Jongste aktiwiteit:

Kasspir en Indiese kos

Kasspir en die Indiese kos

Ons het ‘n hond gehad, sy naam was Kasspir. Kasspir was ‘n rifrug sonder ‘n rif op sy rug en ook maar min tussen die ore, maar hy was ’n goeie hond en het die nodige beskerming verskaf en nagtelike wagdiens behartig. Ons het ook ‘n ander hond gehad, Boeboe, so ‘n klein Jack-Russel, ʼn regte stekelhaar en die slimste hond wat ek nog ooit besit het.
Ons het vir Kasspir gekry saam met sy suster, Kara, wat ‘n pragtige rif op haar rug gehad het. Kasspir en Kara was maar ses weke oud toe ons hulle gekry het. Ongelukkig kon die eienaar hulle nie langer hou nie en ons was op die punt om vir ‘n maand met vakansie Suid-Afrika toe tge gaan. Ek reël toe met ‘n goeie vriend dat die twee honde daar by hom tussen sy honde sal bly terwyl ons weg is. Gedurende die vakansie bel die man my toe uit Tanaznië. Hy was haastig iewers heen op pad en het nie die honde in die skaduwee onder sy voertuig gesien nie. Toe hy in sy haas wegtrek, het hy ongelukkig vir Kara doodgery. Die arme man was in trane op die foon, en toe ek die nuus aan my gesin meedeel was hulle ook almal onder trane. Dit was ‘n slegte verlies, want die twee honde saam sou ‘n gedugte paar waghonde gewees het.
In Tanzanië is dit belangrik om waghonde te hê, sowel as wagte gedurende die nag. Die Swahili woord vir hond is “mbwa”, en die gewone mense is almal vreeslik bang vir honde, veral vir honde wat aan blankes behoort. Diefstal en inbrake gebeur dikwels. Ons het selfs een nag sit en luister hoe rowers buite ons huis sit en gesels en beplan om by ons huis in te breek, maar hulle was bekommerd oor die groot hond en het uiteindelik hul plan laat vaar. As ek hulle was sou ek meer bekommerd gewees het oor die twee Masaai-wagte met die lang spiese en die wit ou met die krieketkolf aan die binnekant van die heining, maar dit is ook weer ‘n ander storie.
Een mooi dag kom Kasspir by die huis ingestrompel en sak op die sitkamervloer neer. Ek sien dadelik daar is fout met die hond en ondersoek hom. Ek ontdek toe bytplekkies aan sy nek en kon net aflei dat hy deur ‘n slang gepik is. Ek roep vir Imma en verduidelik wat gebeur het. Die hond het seker maar moeilikheid met die slang gesoek, en toe pik die ding hom. “Sawa” sê Imma, “Indio, Kasspari funjika njoka pale!” (Ja, inderdaad, Kasspir het die slang gebreek daar) en hy beduie met sy arms na die agtertuin. Ons vlieg almal uit om te gaan kyk en ontdek die stukkende swart en wit slang wat tussen die pampoenblare lê. Die blare is platgetrap soos die honde daar rondgedans het om die slang vas te vat. Ons ondersoek vir Boeboe, maar sy het geen bytplekke nie. Persoonlik dink ek dit was sy wat die slang uiteindelik doodgemaak het. Ek is dankbaar die ding is dood, want my seuns speel in die tuin en die slang is natuurlik giftig.
Dadelik bel ons ‘n vriend wat ‘n veearts is. Hy stel ons gerus en sê ons moet net probeer om hom kalm te hou en anti-histamine te gee, as ons so iets het. Gelukkig het my vrou toe sulke goed in haar handsak en ek prop twee van die pille in die hond se keel af. Kasspir het sleg gelyk en sy kop was besig om op te swel. Later die middag was die een helfte van sy kop so geswel dat hy nie kon eet nie en sy een oog was heel toegeswel. Ons het hom maar net dopgehou en op die koel sitkamervloer laat lê. My seuns was baie bekommerd oor hul hond en het hom gereeld kom streel en sag met hom gepraat.
Die volgende oggend was hy steeds kragloos en ek het maar weer twee pille in sy keel afgedruk in die hoop dat dit die swelling so ‘n bietjie sal laat sak. Teen die middag het my seun my gebel en gesê Kasspir het opgestaan en gaan water drink. Dit was ‘n baie goeie teken en ek het hulle vermaan om hom te los dat hy maar rustig bly, met die wete dat as hy water gedrink het hy heel waarskynlik begin beter voel.
Die volgende oggend het ons gesien die swelsel om sy kop het begin sak en Kasspir het sommer beter begin lyk. Ten die middag was die swelsel heel weg en hy was aan die gang en het die aand sommer ‘n groot bak kos weggesit en nóg gevra. Ons was almal baie verlig dat Kasspir beter geword het, want die verlies van sy suster was reeds ‘n harde slag vir my seuns.
In dié stadium het ons in ‘n huis gewoon wat in ‘n “U”-vorm gebou was. Die idee agter die uitleg was dat bediendes van buite in die kombuis kon kom sonder om deur die voorkamers en dus tussen die gaste deur, te loop. Dit was nogal aangenaam, want ons kon van die kombuis af buitentoe gaan sonder dat enigeen gesteur word. Dit was ook lekker om ‘n buitedeur naby die kombuis te hê wanneer reuke of rook vinnig uit die huis gewaai moet word, maar dis ook ‘n ander storie.
Een mooi dag besluit ons om regte Indiese kos te maak. Goed soos kachori, bajia, vada en dies meer. Ons sit toe af na die winkels en gaan bekom al die nodige geure en speserye en goed en sommer ook ‘n resep of twee by vriende, en ons nooi hulle toe sommer om saam te kom eet die aand. Daarna gaan ons huis toe om die voorbereiding te begin, want Indiese geregte vereis heelwat voorbereiding. Op ‘n stadium sê my vrou ons is amper gereed vir die gaarmaak. Ek gaan haal toe die braaier en sit dit net buite die buitedeur wat reg by die kombuis is. Die braaier was ‘n wielvelling op pote gemonteer met sulke ekstra stutte ingesweis waarop mens ‘n “karai” (wok of skottel) kon staanmaak. Baie van die Tanzaniese geregte word so gekook, want meeste van hul kosse is maar bredies soos briyani, wat ‘n rys- basis het. Ander bredies met kool as hoofbestanddeel het partymaal ‘n pap-basis, of chapati as bykos.
Ek steek die vuur aan en die karai word opgesit en omtrent drie liter kookolie word warmgemaak, want die Indiese geregte wat ons maak is alles goed wat in diep, warm olie gebraai word. Die reuke van die kokende speserye is absoluut watertand en ons moet onsself behoorlik bedwing om nie so veel te proe dat daar niks vir ons en ons gaste vir aandete oor is nie. Alles word versigtig op absorberende papier gesit en dan op borde uitgestal met gekapte kerrieblare en rou uie wat in growwe sout gerol is, sowel as rou rissies wat in olyfolie gelê het. Ek eet nie die branderige goed nie, maar ons het dit vir ons gaste bygesit. Dit lyk en ruik als pragtig heerlik. Die gaste, Indiërs wat ook in ons kerk is, daag op en daar word groot waardering uitgespreek vir die moeite wat ons aangegaan het. Ons eet en kuier almal baie lekker tot laat in die nag, gesels oor allerhande onderwerpe en leer mekaar sommer goed ken. Ek laat die karai met die vuurwarm olie buite om deur die nag af te koel sodat ons die volgende dag die olie kan afgooi en die ding kan skoonmaak, of altans dit was my plan.
Die volgende oggend toe ons ontwaak, is Imma, die tuinwerker, reeds aan die werskaf buite die huis, en ek hoor hoe hy mompel en die hond aanspreek. Toe ek buite kom moes ek myself omtrent keer om nie om te val van die lag nie.
In die nag het Kasspir besluit dis miskien ‘n goeie plan om van die lekkerruik-olie in die karai te proe. Hy vergryp hom toe aan die olie en het omtrent die helfte daarvan opgeslurp in sy gulsigheid. Die groot hoeveelheid olie het natuurlik nie met sy maag saamgewerk nie en wou uitkom. Ek vind vir Imma waar hy met ‘n graaf al agter Kasspir aanloop. Kasspir hop en ruk en trek boggelrug soos die krampe hom treiter, dan buig die ou en laat loop met so ‘n blerts voor hy weer aanstap. Imma vloek hom dan in Swahili en skep die gemors op en gooi dit in die tuin tussen die blomme. Dan stap hy agter die hond aan wat weer van voor af begin buig en bulk en dan herhaal die hele proses homself weer. Dit was iets om te aanskou en ons het omtrent gelag vir Kasspir se manewales en Imma se gesigsuitdrukkings.
Van daardie dag af, as ek sien die honde se velle is bietjie droog of hulle lyk asof hulle ‘n bietjie olie nodig het en ek gooi so ‘n eetlepel olie oor hul kos, het Kasspir geweier om sy kos te eet. Kasspir en Boeboe is met ons vertrek uit Tanzanië deur Engelse mense aangeneem. Ek het nooit weer van my honde gehoor nie, maar ek glo dat hulle ‘n goeie lewe gehad het en dat hul goeie honde was vir die Engelse gesin.
Partymaal wonder ek of ‘n mens nie ‘n paar van vandag se politici so ‘n lekker koppievol kookolie kan injaag nie. Dan kan hulle mos gou ontslae raak van al hul interne gemors en goed geolie hul werk gedoen kry. Ander kere wens ek ek kan ‘n swart en wit slang onder party van die korrupte politici loslaat, maar dit sou miskien net ‘n verdere swelling veroorsaak.

© Grootvissie
September 2017




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed