die ontspan in die sagte stoel, neem die onwerklikheid van haar besit, voel sy vir een oomblik ʼn totale uitputting oor haar kom, maar dit is Rudolph se gesig wat in haar gedagtes oor haar buk, soos daar lank gelede wanneer sy tot die dood gedaan was na agtien ure se werk, en dit tel haar op, bring haar terug na die nou, die hier.
Die verwondering is in haar, daar in die berge, was dit in die laaste weke net Mauritz wat in haar gedagtes was, en nou is Rudolph terug, en sy voel die vrede in haar, vir dit wat sy haar voorgeneem het om te doen, het sy daardie wonderlike mens se krag nodig.
“Jy kan deurgaan na kantoor 112 op die eerste verdieping,” dring die stem tot haar deur. “Die ontvangs verwag u. U kan u bagasie hier by die ontvangs toonbank laat, ek sal dit vir u dophou, indien u wil.”
Die gebaar versterk die, ‘Hier is goeie mense in my land’, gevoel in Zuluika, en sy weet dit is die gevoel wat sy wil hê, nie die tien jaar se aanhoudende negatiewe gevoel oor die land en die mense nie.
Sy neem die aanbod aan, en die sekuriteitsbeampte stap nader en plaas haar bagasie agter die toonbank. Hy stap saam met haar, open die veiligheidshek en beduie haar na die hysbak.
Sy stap Lize se kantoorarea binne, en die ontvangsdame eien haar en wuif haar met ʼn vriendelike, woordelose groet deur na Lize se kantoor. Zuluika maak die deur oop, en saam met die effense kraakgeluid van die skarniere, kyk Lize Burg op.
Haar gesig weerspieël verbasing en skok wat onmiddellik oorgaan in onbeheersde vreugde. Die weersiens is aandoenlik, en Lize Burg huil openlik, “Jy is terug, jy lyk wonderlik, is dit werklik al vier maande?”
“Ja dit is,” en Zuluika se stem is helder en sterk, en Lize hoor dit.
“Hoekom het jy nie laat weet nie, ek sou jou baie graag by die lughawe gaan haal het?”
“Ek weet, maar die afgelope maande het my geleer om weer op my eie twee voete te staan, beheer te neem.”
Lize Burg hoor die vasberadenheid, en terwyl sy so gebid het vir hierdie dag, vir die krag in hierdie mensie, is sy hartseer, sy weet, dit is die begin van die weggaan van Zuluika Zuess, en die pyn wil haar versmoor.
Sy hou haar hande vas, “Hoe was dit vir jou, hoop jy het dit geniet?”
“Dit was alles wat ek voor gebid het, en meer,” en die eerlikheid is daar, maar ook die pyn van ʼn nuwe hartseer, maar Zuluika weet, vir nou is dit net vir haar om te weet.
“Goeie nuus is, jou lisensie om in Suid Afrika te praktiseer is herstel, jy kan begin praktiseer.”
“Dankie vir al die werk daaraan Lize,” en vir geen rede nie, bly sy stil oor haar voorneme om terug te gaan na die geliefde witheid in die berge. Nie nou enige vrae of bekentenisse nie, eers net die oopmaak en regmaak.
“Sal jy asseblief vir eers weer by my kom bly, daar is so baie waaroor ons moet praat.”
“Dankie Lize, ek het geweet jy sal aanbied, en ek sal baie graag, ek weet ons het baie om te bespreek en te beplan. Ek het ook ʼn paar sake waaraan ek aandag moet gee.”
“Indien jy ʼn klein rukkie wag, kan ons huistoe gaan.”
“Moenie haastig wees nie, ek dink ek skuld myself ʼn koppie koffie hier naby Kerkplein, net om weer die studente ‘koffies’ te onthou. Is daar nog ʼn koffiekroegie hier naby?”
“Cafe Riche, op Kerkplein, glo dit sal ou herinneringe terugbring,” Lize weet, ‘Die Zuluika van tien jaar gelede is nie dood nie, sy is terug en sy dank die mense in die vreemde wit wêreld daarvoor’.
Wanneer Zuluika oor Kerkplein stap, kyk sy na die Paul Kruger beeld met die boerewagte aan die voet van die standbeeld, staan sy een oomblik stil, lig haar gesig op na die hemel en voel die Pretoria son op haar gesig.
Sy draai om en kyk in die rigting van die ou Paul Kruger straat na die noorde. Sy weet die Hooggeregshof waar sy daardie onbesonne daad gepleeg het, is verskans deur die ou Paleis van Justisie gebou voor haar.
Een voorneme wat sy die afgelope tien jaar gehad het, is om eendag, voordat sy die land vir goed sal verlaat, weer die pad te stap, weer voor die gebou sal staan en haar sonde aan haar God bely op die plek waar sy die daad gepleeg het.
Sy draai weg, stap oor die plein, en gaan sink weg in die atmosfeer van Cafe Riche, ‘nie vandag daaraan dink nie, dit moet wag tot sy reg is daarvoor’.
Die reuk van koffie, die atmosfeer, die energie buite in die sonlig, neem haar terug na die warmte van oom Louis se huis en sy liefde, en sy onthou die liefde, wil dit elke dag vorentoe onthou.
Lize wag vir haar wanneer sy die gebou binnestap, “Ek het jou bagasie reeds in my motor laat sit, ons twee kan huistoe gaan,” en die ‘huis toe gaan’ bring ʼn huis anderkant die wit sneeu veld in haar gedagtes, en sy mis hom.
Die rit op met Schubartstraat, verby die Kgosi Mampuru Tronk, is vir Zuluika vandag nie traumaties nie, sy weet, sy het haar vrees vir hierdie plek die afgelope maande agtergelaat.
In die gevangenis sal sy weer eenkeer ingaan, net om hulle wat haar vir tien jaar bygestaan het te gaan groet, hulle te bedank vir hulle geloof in haar, daarna sal sy by uitsondering aan die hartseer van die tien jaar dink, net die goed wat gekom het uit die tien jaar saamneem.
Lize laat haar alleen in die kamer terwyl sy koffie gaan maak. Zuluika pak die kledingstukke wat sy sal benodig in die paar dae wat sy hier gaan wees uit, en die hartseer en verlorenheid van ʼn paar maande gelede toe sy in hierdie kamer ingestap het, is nie deel van vandag nie.
Hulle drink koffie, en eers is net die stil samesyn genoeg, nie dadelik dit oopmaak wat die volgende weke of maande alles gaan oorheers nie.
Sy vertel Lize grepe uit die onvergeetlike tyd in die wit wêreld. Lize hoor die nuwe entoesiasme, die nuwe hoop, sy sien die gesiggie ophelder wanneer die naam Mauritz genoem word, en sy bid vir liefde en geluk vir Zuluika.
Lize maak vir hulle Woolworths Butternutsop warm saam met vars broodrolletjies waarop die botter dik gesmeer is, en Zuluika herroep haarself en Laurie by oom Louis se kombuistafel in die lamplig in die winter, die sop en die warm plaasbrood met die smeltende botter, en sy verlang na daardie vrede, daardie liefde.
Lize wag tot hulle later op die stoep in die ligte briesie sit, sy besluit, nou is die regte tyd om die feite wat hulle die afgelope maande bekom het te begin bespreek, “Joos se span het positief gevorder in die afgelope maande met hul navrae na gebeure in die verlede wat gekoppel kan wees aan jou saak. Behalwe die bevestiging van die twee se affiliasie en betrokkenheid by ver-regse groepe en aktiwiteite, is hulle ook gekoppel aan aanvalle op ander persone van kleur voor Rudolph se moord.”
Zuluika hoor die bevestiging, sy weet wat Lize volgende sal sê, ‘Die verdoemende bewyse ontbreek’, en sy weet, dit is wat haar terug Suid Afrika toe gebring het, ‘om die feite en bewyse te vind’.
Terwyl Lize deur die bevindings met haar werk, loop Zuluika se gedagtes die lang pad terug na haar begin, na die mens wat alles wat verregs is, in haar gedagtes versinnebeeld, sy weet, ‘hom wil sy weer in die oë kyk’, en sy is reg daarvoor.
“Jy sal tyd moet maak om deur te gaan na Joos in Ladysmith, hy hanteer die saak vir ons, en hy het jou insette nodig.”
Zuluika knik haar kop instemmend, en met ʼn sekerheid in haar gemoed, “Ek sal spoedig gaan, ek is reg vir wat sal kom, ongeag wat die waarheid sal wees.”
Om nege uur sê hulle nag en Zuluika gaan lê op die bed, neem haar selfoon en skakel haar skoonouers. Die vreugde wanneer hulle hoor sy is terug in Suid Afrika, maak die ou gevoel van plesier wat sy altyd aan hul groet gehad het in haar wakker, en sy verlang om by hulle te wees, net naby Rudolph se graf te wees. Ongeag die heimwee, weet sy, dit is iets wat eers moet wag tot sy hier klaarheid gekry het.
Sy skakel Laurie en die blydskap in Laurie se stem verdryf die laaste kommer wat Zuluika oor hierdie wonderlike vriendin se geluk gehad het.
Laurie vertel haar van die hartseer toe sy geglo het sy en Matthew is bloedfamilie, van die liefde tussen haar en Matthew, en sy weet Laurie het haar lewensmaat gekry, en vir een oomblik is die hartseer oor Mauritz in haar.
Die hartseer is daar omdat Zuluika die troue misgeloop het, maar albei weet, die ‘weg wees’ uit Suid Afrika was belangriker as enige iets anders.
Met die aanhoor van Laurie se vertelling oor haar ouers, ‘My en Matthew se ouers is hier, hulle woon op The Buttress en ons wil jou sien’, kom die nuwe hunkering na ʼn eie moeder terug in Zuluika, en sy bid woordeloos dat sy tog, soos Laurie, ʼn moeder iewers in die wêreld het.
Zuluika deel met Laurie wat Joos se span reeds uitgevind het, skielik is dit belangrik vir haar om insette te kry van iemand wat eerlik met haar sal wees.
