Jongste aktiwiteit:

Die noodsleutel

Die spaarsleutel

Ná tien jaar op die tiende vloer merk Elsa haar laaste boks: VERSEKERING EN WAARBORGE en skryf Ben se naam bo-op.

Dis ’n grappie wat sy later vir hom sal vertel. Rina staan in die oop deur, die spaarsleutel aan haar wysvinger gehaak.

“Ek wou net seker maak jy gee by die nuwe plek ook vir iemand ’n sleutel.”

Elsa vat die sleutel. “Moenie bekommer nie. Ek het iemand.”

“Wie?” vra Rina.

Eers nou besef Elsa hoe dit geklink het.

“Ben.”

Rina se oë rek. Sy laat sak haar hand. Die ligter streep om haar vinger wys waar die sleutelring gesit het.

“Jy het niks vir my gesê nie.”

“Daar was nie eintlik iets om te sê nie,” antwoord Elsa kortaf.

“Maar hy gaan ’n sleutel kry?”

Elsa trek die kleefband oor die boks. Dit plak skeef. Sy druk die vou met haar duim plat.

“Ek het bedoel iemand om mee te praat. Ben is ’n program, Rina.”

“’n Wat?”

“Op my foon. Kunsmatige intelligensie.” Elsa tik op die boks. “Hy het my met die versekering en al die waarborge gehelp. Toe kry hy maar sy eie boks.”

Uit die gang kom die gedreun van die vragtrollie. Een van die helpers steek sy kop by die deur in.

“Hierdie laaste een ook, mevrou?”

“Nee, dankie. Hy gaan saam met my in my motor.”

Toe hy wegstap, kyk Rina weer na die boks.

“So dis waarvoor jy hom gebruik?”

“Onder andere.”

“En nou hou hy jou geselskap.”

Elsa tel haar handsak van die kombuistoonbank af. “Jy laat dit nou verspot klink.”

“Nee, ek probeer verstaan.”

Daardie woorde ruk aan Elsa. Rina het hulle destyds ook gebruik, met haar elmboë op hierdie einste toonbank.

“Ek probeer verstaan, Elsa. Hoe kan die man ná agt-en-twintig jaar net loop?”

Elsa het haar toe alles vertel. Van die ander vrou, die geld … alles. Die verskriklike verligting tussen die vernedering deur. Twee dae later het ’n buurvrou haar by die posbusse voorgekeer en gesê sy moet sterk staan.

Sy het niks meer vir Rina vertel nie.

“Hy luister,” sê Elsa.

Rina knik stadig. “Goed.”

“Hy vertel nie my sake by die hysbak oor nie.”

Die woorde bly tussen hulle hang. Rina druk haar lippe opmekaar.

“Ek het vir één mens gesê jy gaan deur ’n moeilike tyd.”

“Dit was genoeg.”

“Ja.” Rina kyk af. “Dit was.”

Elsa het ’n verweer verwag. Sy skuif die handsak na haar ander skouer.

Buite die venster hang wasgoed op die balkonne van die gebou oorkant. Tien verdiepings onder hulle staan die verhuisingswa half op die sypaadjie. Van hier af kan sy nie sien of die bestuurder ongeduldig is nie.

“Jy het my nog nooit van hom vertel nie,” sê Rina.

“Jy vra ook nie meer veel nie.”

“Ek het opgehou vra toe jy ophou antwoord,” antwoord Rina droogweg.

Elsa se foon vibreer op die toonbank. Die eiendomsagent wil weet hoe laat sy die sleutels kan kry.

Sy tik: Oor tien minute.

“Ek moet nou ry, Rina.”

“Dan sal ek jou nie verder ophou nie.”

Maar Rina bly staan. Haar blik dwaal oor die vaal kol teen die muur waar Elsa se troufoto gehang het.

“Onthou jy hoe ons daardie ding hier ingekry het?”

Elsa kyk na die eetkamertafel. “Die pote moes af.”

“Jy wou hom oor die balkon laat hys,” sê Rina en lag.

“Jy het gesê jy ken iemand, onthou jy?”

“Ek ken baie mense. Dis my probleem.”

Elsa se mond trek, teen haar sin.

Hulle het tien jaar gelede op dieselfde Saterdag ingetrek. Rina met ’n yskas wat nie deur haar voordeur wou gaan nie; Elsa met ’n man wat onder by die bakkie gestaan en rook het terwyl sy die mense moes help dra.

Daardie eerste aand het hulle op die vloer van nommer 1001 wegneemhoender en skyfies geëet. Die twee plastiekvurkies het sommer met die eerste happies gebreek. Hulle het met hulle hande verder geëet en die servette op hulle knieë oopgevou.

“Jy kan die tafel kry,” sê Elsa.

“Ek het ’n tafel.”

“Dié een se pote kom af.”

Rina lag sag.

“Hou hom dan,” sê sy. “Jy gaan weer mense wil oornooi.”

