Basiese Profiel
Saarki
Ek is ‘n 57-jarige boervrou voorheen uit die Stoffberg-omgewing. Ons het sowat twee jaar gelede na die Boesmanland verhuis, waar ons tans boer met kleinvee. Ek is die afgelope 34 jaar getroud met Charles Pieterse. Uit ons huwelik is twee seuns gebore, Dawie (34) en Beaurain (25). Ek is in 2016 in my eerste dogter “ingetrou” en is daardeur ook die trotse ouma van een amper sewe-jarige kleinseun genaamd CG.
Ek het hoofsaaklik aan die Oos-Rand, in Alberton grootgeword. My grootmenslewe begin in 1985 as ‘n soldaat, synde ‘n soldoedie te George. Die jaar daarna het ek my verpleegopleiding begin by Een Militêre Hospitaal in Voortrekkehoogte. Daar het ek my man ontmoet. Na ons troue vestig ons, ons in die klein dorpie, Roossenekal, waar ons vir dertien jaar, eers op die dorp en later op Uitvlugt, die familieplaas woonagtig was. In dié tyd werk ek as ontvangsdame en kliniese assistent vir verskeie dokters.
Ons verhuis later na Middelburg en daarvandaan na die Groblersdal / Marble Hall-omgewing, waar ek etlike jare die finansies behartig van een van die privaatskole op Groblersdal. Uiteindelik, na vele omswerwinge, kry ons voete ‘n holte in die Boesmanland, waar ons tans woon en boer. Ek het my tot onlangs besig gehou met die ontwerp en maak van kinderklere, my huishouding en skryfwerk, wat die groot passie in my lewe is. Intussen het ek ook die besondere uitdaging van alleen boer terwyl my man in die buiteland werk tot my pligte en plesiere toegevoeg
In Desember 2019 deel ek die eerste keer ‘n skryfstuk met die publiek op Facebook. Die positiewe reaksie daarop het my geïnspireer om tydens die grendelstaat staaltjies uit my lewe op sosiale media te deel en sodoende by te dra om ‘n reeds moeilike situasie vir die mense om my te probeer draagliker maak. Dit het gelei tot my eerste manuskrip, Kort Treetjies, gevolg deur ‘n tweede, Stofpadstories, wat beide uitgegee is deur Malherbe Uitgewers. Ek skryf steeds verhale vir verskeie groepe op Facebook en werk aan my derde manuskrip. Intussen het daar ook die uitdaging van alleen boer terwyl my man dollars in die buiteland verdien, bygekom.
Die dinge wat my lewe die moeite werd maak, is my God, my Lief, my Moskombersie, my Skryf , my Diere en my Lag. Opgesom in twee woorde: Liefde en Humor.