
Ek Is Rentmeester.
Rentmeesters. (*BRONS)
Indien ons self sou kon skep soos God sou ons onbekende mense met ons skeppings werke vertrou het? Sou ons die mensdom so vertrou dat ons sou weggaan en alles wat ons besit, aan hulle oorgee totdat ons terugkeer? Lastige vraag. Wie sal dit nou doen, vra jy? God het dit gedoen. Daarom is die vraag nou; is jy ‘n waardige Rentmeester van Sy besittings en eiendom? Watse massiewe, almagtige opdrag en gedelegeerde taak is dit nie? God het ons as Rentmeesters aangestel om dit wat Hy geskep het te geniet, te onderhou en te bewaar. Verstaan ons regtig die opdrag en die verantwoordelikheid wat daarmee saamgaan?
Die Profete, Digters en Dissipels van die Geskrifte het my heelwat oor die Aarde en van die mensdom geleer. Soos Dawid wat die werke van God se hande besing wil ek saamsing. Hulle het almal geweet die Aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan.
Ek voel jou ritmiese hartklop in die golwe van die see. Die simfonie in die geboorte van ‘n nuwe dag en die ritsel van die boom blare wanneer onsigbare winde hulle dirigeer. Ek sien hoe vier seisoene jou voorkoms jaar na jaar verander, Somer, Herfs, Winter en Lente. Die vuurrooi oggendson en die nuwe dag wat vol beloftes oor die horison spoel. Voëls wat harmonies koorsang van vroeg oggend opwinding. Ure later sal dagbreek vervaag wanneer skemer haar oranje strale om jou horison hals kom hang om plek te maak vir die Maan en donkerte. Wie het die wit wolke kroon op jou hoof geplaas? Of die reënboog in kleure oor jou kontinente geverf? Die Reënboog, bewys van ‘n belofte dat jy ewig sal bly voortbestaan tot die Eienaar terugkeer. Jy, ellipsoïde, wat tussen Mars en Venus in die hemelruimte hang. Ek is een van miljoene Rentmeesters oor jou aangestel.
Aarde is jou naam. Aarde, tuiste van die mensdom. Jy verberg jou geheime tydelik. Deur eeue ontbloot jy hulle een vir een. Sal ek ooit alles weet of ken wat in jou binneste skuil? Watter magtige hand het jou formeer? Wie het jou berge en dale uit water en sagte sand geskep Wie het besluit waar die waters moet vergader en waar die oseane se grenslyne lê? Jy wat geboorte skenk uit jou water skoot. Jy is Lewe Gewer.
Die Aarde en alles wat daarin is reageer op die bevel van die Maestro. Mettertyd het rykdom en mag die mens korrup. Besoedel sodat hy alles gewetenloos verwoes om skatte te vergader en mag te verkry.
Op en binne die Aarde is alles verskuil wat die mensdom weet en die grondstowwe waaruit ons skep. Blink soos die glinster van diamante wat oor jou vonkel is die klip, goud en yster wat jy ons mildelik skenk om argitektoriese wonders te bou as toonbeelde van menslike prestasies. Ons is vasgevang en word betower deur die glans van jou edelstene wat jy wegsteek in die dieptes van jou donker onderaardse skatkamers. Aarde die baarmoeder van die mensdom. Alles is van jou afhanklik om lewend en staande te bly. Jy is die hand wat alles toevou en beskut. Tog word jy verniel en verwaarloos. Misbruik soos die mens na rykdom delf en onversadig smag na mag. Oorloë wat jou onskuld en skoonheid vernietig.
Helaas, jou tyd van rebellie teen die vernietigende mensdom wat jou verwoes, het aangebreek. Tornado’s, orkane, vulkane, oorstromings, peste, aardbewings en droogtes is jou waarskuwings. Hulle roggel bulderend uit jou binneste dieptes of hemele. Niks wat die mens doen kan hulle ten volle beskerm teen jou woede nie. Nogtans slaan die mensdom nie ag op hierdie waarskuwings nie en gaan voort met hul vernietigings werke. Die Aarde bly bloei onder die ongehoorsaamheid van die mens wat dit moes beskerm en onderhou.
Here, wanneer ek U skeppings werke op Aarde aanskou kan ek U aangesig sien. Soos Moses wat U in die rots skuiling beskerm het teen die Almagtige aangesig van God. Omdat die verblindende prag van U majesteit en reinheid my op sig sal vernietig. Maar ek pleit weer. Here ek wil U glorie sien. Soos Moses.
Jy kan nie My aangesig sien en bly lewe nie maar Ek sal My glorie by jou verby laat gaan sodat jy net my agterkant kan sien. Dit is goed genoeg Here. Ek is tevrede. U teenwoordigheid is in die ongerepte natuurskoon op Aarde waar die mens nog nie vrye toegang verkry het nie. Daar wys U my die glorie van U skepping op Aarde. Beeldskone heerlikheid van my tuiste, Aarde, wat U vir ons geskep het om te bewoon en ek snak na my asem…! Die Geskifte het geweet waarvan hulle praat. Daar is niks wat kan vergelyk met die werke van U hande nie. Inderdaad, die Aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan. (Psalm 24:1, 1 Korintiërs 10:26) (797)
Vera Booysen ©
INK 30 April 2025
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir April 2025 – AARDE projek