Ek het vanoggend wakker geword
Ek het vanoggend wakker geword
Brons
Iemand het eenkeer ‘n groep mense voor ‘n uitdaging gestel en gevra dat hulle vir ‘n hele jaar lank elke dag iets moet opnoem en neerskryf waarvoor hulle dankbaar is, maar nie een dag se dankbaarheidsonderwerp mag iets wees wat alreeds genoem is nie. Met ander woorde 365 verskillende vars dinge om voor dankbaar te wees. Aanvanklik was die opdrag maklik en die gewone goed soos, kos, klere, werk, gesondheid is genoem…. Maar na so ‘n week of twee het party mense al begin rondskarrel op soek na iets om op hulle lysie te kan plaas, iets wat nog nie genoem is nie.
Daardie selfde mense is ook gevra om elke dag iets te noem waaroor hulle nie dankbaar is nie, iets wat hulle negatief beleef en ervaar. Daardie dinge het uitgestroom en niemand het ‘n probleem gehad om 365 negatiewe dinge te vind om te noem en neer te skryf nie.
Hoekom vind ons so maklik negatiewe dinge en dinge om oor te kla, terwyl die lys van dankbaarheid eintlik eindeloos is?
Ek het vanoggend wakker geword.
Vir my is alle rede tot dankbaarheid in hierdie vyf woorde opgesluit en vasgevang. Want dit is nie iets wat moontlik sou wees sonder God se genade nie. Dit is nie vanselfsprekend nie. En dit hang nie van my af nie. As ek lees en leer van die kompleksiteit van die menslike liggaam en die eenduisend en tien dinge wat in my liggaam kan verkeerd gaan, het ek reeds al daardie eenduisend en tien dinge wat nie gebeur het nie, om vandag voor dankbaar te wees. Ek is een van die gelukkiges. Ek het nie diabetes nie, nie bloeddrrukprobleme nie, nie hartprobleme nie, nie kanker nie, geen liggaamlike gestremdhede nie…en…en.
Maar daar is soveel meer opgesluit in hierdie vyf woorde.
Ek het vanoggend wakker geword … in ‘n bed. Maak nie saak of die bed ‘n matras op die grond langs die pad, ‘n hospitaalbed of ‘n koningsbed in ‘n paleis is nie. En wakkerword impliseer ‘n goeie nagrus. Ek was veilig. Ek is geseend.
Dikwels kla ons oor lewenskostes wat so duur geword het. Maar wanneer ek daardie rekening kry, of daardie debietorder wat afgaan, is ek dankbaar dat ek dit wat ek moet betaal wel kon bekom. My duur, of goedkoop, motor voor my deur. My huis, my woonstel, my kamer, my pondok., my TV en rekenaar wat soveel vermaak verskaf…
Iemand het my vandag gegroet, gebel, vir my gebid, my sakkies in die winkel gepak, my geduld beproef, my kwaad gemaak, my op my knieë gehou. As dit nie vir mense was nie, kon ek nie een van die emosies wat daarmee gepaard gegaan het beleef het nie.
As hierdie vyf woorde die dag dalk nie meer gebeur nie, as ek dalk nie moreoggend wakker word nie, het die grootste oomblik van dankbaarheid vir my aangebreek, dankbaar om die ewigheid te betree om vir altyd in die teenwoordigheid te wees van die een wat alle dankbaarheid moontlik maak. Dankbaar dat ek dit gemaak het…Dankbaar dat ek op aarde die stryd kon stry en my taak kon volbring. Dankbaar dat ook my naam opgeteken is in die boek van die lewe.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.