Jongste aktiwiteit:

Kortverhale – Wenke
vir

Kortverhale – Wenke

Skryf ‘n suksesvolle kortverhaal

Ons deel graag ‘n paar wenke vir die skryf van ‘n suksesvolle kortverhaal in hierdie artikel. Hierdie wenke kan as riglyne gebruik word vir jou inskrywing(s).

Wat is ‘n kortverhaal?

‘n Kortverhaal neem gewoonlik die vorm van ‘n kort fiktiewe prosastuk aan. Staaltjies, sprokies, fabels en gelykenisse is familie van die kortverhaal. ‘n Suksesvolle kortverhaal handel nie net oor gebeure nie, maar ook oor karakteronthulling, en openbaar sommige aspekte van die menslike bestaan. ‘n Kortverhaal is meer dramaties as epies (in vergelyking met ‘n roman), en dit speel gewoonlik af in ‘n tydperk van die hoofkarakter se lewe waar dié karakter tot ‘n dieper insig van die lewe kom.

Die lengte van ‘n kortverhaal

Kortverhale wissel gewoonlik van 1 600 tot 20 000 woorde. Skrywers en kritici in die literêre geskiedenis het die lengte van die kortverhaal al bespreek en bevraagteken, die meeste stem egter saam met ‘n minimum van 1 600 en ‘n maksimum van 20 000 woorde. In sy eie bydrae tot die debat, stel Edgar Allen Poe voor dat ‘n kortverhaal 30 minute tot twee ure moet neem om te lees. Uitgewers en organiseerders van skryfkompetisies bepaal gewoonlik die lengte vir hul unieke doeleindes.

Onderwerpe

Kortverhale fokus gewoonlik op ‘n enkele onderwerp of tema. Onderwerpe of temas kan wissel van ‘n alledaagse gebeurtenis tot iets opwindend soos ‘n spookverhaal. ‘n Enkele, maklike intrige is een van die kenmerke van ‘n suksesvolle kortverhaal, en dit help om die ander eienskappe daarvan te vorm.

”In medias res”

Kortverhale vind gewoonlik in ‘n enkele omgewing plaas en begin in medias res, wat in die middel van dinge in Latyn beteken. Oor die algemeen is kortverhale geneig om skielik te begin en te eindig, met min of geen voorafgaande inligting nie en geen groot tydsverloop nie. Aangesien daar slegs een intrige is en die woordlengte beperk is, is daar min ruimte of die behoefte aan die uitgebreide ontwikkelinge wat ons gereeld in romans vind.

Beperkte aantal karakters

As gevolg van die beperkings van die genre, fokus kortverhale gewoonlik op slegs een of enkele karakters. Kortverhale dek gewoonlik kort tydperke, en daarom kan selfs een enkele karakter nooit volledig ontwikkel word nie.

Die vyf elemente van ‘n kortverhaal

Intrige, tyd, gebeure, ruimte en karakters.

Bogenoemde bespreking het reeds aan die eienskappe van die intrige geraak. Die intrige is niks anders as die storielyn nie. Die intrige word gebou en uitgebrei deur vier ander elemente …

Die werking van tyd word in die intrige uitgelig. Die tydsverloop word deur gebeure aangedui. Die tyd in ‘n kortverhaal kan chronologies of achronologies aangedui word. Chronologies: A-gebeurtenis lei tot B-gebeurtenis. Achronologies: B-gebeurtenis vind plaas as gevolg van A-gebeurtenis wat plaasgevind het. Moenie huiwer om die in medias res-beginsel toe te pas nie.

Die gebeure kan gepaard gaan met innerlike of uiterlike konflik. Die belangrike aspekte ten opsigte van die karakter is reeds hierbo bespreek.

Die skrywer kan wonderlike dinge met ruimte in ‘n kortverhaal verrig. Ruimte is die plek/omgewing waarin die intrige afspeel. Dit is ook die tyd en tydperk waarin die gebeure plaasvind. Dink aan ‘n motor. Watter tipe motor is dit? Watter kleur is die motor? Het die motor leersitplekke? Hoe ruik die sitplekke? Is die motor splinternuut of tweedehands?

So skakel al hierdie elemente by mekaar in om ‘n suksesvolle kortverhaal te vorm.

Ander wenke

Waarna kyk beoordelaars wanneer dit by die skryf van ‘n kortverhaalkompetisie kom? Die tegniese punte soos hierbo bespreek, speel natuurlik ‘n rol, maar ander belangrike aspekte soos die korrekte spelling, taalgebruik, sinsbou, lees- en skryftekens, paragraafindeling, die korrekte gebruik van hoofletters en kursiewe teks sal beslis in jou guns tel. Dit is ook belangrik om binne die voorgeskrewe woordlengte te bly.

Daar word ook na kreatiwiteit en oorspronklikheid gekyk. Word jou storie (die intrige en tema) lewendig op papier? Trek die opening van die kortverhaal dadelik die leser se aandag? Het die skrywer daarin geslaag om die leser se aandag te behou? Beskik die kortverhaal oor die nodige emosionele elemente wat by die tema aansluit? Is die kortverhaal verstaanbaar? Dra die skrywer die boodskap op ‘n verstaanbare wyse oor aan die leser? Is die slot uniek en treffend?

BRON: http://kreatio.co.za/kortverhale/ 




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed