Jongste aktiwiteit:

Menswaardigheid, tegnologie, teologie en die mensbeeld – “Wat het ons tot stand gebring?”

Met verwysing na menswaardigheid het die digter Sheila Cussons, gesê: “I don’t like biologists who talk about man as if he were only a pan of brains, and I like theologians even less who seeing him shattered insult the remains” (“Ek hou nie van bioloë wat oor die mens praat asof hy net ’n brein is nie, en ek hou nog minder van teoloë wat, as hulle hom sien breek, die oorblyfsels beledig.)”

Die kern van Cussons se uitspraak is dat die mens nie gereduseer kan word tot bloot ’n biologiese brein nie, maar, in dieselfde asem, ook nie wanneer hy gebroke is, deur teoloë verder verneder behoort te word nie.

Hierdie woorde van Cussons het my my gedagtes teruggeroep na daardie traumatiese dag van 6 Augustus 1945 toe die eerste atoombom in oorlogvoering teen Japan gebruik is. Die gevolg was die verwoesting van Hirosjima in Japan met verreikende gevolge vir beide die mens en die ekologie.

Amerikaanse natuur- en sielkundiges het na die tyd die wanhoopsvraag geuiter: “Wat het ons tot stand gebring?”

Teen hierdie agtergrond is my vraag nou of ons nie besig is om op dieselfde wanhoopsvraag af te stuur nie?

Ons leef in ’n wêreld waarin tegnologie veronderstel is om ons lewe makliker te maak.
Met ’n slimfoon in die hand kan ons binne sekondes met iemand aan die ander kant van die wêreld kommunikeer, inligting opsoek, ’n betaling doen of ons pad na ’n onbekende bestemming vind.

Ek is egter van mening dat ons op ’n gevaarlike punt gekom het in die sin dat tegnologie besig is om ons van ons menswees te beroof.

Ons gebruik tegnologie nie meer net as hulpmiddel nie. Al hoe meer mense begin hulle lewe daarom organiseer.

Die grootste gevaar is nie die selfoon, die internet of kunsmatige intelligensie self nie. Die gevaar lê in ons afhanklikheid daarvan.
Ons sien dit daagliks. Mense sit saam aan ’n etenstafel, maar elkeen is vasgenael aan die skerm van sy eie selfoon. Jongmense kommunikeer met mekaar deur boodskappe en emoji’s, terwyl hulle langs mekaar sit.
Gesprekke wat vroeër spontaan ontstaan het, word vervang deur kort boodskappe. Stilte het ongemaklik geword, want daar is altyd ’n skerm wat ons aandag kan opeis.
Navorsing bevestig dat oormatige gebruik van digitale tegnologie nie bloot ’n onskuldige gewoonte is nie.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie waarsku onder meer teen problematiese gebruik van digitale tegnologie en die moontlike gevolge daarvan vir kinders en jongmense.
Die Amerikaanse Surgeon General het ook gewaarsku dat sosiale media ’n risiko vir jongmense se geestesgesondheid kan inhou, veral wanneer gebruik problematies of oormatig raak.
Maar daar is ’n nog groter probleem. Ons verloor die vermoë om sonder tegnologie te dink.
Wanneer elke vraag onmiddellik deur ’n soekenjin beantwoord kan word en elke teks deur kunsmatige intelligensie geskryf kan word, ontstaan die versoeking om nie meer self moeite te doen nie. Ons hoef nie meer iets te onthou nie, want ’n toestel kan dit vir ons onthou. Ons hoef nie meer ’n kaart te lees nie, want navigasie doen dit vir ons. Ons hoef nie altyd self te formuleer nie, want kunsmatige intelligensie kan namens ons skryf.
Dit klink gerieflik. Maar gerief het ’n prys.
Die mens ontwikkel vaardighede deur dit te gebruik. Wanneer ons voortdurend ons geheue, konsentrasie, redenasievermoë en kreatiwiteit aan masjiene oorgee, word ons eie vermoëns verswak. Is ons nie dalk besig om ’n tegnologiese toring van Babel te bou nie?
Dit beteken nie dat ons tegnologie moet verwerp nie. Inteendeel, tegnologie kan ’n merkwaardige hulpmiddel wees. Maar ’n hulpmiddel behoort ons vermoëns te versterk, nie dit te vervang nie.
Kunsmatige intelligensie maak hierdie vraag selfs dringender. Die Europese Kommissie beklemtoon dat kunsmatige intelligensie groot voordele kan bied, maar dat dit verantwoordelik, mensgesentreerd en met toepaslike waarborge gebruik moet word. Dít behoort ons daarop te wys dat tegnologiese vooruitgang nie outomatiese menslike vooruitgang beteken nie.
Ons kinders moet leer dat ’n mens ’n gesprek kan voer sonder om voortdurend na ’n skerm te kyk. Ons skole moet tegnologie gebruik om leer te verbeter, maar nie om denke uit te kontrakteer nie. Ons gesinne moet weer ruimte maak vir gesprek, lees, stilte en persoonlike kontak. Volwassenes, veral getroude pare, moet soms hulle selfone neersit en kwaliteit aandag aan mekaar gee.
Die vraag is nie: “Hoeveel meer tegnologie kan ons gebruik?” nie.
Die belangriker vraag is: “Hoeveel van ons menswees is ons bereid om vir tegnologiese gerief prys te gee?”
Tegnologie behoort die mens te dien. Die oomblik wanneer die mens begin om tegnologie te dien, het ons die verhouding omgekeer.
Ons hoef nie terug te keer na die verlede nie. Ons moet bloot seker maak dat ons nie so besig raak met die digitale wêreld dat ons die werklike wêreld rondom ons verloor nie want:
• Geen skerm kan ’n handdruk vervang nie;
• Geen algoritme kan ’n vriend se teenwoordigheid vervang nie;
• Geen masjien kan ’n lewensmaat, ouer of kind vervang nie;
• Geen masjien kan God vervang nie;
• Geen masjien kan die mens skep nie, want die mens is deur God geskape na Sy beeld en Sy gelykenis;
• Geen masjien kan Sy skepping vervang nie; en
• En geen masjien behoort namens die mens te bepaal wat dit beteken om mens te wees nie.
Daarom moet ons weer leer om grense te stel. As ons nie êrens ernstig begin rem aandraai nie gaan ons spoedig die wanhoopsvraag vra:
“Wat het ons tot stand gebring?”
—————————–000Oooo—————————-
©Pieter Mostert

*Die digter Sheila Cussons, was gedurende haar leeftyd van 1922–2004 gereken as een van die belangrikste religieuse digters en vertalers in die Afrikaanse letterkunde
Bronne
• Die Bybel 1953 vertaling. Bybelgenootskap van Suid- Afrika, Roggelbaai, Kaapstad.
European Commission. (2024) Artificial Intelligence Act. Brussels: European Commission.
• Mostert, P. (2025) God, Mens en Masjien – ’n Teologiese reis deur die era van Kunsmatige Intelligensie. Groep 7 Drukkers en Uitgewers (Edms) Bpk.
• U.S. Department of Health and Human Services. (2023) Social Media and Youth Mental Health: The U.S. Surgeon General’s Advisory. Washington, D.C.: Office of the Surgeon General.
• Vos, CJA & Muller, JC. (1991) Menswaardigheid. Orion, Halfway House.
World Health Organization. (2024) Guidelines on mental health promotive and preventive interventions for adolescents: helping adolescents thrive. Geneva: WHO.

 

 




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed