Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker
Taal waarskuwing*

Titel: Wolraad Woltemade (Silwer)

Deur Seirdna
Datum gepubliseer: 24 Maart 2021 Aantal woorde: 245 125 Kere gelees 7

‘n winterwoes noordwester het daardie dag gewaai
die skip De Jonge Thomas het sy laaste seil gedraai
die golwe was verwoestend die aanskouers was geskok
wat eers ‘n avontuur was word die dood in Tafelbaai

die soldate op die strand kon magteloos net staan
die strome was te sterk om die see in te gaan
en in die vroeë oggendmis deur die branders en die skuim
breek die skip in twee as die waters oor hom slaan

dis te veel vir die bemanning dié waterdood wat dreig
en ‘n skok vir jonge Christiaan toe hy sy pa op Vonk sien ry
‘n goeie boer en vader wie kos vir sy seun wou bring
nou ‘n lewensredder wie die see in moet dring

sonder om te aarsel het hy sy perd se kop geswaai
strandaf gegallop en die deinings ingedraai
hy prewel sy gebede en hy hou sy hande hoog
in ‘n see van verwoesting reageer hy in geloof

so red hy veertien manne twee twee op ‘n slag
en in die agste reddingspoging met hul laaste greintjie krag
verloor man en perd die stryd
in die breking van die dag

dit is ‘n bitter beker wat die noodlot vir hom skink
as hy bibberend in vrees aanskou hoe sy pa en perd verdrink
in ‘n oomblik van verbystering jeens die wreedheid van die see
is die pa held van ‘n jong seun aan die mensdom oorgegee

Wolraad Woltemade het die ewigheid betreë

A Fourie (Seirdna)




TEMAS
3 Kommentaar
  1. Anze

    25 Maart 2021

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Maart 2021 – OOP-projek

  2. Riaan Palmer

    31 Maart 2021

    Dit bly so ‘n hartseer verhaal. Uitstekende weergegee in digvorm!

  3. Seirdna

    20 April 2021

    Dankie Anze en Riaan vir jul kommentaar

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 52
Kommentaar telling: 84

Gebore in Oos Londen; Grootgeword in Steynsburg Noord-Oos Kaap. Getroud  3 seuns, twee kleinseuns en 'n kleindogter. Van kleins af lief vir skryf. Opstelle was my ding en ek was nog altyd versot op die digkuns. Mal oor sport; het van jongs af briewe vir die Springbok rugbyspelers geskryf en hul handtekeninge versamel. Het later self provinsiale rugby vir die destydse Transvaal (Leeus) gespeel en saam met my ou skoolhelde soos Kevin de Klerk op die veld gedraf. Het Dr. Craven ontmoet en in 'n Curriebeker eindstryd gespeel. Dit was ongelooflik. Daar is twee diersoorte wat deel is van my lewe en vorming nl. perde en honde. Perde is sus en honde is so, beide wonderlik in my wese ingegrafeer. Geen gedig kan die perd se grasie en prag, of die hond se liefde en toewyding genoeg vereer nie. Die digkuns trek my soos 'n magneet. Ek wil dig oor alles om en in my, met ritme en rym. Sou hierdie talent my onderskei; wil ek dit aan my Heer toewy en gedigte skryf met 'n kwinkslag ,wat dalk die dissipels laat lag en hopelik miskien eendag in die hemelse biblioteek geag en gelees word.      

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 398 gaste aanlyn

Bydraes – Argief