Wolf wolf hoe laat is dit?
Ek droom soms van ʼn wêreld sonder tyd….
My enigste onthou van so wêreld was toe pa en die seuns die karavaan en tent klaar opgeslaan het. Dan het my pa sy horlosie afgehaal en gesê. Nou hou ons vakansie en vergeet van tyd.
Die vakansie – son wat sak en ons honger magies het etenstyd betaal. Nie ʼn horlosie wyser nie.
Breakfast was somewhere between ons eerste swem en kwart voor ons-weet-nie. Middag slapies het tydloos geraak. Die enigste alarm was pa se rook sein as hy voor die karavaan vuur opsteek.
Om tydloos wakker te raak was die son se werk. As die tent jou uitbak en die hoogwater branders se sproei op jou wange lê. Taai en tydloos.
En soos ons sekondes minute raak en ons ure dae….. is die enigste tyd vraag wat ontstaan het…. ‘Wie weet watter dag is dit vandag”? Dan sit pa tevrede agteroor op sy kampstoel, terug diep aan sy sigaret en vra: “wat gaan jy doen as jy weet”?
So het my pa tyd by ons weggevat. Ek kon ure op sy skoot sit en kyk hoe hy met sy horlosie-lose arm die koerant deurblaai.
Wanneer ons bruingebrande ma haar geel bikini verruil vir ʼn Jean en haar oranje lipstick …dan weet ons dis tyd vir uiteet.
As pa se stapels doringhout langs die karavaan minder raak en die beskuit blikke leeg begin ons loer na pa se silwer horlosie.
Die karavaan is gehaak en pa se horlosie blink weer om sy arm op die stuurwiel.
Dan sing ek agter in die kar in die middel van die vier afdop neuse: “wolf wolf hoe laat is dit?”
Pa antwoord: “My horlosie het gaan staan…..”
3 Kommentare
-
Kiekies
Applous vir jou!! 'n Uitstekende stukkie werk!!
-
Viooltjie
Hoe glimlag ek nou. Lieflik geskets :-)
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Evelyn van der Merwe
Kostelik gepen.