
Ysland
YSLAND
‘n Duetgedig
Reykjavik ek hou van jou
jou stege en jou brabbeltaal
waar jou warm baddens uit die aarde aai
jou strate see toe loop
teen ‘n oer-oue pas
jou sneeu oor lawarots en
yswind teen my wang
ons is twee reisgenote
en voor ons verder ry
onthou ek
ons is hier weens veertig jaar
en ek
oor ek was en oor ek
ewig mag soek na dit wat ek word.
-Marika-
My reismaat en ek ry
al met ‘n teerstreep op ‘n wit papier
ek wil gaan loop waar die aarde
haar eie bors oopskeur tot op die hart
om die kreetklopping
tussen Þingveller se skreeuwande
te voel
want alle wording is pyn
hoekom is dit dan so mooi?
-Hermien-
Wording baar lewe
waar die binnekrag en pyn
van die oeraard se skoonheid skuil
hoog oor ‘n rotswand majestieus
stort sy die som van haar trane
oorverdowend na benede
en nes jou hart saam wil breek
oor haar hortende smart
glimlag sy skalks ‘n reënboog na jou kant
sodat jy altyd sal onthou
wat die vrug van metamorfose is
Seljalandfoss
Skogafoss
Gulfoss
Die naam van haar lag
haar huil
en haar hoop.
-Marika-
Aan na die geiser
Litli
die kookwater-aar uit die stoorkamer van vuur
die oog van die onderwêreld
ek wil loop op jou water soos na ‘n messias
ek wil staan vir my wordingsdoop
ek wil in jou stomende blik uitskiet
en kort
voor die hemel
terugval
in ‘n dodelike pragfontein.
-Hermien-
Terwyl onder die waad van wit
granietklip geel en bruin
koud lê en wag vir lappies pers
rooi en groen geyste sneeu
skielik in kontras bultend breek
en die arktiese see sy
swart sandkorrels grof
op die skurfte teen
die wit ysrand spoeg
terwyl die dooies
in die kerkhof langs
die rooidakkerk in Vik wag
vir die opstanding uit die dood.
-Marika-
My vier dekades saamstapmaat
wil die grootste gletser loop
Vatnajökull
ons stap in die plooie van haar wysheid in
deur haar windgewaaide spelonke
wat onder die ys kom en gaan
dan terug uit oor daardie witste wit
verby die swartste strand
waar die donker dieptes
uitgekots is uit ‘n brandende keel
fyngemaal deur wind deur tyd deur maling
en laaste na die meer waar ysberge kom om te sterf
Jökulsárlón
om oor te gee aan die smelting van water
hulle wag nie
om op te staan nie
net die rawe dink en onthou
en gaan fluister die mooiword oor.
-Hermien-
©marikavanheerden
(die Þ-simbool is Yslandies en word as ‘t’ uitgespreek en as ‘Th’ geskryf.)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Seirdna
Puik!