Jongste aktiwiteit:

Waar pas skooldrag by die 21e eeu in?

(Woordtelling 1054)

 

ʼn Skooluniform is ʼn eenvormige stel klere wat deur ʼn bepaalde groep skoolgaande leerlinge gedra word en verskeie lande van regoor die wêreld maak hiervan gebruik. Dit word gewoonlik gebruik om die eenvormige beeld van ʼn bepaalde skool uit te dra.

Die dilemma rakende skooluniforms is egter reeds verskeie dekades oud. Van die vroegste opgetekende klagtes in verband met die kostes van skooldrag, dateer uit die jare 1950’s. Ons staan nou in die jaar 2024, so waarom is dit nog steeds ʼn onderwerp wat jaar na jaar opduik, en waarom is daar nog steeds nie ʼn goeie, werkbare oplossing nie? Die maak en verkoop van skooluniforms is egter ʼn winsgewende besigheid en die verskaffers is nie te gretig om van hul beheer en inkomste afstand te doen nie.

Spesifiek in Suid-Afrika is dit nie soseer die vraag of kinders skoolklere moet dra of nie, maar dit koste daaraan verbonde. ʼn Kind het selde slegs een stel skoolklere, so dit is iets wat baie vinnig ʼn groot las op die ouer se beursie kan plaas. Sonder die insette van die ouers sluit die skool dikwels ʼn kontrak met ʼn spesifieke vervaardigers en die ouers moet teen wil en dank daarvoor opdok, of hulle dit kan bekostig of nie. Dikwels is dit die meer gegoede ouers wat op die skoolraad dien en die septer stilletjies in die agtergrond swaai.

Reeds in 2006 word die Nasionale Riglyne vir Skooluniforms vir die eerste keer in die Staatskoerant gepubliseer. Omdat die aankope van skoolklere bydra tot die ouers se finansiële las, het die Departement van Onderwys dan ook in 2015 die Nasionale Riglyne vir Skooluniforms uitgevaardig om die gebruik van ʼn enkele verskaffer te ontmoedig. Hierdie teen-mededingende riglyne is in plek gestel sodat ouers kan kies waar hulle hul kinders se skoolklere wil koop en om kostes te bespaar. Ongelukkig is dit dan ook só dat baie skole nog steeds eksklusiewe kontrakte met slegs een of twee verskaffers aangaan, ongeag die nasionale riglyke en pleidooie wat oor dekades strek. ʼn Enkele, en eenvoudige wit skoolhemp met die skool se wapen op die sak, kan ‘n paar honderd rand beloop. Generiese skoolklere – grys broek en wit hemp – is aansienlik goedkoper en kan by enige kettingwinkel aangekoop word. Die probleem is egter dat die meer gegoede skole meer eksklusiewe klere wil hê, en terselfdertyd is die kwaliteit ook beter. Maar wat help hierdie eksklusiwiteit wanneer die ouer dit nie kan bekostig nie?

Is dit vandag nog steeds nodig om voor te skryf wat ander moet aantrek? Watter skooltas gebruik mag word en selfs watter onderklere die dogters mag dra? Reëls vir eenvormigheid mag nodig wees, maar nie tot ʼn mate waarin dit onredelik en onbuigsaam word nie.

Die voordele van uniforms:

  • Dit lyk netjies.
  • ʼn Pligsgetroue leerling behoort nie deur sy klere beïnvloed te word nie.
  • Jou skooldrag identifiseer tot watter skool jy behoort. Slegte gedrag plaas onmiddellik aandag op daardie skool.
  • Of eenvormig te lyk skep nie net ʼn samehorige gevoel van trots nie, maar daar word ook groter dissipline onder die leerlinge ervaar.
  • Dit is maklik om iemand te identifiseer wat nie op die skoolterrein hoort nie.
  • Skoolklere word gesien as ʼn positiewe manier om skoolkinders te identifiseer en help om dissipline en veiligheid in skole te bevorder. Dit verminder groepsdruk en keer diefstal van duur klere.
  • Groepsdruk verminder en klasseverskille is minder sigbaar. Omdat almal dieselfde lyk sal ʼn kind wat uit ʼn minder gegoede huis kom, minder druk ervaar om dieselfde as haar vriendin te lyk wat ontwerpersklere kan bekostig. Kinders se selfbeeld is nog baie broos en kan maklik die teiken word van boelie gedrag indien hy of sy “anders” lyk.
  • ʼn Uniform stel almal gelyk.
  • Niemand hoef ure lank te wonder wat sy vandag sal aantrek nie.
  • Kinders gee meer aandag aan hul skoolwerk as om hul oor die nuutste modes te bekommer.
  • Kinders kan in slordige of selfs geskeurde klere by die skool opdaag.
  • “Gewone” klere is nie noodwendig meer bekostigbaar as skooldrag nie, al kan dit vir meer geleenthede gedra word.
  • Daar is niks wat jou so vinnig laat uitstaan as swak kwaliteit klere of slegs ‘n paar geskikte uitrustings nie. Die eenvormigheid van ʼn uniform is dus ʼn seën omdat almal elke dag dieselfde lyk.

Die nadele van uniforms:

  • Kinders kla maklik dat skooluniforms hul individualiteit vernietig, tog is daar meer as genoeg tyd na skool om jou uniekheid deur jou kleredrag uit te leef.
  • Sommige leerlinge voel ongemaklik in die dra van eenvormige klere en en sal meer gemaklik wees in klere van hul keuse.
  • Skooluniforms beperk ʼn kind se vryheid van keuse.
  • Kinders wat skoolklere dra het nie noodwendig beter maniere nie. Dit help hulle ook nie noodwendig om hulself beter in die klas te gedra of beter te konsentreer nie.
  • Die bekostigbaarheid van uniforms is dekades reeds ʼn onderwerp van bespreking. Tesame met die skoolfonds kan die aankoop van ʼn skooluniform ʼn aansienlike duik in die ouer se beursie maak en vir sommige raak dit al hoe meer onbekostigbaar.
  • Daar is baie min tot geen mededinging tussen verskaffers om hul produk teen die beste prys te verkoop nie. Wanneer ʼn verskaffer die alleenreg het op ʼn spesifieke skool se skooldrag, kan hy amper enige prys vra.

Idees om uniforms meer gemaklik en bekostigbaar te maak:

  • ʼn Grys of khaki-kleurige broek wat beide seuns en meisies kan dra en ʼn gebreide hemp. ʼn Grys of khaki-kleurige romp of jurk vir die dogters, indien hulle ʼn rok sou verkies.
  • ʼn Das waarop die skoolwapen gedruk is, of in die skool se kleure om onderskeid te tref tussen verskillende skole.
  • ʼn Effekleurige trui en windbreker baadjie vir die winter en sportbaadjie slegs as ʼn opsionele item vir hoërskool leerders.
  • Effekleurige grys skoolkouse.
  • Finansiële hulp aan ouers wat nie skooldrag kan bekostig nie.
  • Buitensporige pryse en die beperking om skooldrag slegs by enkele, uitgesoekte winkels aan te koop, moet by die Raad van Mededinging aangemeld word.
  • Studente wat spesifieke kledingstukke dra a.g.v. hul godsdienstige oortuiging, moet toegelaat word om dit te doen.

Dit is nou tyd om vir eens en vir altyd hierdie kwessie uit te stryk en ʼn goeie oplossing te vind. Mag hierdie dekade die een wees waarop ons eendag sal kan terugkyk en dankie kan sê dat die ouers nie opgegee het om vir meer mededingende pryse te baklei nie.

https://maroelamedia.co.za/leefstyl/ouerskap/verbruikersake-ouers-moet-self-besluit-oor-skoolklere/

https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/prys-van-skoolklere-gee-ouers-steeds-grys-hare/

 

 




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Cornien het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Anze het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Tearlach het ‘n nuwe publikasie gemaak