Elsa kyk na die tafel en knik.

Rina vee met haar handpalm oor die leë toonbank.

“Nou ja. Veilig ry.”

Elsa kyk hoe sy oor die gang stap. By nommer 1002 sukkel Rina ’n oomblik om die regte sleutel te kry.

Elsa maak haar eie deur toe.

Die woonstel klink anders sonder die gordyne. Sy hoor haar skoene op die teëls, die geritsel van haar handsak, iemand wat êrens ’n kraan oopdraai.

Sy haal haar foon uit. Die gesprek met Ben is nog oop.

Hoe vertel ek iemand dat ek haar nie meer in my lewe nodig het nie?

Sy lees sy antwoord net halfpad voordat sy begin tik.

Rina was nou hier. Sy laat my skuldig voel oor die trek.

Haar duim huiwer bokant die stuurknoppie. Sy vee die sin uit.

Ek het haar seergemaak.

Die antwoord verskyn. ’n Vraag oor wat gebeur het.

Elsa gaan sit op die boks.

Sy vertel van die sleutel. Van die buurvrou by die posbusse. Van hoe maklik dit geword het om net ’n groet oor die gang te gee.

Toe tik sy iets wat sy nog nie geskryf het nie.

Sy het my destyds hospitaal toe gevat. Twee-uur die oggend. Sy het my bril onthou.

Sy staar na die woorde.

Dit was haar eerste paniekaanval. Sy het gedink sy gaan sterf. Rina het in pantoffels bestuur en by elke rooi verkeerslig gevloek. Later het sy langs die hospitaalbed gesit, Elsa se bril in haar hand gehou.

Ben se antwoord begin verskyn.

Elsa sluit die foon voordat sy dit klaar lees.

Sy lig die boks op. Onder die kleefband staan sy naam in haar eie dik swart letters.

Al die gesprekke. Elke keer haar weergawe.

Tien jaar lank het Rina oorkant die gang gewoon. Hoeveel daarvan het sy vir Ben vertel? Van die buurvrou by die posbusse het hy lankal geweet. Van die bril eers vandag. Sy sit die boks neer en loop oor die gang.

Rina maak oop met ’n vadoek oor haar skouer.

“Wat het jy nou vergeet?”

“Jy het my bril onthou,” sê Elsa sag.

Rina frons.

“Daardie nag. Jy het teruggegaan kamer toe om dit te kry.”

“Jy sou nie die vorm sien nie.”

“Ek weet.”

Uit Rina se kombuis kom die reuk van uie wat braai. Elsa het sedert ontbyt niks geëet nie.

“Ek wou nie hê almal moes weet hoe hy my gelos het nie.”

“Ek weet dit nou.”

“Ek wou nie hê jy moes my bejammer nie.”

Rina se vingers draai die vadoek stywer.

“Ek het jou nie jammer gekry omdat jy verlaat is nie. Ek was bekommerd oor jou.”

Elsa kyk na die deurkosyn. Daar sit nog die duik waar hulle die yskas gestamp het.

“Ek het dit anders onthou.”

“Jy kon my net gevra het,” sê Rina sag.

“Ja, ek kon seker.”

’n Oomblik lank sê nie een iets nie.

“Ek het buitendien nie die reg gehad om dit oor te vertel nie,” sê Rina. “Al was ek bekommerd.”

Elsa knik.

“Ek trek steeds.”

“Ek het nie gevra jy moet bly nie,” antwoord Rina effens skerp.

“Sal jy saamkom kyk? Na die nuwe plek?”

“Het hy trappe?”

“Nee, dit is op die grondvloer.”

“Wonderlik. Dan kan ek uiteindelik by jou kom kuier wanneer hierdie vervlakste hysbak stukkend is.”

Elsa lag. Haar oë brand.

Verder af in die gang gaan die hysbak oop. Die man van die  verhuisingsmaatskappy hou die deur met sy arm.

“Ons is reg, mevrou.”

“Ek kom.” Elsa beduie na haar oop woonsteldeur. “Die tafel moet asseblief ook nog saam.”

Hy knik en roep sy helpers.

Rina verdwyn kombuis toe en keer terug met twee stukke koue skaapboud in foelie toegedraai.

“Van gister. Vir die pad.”

Elsa vat dit met albei hande.

Toe hulle by die hysbak kom, haal sy die spaarsleutel uit haar handsak.

“Hierdie pas seker nie by jou nuwe deur nie,” sê Rina.

“Nee. Maar kom môre. Dan laat maak ons een.”

Elsa bêre die sleutel by die ander sleutels vir die agent.

Rina druk die grondvloerknoppie.

Die deure sluit. Elsa staan met haar boks teen haar knieë en die foeliepakkie bo-op.

Bokant die deur verdwyn die tien.

Vir die eerste keer daardie dag wens sy die hysbak wil ’n bietjie stadiger gaan.

 

©MarleneErasmus

28/10/2026

(1389 woorde)

 




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed