Jongste aktiwiteit:

Gaan speel met jou tone

 

Gaan speel met jou tone

Ek was nog sommer ’n klein kindjie toe ek leer tel het. My eerste ‘somme’ was aan my eie lyf vas: tien vingers, en as hulle opraak, nog tien tone.

Wanneer die oumense wou gesels, moes dié tone ’n ander werk kry. “Gaan speel met jou tone.”

Ek kon toe nie mooi verstaan wat so ’n speletjie behels het nie. Hulle was tog elke dag net daar aan my voete vas. En ek het daaroor gewonder. Grootmense het sulke vreemde dinge gesê.

Iemand lieg soos tien perde skop. In my kop het ek die perde gesien: al tien op ’n ry, besig om ’n allemintige leuen uit iemand uit te skop. Dan was daar die voël in die hand wat beter was as tien in die lug. Ek sou liewer die tien laat vlieg het. ’n Voël in jou hand gaan jou mos tien teen een pik?

En dan die heel bekendste een: as iemand kwaad word, moes hy tot tien tel. Dit het my nogal gepas, want tot daar kon ek nog help tel.

“Bobbejaan tientoon,” het ek dikwels van my ouma Lilly gehoor. Dan het ek dadelik afgekyk. My tone het dan vir my heel ordentlik gelyk. Wat sou Ouma bedoel?

Tien was oral. By die huis in die sêgoed, by die skool in die somme, by die kerk in die gebooie. Dit het geklink of die grootmense met tien alles kon uitwerk: wat jy moes glo, wat jy moes doen en wanneer jy jou mond moes hou.

Ek het gedink ek sou ook eendag só weet.

Nou is ek lankal ouer as tien. Ek kan verder tel as wat my vingers en tone my toelaat, maar ek moet steeds party dae voor begin. Daar is somme wat nie wil klop nie, al doen jy hulle hóé versigtig oor.

Oktober staan tiende op die kalender. Ek kyk na my hande. Nou ’n bietjie meer verrimpeld. Nog dieselfde tien vingers waarmee ek destyds so seker by ’n antwoord uitgekom het.

Nou tik hulle woorde, vee hulle uit en probeer weer.

Maar ek wonder nog steeds waaroor die oumense gepraat het toe ek met my tone moes gaan speel.

Sal ek ooit weet?

“Tien teen een nie …”

©MarleneErasmus
31/10/2026

(368 woorde)

 




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed