PER DALKS MOET EK ‘N NON WORD
PER DALKS MOET EK ‘N NON WORD
Uhm – Liewe Bokkie my babie; as jou voetspore noual vir ‘n rukkie geplet is hier in die ruwe grond van geliefde ou Ghwarriegat, nê, dan sal jy bitterbaie goed weet dat ek is nie jou tipiese, gemiddelde, tuinblommetjie soort van vroumensmens nie – my hart is wise-ass en my vrouweesgemaak is cheeky. Enne…. Ten spyte van my egalige temperament is my bloed soortvan Latino. Daarom kan ek skoon skuins bebliksemd (skuus, sal nie weer Klassieke Grieks praat nie) wees; soms. Rebels – ander partykere se soms. Wit en swart mens.
Dis hy, Righ, wat my vrouwees, my menswees ‘n verkwas in die hand gestop het; wat van my ongesensord vrou gemaak het. Soms ‘n laslapkleurmassa kosmos. ‘n Bedding weerbarstige; goudgeel magrietjies. Of Indigo se diepdonkergloed. Rooi, soos bloed.
Witgeelgoed van die maan se naakte onthulling wat (ander)lakenskleur intenser verf; rou skadu-skakerings spat bo-oor naakte duet van een. Ander kere soos die see se blougroengrysprotes teen rots; vergaanhaal nostalgie in klam seesand spoor. Wild oranje.
En nog ander kere se soms; witwarmteer…. Maar dis ‘n storie vir ander eendag se windverflenterde fraaiing-dag. Maar dan sal jy defneslis weet dat ek myself nie aspris of eers per ongeluk as ‘n skrywer beskou nie.
Huh-uh – my Sielsambok (dis nou my eie persoonlike pen) smous maar net met die woorde wat binne-in hierdie einste wise-ass hart van my rondlê. Sonder om veel ag te slaan op spelreëls en ander taal regulasies – nee; haar kaalvoetspoor lê ongekaart en onopgesmuk tussen Faikonta en Grootmensland. En sy laat haar nie voorskryf of muilband, of tem nie.
Het honor bright al gedink om haar te verkoop aan ‘n ryk Arabier vir ‘n tiekie die pond. Dan gaan koop ek vir my ‘n huis met ‘n kaggel en houtvloere daar in die Kaap; en word ‘n rêrige lady of leisure…. Skuus, nê, ek’t nie ‘n Under a Bridge with Dick and Harry (Unabridged Dictionary) nie, so ek kan nou nou nie gaan opsoek wat daai leisurely lady in Afrikaans is nie.
Uhm…. Ewentewille, Bokkie my babie; laat weet ‘n groot, bekende Afrikaanse radiostasie hulle wil ‘n onderhoud met my doen oor: Van Satynlakens tot Teerstrate! My Uitgewer stuur tot vir die (ewe bekende) omroeper/joernalis ‘n kopie van daai Lakens.
Sal jou die vis se binnegoed spaar – maar ‘n paar maande later ontvang ek ‘n epos van die omroeper af wat sonder omhaal van woorde vir my sê dat die onderhoud gekanselleer word, omdat en oordat – ek nie kan skryf nie, Satynlakens is baie swak geskryf en sy kan nie swak leesstof aan haar luisteraars aanbeveel nie!
Ek smile and wave toe maar vir die kind; wat anders kan ek dan nou ook doen?!
Nou sit ekke op daai omgevalle ou boomstam hier op my geliefde ou Ghwarriegat, en dink oor goeters wat my siel koggel en my hart verlok; sommer net ‘n klomp simpel blêrrie goeters. Ta Heks (en voor iemand niemand vir my ‘n kruis wys of die predikant aan die belle is – sy’s nie ‘n honor bright heks nie; dit was maar net my bynaam vir haar – en ook net ekke mog haar so genoem het😁) het altyd gesê ek moet ophou dink waar die muishond al vergeet het hy stink…. Ewentewille, so dink ek mos.
Partykere, nê… Dis… Kyk, ek gee nie om as die lewe met my Kareoke wil speel nie, maar dis blêrrie onregverdig om vir my Griekse Volkswysies te jukebox. My pa is naam was nie Zeus nie! Tsk!
En so tussen deur my gedinkery deur wonder ek of daai tante tog nie reg was nie – per dalks kan ek nie skryf om my lewe of die buurman se hond s’n te red nie? Enne per dalks moet ekke my Sielsambok verruil vir ‘n toga – soos daais wat die nonne dra. As ek ‘n non word, nê; dan hoef ek nie meer te karaoke of te skryf nie.
Kyk mooi na jouself, liewe Bokkie my babie; en mag hoop en genade jou sonder losprys gyselaar hou, altyd.
©Liza Daniells
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Ano
Oe ouch! Basies verstaan ek net een ding van skryf : party sal met jou styl resoneer en ander nie. Maar om lelik en persoonlik te raak is n perdjie van n heel ander kleur.