Jongste aktiwiteit:

Winkeltjies om oor huis toe te skryf

(woordtelling 1717)

So byna verstik ek aan my graanvlokkies toe die nuus breek dat daar ʼn moontlike R3 prysverhoging in die petrolprys gaan wees. Dit voel asof die nuusberig van iewers baie ver af aangesweef kom. My ore sing skielik te hard en terwyl ek en Hubby met groot oë na mekaar sit en staar, besluit ons daar en dan dat van uitstel ook afstel kom, en dis nou of nooit.

Dis reeds donkiejare vandat ek die eerste keer moes hoor hoe Hubby droom om eendag deur die land te reis en al daardie piepklein dorpies te besoek waar daar net een stopstraat en ʼn maer hoender is. In my gedagtes is klein dorpies ʼn piepklein spikkeltjie op die landkaart, een stopstraat en heel waarskynlik net twee twyfelagtige geskraapte paaie. As stadsjapie kan ek seker maar erken dat dit my werklik bang maak want die anonimiteit van die stad pas my immers heel goed.

Iewers in my agterkop het ek die idee dat klein-dorpie-mense te min het om te doen en te veel tyd spandeer om die bure se doen en late te bekyk – en dit dan met kleur en geur oor te vertel. So het my liewe skoonsuster ʼn nuwe rusbank gekoop en voor die ding nog sy staan in die sitkamer gekry het, was buurvrou al klaar daar om ʼn opinie te lug.

Maar dit was nou of nooit. Die petrolprys gaan nie vinnig ophou styg nie en as ons wil gaan kyk hoe ander mense lewe, beter ons haastig lewe in ons uitgedorde geraamtes kry.

Ons kom ooreen om by ELKE liewe padstal te stop en die plaaslike verkopers en kunstenaars te ondersteun. Gelukkig maak Hubby se swakheid vir konfyt en tuisgebakte koekies die inkopies darem effens makliker. Immers werk die mense hard om hul produkte op die rak te kry en uit waardering sal ons hulle op ons beskeie manier ondersteun. Maar niemand het ons gesê dat tussen hiér en dáár ten minste ʼn honderd padstalletjies soos wafferse soldate geplant staan nie.

Ons reis op die R62 begin douvoordag in alle erns. Soms is die dorpies so klein, dat indien daar nie ʼn padstal was nie, ons soos ʼn laag-vlieënde vuurpyl deur die dorp kon skiet. By gebrek aan derduisende inwoners en indrukwekkende winkels, bied hulle wel gasvryheid in oorvloed aan. Hulle doen nog moeite om bietjie te gesels en koffie aan te bied wat mens se oë laat toeknyp van pure lekkerkry. Die geur van kerrie pasteie wink en veroorsaak dat ons al agter ons neuse aanloop, al is dit nog lank nie etenstyd nie. Hubby hou van etenstyd op spesifieke ure van die dag en enigiets buite daardie uur is “nie nou tyd nie”. Maar waarom is 11uur nie goed genoeg vir middagete nie, veral as jou mond water net deur die geur daarvan!

In Oudtshoorn span ons vir ons eerste nag uit. Heerlik rustig en die geroep van die donkie is musiek in my ore. Die feit dat die toilet en die slaapkamer alleenlik met ʼn effense gordyntjie geskei word is effens uhm, grillerig, maar dis skoon. Om moet nie heeltemal in pessimisme te verval nie, kyk ons maar eerder die silwer randjie om die donker wolkie raak. In die stort moet mens jou danspassies ken wanneer die heerlike stroom water ewe skielik na yskoud verander, en pas na jy heeltemal wakker geskrik het, is dit skielik weer kokend. Mens kan sommer sien dat die huismense nog nooit in hul eie gastehuisie oorgebly het nie, want dan sou hulle geweet het dat die spieël ook vir jou gesigte trek wanneer jy daarin kyk. Seker om jou te koggel na daai verfrissende stort.

Waarom Uniondale spesifiek so ʼn groot indruk gemaak het, kan ek nou nie juis sê nie. Dit mag dalk al die spookstories wees, of die tannie by die winkel se duidelike gebrek aan valstande. Miskien is dit omdat die kerk, polisiestasie én begrafnisondernemer knus teenoor mekaar lê. Die marmelade is ongelukkig ʼn groot teleurstelling, want nie net is die stroop so dik en taai dat mens dit kan gebruik om brommers mee te vang nie, die lemoenskil is so hard dat ek in my gedagtes met ʼn goed gemikte korrel en n stukkie skil, ʼn lieflike karoo skapie in sy vier spore kan laat neersak. Net jammer die kettie is nie ingepak nie. Maar miskien is die probleem eerder dat dit my te veel herinner aan my eie gebrekkige kombuisvaardighede. Ons besluit dat ons stadsmaniere ons ongeskik en neus-optrekkerig maak, en ek skuif die potjie konfyt saggies opsy. Mens wil ook darem nie jou tande se blink stopsels uittrek en per ongeluk insluk nie.

Intussen lê die Karoo oop en wyd en al is dit winter, is die gras steeds groen met blou-grys bossies tussen-in. Die klipperige berge en bergpasse is asemrowend mooi. By Doornkraal leer ons dat ons water kan spaar deur wyn te drink. Ek verkyk my aan die gekleurde vere stowwers, die verskillende tipes sout en nog meer soorte konfyt. Daar is iets vir almal en die varsgebakte roosterkoek is uit die boonste rakke. Die moderne puttoilet en outydse wasskottel by Bella de Karoo is letterlik iets uit ʼn ander wêreld. Frikkie se Gat-plaas stal is net so indrukwekkend, maar dis Ronnie’s Sex Shop wat ons behoorlik na ons asem laat snak. Gekke en dwase skryf mos op mure en glase, dan nie? Hier is die mure so vol geskryf dat daar nie ʼn oop kolletjie is nie. Dit lyk wel asof die mure elke paar jaar geverf word want die datums reik darem nie te ver terug in die verlede nie. Honderde bra’s hang van die plafon af en ek kan nie help om te wonder of die vroumense dit sommer op die plek uitgetrek en oorhandig het nie. As ek ook moet oordeel oor die waatlemoen-groottes wat daar hang, moet party liefs nie sonder hul onderklere rondloop nie.

Mens kan sien dat die herfs hierdie kontrei nou reeds mooi onder sy geel-bruin kombers toegetrek het. Die landerye van vrugtebome, getooi in ‘n koeler herfs jas van geel en rooi, is beeldskoon. Natuurlik laai ons ʼn paar kilogram droë vrugte en neute in ons mandjie. Wat is dan lekkerder as vrugte uit die boord, al is dit gedroog? Mens ry bloot net nie deur Ceres en Montague en koop nie vrugte nie! In Rome maak jy soos die Romeine en as jy jouself in die land van vrugte bevind, eet jy vrugte!

Iewers tussen hier en daar klim ek op die rug van ʼn metaal draak en ons gly deur die blou hemelruim tot waar die wolke opbreek en stilweg verdamp. Wat ʼn ondervinding! En watter wonderlike talent van die kunstenaar om uit skroot materiaal so ʼn skepping te kan maak. Nooit sal ek weer met dieselfde belangelose oë na drake en blik-diere kyk nie.

Dit gebeur toe natuurlik ook so dat ons op ʼn Saterdag deur Tulbach reis. Die dorp se strate is oorspoel met plaaswerkers en ons eerste gedagte is dat dit ʼn opstand moet wees. Dit moet wees, want in Gauteng beteken so ʼn samedromming dat daar moeilikheid is – pas voordat die knopkieries en vuurhoutjies in die lug gestoot word! Angstig kyk ons rond, maar die massa vorm netjiese rye by die bank en supermark se ingange. Ek slaak ʼn sug van verligting want ja, dit is natuurlik die einde van die maand en Saterdag is mos tradisioneel ‘n inkopie dag.

Tulbach se ryk aan geskiedenis sorg dat ons eers bietjie tyd by die museum spandeer. Daar leer ons van die reuse aardskudding op 29 September 1969. 6.1 op die Richterskaal en het tussen 15 en 30 sekondes geduur. Baie mense het dan ook gedink dat die wederkoms aangebreek het. So ʼn reuse skudding is natuurlik redelik ongewoon hier aan die onderpunt van Afrika en ons geboue is bloot net nie bestand teen sulke hardhandige behandeling nie. Die ou huise en ander geskiedkundige geboue word uiteindelik herstel en selfs herbou. By die begraafplaas staan ons eers stil, hand op die hart, en spandeer ʼn paar stil oomblikke om die lewens te oordink van diegene wat ons vooruit gegaan het. Die oudste grafsteen is gemerk 1802. Dit bly vir my ʼn besonderse ontdekking om sulke ou stene te sien en verlustig my in die kunswerke wat sommige grafte versier en ook daardie’ s met net ʼn eenvoudige kruisie. Geen datum, geen naam. Dalk was dit ʼn slaaf en slawe was mos nie belangrik genoeg om aan erkenning te gee nie.

Maar wat is die Boland tog sonder waterblommetjies en wingerde? Dit maak ʼn verlange in my wakker waarvoor ek nie ʼn gemaklike plek kan vind nie. Weereens is dit tyd om uit te kamp en hierdie keer vind ons ʼn plekkie wat mens eers laat giggel en dan moedeloos laat. Die prop pas nie in die wasbak nie, maar ons moet asseblief water spaar. Daar is nie warm water nie, dus sal ons die minimum gebruik want ‘n koue stort op ʼn koue, reënerige dag was nog nooit my idee van lekker nie. Om die toilet te gebruik, moet mens eers gaan sit voordat jy die deur kan toetrek en die deur moet ook eers weer oopgestoot word voordat jy kan opstaan. Weereens, woon die mense nie vir ‘n dag of twee in hul eie klein gastehuisie voordat hulle besluit om dit uit te huur nie??

Bettiesbaai is so rustig as wat kan kom, want selfs die winkelier wys ons weg toe ons ʼn paar minute voor tien ʼn roomys wil koop. Sy vee nog vloer en kan onder geen omstandighede vyf minute vroeër oopmaak nie. Dit is darem verregaande om te verwag dat sy nou al ‘n roomys aan iemand moet verkoop! Genadiglik maak die boekwinkel se oordadige fonds op vir die teleurstelling en verwarring omdat die plekke nie voor tienuur besigheid doen nie. Ek sal maar my roomys-lus moet hou vir die volgende dorp.

So gly ons deur Hermanus en sy interessante kunswerke, oor Gansbaai en Swellendam se rollende groen heuwels. Kleinbrak-, Grootbrak en allerhande ander brakke tussenin. Dit is ʼn belewenis. By Heroldsbaai vra Hubby of ek Voëlklip wil besoek. Jy weet mos, daardie plek waar die motors gereeld en doelbewus oor die rand van die afgrond ry. “Nee wat, dankie.” Ek sal verkies dat ek met my tas en kussing afgelaai word en dan kan hy maar alleen gaan kyk. As passasier het ek absoluut geen begeerte om hierheen te gaan nie. Die uitsig mag dalk mooi wees, maar die tragiese stories rondom hierdie plek laat my onwillekeurig ril. Dit is soos om die gaskamers van Hitler te besoek.

Amper uit en tuis, maar ons maak eers ʼn draai by Plettenbergbaai se Monkey- en Bird Park. Dit is darem nou nie aldag wat jou gids soos ʼn wafferse apie hoog in die boom kan klim nie! Net ʼn raps meer as 1000km verder, en ʼn paar lam boude, weet ons dat ons eendag weer hierdie roete moet ry. Volgende keer dalk net ʼn bietjie stadiger, en ja, ons sal weer by elke padstal ietsie koop. Eendag, wanneer die petrol prys nie meer sy tande wys nie.




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

3 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed