‘n Wagtende vriend (Goud)
my huis staan vas, ’n wagtende vriend
met deure wyd oop soos arms wat jou innooi
die lang gang, ’n pad van fluisterende voetstappe
eggo met die ritme van my hart se klop
die dak is gemaak van drome – hoog en wyd
beskut my teen die lewe se woeste storms
die vensters glimlag na ’n ster-belaaide nag
met ’n uitsig op beloftes van môre wat wag
in die voorkamer hou ’n stoel nog wag
waar middagson oor die leuning lê
die kombuis praat in tale van vars gebakte brood,
gemeng en geknie in meel en oggendlig
my tuin, ’n laslappiekombers van groen
is ’n stil getuie van seisoene wat kom en gaan
my huis staan vas, ’n wagtende vriend
my skuilplek van krag – dag na dag
©MarleneErasmus
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.