
WINTER SE DOODSKLEED / Junie bydrae⁹
(Junie Opdrag)
300 woorde
Seisoene sirkel om die mens tussen maande op ‘n kalender. Ons staan verbaas voor die natuur waarvan ons deel is. Elke seisoen bring sy eie bekoring asook vernuwing. So ook die mens in gedagtes en handelinge. Die winter is die maand waar koue ryp vingers alles aanraak. Water stol vriesend in ‘n voëlbak selfs die druppels wat waaghalsig hang aan die wasgoeddraad.
Die wind huil en pluk die bome kaal. Die winter skildery lê toegetrek onder ‘n vaal kombers. Koue bring ‘n doodsheid wat alles tot stof laat verkrummel. Netso is die mens. Van stof is ons en tot stof sal ons terugkeer. Ons staan ook naak voor die waarheid van ons lewens en voor God. Dit word ook winter in ons binneste waar niemand anders kan sien nie. Ons hang die grys winters kombers om ons harte as ons verlies ervaar. Selfs as ons totsiens moet sê kruip die winter en alleenheid ongenooid ons binneste in. Winter is ‘n introspeksie tyd in ons reis om die son. Liggaamlik verouder ons en soms word ons gees geknak nes die wind in storms. In ons lewens almanak beleef ons dalk meer winters hier diep binne waar trane en hartseer die son laat wegraak.
Die doodsheid van die winter wat ons beleef is inteenstelling met die winter wat kom lepel lê in ons harte. Die gevoel van moed opgee. Hulpeloosheid wat die woorde stomp in jou hart afbreek. Gedagtes wat skommel in “n donker plek waar lig somtyds wegkruip.
Gevoelens van afskeid, verlies, hulpeloosheid en wanhoop is gevoelens wat ons van vreugde stroop. Daar kom winter tydings in ons lewens wat ons kaal stroop en geskok agterlaat. Selfs dan tussen die doodsheid van ‘n seisoen en ‘n gekrenkte siel is daar altyd die hoop van ‘n splinternuwe seisoen en ‘n nuwe begin asook aanvaarding.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Junie 2023 – Winter projek