Jongste aktiwiteit:

Om te glo maar nie te sien nie

“Ses …, sewe …, agt …, nege …,” tel Ben die vloere af vanuit die reghoekige donker hokkie wat stadig na bo beweeg. Die ou hysbak ruk eers tot stilstand en   “ping” dan dofweg voordat die deure kreunend oopskuif.

Ben gee ‘n tree vorentoe om op die dak uit te klim.

“Waar … is die dak nou heen?” vra hy verward en draai een maal in die rondte. In die plek van die bekende ou gekraakte betondak sien hy ‘n stel splinternuwe trappe. Halfpad na bo verdwyn die dik matte saam met die trappe om ‘n hoek.

“Ek was al honderde kere op die dak” mompel Ben, steek sy kop weer na binne en maak dubbel seker.

“Dit is beslis die negende vloer!” Hy knyp homself. “Ek is vir seker wakker!”

“Daar ís nie ‘n tiende vloer nie!” sê hy vir niemand in besonder nie.

Ben kyk versigtig rond voordat hy die raaiselagtige trappe stadig begin uitklim. Soos gewoonlik tel sy voete elke trap. Tien tot by die landing. Na die draai klim hy nog tien trappe.

Ben kyk in ‘n blink rooi deur vas. Reg in die middel van die deur blink ‘n koperplaatjie:

10

“Is ek nou  Alice in wonderland?” wonder Ben en giggel senuweeagtig. “Dit is darem net te veel toevallighede, sou Pa gesê het.”

Vir ‘n oomblik huiwer Ben oor wat hy volgende moet doen. Hy lig sy arm op, maar klop in die lug terwyl die rooi deur oopswaai.

“Jy is laat!” roep ‘n ou vroutjie met ‘n teelepel-halssnoer en ‘n strooihoed vol blomme uit.

“Waarvoor?” tuimel die woorde onverwags verskrik by Ben se mond uit.

“Om tien te vind.”

“Jy bestaan nie régtig nie, né?  Ek verbeel my dit alles en daarom bestaan jy nie. Dít is ‘n feit.”

“Dan weet ek nou warempel nie hoekom jy al die trappies uitgeklim het nie,” sê die vrou verbaas.

“En tog staan ek hiér,” antwoord Ben huiwerig en kyk na die eienaardige vroutjie.

“Is jy …  seker?” vra sy.

Ben kyk grondwaarts na sy skoene. “Ja, natuurlik. Ek kan sien dat ek hier staan!”

“Uitstekend! Nou wéét jy dat dit ‘n feit is dat jy jou skoene kan sien,” sê die vroutjie. “Noem my Flora. Ek woon op die tiende vloer, vir dié wat nodig het om dit te vind.”

Flora neem sy arm en Ben trap met ‘n groot tree na binne. Swaartekrag laat sy kakebeen vanself na onder afsak.

“Só baie horlosies, skilderye en boeke en plante …, én tuinkabouters!” Ben draai sy kop in alle rigtings. “En hordes teepotte! En kyk …! Duiwe op stokkiesneste bo-op jou boekrakke?” roep Ben verstom uit en kyk na Flora.

“Ja, tien van alles,” sê Flora doodluiters.

“Is jy ‘n heks?” glip dit impulsief uit. Ben dink dadelik dat hy homself wil skop. Hy glo mos net in feite, nes sy pa.

Duisende duiweltjies begin in haar oë dans. “Net op Dinsdae. Jy is gelukkig vandag veilig.”

“Is daar kuikens in die eiers?” wil Ben nuuskierig weet.

“Die duiwe glo so,” antwoord Flora.

Flora loop deur die groot glasdeure na buite waar ranktamaties, vrugtebome, blomme en kruie ywerig tussen die blompotte en tuinkabouters groei.

“Dis awesome!” roep Ben uit en kyk om hom rond.

“Tee?” vra Flora en skink vanuit een van haar teepotte in twee bont teekoppies.

Ben knik, al drink hy nooit tee nie. Sy gedagtes is met iets anders besig.

“Wie is dié wat nodig het om die tiende vloer te vind, Flora?” vra hy dan.

“Soms lyk feite nie soos wat dit regtig is nie. Tien voel so voltooid, né?”

Flora loer oor ‘n brilraam wat soos skoenlappervlerke lyk. Iewers eggo ‘n sagte klingeling in die ligte briesie.

“Die probleem met dinge wat voltooid is, is dat dit die aaklige gewoonte het om weer onvoltooid te raak.”

Ben is vir ‘n oomblik stil en vryf oor sy oë.

“Ek is tien jaar oud en …, en ek weet nie meer of ek ‘n wetenskaplike, soos my pa wil word nie. Hy’t ons gelos … en Flora, moet jy dan nie maar dalk ‘n elfde iets van alles hê nie, net ingeval?” vra Ben met ‘n frons op sy voorkop.

“Ha! Jy begin die idee van tien verstaan,” sê Flora selfvoldaan.

Die klingelgeluid word meer energiek en die plante begin stadig saam wieg.

“Uitgevang, Flora! Jy het net nege plantpotte,” roep Ben triomfantlik uit.

“Tien”

“Nege, ek het hulle twee keer getel!”

“Dan het jy twee keer dieselfde fout gemaak. En dit is ‘n feit soos ‘n koei!” lag Flora.

Ben tel weer.

“Definitief nege!”

Flora wys na ‘n gekraakte teekoppie onder ‘n ranktamatie.

“Dit, my liewe Ben, is ‘n plantpot.”

“Dit is beslis ‘n teekoppie,” skud Ben sy kop.

“En dít,” sê Flora, “bewys hoekom jy nie nou al kan glo in wat jy nie kan sien nie. Neem byvoorbeeld daardie dooie tamatieplant.”

Ben knik. “Ja, hy is dood. Gaan jy hom uittrek?”

“Nog nie,” antwoord Flora, “want hy is nog besig om te besluit wat hy volgende gaan word. Glo my maar, dit is ‘n onsigbare feit.”

“Dit is dom,” antwoord Ben. “Selfs ek kan sien dat hy morsdood is, al ís ek net tien.”

“Tien is ongelukkig ‘n baie eienaardige getal, veral as dit kom by glo, feite en daardie soort van dinge.”

“Ag, dit is net ‘n getal, Flora.”

“Ja, so is jou ouderdom ook. Maar het jy agterkom hoe baie moeilikheid dit vandag al vir jou besorg het?”

“Wat is verkeerd daarmee om tien te wees?”

“Niks nie,” antwoord Flora doodluiters. “Nege is reeds verby en daarom het tien hier gearriveer,” en Flora wys na die dakwoonstel.

Dit maak nie vir Ben sin nie. Niks maak meer sin nie.

“Elf is vir sommige mense beskore. Hy wag geduldig hier buite.”

“Waarvoor wag elf dan kastig. Ek’s nog net tien.”

“Op die oomblik, ja-aa,” sê Flora asof sy diep nadink. “Dit is moontlik dat hy vir jóú wag. Buiten as jy natuurlik vir altyd tien gaan bly.” Flora skud haar kop.

~O~

“Sewe …, agt …, nege …,”

“Ping.” Die deure kreun stadig oop.

Ben klim uit … op die dak. Daar waar die trappe gister begin het, dans vandag hittewurms.

Hy kyk terleurgesteld na die gekraakte betondak. Dan hét hy homself gister alles net verbeel. Sy pa was reg. Die waarheid word slegs deur feite bewys.

‘n Lastige briesie waai Ben se hare in sy oë. Hy vee dit verergd weg en is verbaas oor die nattigheid aan sy vingerpunte. Hy is sowaar nog net ‘n tienjarige baba.

Hy kyk met verwagting rond toe die briesie onverwags sag begin klingel. Uit die hoek van sy klam oë sien hy iets in die son flikker. ‘n Ou, bont teekoppie lê omgewaai op sy sy. Uit die gekraakte koppie beur ‘n klein tamatieplantjie skeef na bo. Iets blink tussen die fyn blaartjies: ‘n kopersleuteltjie, versigtig om die stammetjie geweef.

Ben vryf die stof met sy duim weg. Daar is iets dofweg aan die bokant gegraveer:

11

Ben wikkel die toutjie versigtig los. ‘n Oor-tot-oor-glimlag borrel uit in ‘n diep gelukkige lag. Hy vou die klein kopersleuteltjie styf in sy vuis toe.

© Rika Gerryts

{Woordtelling: 1191)




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed