Umgodi
Brons
Aan die voet van die Imbombo berge lê die landskap en gemeenskap van Umgodi. Die eens welvarende en boomryke gemeenskap, is 120 jaar gelede gestig, nadat die destydse eienaar van die stuk grond, dit vir landelike ontwikkeling beskikbaar gestel het. Vandag is dit egter die simbool van strukturele en omgewingsaftakeling, nie onaangeraak gelaat deur die elemente van verweer, verwaarlosing en swak bestuur nie. Verswakte infrastruktuur, swak beplanning en gebrek aan onderhoud, motivering en kundigheid het hierdie gemeenskap, om verkeerde redes, onder die vergrootglas geplaas.
Die boerderygemeenskap, eens bekend as Koppieslaagte, was vir ‘n hele klompie jare die voedingsaar en werksverskaffingsbron van vele families, families wat hulle juis om daardie redes daar kom vestig het. Dit was ‘n rustige, stil en uiters veilige omgewing. Daar was nie vreeslike groot nywerhede nie, wat meegebring het dat die lug en water skoon gelaat is.
Vanweë die plattelandse karakter was die strate stil en kinders kon veilig speel, sonder toesig en die wakende oog van ouers.Selfs in die strate. Krieket en sokker is tot laat aand gespeel, weinig huise het oor diefwerings of alarmstelsels beskik en talle mense het met vakansie gegaan, sonder om eers hulle eiendomme te sluit. Die inwoners het voor die winkelsentrum parkeer, sonder die nodigheid van karwagte en sonder om voertuie te sluit. Die plaaslike polisiekantoor was slegs beman soggens tussen agt en tien, aangesien geen misdaad ooit aangemeld is nie. Die enigste “misdaad” was die kinders wat toktokkie gespeel of vrugte uit die kerk se boord gegaps het.
Skaap – en mielieboerdery,’ n kaasfabriek aan die buitewyke en die talle denneplantasies het daartoe bygedra dat hierdie gemeenskap selfversorgend kon wees. Min mense van buite die area het daar gewerk. Almal het mekaar geken en mekaar ondersteun.
Die meeste huise het ook oor hulle eie groentetuin beskik,sommige selfs ook ‘n vrugteboord. Sommige het selfs ‘n skapie of twee aangehou. Die vinnige aanwas as gevolg van die dorp se ontwikkeling en die feit dat jong egpare waarvan minstens een van die twee daar opgegroei het hulle in die gebied vestig het, het die oprigting van die kleuterskool, Kleinkoppies en die skool, Koppieslaagte Akademie, genoodsaak. En na die bou van die skool het die hospitaal en kultuursentrum gevolg.
Daarna het dinge vinnig gebeur. Spoedig het die skool ook oor koshuisfasiliteite beskik en kinders van buite die provinsie het hulle daar kom vestig. Koppieslaagte het ook gespog met die mooiste klipkerk en grootste biblioteek in die omgewing. Die hospitaal was goed toegerus en het diens van hoogstaande gehalte gelewer. Dokters van heinde en verre het in daardie einste hospitaal hulle praktiese diensjaar kom doen. Ongelukkig was dit ook die begin van die einde vir hierdie dorpie en sy mense.
Met die bou en ingebruikneming van die Knoppieslaagte Mall het talle besigheidseienaars, sommige met onsuiwer motiewe, die kalmte en rustigheid van hierdie rustige gemeenskap begin versteur. En toe volg die stadsraadsverkiesing, sowat tien jaar gelede. Jong bloed, in talle opsigte onvolwasse en oningelig, het aan die roer van sake begin staan. Ou gevestigde idees en tradisies moes plek maak vir nuwe ondeurdinkte idees. Plase is opgekoop of onteien in die naam van industriële ontwikkeling. Dit wat as waardes en norme beskou was, is by die agterdeur uitgevee. Rookbesoedeling en die daarmee gepaardgaande siektetoestande het toegeneem, namate meer nywerhede al nader aan die woonbuurt beweeg het en die eers rustige gebied het lawaaierig en onveilig geraak. Korrupsie, nepotisme, geldgierigheid en nalatigheid het stadig maar seker sy tol begin eis, en so het die verval ingetree. Misdaad, ook vanweë die verslapping van wetgewing het begin intree en gevestigde gesinne het bedreig begin voel. Jongmense wou nie meer na die voltooing van hulle skoolloopbaan daar bly nie en het heenkome in die stede gaan vind. Egpare met jong kinders het gevoel hulle kan hulle kinders nie meer beskerm. nie. Dit het meegebring dat die eens florerende skool, stadig maar seker begin leegloop het. Tans is die skool ‘n wit olifant en het die uithangplek van straatslapers en boemelaars geword.
Onvermydelik het naamsverandering ook later ter tafel gekom en ‘n realiteit geword. En dalk was die keuse van die nuwe naam profeties, want Imbombo en Umgodi is die twee Zoeloe woorde vir groot gat en slaggat, iets wat ‘n algemene verskynsel geword het in die gebied.
©️ Hennie du Toit
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.