Laurie luister na die feite, oorweeg wat sy wil sê, weet wat sy wil sê moet nou gesê word sodat Zuluika haarself kan voorberei indien dit ooit as die waarheid bewys word.
“Zuluika my maat, jammer hieroor, maar ek dink ons moet dit wat dalk die waarheid kan wees in die oë kyk.” Sy huiwer een sekonde indien Zuluika protes wil aanteken, en dit breek haar hart om te sê wat sy weet sy moet sê “Die bevestiging van die twee se ver-regse betrokkenheid, jou pa,” en sy korrigeer haarself, “Zander Cordier kan betrokke wees.”
Die stilte is vir ʼn oomblik versmorend vir albei, Zuluika voel die weemoed, maar skud dit af, “Dankie vir jou eerlikheid, vir die uitspreek van die gedagte wat my vir ʼn lang tyd reeds wurg. Ek hoop hy het nie so ʼn monster geword nie, maar ek weet, dit kan die waarheid wees.”
Zuluika weer die gevoel van weersin weg, nie nou nie, eers net fokus op vandag en die dae wat gaan kom. “Ek wil in die volgende drie dae deurgaan na Ladysmith om met oom Joos te gaan gesels en te help waar ek kan.”
Laurie se uitroep vou om Zuluika soos lank gelede, “Wonderlik, sal jy asseblief op die plaas kom bly, sê ja asseblief.”
Zuluika weet sy wil weer die vrede van haar tienerjare beleef, weer die skoon lug tussen die berge gaan inadem, “Ek sal baie graag, ek moet net ʼn manier kry om daar te kom, my bestuurslisensie het lankal verval en ek gaan dit nie weer hier hernu nie.”
In die woorde leer Laurie ʼn waarheid, ‘Zuluika Zuess gaan nie in die land bly nie, sy is hier vir die oopmaak van die waarheid voor sy die land permanent gaan verlaat’. Al voel sy diepe pyn by die gedagte, weet sy vir Zuluika is dit die regte besluit.
“Dit my maat is geen probleem nie, noudat my pa amper in totaal herstel het, is Joseph tot die dood verveeld, hy sal baie graag jou bestuurder en lyfwag wil wees.”
Zuluika besef, van die dag wat sy daardie hel-huis verlaat het, was daar altyd iemand vir haar, “Dit sal wonderlik wees, ek kan ʼn bus neem tot op Ladysmith.”
Laurie se beswaar dwing haar stil, “Nee, Joseph kom jou in Pretoria haal, jy sê net wanneer en hy sal daar wees, ek het Lize se adres.”
Zuluika besluit om tot die Sondag by Lize deur te bring en vra of Joseph haar die Maandag sal kom haal, en die vooruitsig van die weersiens van Laurie en oom Nathan, sowel as die ontmoeting van Laurie se familie, Matthew en die seuntjies, bring sluiting van ʼn wonderlike dag.
Sy gaan deur die tien jaar oue aandroetine, trek haar nagklere aan, gaan lê op die bed, sien Mauritz se gesig die dag toe hulle gaan stap het in die berg, en verval in ʼn rustige slaap.
Wanneer Lize inloer om die lig af te skakel kan sy net met bewondering kyk na die mensie wat reeds in die tweede helfte van haar dertigs is, maar die jeugdigheid van ʼn tiener het.

Dit is dieselfde oomblik wanneer Mauritz voor die klavier in die kerk gaan sit. Hy maak die klawers oop, laat sy vingers liggies oor die klawers speel en die woorde van ‘Every Breath you take’, kom met ʼn hartseer wat deur die vertrek, en uit na buite waar Rhoda en Werner stap, vloei, en hulle harte huil vir hom.
Mauritz weet, die waarheid is in die woorde, ‘Since you’ve gone, I’ve been lost without a trace’, en die trane vloei spontaan uit sy oë. Hy gaan lê met sy kop op sy arms en bid vir die soveelste keer dieselfde gebed.
Al wie hy in sy gedagtes sien, is Zuluika, en hy sien haar met die viool tydens die konsert, en haar woorde met die besluit op die dansnommer, ‘In Suid Afrika word dit ‘gumboots’ genoem.’ Die versekering is weer in hom, ‘Suid Afrika’, dit is waarvandaan sy gekom het, hy staan op, stap terug na sy huis, skakel sy rekenaar aan, en sleutel daardie besondere name in op ‘Google.’
Hy voel die teleurstelling wanneer daar slegs twee verwysings na haar is, twee verwysings na ʼn tyd baie lank gelede, maar die twee verwysings is genoeg vir hom, ‘sy was toe iewers, en sy was besonders, en sy is nou iewers, en hy sal haar vind’.
Hy lees die twee berigte, voel die trots, maar ook ʼn ongelooflike hartseer soos nog nooit tevore nie, ‘Top Mediese student aan die Universiteit van Pretoria, een van die jongste gekwalifiseerde dokters’, en ‘Jongste lid van die Gautengse Philharmoniese Orkes, en een van die top violiste ter wêreld vir haar ouderdom’, en hy huil sy hartseer uit op sy arms.




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed