Jongste aktiwiteit:

Bed E6 (241 Woorde)

Suster hoor die rubbersole gierts-gierts nader kom oor die spieëlblink hospitaal vloer. Dit is Bed E6 se vrou wat hom kom haal.

Sy kom kwaai en ongeduldig tot stilstand langs die bed. Sy blyk…ongeneë te wees om haar man huis toe te neem.

Die oom kyk na Suster.

Waar is my pampiertjie?

Watter papiertjie, Oom?

Die een wat daai ander nurse vir my gegee het. Ek vergeet nou, maar ek dink ek moet ‘n belangrike dokter gaan spreek oor my bloedklont.

Hy kyk vraend na haar met yl donshaartjies en onskuldige oë, soos ‘n weerloos-geslaapte baba.

Suster staan nader met die ontslagvorm en voorskrif in haar hand.

Die bloedklont is behandel, Oom se been is weer gesond. Hier is alles wat Oom nodig het. Daar is geen ander dokumentasie nie.

My pampiertjie…

Die tannie se klein voorkoppie word een groot frons.

Die gierts-gierts van die skoensole, terug na die spieëlblink gang, beveel die oom om nóú te kom.

Ná hul vertek, staan Suster peinsend en wonder oor die papiertjie waarvan die oom gepraat het. Sy kyk in die pasiëntlêer.  Haar oog vang die laaste inskrywing van die oggend:

Pasiënt verwys na Dr Anderson vir sielkundige evaluasie, weens erge vergeetagtigheid tydens sy verblyf.

Eers toe sy omdraai, sien sy die wit kaartjie onder die bed en tel dit op.

Dr. S.J. Anderson, Geriatriese Sielkundige

Sy stap vinnig agter die twee oues aan, om die oom se papiertjie vir hom te gee.

 

© Elmarie Nienaber Van Kampen, 2026

Voetnota: SJ Anderson is ‘n fiktiewe naam

 

 




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed