Kinderrympies – Vingerversies
Duimpie
Duim: Duimpie
Voorvinger: Duimpie se maat
Middelvinger: Langeraat
Ringvinger: Filafooi
Pinkie: Piepie in die kooi!
VINGERRYMPIE – Duimpie
Duimpie het in die water geval
Lekkepot het hom uitgehaal,
Langeraat het hom huis toe gedra,
Filafooi het hom neer gelê,
En Pinkie het vir Ma gaan sê.
DUIMELOT
Duimelot het ‘n os gekoop
Lekkepot het hom laat loop
Langeraat het hom afgeslag,
Filafooi het die wors gestop
En diè klein skelm eet alles op.
VINGERRYMPIE – 1
Duim: Diè outjie gaan skool toe
Wysvinger: Diè outjie bly tuis
Middelvinger: Diè outjie het gaan kuier
Ringvinger: by diè outjie se huis
Pinkie: en diè outjie gaan winkel toe
Maak ‘n vuis: met ‘n sent in sy vuis.
VINGERRYMPIE – 2
Duim: Gaan haal hout
Voorvinger: Gaan haal water
Middelvinger: Kook kos
Ringvinger: Skep op
Pinkie: Eet alles op
UITTELRYMPIE
Olka bolka riebietjiestolka
Olka bolka knor
Errie tjerrie tjiekerie tjerrie
Errie tjerrie tjor
(Hier hou elke kind twee vuiste voor hom/haar uit en
die hand waar “tjor” val, moet agter die rug gesit
word.
As altwee jou hande uit is, is jy uit. Die een wat die
laaste uit is, is aan)
UITTEL-RYMPIE
Vrot ta-ma-tie, lekker kon-fyt,
Hoe-veel kan eet van die boer-be-skuit?
Die kind moet dan ‘n getal van 1 – 10 sê en dan
word getel tot by die genoemde getal en daardie
persoon is dan uit.
Daar kom ‘n muis …
Daar kom ‘n muis,
hy bou ‘n huis.
Sit kleintjie se twee hande teen mekaar dat dit soos ‘n dakkie lyk – moet ‘n V vorm.
Daar kom ‘n mug
hy bou ‘n brug.
Maak nou kleintjie se hande plat dat sy hande ‘n bruggie vorm.
Daar kom ‘n vlooi,
en hy byt jou rooi rooi rooi!
Kielie jou kleintjie liggies! Dis die vlooi wat hom op eet!
Spekkie
Wie het die spekkie …
Klap met jou vingers in die lug terwyl jy sê:
Wie het die spekkie daar bo gesteel?
Kom stadig met jou hand af, elke keer wat jy die volgende sin sê:
Hier kom die krappie aangekruip, hier kom die krappie aangekruip. Onder die kennetjie ingeduik.
Kielie onder kleintjie se kennetjie
Duimpie het in die water geval …
Druk op elke vingertjie soos die rympie aandui:
Duimpie het in die water geval
Duimpie se maat het hom uitgehaal
Langeraat het hom huistoe gedra
Ringman het hom in die bed gesit
En Pinkie het vir pappa gaan sê!
Handjies klap
Klap kleinding se handjies terwyl jy die volgende sê:
Handjies klap
koekies bak
bring die meel
nie te veel
klits die eiers gou-gou
Vryf sy handjies vinnig teen mekaar
Lekker eet ons nou-nou
Gooi sy handjies in die lug
Eerste varkie-parkie
Gebruik die kleinding se toontjies vir die volgende rympie. Begin by die groottoon. Wikkel elke toontjie soos jy die rympie opsê!
Eerste varkie-parkie het gaan boer … boer … boer …
Tweede varkie-parkie het die mieliepap geroer …
Derde varkie-parkie bring die wortels en die beet …
Vierde varkie parkie het van alles iets geweet …
Maar die vyfde varkie-parkie wou net vreet-vreet-vreet!
Kielie die beentjies
Tien klein vingertjies
Tien klein vingertjies in die lug
Hou armpies op
Tien klein vingertjies agter my rug
Hou armpies agter rug
Tien klein vingertjies langs my sy
Hou armpies langs sy
Tien klein vingertjies behoort aan MY!
Vou armpies voor bors
Kop en skouers …
Kop en skouers, knieë en tone,
Knieë en tone, knieë en tone.
Kop en skouers, knieë en tone.
Almal werk nou saam!
Gesig versie
Toktokkie, toktokkie loop rondom die huisie (Trek met jou wysvinger ‘n sirkel rondom kleinding se gesiggie.)
Loer by die venstertjies (Wys met jou vinger na sy/haar ogies)
Klop aan die deurtjie (Tik liggies teen voorkoppie)
Draai hom oop (Draai liggies die neusie)
en gaan binne (Druk vinger op lippies. As die kindjie gewoond raak aan die speletjie sal hy/sy selfs sy/haar mondjie op die staduim oopmaak.)
My Skilpad
Dit is my skilpad (maak vuis met duim vorentoe)
hy woon in sy dop (steek duim in vuis weg)
Wanneer hy kos kry, dan loer hy daaruit (uit met duim)
Maar dis nie lank nie, of in is sy kop. (in met duim)
Die honger hasie
Ek sien ‘n honger hasie (steek twee vingers soos hasie-ore in die lug)
en ‘n groen koppie kool. (bal die ander hand in ‘n vuis)
Toe begin die ander hasie
lekker knibbel aan die kool. (regterhand knabbel aan linkervuis)
Maar nou hoor die hasie iemand (“spits” twee hasie oor vingers)
en hy sien ‘n boer kom aan.
Toe sê daai hasie haastig:
Ek sal liewer huis toe gaan (hand huppel weg)
Huisrympie – ‘n Vingerrympie vir al tien
DJ Opperman se Kleuterverseboek
Hierdie outjie vee die huis uit,
hierdie outjie was die ruit.
Hierdie ene was die skottelgoed,
hierdie ene skuur die messegoed.
Hierdie outjie skink die tee,
en almal drink dit met hom mee.
Hierdie ene stof die rak,
hierdie ene help om reg te pak.
Hierdie outjie help vir Ma,
hierdie outjie help vir Pa.
Hierdie een help kos opdra –
al die werk is klaar – hoera!
Weet jy van die huisie
in my kleine vuisie?
Hier woon die pappa.
hier is die mamma.
Hier is ousus – en haar boet,
en die baba – stroop-stroopsoet.
Vingerspel 1
Druk op elke vinger van die kleinding se hand,volgens die rympie – en kielie met die laaste reeltjie 🙂
Hierdie varkie gaan mark toe,
hierdie varkie bly tuis,
hierdie varkie eet ‘n bord vol vleis,
hierdie varkie kry niks nie,
en hierdie varkie skreeu: “Wee-wee-wee,
ek kan my mamma nie kry nie.”
Vingerspel 2
Pinkie,
Goue ringetjie,
Lange lier,
Potteskraper.
Ketellapper, Kielie kielie Winkelier!
Vingerspel 3
Duimpie,
Duimpie se maat
Langeraat,
Fielafooi,
Vang-‘n-Vlooi
Vingerspel 4
Duimpie het in die water geval,
Duimpie se maat het hom uitgehaal.
Langeraat het hom huis toe gedra,
Fielafooi het hom neergelê
en Pinkie het vir Ma gaan sê.
Vingerspel 5
Dit is my pappie (duim omhoog)
dit is my mammie (wysvinger)
dit is my ouboet Braam (middelvinger)
Dit is my sussie (ringvinger)
dit is ons baba (pinkie)
en ons woon almal saam (vou vingers saam)
Tien soldaatjies
Hou die tien vingertjies op en vou hulle op soos die sodaatjies minder word)
Tien soldaatjies vier ‘n sege –
een val neer, toe bly daar nege.
Nege soldaatjies loop heeldag –
een word moeg, toe is daar agt.
Agt soldaatjies vol lus en lewe –
een verdwaal, toe bly daar sewe.
Sewe soldaatjies stap reg wes –
maar een gaan oos, toe bly daar ses.
Ses soldaatjies staan stokstyf –
een word flou, toe is daar vyf.
Vyf soldaatjies drink hul bier –
een word vaak, toe bly daar vier.
Vier soldaatjies lig die knie –
een gaan huis toe, en nou is daar drie.
Drie soldaatjies loop by die see –
een gaan swem, en toe is daar twee.
Twee soldaatjies stap in die reen –
een soek skuiling, en toe bly daar een.
Een soldaatjie het gekul –
Hy het sommer gaan sit, en toe was daar nul
Kniespel
Hop, hop, hop! Hop perdjie hop!
Oor die klippe, oor die slote,
trap versigtig met jou pote
Hop perdjie hop!
Kieliespel 1
Hier kom ‘n muis,
hy bou ‘n huis (vat aan ken)
Hier kom ‘n muggie,
hy bou ‘n bruggie (vat aan neus)
Hier kom ‘n vlooi,
hy spring in die kooi (kielie kleinding)
Kieliespel 2
Dinker (raak aan voorkop)
blinker (regteroog)
traneskinker (linkeroog)
suiker (regteroor)
ruiker (neus)
kussingduiker (linkeroor)
kuller (bolip)
smuller (onderlip)
harde bruller (tong)
kinneke-kennetjie-tien (kielie kleinding onder ken)
Trein ry 1
Tjoeke-tjoeke-tjoek! (vryf handpalms teenmekaar)
Hier ry die trein (plaas gebalde vuisies langs mekaar)
bult op tjoek-tjoek (strek arms op)
oor die berg tjoek-tjoek (staan op tone en rek)
bult af tjoek-tjoek (laat hande sak)
Handjies klap (1)
Handjies klap, koekies bak,
bring die meel,
nie te veel,
klits die eiers gou-gou-gou,
lekker eet ons nou-nou-nou
Handjies klap (2)
Handjies klap, koekies bak,
Oupa kom in die langpad aan.
Mientjie speel met die kind
in die bos,
Daniel maak sy skoenrieme los,
en Katjies skree:
Mieu, mieu, mieu, mieu, mieu!
Bronne:
* Trippe trappe tone – Die groot Afrikaanse Volksrympies – Pieter W Grobbelaar
* http://forum.afrikaanseforum.co.za/
* http://kinderwerf.co.za/kinderrympies/