
Wat was. Wat is. Wat gaan wees. (1187 woorde)
Kerneels het die folio papier opgefrommel en omsingel met ‘n gebalde vuis. Vir ‘n stuk papier was dit baie swaar. Bagasie. Foute. Spyt. Hoe langer hy daaroor gedink het, hoe swaarder het dit geword. Hy het die papierbal so ver as wat papier toelaat, van hom af gegooi. Hy het dit agterna gekyk. Die opgefrommelde papier het terug gestaar. Asof dit Kerneels getart het.
Dit het selfvoldaan gekoggel, “Wat help dít jou nou?”.
Die swaar van die vervloekte papier het in sy hand agtergebly, en deur sy hele lyf gevloei en sy wese gevul, totdat hy nie meer regop kon bly nie. Kerneels het verslae neergesak met sy rug teen die muur. Hy’t sy kop laat sak. Verslaan. Hy het sy oë toegemaak. Dalk om die trane te keer. Dalk om net ‘n oomblik van die wêreld, van dié oomblik af te ontsnap. Maar in sy geestesoog het die stuk papier by hom gespook. Swart letters wat hom verdoem het. Hy het sy HPCSA eksamen – die mediese raad se eksamen – gedruip. Vir die tweede keer. As jy nie HPCSA eksamen deurkom nie, kan jy nie ‘n internskap by ‘n hospitaal doen nie. Sonder ‘n internskap kan jy nie ‘n mediese dokter word nie. As jy nie ‘n dokter kan word nie…is jou drome in skerwe.
“Maar hoe? Hoekom?” Kerneels het sy oë weer oopgemaak. Frustrasie en moedeloosheid het posgevat en bly klou.
Die bal papier het venynig gegryns. “Onthou die aande wat jy saam jou pelle gaan suip het? Onthou jy toe jy eerder rekenaarspeletjies gespeel het, in stede daarvan om ‘n handboek toe lees? Een na die ander reeks op Netflix gekyk. Pret nóú! Leer is more se probleem. Maar more is te laat. Altyd te laat. Net soos spyt.”
“Dis waar. Maar dit was laas jaar. Nie hierdie jaar nie! Ek het geleer uit my foute. Hierdie jaar het ek alles gegee. Dae en nagte om geleer en hersiening gedoen en dan weer hersiening gedoen.”
“Hoe kan ‘n stuk papier jou loopbaan, drome, toekoms vernietig?” Hy het sy kop stadig geskud. “Nee, dis nie die stuk papier nie. Dis ‘n versameling van verkeerde besluite. Oomblikke waar ja of nee ‘n verskil gemaak het. Of dalk…dalk is ek maar net dom. ‘n Onnosele sukkelaar wat vir ‘n oomblik gedink het ek is goed genoeg om ‘n dokter te kon wees.”
Kerneels se hele toekoms het in duie gestort. Die wêreld om hom het grys geword. Die kleure het verdwyn asof dit nog nooit bestaan het nie – asof geel, groen, blou, rooi blote illusies was.
Daar was dosyne mense wat verby Kerneels gestap het. Hulle het almal nog hoop, drome en toekomste gehad. Maar hy was alleen. Onsigbaar. Met niks.
Kerneels raak skielik bewus van ‘n ou man wat langs hom op die grond sit. Enige iemand anders sou verbaas gewees het, of selfs opgestaan of geretireer het. Maar vir Kerneels het niks saakgemaak nie. Niks. Tog het hy nuuskierig in die ou man se rigting gekyk. Daar was iets bekend aan die man. Die man se gesig was ingekleur met plooie – elkeen ‘n storie van kommer se fronse, maar ook van toe-oog lag. En sy oë… die blou oë was nog jonk. Vol avontuur, hoop en lewenslustigheid. Die oë het gestaar na die bal papier, wat nog steeds so ent weg gelê het. Net nog ‘n papier, maar met meer teleurstelling as wat ‘n stuk papier ooit moet wys.
“Dit voel nogal soos die einde van die wêreld,” sê die ou man skielik. Sy stem onbeskaamd, of dalk opsetlik, gevul met simpatie. Of was dit empatie?
Kerneels het net instemmend sy kop geknik en saam gestaar na die papier.
Na ‘n lang stilte gee die krake mee, en die dam wat Kerneels se hoop en drome gehou het, breek. Trane. Hartseer. Moedeloosheid. Hy huil soos ‘n baba. Die ou man sit sy arm om Kerneels se skouers. Kerneels laat dit toe. Hy was eintlik dankbaar dat die ou man dit gedoen het. Hy het toegelaat dat die man, soos ‘n boesemvriend, sy seer deel. Dit was natuurlik. Alhoewel die ou man ‘n totale vreemdeling was, het Kerneels hom al ‘n leeftyd geken.
Toe daar nie meer trane oor is nie, sê-fluister Kerneels – meer vir homself as vir die ou man, “Eendag gaan ek terugkyk na hierdie oomblik toe. My toekoms-self gaan my haat. Hy gaan my haat vir my verkeerde besluite. My toekoms-self gaan my haat vir ‘n loopbaan, en ‘n toekoms, wat geruïneer is. Ek haat myself nou. Ek kan myself net indink hoe bitter ek eendag gaan wees. Vol selfveragting. Spyt…” Kerneels se stem was vol aanstoot, asof hy gepraat het van walglike ekskresie.
Die ou man het bly staar na die papier, en asof hy lank daaroor moes dink, uiteindelik begin praat. “Ek is oud. Ek het baie om oor te dink. Oor alles wat die jong-ek gedoen het. Al die besluite wat die jong-ek gemaak het. Dalk verkeerde besluite. Of besluite wat verkeerd gevoel het in daai oomblik.” Die ou man het geglimlag, asof ‘n goeie herinnering sy gedagtes kom verras het. Die lagplooie in die hoeke van sy oë het nog so bietjie dieper, of mooier, geword.
“Maar, dit kan ek jou met alle eerlikheid vertel. Jou toekoms-self kyk terug na jou verlede-self, jou jong-self, met gemengde gevoelens. Sentiment gevul met hartseer en liefde en deernis. Jou toekoms-self weet hoe hard jy probeer het en hoe moeilik dit was. Jou toekoms-self wens hy kan jou ‘n drukkie gee en vir jou sê om net aan te hou, deur te druk en jou kop omhoog te hou. Jou toekoms-self wens hy kan jou die pyn spaar wat die selfhaat bring. Hy weet dat jy die beste probeer wat jy kan. Alles en selfs meer gee. Jou toekoms-self is nie kwaad nie. Daar is geen haat nie. Hy vergewe jou en wil graag hê jy moet mooi na jouself kyk. Leef. Besluite maak. Foute maak. Verstaan. Jy is soveel meer as jou foute. Ons leer uit mislukking uit, nie uit sukses nie.”
Die ou man laat die woorde in die lug hang. Dan staan hy op, vinnig en flink asof baie jare nie ‘n tol geëis het op die ou bene nie.
Hy loop tot by die gehate bal papier. Vir ‘n oomblik lyk dit asof die papier probeer vlug, maar die ou man raap dit vinnig op. Hy kyk Kerneels in die oë, deurdringend tot in sy siel, terwyl hy die papier voor hom uithou.
“Dis net ‘n spoedlokval. Jou reis hou nie op net omdat jy gevang is in ‘n spoedlokval nie. Jy vergewe jouself vir jou fout, en jy pak die reis weer aan. Om vorentoe te kan gaan, moet jy dit wat agter jou is laat los.”
‘n Groot groep studente stap babbelend tussendeur Kerneels en die ou man. Toe hulle verby is, is die ou man weg.
Kerneels weet nie hoe dit gebeur het nie, maar dit het gebeur. Hy besef waar hy die ou man vandaan ken. Die blou oë is eintlik onmiskenbaar. Hy sien dit tog elke dag in die spieëlbeeld wat terugkyk.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die September 2022 Snelheids projek