Jongste aktiwiteit:

Knewel van die Kruger Wildtuin

Knewel van die Kruger Wildtuin

Sy hoë voorkop is nat gesweet toe die nagmerrie hom uiteindelik laat los en hy
stadig bewus word van die vars oggend lug in sy kamer. Hy skuif sy hand onder
sy kopkussing in en vroetel na sy selfoon. Vieruur.
Die dag ontwaak.
Die skrander Jason Blount is ‘n Wildbewaarder en vir die afgelope twaalf jaar is
hy werksaam in die Kruger Nasionale Wildtuin – een van Afrika se grootste en
gewilde reservate, geleë aan die Noord-oostelike puntjie van Suid-Afrika.
Amper komies voel-voel hy onder die ligte divan of sy ledemate nog dáár is. Ja
– arms én bene. Alles werk.
Vir ‘n oomblik sluit hy sy oë dankbaar. Die nagmerrie stoei vir ‘n
vastrapplekplek in sy gedagtes en hy skud met mening sy kop en swaai sy
voete van die bed af.
Nee.
Wat verby is, is verby…
Die gehawende en modderdeurdrenkte wildbewaardersbaadjie wat skuins oor
die stoel voor die lessenaar hang koggel hom uit, dwing hom om gister te
onthou. Selfs die vuil stewels in die hoek voor die deur steek lui tong uit.
Sal hy ooit kan vergeet?
Werktuiglik tap hy koffiewater in die kampketeltjie en draai die gas aan. Sy
groen oë vee deur die venster oor die rosige uitspansel. Daar is niks mooiers in
hierdie lewe nie. Die kef van die neushoring voël in die tak van die
kremetartboom voor sy hut ruk hom terug na die werklikheid. Nou is hy helder
wakker. Jason loer na die neushoringvoël wat vermakerig terugloer. Sy hart
word warm en hy glimlag skeef. Hoe lief het hy hierdie stuk aarde nie! Met
meer as vyf honderd voël spesies en huis van die Groot Vyf is die Kruger
Nasionale Park Eden vir elke natuurliefhebber!
Die kraak van die houtdeur verwilder die neushoringvoël en die geelbek gaan
sit dikbek in ‘n Apies doringboom ‘n entjie verder. In die verte stry ‘n klomp
kakelaars oor ‘n gogga in boombas. Jason vat ‘n sluk stomende koffie. Die
oggendlug is bedompig.

Swaar seisoenale reëns het die afgelope weke sy tol op die Kruger Nasieonal
Park geëis. Riviere oorstroom hulle walle en beskadig paaie, brûe, kampe en
piekniek areas. Baie toeriste kampe is afgesonder en kan slegs per helikopter
bereik word. Dis ‘n besige tyd vir die Natuurbewaarders van die park. Nie
alleen moet gesorg word dat die diere nie in gevaar is nie, die vakansiegangers
moet verskuif word na veiliger areas en die wat vasgekeer is moet gerusgestel
word en moet kos en water aangery word.
Alhoewel die meeste diere na hoër grond beweeg het, was daar onrus
aangaande die krokodille en seekoeie wat buite normale areas beweeg. Jason
werk die afgelope tien dae sestien uur skofte.
Daarom dat – in een onbewaakte oomblik – sy lewe gister aan ‘n draad gehang
het…
Jason woon in ‘n Wildbewaardershut in ‘n ongerepte deel van die park neffens
die groot Olifants Rivier waar toegang vir die algemene publiek verbode is. Dit
is sy werk om gedragsstudies van die krokodilbevolking in die park te doen, en
veral noudat die riviere oorstroom, die bewegings van hierdie massiewe
waterknewels noukeurig te notuleer – vir die veiligheid van almal wat naby die
rivier woon of kamp.
Jy kan nie ‘n krokodil met ‘n hoek en ‘n lyn vang om hom te verskuif na ‘n
veilger omgewing nie. Jy kan nie ‘n tou deur sy snoet bind of ‘n haak deur sy
kakebene steek nie. Krokodille kan nie makgemaak word, of met halsbande
getem word nie. Hulle is nie jou vriende of jou troeteldier nie. Daarvan kan
Crocodile Dundee jou oortuig.
Jy skuif nie die Knewels van die Kruger nie. Jy het ontsag. Jy loop wye draaie
om hulle.

Wat maak jy egter as jy oog-teen-oog so ‘n knewel onmoet in die donker van
die nag – reg voor die deur van jou hut? Wanneer jy uitgeput en honger na ‘n
sestien uur lange senutergende skof jou waaksaamheid net vir ‘n oomblik
verslap?
Net vir ‘n oomblik…
Toe die son ondergaan en die skerpheid van die natuur in drogbeelde
verander, was Jason reg voor die krokodil – nog voordat hy besef het hy is
daar. Voor die deur van sy hut het die Knewel van die Kruger hom ingewag. Op

sy rug was die skubbe ingeryg soos skilde – kliphard en ondeurdringbaar. Asof
geheel en al ontdaan van enige adrenalien, het Jason traag, asof bedwelmd,
gemerk hoe vas die skubbe aan mekaar is, sonder enige spasie tussenin. Dit
was al asof die Knewel wou hê sy aandete hom aandagtig moes bestudeer…
Toe die knewel ‘n oomblik nies het daar vonke uit sy neus geslaan en sy oë het
geblink soos die son wat opkom. Vir Jason het dit gelyk asof vlamme en
vuurvonke uit sy mond kom en of rook borrel vanuit sy neusgate, terwyl sy dik
stert heen-en-weer swaai.
Hy het op sy kort bene nader gewaggel, terwyl Jason in ‘n soutpilaar op die
stoep van sy hut verander het…
Vaagweg het Jason die omvattendheid van sy penarie besef. Sy geweer was
steeds in die bakkie – nou ‘n ewigeid weg van hom. Hy staan ongewapen teen
die Knewel van die Kruger.
Hy staan geen kans nie.
As so ‘n knewel uit die water opstaan, vlug die sterkste manne. Hulle is bang
om selfs deur die kragtige stert raakgeslaan te word! ‘n Swaard kan niks aan
hom doen nie, ook nie ‘n spies of sy jagmes nie! Yster maak net so min aan
hom soos strooi, en koper is vir hom soos verrotte hout!
Hy het nader gewaggel en steeds kon Jason nie beweeg nie.
Die skubbe onder sy pens was soos potskerwe en hy het nader geploeg soos ‘n
slee. Jason het weereens besef – daar is nie nog ‘n dier op aarde so vreesloos
soos hierdie Knewel van die Kruger nie. Hy is vir geen dier bang nie. Hy is die
koning van die diereryk…
Die krokodil was nou so naby dat Jason sy vorige verrotte maaltye in warm
walms kon inadem. Die naar het iewers onder in sy maag geborrel na bo.
In ‘n desperate poging om homself te bevry het hy sy hand ver teruggetrek in
sy baadjie en die mou slap laat hang voor die bek van die Knewel terwyl hy sy
oë toegeknyp het. Asof hy gewag het vir die teken, het die groot bek in ‘n split
sekonde oopgerek en die mou vasgegryp met ‘n ruk van die sterk nek. Die krag
in die kake het Jason se voete onder hom uitgeslaan en hy het soos ‘n stuk lap
op die grond neergeslaan. Instinktief het hy uit sy baadjie uitgerol en onder
die bakkie ingeskuif. Modderklonte het gekoek oor sy oë en in sy hare soos
wat hy oor die modder geskuif het. Die knewel het die wildsbaadjie nog vir ‘n

oomblik heen en weer gepluk voordat hy besef het hy is om die bos gelei – en
het waaksaam stil geraak. Die dik stert het vererg heen en weer geswaai.
Vinnig het Jason aan die ander kant van die bakkie uitgerol en gehardloop na
die kremetart boom voor die huis. Boomklim was nog nooit sy sterkste punt
nie, maar daardie aand het hy geklim soos ‘n wafferse Tarzan. Jason het gebid.
Hy het woordloos om genade gesmeek en die krokkodil gevra om hom tog
alleen te laat.
En eensklaps het die Knewel van die Kruger alle belangstelling in sy aandete
verloor.
Jason het slap in die boom van die kremetart bly hang en verlig gekyk hoe hy
verdwyn in die opkomende maan.
En agter hom was daar ‘n spoor van silwerwit modder in die maanlig.
Bewerig het Jason van die boom afgespring. Sy wildsbaadje was gehawend, ‘n
stille slagoffer van die aand. Die baadjie se toiings het die hele verhaal vertel.
Jason het die baadjie oor sy stoel in sy hut gehang en uitgeput en oorweldig op
sy bed neergeval…
Die laaste bietjie koffie trek met ‘n boog oor die stoep. Die sonsopkoms is
sierlik oranje. Hoe weet ‘n mens wat om die volgende draai van jou lewe lê?
Dankbaar vir nog ‘n gespaarde lewensdag draai Jason om en stap in sy hut in.
Hy beter gaan kyk waar die Knewel van die Kruger hom vandag gaan tuismaak.
Hy sal nie wil hê dat enige vakansieganger so ‘n ontmoeting in die nag moet hê
nie!
(Met eebare vermelding aan Job 41)




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed