Jongste aktiwiteit:

Om Te Lewe Is Om Te Ly. (1446)

Hoekom net ek?  Hoekom met my familie, my man, my kind?  Wat het ék gedoen?  Wanneer gaan dit ophou?  Wat nog? Ons ken almal dié vrae.  Daardie vrae sonder antwoorde wat jou in die middel van die nag in angssweet laat wakker skrik. Sinnelose vrae.

Nie een van ons is onbekend met die lyding van mense in die wêreld nie.  Moord, natuurrampe, ongelukke, oorloë, siektes en vele meer.  Ons lewe daarom sal ons ly. Al hierdie negatiewe dinge wat ons beleef dui aan dat ons lewe.  Dooie mense kan nie ly of voel nie….  die feit dat ek lewe beteken ek gaan, sonder uitsondering, een of ander tyd ly of seerkry.  Mense word aanmekaar gebind deur die dinge wat in die wêreld  gebeur.  Jy kan direk of indirek geraak word.  Smart en ongelukke vra nie vrae nie.  Dinge gebeur.  Partykeer kan ons dit verhoed, die impak verminder of totaal vryspring.  Tot volgende keer….  Soms kan ons absoluut niks daaraan doen nie.  Al die geld of wysheid in die wêreld kan jou nie heeltemal teen lyding vrywaar nie.

Ek slaan die boek toe en huil soos ‘n baba.  Auschwitz.  Titanic. Tsunami 2011.  7 Oktober 2023, Israel.  Tans die Nepal vloede. Geen mens kan sulke stories lees en onaangeroer bly nie.  Die absolute brutaliteit van die omstandighede en hartseer van daardie rampe verander jou.  Veral die stories van oorlewendes.  Dit het my verander. Niks en niemand is van die tragedies gevrywaar nie.  Nie ou mense nie, nie kinders nie, nie mans nie en ook nie vroue nie.  Dit skei murg van been en kaf van koring.  Laat ‘n mens besef wat is belangrik en wat nie.  My perspektiewe kan nooit weer dieselfde wees nie.  Maar ten spyte van die tragedies het ek geleer dat daar mense is wat die dood vrygespring het en daarom nuwe betekenis in hulle lewens gevind het. Hulle stories laat ander moed skep en gee hoop in verskriklike omstandighede.

Hoekom het juis hulle oorleef?  Viktor Emil Frankl ‘n Oostenrykse Sielkundige het bevind dat die mense wat wel oorleef het, het iets gehad wat hulle aan die gang gehou het.  ‘n Geliefde wat wag.  ‘n Onvoltooide taak.  ‘n Roeping waarna hulle nog streef.  Sulke mense het oorleef omdat daardie dinge hulle gemotiveer het om aan te gaan en te oorwin wat ook al gebeur.  Later gebruik hulle dit wat hulle geleer het om ander mense wat ook trauma beleef te onderskraag.

Nick Vujicic is gebore sonder ledemate.  Dit word die Tetra-Amelia Sindroom genoem.  Hoe verskriklik het ek gedink!  Watse kans het hy in die lewe?  Hoe gaan hy oorleef?  Hy vertel dat Hy  baie gely het onder onsensitiewe mense wat hom gespot het.  As dit my kind was sou ek alles vir hom gedoen het.  Maar dank God hy het wyse ouers gehad wat dit nie gedoen het nie.  Omdat hulle hom nie vertroetel of gepamperlang het nie het hy geleer om dit wat hy het te gebruik.  Vandag is hy wêreldbekend, reis oor kontinente, getroud met kinders.    Hy het ‘n onblusbare lus vir die lewe wat oorborrel wanneer jy na hom kyk.  Dit is aansteeklik.  Hy was die ommekeer in my eie lewe.  Ek het geen verskoning meer gehad om nie ten volle te lewe nie.  God het altyd ‘n plan.  Dit weet ek vandag onvoorwaardelik.  Maak nie saak wat gebeur nie.

Ons voel.  Ons haal asem. Ons beweeg. Ons lewe en lewe is sinoniem met lyding en pyn.  Hetsy vir jouself of ander.  Alles is nie elke dag net rose en maanskyn nie.  Dit gaan nie altyd goed met ons en ons geliefdes nie.  Hartseer is ‘n teken van lewe.  ‘n Teken van medelye en empatie.

Seerkry dwing die mensdom tot stilstand en refleksie.  Ek kan nie verby ‘n siek kind jaag, of ‘n uitgeteerde hond, of ‘n eggenoot wat ‘n lewensmaat aan die dood afgestaan het nie.  By daardie seerplekke moet ek noodgedwonge gaan stilstaan.  Daardie dinge bekwaam my as skrywer.  Party mense hardloop weg. Maar jy kan nie jou eie gedagtes totaal uitsluit nie.  Skrikwekkende beelde word in ons geheue ingebrand.  Dit oorval ons wanneer ons dit die minste verwag.

Ons is vesamelaars. Ondervinding en uithouvermoeë word deur swaar tye versamel.   Wanneer ons deur ‘n stryd gewoed het en aan die anderkant staan en terugkyk kan ons sien wat die lesse was wat ons moes leer.  Wanneer ons midde in die styd is, is dit onmoontlik om die uitkoms te sien, omdat lyding ons tydelik verblind.

Lyding veroorsaak konfrontaise in my eie hart. Dit verander wie ek is.  Pyn maak  my  ongeduldig en minder verdraagsaam teeroor ander.   Lyding is die rigtingwysers van my lewe.  Lyding dui aan dat iets verkeerd is en ek ‘n ander rigting moet inslaan.  Mense wat gely het bekom ander vaardighede waarvan hulle nie eers bewus was nie.  Iemand wat emosioneel gely het weet hoe ‘n ander persoon voel wat dieselfde moet deurmaak en kan hulle bemoedig en verseker dat wat ook al gebeur hulle dit sal kan oorkom.  Hulle is die draers van hoop aan ander.  Ligdraers in die wêreld.  Omdat húlle oorkom het kan ek ook triomfeer.   Of ek het oorkom en kan ander help.  Die beste lesse in die lewe word nie geleer wanneer die struikelblokke verwyder of omseil word nie maar juis wanneer ons daardeur moet worstel.  Ons besef nie altyd hoe sterk ons werklik is nie.  Nick Vujicic is my mentor.

Elke keer as ek ‘n styd oorwin het kyk ek terug en reflekteer oor wat ek geleer het sodat ek dit in die toekoms kan toepas.  Elke triomf of oorwinning is ‘n wapen teen die volgende krisis. Lyding onderskei ons van mekaar.  Ons leer dieselfde geskiedenis maar ons almal ondervind nie dieselfde trauma nie.  Daar is instinkte wat net geaktiveer word wanneer ons moet veg op oorlewing. Wanneer dit goed gaan leer ons niks.  Krisisse verskerp ons sintuie.  Ek neem alles rondom my waar. Ek kyk met ander oë.  Ek luister.  Ek voel.

Wanneer die beproewing verby is en ek terugkyk besef ek watter uitmuntende geleentheid vir lering dit was.  Die moeilike tye is vir altyd in my geheue gestoor.

Wanneer jy dit oorleef vind jy betekenis in jou eie lewe wat jy op geen ander manier sou bekom het nie.  Meer nog,  jy weet hoe om daardie dinge wat jou amper verwoes het met liefde in die lewe op ander toe te pas.

Lyding skep geleenthede vir ons om genade te bewys.  Daar moet mense wees wat swaar kry sodat jy jouself oor hulle kan ontferm.  Ek sien dit as ‘n kans wat ek gegee word om ‘n verskil te maak.   Daar moet mense wees met gebroke harte om jou kans te gee om te bid vir hulle.  Daar moet oorlog wees om vrede te waardeer.  Oorvloed is die vyand van lyding.  Oorvloed maak ‘n mens arrogant en verwaand.  Lyding bewerk gelykheid.  Dit onderskei nie tussen klas of geslag of welvaart of ouderdom nie.  Niemand is immuun teen lyding nie.  Dalk spring jyself fisieke lyding vry maar niemand wat mens is voel nooit die pyn van emosionele lyding nie.

Lyding is die toetse wat die lewe ons gee.  Dit is die enigste manier om die karakter van iemand te toets.  Omgee, liefde, geloof, liefde en hoop word gebore in swaar tye.  Die sintuie word tot maksimum verskerp en die menslike radar word gebruik om alles om jou op te tel.  Dinge wat jy voorheen as vanselfsprekend aanvaar het word nou buitengewone geleenthede om iets vir iemand anders te doen of gee.

Karakter word gevorm deur die dinge wat ons oorwin!

Lyding verander jou.  Daar is lewende dooies ook.  Mense wat al soveel gely het dat hulle sielsdood is.  Lyding is ook ‘n dief.  Dit steel die dinge wat jy nie gewillig oorgee nie.  Dit steel jou vreugde, jou lewenslus, jou simpatie.  Iemand wat erg pyn verduur is nie plesierig nie.  Hulle is kort van draad en humeurig.  Tensy jy dit nie self ook deurgemaak het nie verstaan jy dit nie.  Sulke mense lewe nie hulle bestaan net.  Hulle haal net asem omdat dit ‘n refleks is.

Stories van mense wat erg gely het en oorkom het is wat ek wil hoor.  Die verslaafde wat die bande van die verslawing gebreek het.  Die persoon wat al die gruwels van die oorlog oorkom het.  Mense wat lewend uit die kloue van Hitler en sy magte ontsnap het.  Daardie stories gee  my die moed om ook aan te hou en aan te gaan ten spyte van wat met my gebeur of gebeur het.  Dit is die oorwinningsliedere wat almal wil hoor.   Wanneer jy later terugkyk na die dinge waaronder jy moes ly verstaan jy hoekom dit nodig was.  Hoekom dit selfs noodsaaklik was….

To live is to suffer …., to survive is to find meaning in suffering.  Viktor Emil Frankl, Holocaust survivor Austrian Psychiarist.

Vera Booysen (1446)

 




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed