Kinderrympies
TRIPPE TRAPPE TRONE(1)
Trippe trappe trone,
die varkies in die bone,
gansies op die groene gras,
eendjies in die waterplas,
ek wens dat Kindjie groter was
om ouma se eendjie op te pas.
Trippe Trappe Trone (2)
Trippe trappe trone,
varkies in die bone,
koeitjies in die klawer,
perdjies in die hawer,
gansies in die groene gras
eendjies op die waterplas.
Ek wens dat kindjie groter was,
om al die diertjies op te pas.
Apie op ‘n stokkie
Daar’s ‘n apie op ‘n stokkie
voor my ma se agterdeur,
daar’s ‘n gaatjie in sy broekie
en sy stertjie loer daardeur.
Raaiselrympie…
So groen soos gras,
so wit soos was,
so rooi soos bloed
so suikersoet!
Wat is ek… (‘n waterlemoen)
Swart skaap
Swart skaap, swart skaap,
het jy baie wol?
Ja baas, ja baas,
drie sakke vol.
Een vir die nooi,
en een vir die baas,
en een vir die seuntjie wat so baie kan raas.
Tien klein paddatjies
Tien klein paddatjies kom sit in ‘n kring,
bring julle boekies en laat ons sing.
Maak julle bekkies wawyd oop
en sing vir my so soet soos stroop.
Kwak-kwak-kwak,
Kwek-kwek-kwek,
Tien klein paddatjies maak my gek!
(W. D. Bosman)
Trein ry
Sakke, pakke,
sout en peper;
gee my stoom
dan loop ek beter!
(Pieter W. Grobbelaar)
Vingerling
Duimpie het in ide water geval,
Lekkerpot het hom uitgehaal,
Langeraad het hom huis toe gedra,
Fielavlooi het hom neergelê
en Pinkie het vir Ma gaan sê.
(DJ Opperman)
Wippie en Snippie
Wippie en Snippie loer uit ‘n gaatjie,
Wip is ‘n muisie en Snip is sy maatjie.
Wippie en Snippie daar kom die groot kat,
Woeps spring die twee muisies weer terug in die gat.
Die verkluimde akkedis
Net hier voor my op die grond
Het ek die liefste ding gekry-
Stertjie rooi, en verder bont
En nie die minste bang vir my!
Kyk, ek neem hom in my hand.
Foeitog, kleinding, wat is jy?
Hier-jy, haai! Jou klein kalant!
Kyk nou hoe laat skrik jy my!
Die wind die waai
Die wind die waai,
Die haan die kraai,
die bok staan op sy tone
en steel die boer se bone.
Die boer kom met ‘n kweperlat
en slaan hom op sy linkerblad.
Wielie, wielie, walie
Wielie-wielie-walie,
die aap sit op die balie.
Tjoef-tjaf val hy af;
tjoef-tjof
klim hy op!
Wielie-wielie-walie.
Apie
Daar is ‘n apie op ‘n stokkie
voor my ma se agterdeur,
daar’s ‘n gaatjie in sy broekie
en sy stertjie loer daardeur.
Kat en Muis
‘n Kat sê eendag vir ‘n muis:
“Ek voel tog so alleen,
kom speel hier met my in die huis,
dan gee ek jou ‘n been!”
“Nee dankie,” se die slimme muis,
“Ek bly maar weg van jou –
by katte voel ek glad nie tuis,
hulle wil my beentjies kou”
Jakkals en gansie
Jakkals nooi vir gansie
Kom eet vanaand by my
Daar’s heerlike kossies
en uintjies uit die vlei.
Nee dankie se die gansie
as ek vanaand by jou kom eet
vreet jy my sekerlik op.
Pannekoek bak
Allawiek! Allawak!
Ons gaan pannekoek bak
met suiker en melk en eiers
met regtige eiers en regtige melk,
met ‘n lepeltjie suiker en botter vir elk.
Allawiek, Allawak!
Ons gaan pannekoek bak!
Klap, klap, klap!
Klippertjie kappertjie
kap, kap, kap.
Mondjie
happertjie
hap, hap, hap.
Voetjie skoppertjie
handjie klappertjie.
Happertjie
skoppertjie
klap, klap, klap.
Handjies klap (1)
Handjies klap, koekies bak,
bring die meel,
nie te veel,
klits die eiers gou-gou-gou,
lekker eet ons nou-nou-nou
Handjies klap (2)
Handjies klap, koekies bak,
Oupa kom in die langpad aan.
Mientjie speel met die kind
in die bos,
Daniel maak sy skoenrieme los,
en Katjies skree:
Mieu, mieu, mieu, mieu, mieu!
Kennewippie
Kenne-kennewippie mondjie fluit,
traantjie in die ogie, neusie snuit,
tikkie op die kop; my storie is uit!
Hoendertjie speel
Vyf fraai vingertjies,
poffertjies dik;
hier kom die hoendertjie
pik, pik, pik!
Maak gou ’n vuisie,
vingertjies vyf;
vat vas die vingertjies
styf, styf styf.
Vyf fraai vingertjies,
vuisie so sterk;
weg vlug die pikkertjie,
weg, weg, weg!
Tik- en drukspeletjie
Traantjie-ogies,
frummelneusie,
krummel mondjie,
handvol grondjies
beentjies rietjies,
bloukolknietjies,
nerf-af toontjies.
Skiet hom in die magie!
Soen hom in sy kragie!
Treinrympie
Sakke, pakke
sout en peper;
gee my stoom
dan loop ek beter.
Hoedjies van papier
Een, twee, drie, vier,
hoedjies van, hoedjies van,
een, twee, drie, vier,
hoedjies van papier.
Het jy dan g’n hoedjie meer?
Maak dan een van koerantpapier!
Een, twee, drie, vier,
hoedjies van papier
Tortelduifie
Tortelduifie sit in die eikeboom,
sing die lied van sy lewensdroom.
Koer, tortelduifie, koer,
tortelduifie by die waterstroom!
Perdjie
Hop, hop, hop!
Hop my perdjie, hop!
Oor die klippe, oor die slote,
trap versigtig met jou pote!
Altyd op galop!
Hop my perdjie, hop!
Draf, draf, draf!
Draf my perdjie, draf!
As jy my wil afgooi, perdjie,
gryp ek gou-gou aan jou stertjie,
dan val ek nie af!
Draf my perdjie, draf!
Ho, ho, ho!
Ho my perdjie, ho!
Kom ons eet eers gou ’n stukkie
en dan rus ons net ’n rukkie.
Hokaai, hokaai, ho!
Ho my perdjie, ho!
Slaap, my kindjie, slaap sag
Slaap, my kindjie, slaap sag, onder rose vannag.
Eers die armpies om my nek en dan warmpies toegedek.
Môre vroeg, as God wil, word my kindjie gewek;
môre vroeg, as God wil, word my kindjie gewek
Slaap, my kindjie, slaap sag, onder eng’le se wag;
hulle toon jou in ’n droom kindjie Jesus se boom.
Slaap nou soet, hulle wys jou ’n droomparadys,
Slaap nou soet, hulle wys jou ’n droomparadys.
Met ’n mandjie rose
Liefste Tannie, ons bring rosies, rosies blink met môredou;
mooie kleurtjies, soete geurtjies, en dis alles net vir jou!
Rosies fluister: “Liefde, soentjies”, in verbloemde blommetaal;
rosies fluister: “Liefde, soentjies”, in verbloemde blommetaal.
Rosies wat ons uit ons tuintjie, liefde uit ons hartjies haal.
Rosies wat ons uit ons tuintjie, liefde uit ons hartjies haal.
Maar die soentjies … in geen mandjie; nêrens in wil dit geluk.
Liefste Tannie, ons is raadop: soentjies moet jy self maar pluk!
Liefste Tannie, ons is raadop: soentjies moet jy self maar pluk
ESELTJIE RY
Ka-poe-te, ka-poe-te, ka-pat,
die eseltjie ry ná die stad.
Hy pluk aan sy toompie
en sukkel met oompie
en trek sy twee lang ore plat.
Ka-poe-te, ka-poe-te, ka-pout,
maar kyk so ‘n esel is stout!
Toe, roer jou, Jan-dooi,
loop vinnig, loop mooi,
en klaps! kom ‘n raps op die bout!
Ka-poe-te, ka-poe-te, ka-pat,
maar nou laat so ‘n eseltjie spat.
Dit spring en dit skop,
en dit wip agter op,
en oompie lê plat in die pad!
FEËLIED
Daar is feetjies, kleine feetjies in my tuintjie.
En ek wonder wie kan raai waar hulle woon.
Hulle huppel heen en weer op die blaartjies sag en teer;
hulle huisies is die blommekelkies skoon.
Daar is feetjies, kleine feetjies in my tuintjie.
Hulle vlerkies skitter fraai in sonneskyn.
Hulle fladder hier en daar, speel so lieflik met mekaar;
hulle rokkies is gemaak van blou satyn.
Daar is feetjies, kleine feetjies in my tuintjie.
Op hul hofies dra hul elk ‘n blommekroon.
Elke keer as hulle lag klink dit helder, lief en sag.
O, ek wens dat hul vir altyd hier wil woon.
DIE KABOUTERTJIES
“Kyk Mammie, ek wil gou eers groet voor ek gaan ry.
My houtperd staan daar buitekant en wag vir my.”
“Ai, houtperd, jy kan skop! Kom, laat ons weggalop!”
Klop, klop, klop, klop ry ons nou aan tot by die dam.
Ek maak my perdjie vas daar aan ‘n boom se stam.
Hier woon my vriendjie Klaas, Kabouterland se baas.
Sy matertjies is almal besig om te naai.
Gebukkend sit hul daar en stik aan skoentjies fraai.
Daar’s rye kant en klaar; dalk gee hul my ‘n paar.
Ou Klasie, die kaboutertjie, stap na die kas.
Hy haal daaruit ‘n paartjie wat vir my net pas.
“O, baie dankie tog! Nou sal ek lekker spog.”
“Kaboutertjies, dit is al laat, ek moet nou gaan.
As ek nog langer bly sal Mammie nooit verstaan.
Totsiens Kabouterspan! Bly lekker by die dam!”
Volkswysie uit “Loelie se liedjies” van Adele Jooste.
KABOUTERMAN
Daar onder in die bos woon kabouterman.
Hy het ‘n tuitpunt hoed en ‘n jassie aan;
In sy mond g’n enkel tand,
towerfluitjie in sy hand.
Wie kan hy tog wees, daardie ou kalant?
Kabouter, stouter, maak jy die kinders bang?
Is jy die tokkelos wat die kinders vang?
Arrie, ek is bang vir jou;
kyk hoe beef my broekie nou!
Wag, ek moet laat spat, net-nou kom die ou.
DAAR DANS ‘N BIBA-BOETSIMAN
Daar dans ‘n Biba-Boetsiman in ons ou huis alom-di-dom,
daar dans ‘n Biba-Boetsiman in ons ou huis alom.
Hy maak ‘n vreeslike boehaai, hy laat die stowwe aaklig waai.
Daar dans ‘n Biba-Boetsiman, hy dans net wat hy kan.
DIE MEUL
Ek hoor die ou meul by die waterval raas: klip-klap!
Die heerlikste speelplek op vader se plaas: klip-klap!
Ons swem in die water en spat mekaar nat,
ons klim in die boom en gooi klei met die lat.
Klip-klap, klip-klap, klip-klap.
Die waterwiel draai en die wieletjies klein: klip-klap!
Die meulstene maal en die meel is so fyn: klip-klap!
En moeder bak koekies, beskuitjies en brood–
dit bly vir ons lekker, al word ons ook groot.
Klip-klap, klip-klap, klip-klap.
Kom somer en son word die koring gou ryp: klip-klap!
Die oes ingesamel, die meulsteen geslyp: klip-klap!
Die hemelse Vader gee daaglikse brood;
so ly ons nooit honger en ken ons geen nood.
Klip-klap, klip-klap, klip-klap.
HASIE IN DIE BOSSIE
Hasie in die bossie, sit en slaap.
“Arme hasie, is jy siek?
Waarom lyk jy so komiek?”
Hasie spring! Hasie spring!
Hasie spring, spring, spring!
S.A. Volkswysie, soos opgeteken deur Chris Lamprecht by mev. Hettie Cillié van Stellenbosch.
DIE GEVEERDES
Ou Kalkoentjie, maak vas jou skoentjie,
jou vere sleep rond op die grond.
Ou Makoutjie, gaan soek tog ‘n vroutjie,
of anders loop jy heeldag deur vir kwaadgeld hier rond.
Ou Eendjie, jou kleertjies is spierwitte veertjies,
die waters is nooit baie ver.
En ou meneer Kraan, wat eenbeen staan,
jy dink seker jy’s miljoenêr!
ALLA WIEP, ALLA WAP
Alla wiep, alla wap
Hoe kook jy die pap?
Sonder suiker, sonder melk,
‘n groot bord vir elk.
WIPPIE EN SNIPPIE
Wippie en Snippie loer uit by ‘n gaatjie.
Wip is ‘n muisie en Snip is sy maatjie.
“Wippie en Snippie, daar kom die groot kat!”
Woerts is die muisies weer trug in die gat.
DIE JAKKALS EN DIE EENDJIE
‘n Vette eend het eendag al met die pad geloop.
Sy wou gaan rys en ertjies en lekkernye koop.
Maar langs die pad het Jakkals haar stil-stil voorgelê;
‘n eend hier in sy bladsak, is net wat hy wou hê.
“Goeiemore, liewe Eendjie, ek sien jou voete pla.
As jy in hierdie sak klim, sal ek jou mark toe dra.”
“Nee dankie, meneer Jakkals, al pla my voete ook,
Dis beter in die paadjie as in jou pot te kook.”
AS EK EENDAG GROOT IS
As ek eendag groot is
Bou ek vir my ‘n huis
Met plek vir al die diere,
Van ‘n olifant tot ‘n muis.
In elkeen van die slaapkamers hou ek ‘n beertjie aan,
En weet jy, in die voorhuis, daar woon die bobbejaan!
BOBBEJAAN
Bobbejaan, bobbejaan, waar kom jy vandaan?
Bo uit die berge, onder die maan.
Bobbejaan, bobbejaan wat maak julle daar?
Ons grawe vir uintjies en stoei met mekaar.
MY SWEPIE
Ek maak ‘n lekker swepie,
‘n riempie aan ‘n stok –
Daarmee laat ek die varkies
Hardloop uit hul hok.
Ek gee ‘n harde hou –
O, nie regtig raak –
Net om die stoute varkies
Goed skrik te maak.
Helena F Lochner
KIEPIE
Kiepie, Kiepie, kom tog gou
Hier is lekker kos vir jou
Maar dan moet jy my eers sê
Waar jy al jou eiers lê.
DIE GOUE SLEUTELTJIE
As ek ‘n goue sleuteltie
In die hande kry
Dan sluit ek al die koutjies oop
En laat die voëltjies vry.
Ek sluit ook ons ou koskas oop
Waar Ma die koek in hou
En allerhande lekker goed
Waaraan ek graag wil kou.
Maar ons ou skooldeur sluit ek toe!
So styf as jy kan dink –
Die sleutel gooi ek in die see
Om diep daar weg te sink!
Helena F Lochner
BEROU KOM ALTYD TE LAAT
‘n Muisie speel naby die kat,
Sy moeder sien hom daar.
“Ag, kindlief,” roep sy, “kom tog gou
Jy is in groot gevaar!”
Maar hoe die moeder ookal roep
Die muisie gaan sy gang.
Daar spring die kat en in haar klou
Het sy die muis gevang.
Ag, had die diertjie maar gehoor ..
Berou kom nou te laat.
Leer hier ‘n lessie uit, my kind,
en hoor na goeie raad.
WAAR KOM EK VANDAAN?
“Mammie, waar kom ek vandaan?”
“Hoog uit die berge, klein bobbejaan.
Kees se seun, Joggem.
Eers in die seeppot, die hare afgekrap,
Toe op die houtblok, die stert afgekap.
Nou lê hy knus, saggies en warmpies
Styf vasgehou in moeder se armpies.”
EKKE
My oupa noem my Grootseun,
My ouma sê “my Skat”
Tant Marie noem my Suikerbek
En Omie sê Aspatat.
Rosina noem my Grootman
En Herklaas sê Galant
Maar ek is my mammie se liefste kind
En my pappie se regterhand.
LIEFDE MET GEVOEL
Waarom huil klein Sussie so?
Netnou het sy niks makeer nie.
Dis weer Boetie, kan jy glo,
Maak hy haar nie altyd seer nie?
Waarlik, hy het haar gebyt,
Kyk daar sit die merk, my lammie –
‘n splinternuwe stoutigheid.
“Dis maar net van liefde, Mammie!”
“Liefde? Dis ‘n mooie grap!
Wat moet Mammie met jou doen
As jy so jou sussie hap?”
“Slaan my, Mammie, maar eers soen.”
“Maar eers soen?” Ek bid jou aan!
Sê my nou: Wie kan dan slaan?
A.G. Visser
DIE HAANTJIE
Haantjie klap sy vlerkies toe
En sê Koeke-doedel-doe!
Dit is tyd om op te staan:
Kinders moet nou skool toe gaan.
Haantjie, waarom tog so vroeg?
Ag, ek is tog nog so moeg.
Haantjie, stil tog asseblief
Ek het my slaap so lief.
Kinders, nee, dit is al laat
Al die mense loop op straat,
Eenmaal nog roep ek jul toe:
Koeke-doedel-doedel-doe!
W.H Boshoff
KLEIN PARMANT
Tinktinkie sit bo in die boom
Waaronder oom Olifant wei,
En toe begin die kleine vent
Soos groot meneer baklei:
“Gaan weg hier van my boom af man!
Al lyk ek vir jou klein,
As ek hier afklim, glo vir my,
trap ek jou ribbes fyn.”
Ou Olifant verhef sy slurp,
En het maar net genies
En plaks, daar val Tinktinkie af
En binne-in sy kies.
WOEFIE IS MY KOLLIEHOND
(Kan ook gesing word)
Woefie is my kolliehond
Ons twee hardloop buite rond.
As ek op my rietperd ry
is ou Woefie altyd by.
Somtyds as die hond van my
Met die stompstert kat baklei
Kry ou Woefie dan ‘n klap
Kies ou Woef die hasepad.
Eendag toe ons saam gaan jag
wou ek my so stukkend lag.
Plaas dat hy ‘n leeu moet vang
Word hy vir ‘n meerkat bang.
Sê VINNIG
My liewe neef Louw
My neus jeuk nou.
Jeuk my liewe neef Louw
Se neus ook nou?
FIEMIES
Marta is vol fiemies
Sy trek haar neus opsy.
Kool wil sy nie eet nie, pampoen laat sy ook bly.
Haar rok is kastig lelik,
Sy wil g’n voorskoot dra
En as ‘n mens net met haar speel,
gaan sy by Ouma kla.
Tienie Holloway
KARALIE KAROOL
Karalie Karool, die kat speel viool
Die koei spring dwarsoor die maan,
En die hondjie lag met al sy mag
En die skottel en die lepel dans saam.
DIE VERKLUIMDE AKKEDIS
Net hier voor my op die grond
Het ek die liefste ding gekry.
Stertjie rooi en verder bont,
En gladnie bang vir my.
Kyk, ek neem hom in my hand.
“Foeitog, kleinding, wat is jy?”
Hier-jy, haai! Jou klein kalant!
Kyk hoe laat skrik jy my!
DIE VLOEKWOORD
Moederlief sit by die venster
Besig met die kouse stop.
Binne snel haar seuntjie Jannie,
Asem uit op ‘n gallop.
“Moeder,” sê die kleine Jannie,
“Moeder, het vir ons geleer:
As ons woorde sê wat stout is
maak ons ma se hart so seer.”
“Ja, my kindjie” sê die moeder,
Wat het my kind gesê?”
“Ma, dis Boetie, dis nie ek nie!
Dis ‘n vloekwoord wat hy sê”
“Kom nou Jannie, sê die moeder,
Wat het Boetie dan gesê?
Moeder kan hom mos nie straf nie
Voordat jy die saak uitlê.”
“Ag,” sê Jannie, “dis te vreeslik,
Ma se hart sal sommer breek.
Ma sal seker dit nie glo nie,
Maar hy sê … hy sê…APTEEK!”
Henriette Pienaar
DIE DUISENDPOOT
Pasop! Pasop vir die duisendpoot!
As hy jou byt lag jy jou dood.
Hy byt klein Jannie op ‘n dag:
Daar kry die kind die lekkerlag.
Dit kielie hier, dit kielie daar,
Dit kielie oral aanmekaar.
Sy voetsool, neus, sy hart se sak,
Dit kielie in sy kieliebak.
Sy mond rek wyd, sy tande wys,
Hy kry inwendig hoendervleis.
Hy rol, hy krul, hy hou sy maag.
Ha-ha! Daar skeur sy hemp se kraag.
Ho-ho! Daar klap sy boonste knoop.
Hie-hie! Daar vlieg sy baadjie oop.
Sy are swel, sy kleur word blou;
Die lagbui word ‘n wolkbreuk nou.
Sy vader skrik: “My liewe tyd –
Vanwaar nou die lagsinnigheid?”
Sy moeder kerm: “Ag, wat is dit?
Nog nooit had hy die ritteltit.”
AS BOETIE BAD
As Boetie bad is alles nat
Wat in die kamer staan.
Die water spat ‘n breë boog
Tot teen die drumpel aan.
Die kat dra gou haar kleintjies weg
En Sussie gryp haar pop,
Ou Wagter loer net een slag skuins
En soek die tuintjie op.
VINGERRYMPIE
Duimpie het in die water geval
Lekkepot het hom uitgehaal,
Langeraat het hom huis toe gedra,
Filafooi het hom neer gelê,
En Pinkie het vir Ma gaan sê.
DUIMELOT
Duimelot het ‘n os gekoop
Lekkepot het hom laat loop
Langeraat het hom afgeslag,
Filafooi het die wors gestop
En diè klein skelm eet alles op.
JAN BALIE
Daar kom ou Jan Balie aan
Hy het sy vrou se tjalie aan
Hy lag so gie! Hy lag so ga!
Hy lag so gie ga ga!
Die buurvrou loer en sê: “ek wed
Lagstuipe – dit is wat hy het.”
Die buurman luister op sy stoep
En gaan die naaste dokter roep.
Die dokter bring lanset en spuit;
Eers in sy arm, toe in sy kuit.
Toe lag hy eens so erg. “Dis mis –
Dis glad nie waar my lagspier is.”
Toe mompel dokter Oudedoos:
“Ek vrees die saak is hopeloos.”
Toe kom ou juffrou Net Natuur
En sê: “Probeer my waterkuur.”
Maar wat … hy’t al die put se water
in ‘n ommesientjie uitgeskater.
Toe kom die homeopatie-man;
Geen siekte of hy weet daarvan.
Hy’t simpatie, hy weet ‘n plan:
“’k moet hom ‘n grap of twee vertel
Dan mag hy van die lag herstel.”
Wel. So gesê en so gedaan.
Die eerste grap tas hom al aan;
Die tweede laat hom effens gril;
By drie raak hy betreklik stil.
By vier begin hy geeu en gaap;
By vyf was hy al aan die slaap.
Bleek, uitgeput daar op die bed –
Maar almal juig: hy is gered!
A.G. Visser
KAALVOETJIES
Ek loop so graag met voetjies kaal,
Kaalvoetjies in die sand;
Ek speel so graag met water,
Met water buitekant.
Maar Moeder roep my binne,
Sy sê ek mors te veel.;
Ek wonder tog of iemand
Ooit sonder mors kan speel.
UITTELRYMPIE
Olka bolka riebietjiestolka
Olka bolka knor
Errie tjerrie tjiekerie tjerrie
Errie tjerrie tjor
(Hier hou elke kind twee vuiste voor hom/haar uit en
die hand waar “tjor” val, moet agter die rug gesit
word.
As altwee jou hande uit is, is jy uit. Die een wat die
laaste uit is, is aan)
UITTEL-RYMPIE
Vrot ta-ma-tie, lekker kon-fyt,
Hoe-veel kan eet van die boer-be-skuit?
Die kind moet dan ‘n getal van 1 – 10 sê en dan
word getel tot by die genoemde getal en daardie
persoon is dan uit.
VINGERRYMPIE – 1
Duim: Diè outjie gaan skool toe
Wysvinger: Diè outjie bly tuis
Middelvinger: Diè outjie het gaan kuier
Ringvinger: by diè outjie se huis
Pinkie: en diè outjie gaan winkel toe
Maak ‘n vuis: met ‘n sent in sy vuis.
VINGERRYMPIE – 2
Duim: Duimpie
Voorvinger: Duimpie se maat
Middelvinger: Langeraat
Ringvinger: Filafooi
Pinkie: Piepie in die kooi!
VINGERRYMPIE – 3
Duim: Gaan haal hout
Voorvinger: Gaan haal water
Middelvinger: Kook kos
Ringvinger: Skep op
Pinkie: Eet alles op
HAASBEKKIES
Bettie sleep haar tongetjie
en Danie se woordjies fluit
En Gerrie se voorste tandjies
Is die laaste ene uit.
Ons hele klas is haasbek
Want almal wissel nou.
En speeltyd moet ons sukkel
Om ons harde kos te kou.
Dawid het ‘n appel,
Hy klou dit in sy vuis
En druk dit teen sy kieste vas
En kerf dit soos ‘n muis.
Lenie het ‘n groenmielie
Sy druk dit teen haar wang
En sukkel met haar oogtandjies
Om pitte raak te vang.
Ou dik Piet is nog honger
Maar sy korsies lê opsy
‘n mes durf ons nie dra nie
Want ons sal ons vingers sny.
En boonop moet ons versies leer.
Ons sê dit pragtig op,
Maar as meneer vir ons kom hoor,
Dan skud hy net sy kop.
Want
Bettie sleep haar tongetjie
En Danie se woordjies fluit
En Gerrie se voorste tandjies
Is die laaste ene uit.
Tienie Holloway
DIE MEERKATJIE
Ek ontmoet ‘n meerkatjie daar bo teen die rant.
Ek vra hom toe: “Hoe loop die pad na Matabeleland?”
Die outjie groet my vriendlik en wat sal hy toe sê?
Hy’t die pad nog nooit sien loop nie
Hy’t hom nog net sien lê.
MARTIE MEERKAT
Martie Meerkat voel so siek.
Haar koppie brand soos vuur.
Mamma wil die dokter roep
Maar Oupa sê: “Dit kos te duur!”
Toe dokter Springhaas eindelik kom
Weet hy net wat makeer.
“Mevrou sê hy, “dis kuikenvleis
Dit wil nie akkordeer!”
“Drink more vroeg ‘n lepel dou
En smeer die kop met gom –
En as jy kuikens wil beloer,
Draai liewer gou-gou om.”
Bessie Kotzè
KOEN
Koen, maak reg my skoen.
Goed juffrou, dit sal ek doen.
Koen, maak jy hom sterk?
Ja juffrou, dit is my werk.
Koen, is my skoen al klaar?
Ja juffrou, betaal my maar.
Koen, ek het geen geld by my nie.
Dan kan jy jou skoen nie kry nie.
Dag Koen!
Dag juffrou sonder-skoen!.
WAGHONDJIES
Ek is hier en ma is hier
Ons twee lê op baas se baadjie.
“Oppas,” het die baas gesê,
“Tot ek weer kom, hier bly lê”
Op ons pootjies lê ons kop
Maar ons hou jou darem dop.
“Weg jou hand, en raak ons nie,
Anders word ons knor ‘n daadjie!”
Toe oog lê ons op die baadjie
maar ons loer tog deur ‘n gaatjie.
Een oor op en een oor af. “Pasop!”
GEBEDJIE
Dankie vir die lekker dag
Dat ons kon speel en lag.
Dankie vir die sonneskyn,
Die diertjies groot en klein.
Dankie vir ons kos, o Heer,
En alles lief en mooi en teer.
Amen
DIE PROFEET
As ons ou kat, Meneer De Bruin
Sy snorretjie so was,
Dan voel ek altyd baie bly
Want een ding glo ek vas:
Ek glo dat hy hom voorberei,
Ons gaan vanmiddag mense kry.
Dan trek ek my vuil voorskoot uit
En kam my hare glad.
Dan kyk ek na die dorp se kant
Al langs die maanhaarpad.
Maar mammie sê: “Jou lawwe kind,
Wat glo jy sulke bog?”
Maar netnou-netnou kom ‘n kar,
Hoe lekker lag ek tog.
Dan moet hul rondspring dat dit kraak
Om alles reg en klaar te maak,
En ek speel lekker in die tuin
Met ons ou slim Meneer De Bruin.
OU JUFFROU PADDA
“Tien klein paddatjies, kom sit in ‘n kring.
Bring julle boekies en laat ons sing.
Maak julle bekkies wawyd oop
En sing vir my so soet soos stroop.”
“Kwak kwak kwak!
Kwek kwek kwek!”
Tien klein paddatjies maak my gek.
RAAISELS
Hier kiep-kiep, daar kiep-kiep.
Woerts in die hoekie. (besem)
Ek het ‘n perdjie,
Hoe verder ek ry
Hoe korter word sy stertjie. (brandende sigaret)
Kromme vader, holle moeder
Drie kindertjies sonder siele. (driepoot pot)
So groen soos gras, so wit soos was
So rooi soos bloed, so suikersoet. (waatlemoen)
OOM OLIFANT
Oom Olifant, jou reuse dier
Die mense lag vir hul plesier,
Want waar het jy al ooit gehoor
Van ‘n stertjie van agter en ‘n stert van voor?
BLOU MAANDAG
My mammie is laat,
My pappie is kwaad,
Ons hulp het nie opgedaag.
Die stoof is vuil,
Die babatjie huil,
Hy het vreeslik pyn op sy maag.
Die reën die spat,
Die wêreld is nat,
Net lekker om kaalvoet te loop.
Keer voor, keer voor!
Die tenk loop oor!
Die water spuit van die dak.
Draai net die kraan onder oop
Dan sal dit van bo sommer self sak.
MUSKIETJAG
Jou vabond, wag, ek sal jou kry,
Van jou sal net ‘n bloedkol bly
Hier op my kamermure.
Deur jou vervloekte gonsery,
Deur jou gebyt en plaery
Kon ek nie slaap vir ure.
Mag ek my voorstel, eer ons skei,
Eer jy die doodslag van my kry –
My naam is van der Merwe.
Muskiet, wees maar nie treurig nie,
Wees ook nie so kieskeurig nie,
Jy moet tog ééndag sterwe.
Verwekker van malaria,
Sing maar jou laaste aria –
Nog een minuut vir grasie.
Al soebat jy nou nòg so lang,
Al sê jy ook: ek is nie bang,
Nooit sien jy weer jou nasie…
HOOGMOED
‘n Padda op ‘n boereplaas
Het hom mos eenmaal opgeblaas.
Hy sê hy wil, wat dit ook kos,
So groot word soos ‘n os.
Hy blaas en blaas sy kieste bol
Sy rug word krom, sy magie hol.
Maar ag! Jy hoor net tande knars
Want ons ou vriend het oopgebars.
Daar lê hy nes ‘n droë beskuit
Met al sy ingewande uit.
Nouja ons weet dit almal mos,
‘n padda word tog nooit ‘n os.
W.H. Boshoff
AS DIT FLUIT-FLUIT GAAN
Dit was ‘n bitter dag vir my
Die Sondag in die kerk;
Waar ons sit, in die middelry,
Word alles opgemerk.
Die dominee hou skielik op,
Die ouderlings kyk om;
Rooiskaam laat sak my ma haar kop
Want almal lyk verstom.
Wel, tuis het ek ‘n pak gekry
En huil my byna hees,
Maar dit was darem, glo vir my,
‘n lekker fluit gewees!
A.G. Visser
RAAI RAAI
Ek sit twee wit perde in die stal.
As ek hulle uithaal is hulle bruin.
(brode wat gebak word)
Hoe sedig sit hy, O, die ding!
Sy kinders kan maar kranse bring,
Nóu gaan die vabond sterwe…
Pardoef! Dis mis! Daar gaan hy weer!
Maar dòòd sal hy, ek sê dit weer:
My naam is van der Merwe!
A.D. Keet
AANDGEBEDJIE
(Uit die Hallelujaboek 1949)
Heer, as my moeder rustig slaap
en donker is die nag,
hou in die stllle duisternis
dan tog by my die wag.
Leer my verstaan dat niks my tref
U waak aan elke kant,
Ook in my donker kamertjie
Hou U my aan die hand.
Amen
Sê-NOU
Sê-nou is ‘n lekker sê:
Alles wat ‘n mens wil hê,
Alles wat jou hart begeer
Kry jy en nog baie meer.
“Sênou maar..” sê ek vir my maat
Toe ons saam loop langs die straat,
“Sê byvoorbeeld enigiets
Van ‘n motor tot ‘n fiets
Perdekar of ossewa,
Ryperd wat sy ruiter dra,
alles waarop mense ry
Gaan onsigbaar hier verby.
Ooms te perd met lange baard
Wip-wip luglangs dood bedaard.
Snaaks sou wees die tremwa daar,
Twee verdiepings opmekaar,
Maar die baie-sukkel-trap
Lyk my nog die grootste grap
As jy net die fietser sien
Maar geen spoor van sy masjien.
“Sê-nou..” dis ‘n lekker sê.
Alles wat ‘n mens wil hê,
Alles wat jou hart begeer
Kry jy en nog baie meer.
BIESIE-BIESIE-BAME
Skoon is nou weer elke poppie
Van die voetjies tot die koppie.
Sedig sit hul, maar ek vrees
Almal was nie soet gewees,
Want die stoute Teddiebeer
Het sy bakkies swart gesmeer
En die wilde Golliewok
Het vandag weer so gejok.
Riena kom van Graaff-Reinet,
Ons twee het tog soveel prêt.
Kjoepie is my liefste kind
Met haar laggie en haar lint.
Toe maar, nou is almal soet,
Moedertjie is ook weer goed.
Knietjies krom en hande netjies
Bid nou julle aandgebedjies:
Biesie-biesie-bame
Vou die handjies same;
Ena, dena, dana, doe,
Maak nou julle ogies toe;
Mena, mina, mana, moeg,
Tot dit lig word more vroeg.
Amen.
A.G.Visser
Die robotliedjie
Ek ry in my mooi motorkar
en saam ry ook my pop
en as ek by die rooi lig kom
dan weet ek ek moet stop
(Koor)
Stop sê die rooi lig
ry sê die groen lig
oppas sê die geel lig.
Oppas wat jy doen
(Pampoen!)
Oom Olifant
Oom Olifant
Jou reuse dier
die mense lag vir hul plesier
want waar het jy al ooit gehoor
van ‘n stertjie van agter
en ‘n stêrtjie van voor.
Volstruis
Volstruis volstruis met jou lang nek,
kan jy hom nog langer rek,
kan jy hom nog langer maak,
tot jy aan die dak kan raak.
Kyk dan ‘n bietjie daar
of jy nie my bal gewaar
kyk ‘n bietjie mooi volstruisie hoor!
Slaap, Kindjie, slaap
Slaap, Kindjie, slaap,
daar buite loop ‘n skaap,
‘n skaap met witte voetjies,
hy drink sy melk so soetjies,
skapie met sy witte wol,
Kindjie drink sy magie vol.
Slaap, Kindjie, slaap.
Slaap, Kindjie, slaap,
Papa gaan na die Kaap,
Papa het gaan koekies koop,
En more maak jy jou ogies oop,
Dan sit jy in die hoekie
En kry ‘n klein soetkoekie;
Jy vat dit met jou handjie
En byt dit met jou tandjie,
Slaap, Kindjie, slaap
Slaap, Kindjie, slaap,
jou pa is na die Kaap,
jou mamma skud
die boom se top,
dan val ‘n droompie
op jou kop,
slaap, Kindjie, slaap.
Slaap kleine babatjie
Slaap, kleine babatjie
bo in die boom;
slaap, kleine babatjie
sonder ‘n droom.
As die wind waai,
sal die babatjie swaai,
maar as die tak breek,
lê hy onder die boom.
‘n Wiegeliedjie CJ Langenhoven
Lamtietie, damtietie, doedoe my liefstetjie,
moederhartrowertjie, dierbaarste diefstetjie!
Luister hoe fluister die wind deur die boompietjie,
heen en weer wieg hy hom al oor die stroompietjie.
“Doedoedoe bladertjie,
slapenstyd nadertjies;
doedoedoe blommetjies,
nag is aan’t kommetjies.”
So sing die windjie vir blaartjies en blommetjies.
Bo in die bloue lug flikker die sterretjies –
hemelse brandwaggies, lampies van verretjies,
wakend oor windjies en wolkies en stroompietjies,
wakend oor mensies en diertjies en boompietjies.
“Wees maar gerustetjies,
slaap maar met lustetjies!”
So sing die sterretjies –
stilletjies, verretjies:
Vuurvliegies, lugliggies, ewige sterretjies!
Onskuldige ogies en voetjies en handetjies!
Wie weet hoe ver moet my kleintjie nog ganetjies,
ver deur die wereld se kronkels en gangetjies!
Bly tog maar kleintjies en bly dit maar langetjies.
Bly maar by moedertjie,
kindlief se hoedertjie –
slaap in haar arrempies,
saggies en warrempies,
Doekies, dan, doekies in moeder se arrempies
PIKANINIE-WIEGELIED
Slaap Pikaninie, ons vee’s in die kraal–
almal ons skapies en bokkies.
Môre vroeg kry jy van soetpap ‘n maal,
en ‘n paar spierwitte sokkies.
Doe-doe, doe-doe!
Doe-doe, doe-doe!
Slaap Pikaninie, die ou bobbejaan
ken mos vir jou vantevore.
As jy nie slaap, kan jy seker wees, man,
byt hy jou neus af en ore.
Doe-doe, doe-doe!
Doe-doe, doe-doe!
Pappie kom môre terug van die dam;
ry op sy vet ou kapater.
As hy dan hoor hoe jy soet was, my lam,
hoe sal jou Pappie dan skater!
Doe-doe, doe-doe!
Doe-doe, doe-doe!
Kruip nou maar diep in jou velkombers in;
Mammie bak lekker vars tertjies.
As jy nie slaap kry ou Mombak sy sin,
slaat Pikanien op sy stertjies.
Doe-doe, doe-doe!
Doe-doe, doe-doe, doe!
Slaap nou my prinsie
Slaap nou, my prinsie so klein; daglig het lankal verdwyn;
buitekant is dit al nag, moedertjie hou by jou wag.
Skapies en voëltjies rus, word deur die windjie gesus.
Slaap wyl die sterretjies skyn, slaap nou my prinsie so klein.
Doe-doe, doe-doe.
Wie’s so tevrede soos jy? Wat jy wou het jy gekry;
maatjies het met jou kom speel, nooit het die tyd jou verveel.
Nou’s jy versorg en gevoed, rustig en stil jou gemoed.
Wyl maan en sterretjies skyn, slaap voort, my prinsie so klein.
Doe-doe, doe-doe.
Dié lied staan ook bekend as die Mozart-wiegelied.
SIEMBAMBA
Siembamba, mama se kindjie,
Siembamba, mama se kindjie
–draai sy nek om, gooi hom in die sloot;
trap op sy kop dan is hy dood.
Skoon hande
Hier is nou iets wat ek moet leer:
my hande was ek elke keer
net voor ek eet; dit is gesond
so bly die kieme uit my mond
(Elizabeth Snyman)
Spreukryme
*Al dra ‘n aap ‘n goue ring, hy bly tog maar ‘n lelike ding.
*Hy is nes ‘n volstruis, waar hy kom is hy tuis.
*Van die hand tot die mond, val die pap op die grond.
Stukkend
Kyk hoe lyk my motortjies–
almal het alreeds gebreek!
Pappa se my speelgoedjies
hou nie langer as ‘n week.
(Elizabeth Snyman)
Bronne:
*Trippe trappe tone – Die groot Afrikaanse Volksrympies – Pieter W Grobbelaar
* http://forum.afrikaanseforum.co.za/
* http://kinderwerf.co.za/kinderrympies/