Jongste aktiwiteit:

Waar liefde is, is lewe

Mahatma Ghandi het geskryf, “Where there is love there is life.”

Wys my die mens wat sonder liefde WIL lewe en ek wys jou ’n leuenaar. Niemand, nie eens die grootste hardekwas, grootbek-lawaaimaker wil doelbewus ’n lewe sonder liefde hê nie. Almal vra tog na deernis en omgee, al is dit hoe onopsigtelik. Boonop is die grootste moeilikheidmakers dikwels diegene wat die meeste liefde vra want selfs negatiewe aandag is beter as geen aandag!

In 1938 het die Harvard Universiteit navorsing begin doen deur 724 vrywilligers in diepte oor ‘n tydperk van vele dekades te monitor om te bepaal wat die deelnemers gelukkig maak. Alles is in ag geneem – fisiese sowel as geestelike eienskappe, IK en die deelnemers se sosiale interaksies. ’n Boek, Triumphs of Experience, geskryf deur George E. Vaillant, is in 2012 gepubliseer en die resultaat van die studie was dat rykdom, roem of hoeveel tyd wat die persoon by die werk deurbring hoogstens ’n tydelike gevoel van geluk verskaf. Ware, standhoudende geluk is ’n gevoel wat nie van eksterne faktore verkry kan word nie, maar is eerder ’’n brose plantjie wat jy in jou hart plant en met groot deernis koester totdat dit die aanslae van die lewe kan weerstaan.

Liefde (of die gebrek daaraan) affekteer ons nie net ons emosioneel en geestelik nie, maar ook fisies. Tydens die vlaag van verliefdheid “ly” ons aan ’n vinnige hartklop, vlinders in die maag, vergrote pupille, swetende handpalms, die drang om heeltyd aan die ander persoon te raak en so meer. Die intieme en fisieke vertoon van liefde verlaag bloeddruk, verminder stres, verbeter slaap en jy het ’n groter weerstand teen siektes. Wanneer ons gelukkig voel, hanteer ons ook ander verhoudings anders – beter eintlik. Ons tree “sagter” op en het meer geduld. Ons lewe langer en het minder psigiatriese probleme. Om noue bande en goeie verhoudings met ander mense te hê verhoog ons gevoel van “om te behoort”. In kort, ons voel gelukkig.

Ongelukkig blyk dit ook dat ons tans in ’n tyd leef waarin noue bande met ander mense nie ernstig opgeneem word nie. Die resultaat is dan ook dat ons konstant met verhoogde stresvlakke sukkel, groter geneigdheid het om ’n afhanklikheidsprobleem te ontwikkel en dat die selfdood getalle sonder keer net aanhou styg. Inplaas daarvan om eensaamheid en isolasie aan te spreek, skryf die medici alte vinnig ’n voorskrif uit en die probleem word nooit werklik aangespreek nie. Die simptome van ’n liefdelose of leë lewe word dan alleenlik tydelik met medikasie verlig. Studies het ook getoon dat mense wat eensaam is korter leef en oor die algemeen meer gesondheidsprobleme ervaar. Hul lewensuitkyk is ook aansienlik donkerder en meer negatief as hul gelukkige medemens s’n.

Liefde kom egter in vele vorms voor en nie net deur romanse nie. Familie en vriendskapsverhoudings is net so belangrik wanneer dit by ons gesondheid kom. Die positiewe ondersteuning van ’n groter groep mense kan jou selfvertroue ’n geweldige hupstoot gee en kan selfs help dat jy ’n veiliger leefwyse bo ’n riskante een verkies. Dit verminder angstigheid, bekommernis en kan selfs die ontstaan van depressie en ander psigiese siektes voorkom. Tog kan ons nie nou tot die gevolgtrekking kom dat alle depressielyers ’n tekort aan liefde ondervind nie.

Wanneer ’n persoon gekoester voel, skei sy brein twee hormone af : dopamien en oxytocin. Hierdie chemiese stowwe veroorsaak dat jy lekker voel en jou liggaam vra vir nog meer daarvan. Oxytocin is ’n hormoon wat help dat twee persone aanklank by mekaar kan vind en dit verhoog intimiteit. Hierdie hormoon word ook vrygestel wanneer jy met jou geliefde troeteldier speel. Dopamien word afgeskei wanneer jy iets geniet, of jy nou fisies deelneem of net deur na iets mooi te kyk. Ongelukkig word hierdie stof ook afgeskei wanneer jy ’n afhanklikheidsprobleem het. Dit sit jou kop tydelik in die wolke en jy wil graag meer daarvan voel. Daarom is dit dan ook die rede waarom verslawing ’n baie moeilike ding is om van ontslae te raak.

Maar liefde kan ook seermaak. Wanneer daardie eerste tydperk van verliefdheid oorwaai en die hormone in die brein na normaal begin terugkeer, kan ons gesondheid bietjie onder stremming kom. ’n Siekte soos Broken Heart Syndrome is nie net ’n lawwe uitdrukking vir wanneer iemand diep hartseer beleef nie, maar dit is ’n werklikheid. Hierdie toestand word ook Verhoogde Stres Kardiomyopatie genoem waar die hart tydelik vergroot en nie genoeg bloedtoevoer deurlaat nie. Dit is ’n ernstige kondisie en kan tot permanente hartprobleme en selfs die dood lei. So ’n toestand kom dikwels voor na egskeiding, ’n ernstige besering, die dood van ’n geliefde of gedurende ’n tyd van groot stres.

Die goeie nuus is egter dat selfs al ervaar mens intense hartseer of verlies, jou hart en emosies wel weer KAN herstel. (Nie almal WIL herstel nie.) Ongeag geslag, ouderdom, ras, geloof, ens., kom liefde in alle vorme regdeur jou lewe voor. Dit is nie iets wat slegs vir sekere persone of sekere ouderdomme beskore is nie. Met tyd, bietjie self-ondersoek en om oop te wees vir nuwe ervarings, is die kanse goed dat jy wel weer vlinders in jou maag sal voel terwyl jy diep in jou metgesel se oë staar.

Vyf dinge wat jy kan doen om jouself meer gelukkig te laat voel :
Spandeer kwaliteit-tyd saam met vriende en familie.
Gee jou volle aandag terwyl julle bymekaar kuier en sit jou selfoon vir ’n wyle neer. Die wêreld gaan nie ophou draai as jy nie onmiddellik op elke inkomende boodskap of oproep reageer nie.
Luister en probeer om met nie-veroordelende aandag ten volle teenwoordig te wees.
Gee die mense ook geleentheid om na jou te luister. Vertel van jou wedervaringe en hoe jy voel. Wees eerlik en opreg.
Identifiseer ongesonde verhoudings. Indien die probleem nie uitgewerk kan word nie, is dit ongelukkig beter om kontak te vermy voordat jou gesondheid daaronder begin ly.

https://www.canopyhealth.com/en/members/articles/how-does-love-affect-our-physical-health.html#:~:text=Love%20Promotes%20Emotional%20and%20Mental,%2C%20and%20improved%20self%2Dconfidence.
https://www.mentalhealth.org.uk/publications/relationships-21st-century-forgotten-foundation-mental-health-and-wellbeing




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed