Verspeelde kanse
Verspeelde kanse
Pa was skaars sestig toe hy in ‘n asemnood-oomblik aankondig dat die lang bome van die familiebegrafplaas hom roep.
Drie maande later het Vader Tyd die streep getrek. Pa se uurglas was onder vol en bo hol.
Die skadus van die lang populiere het in donker vingers sy nuutgegroude graf betas en ek het verruklik gestaar na die greep van die vingers. Sou pa nóú vry asemhaal?
Vader Tyd se arm kruip vandag soos die vingers van die populierbome oor my siel. Facebook herhinner my dat pa vandag al sewe jaar onder die lang bome rus.
Elke dag is ‘n gedagte.
Elke kamer net gehuur.
Elke aardse droom van rykdom en roem is net ‘n skadu teen die muur…
Koos Doep roep my vae onrus tot volle ontboeseming en ek wonder angstig oor vol of hoe leeg mỳ uurglas vandag is…
Hoe weet ‘n mens of jy voluit leef? Hoe maak ‘n mens seker dat geen korreltjie sand uit die uurglas van jou lewe verniet na benede tuimel nie?
Ek rig my oë na die berge. Waarvandaan sal daar vir my hulp kom?
Ek worstel soos Jakob met my Maker. Jeremia elf lig skaamteloos sy kop op my koffiebeker. “Ek weet wat Ek vir julle beplan…voorspoed en nie teenspoed nie…”
…tóg loop die uurglas sy loop… en spyt kom te laat.
Toe die son die nuwe dag aankondig en ek – mank in die heup – van my knieë af opstaan, weet ek méér en is ek wyser.
Wanneer die lewe sy keerpunt bereik en daar meer sand ónder in die uurglas is as bó, het enige middeljarige een van twee uitkyke op sy baan vorentoe:
Die uurglas is óf half leeg…óf half vol.
Mense wat die uurglas half leeg sien reik verlangend uit na die sus van die lang bome, die euforiese verlossing uit die knelgreep van menswees wat parasities alle leeflus uit hul siel suig. Nes pa. Die middeljare is die begin van die einde, en iepekonders en kranklikhede maak koesterend nes in die voue van elke nuwe plooi.
Stywe spiere, hoë bloeddruk en hartkloppings raak stoepgesels. Die medisyne voorraad neem toe en die daaglikse handvol pille word weekliks in bakkies afgetel – ingeval Alzheimers onverwags toeslaan. Dae word te kort en nagte word te lank en verspeelde kanse word soos biltongsenings op stomp tande herkou.
In ‘n nuwe kluisenaarsbestaan word die ure omgetel en jy sien hierdie spesie slegs hinkend by die kerkbasaars en Saterdag markte. Die aande is te koud vir uitgaan en die wêreld is boos.
Pensioentyd word ‘n uiklophou.
Terugkyk bring net spyt.
Soos die laaste kooltjie in ‘n gebluste vuur verbete veg vir die behoud van sy hitte gloei erkenning van verspeelde kanse in ‘n rooi skaamte oor die kamers van berou. Onthou jy nog…toe ek nog jonk was..het ek maar…
“Gaan julle maar vooruit…ek kan nie meer die pas volhou nie.”
Mense wat die uurglas half vol sien is ‘n ander spesie.
Dankbaar blik hulle in die truspieël van die uurglas na gister se boustene op stewige fondasies. Verspeelde kanse word geweeg en te lig bevind. Seker van hul voeteval stap hulle bergop, strome oor en deur die wildernis van oudword se nuutgeit.
Pensioentyd word bloot ‘n nuwe avontuur.
Terugkyk bring gemoedsrus.
Iepekonders en geite is ‘n klippie in die skoen. Hierdie spesie middeljariges weet watter mag die tong het en fokus nie op die stywe spiere, die hoë bloeddruk en hartkloppings nie. Hulle glo in die krag van gebed, en in die waarde van ‘n gesonde gees.
Hierdie mense wéét dat God die werk wat Hy begin het tot volle vrug sal bring. Hulle droom drome en sien gesigte waar hul geduldig aanstap op die baan wat God vir hulle afgemeet het. Hulle verwissel nie bane net omdat oudword aan die deur klop nie. Hulle word nie moeg om goed te doen nie. Hulle volhard in gebed en rig elke versoek Godwaarts en steun nie op die arm van die vlees nie.
Vader Tyd draai die wyser terug vir middeljariges wie die uurglas half vol sien. So seker as wat Hiskia meer tyd op aarde gegun was so seker is hulle dat Vader Tyd ‘n oomblik wink en langsamer sy arm vir hulle draai.
Die stadiger leefpas rek elke leef-oomblik tot ‘n ryk aroma. Elke korreltjie sand wat uit die uurglas val het ‘n rippeleffek. Elke asem tel. Die helder lag van ‘n kind eggo deur die kamers van die hart, ‘n rooikophoutkapper se kap skep ‘n melodie wat nie verlore gaan sonder ‘n oomblik se stilstaan om die wonder van die skepping in te drink nie. Elke blom in die tuin vervolmaak ‘n dag, en tyd staan stil in die maan se opkoms.
Stiltes praat. Wysheid word in grysheid gebore. Die drang om te reageer op die siening van elke jan rap maak plek vir ‘n groter genade vir jonger gesels se storm-en-drang.
Oudword is nie ‘n keuse nie. Elke mens het egter ‘n keuse om die uurglas van die lewe óf half leeg, óf half vol te sien.
My keuse is gemaak. Die lang populiere kan wag.
Wat kies jy, liewe middeljarige?
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Julie 2025 – OOP (Skaduwee van tyd) projek