Jongste aktiwiteit:

n Nuwe Dag

Odette skuif vir die soveelste keer reg op haar stoel.  Hier, in die klein, intieme restaurantjie in ‘n cul de sac in een van Pretoria se boomrykste strate, draai sy haar koppie tee nog ‘n slag in haar piering rond.

 

“As jy eers wil wag, kan ons altyd herskeduleer. Daar is nie haas nie kind.”

 

“Nee tannie, ek weet nie of ek weer die moed sal hê as ek dit nie vandag doen nie.  Besides, dalk help my storie iemand anders wat nou is waar ek was.”

 

“Nou goed.  Ek gaan die opnemer hier op die tafel sit.  Maak of ek nie hier is nie.  Vertel vir my jou storie.  Ek gaan probeer om jou glad nie te onderbreuk nie.”

 

“Is reg tannie.  Dankie.  Ek weet net nie rerig waar om te begin nie.”

 

Odette kyk ‘n slag om haar en haal diep asem.  My naam is Odette Burger.  Ek het soos baie ander meisies in die stad, dood normaal groot geword.  My ouers is geskei toe ek in standard 7 was.  Dis mos maar die tyd dat tieners in elk geval ‘n bietjie rebels raak, maar ek was kwaad vir my ma ook.  Ek wou by my pa gaan bly, maar hy het gesê dis beter as ek by my ma bly. Die kwaad het later bitterheid geword.  Ek wou net hê die seer binne my moes weggaan.  Kan mens seer hê en terselfdertyd dood binne voel?

 

Ek het op daardie stadium met verkeerde vriende deurmekaar geraak en ons het elke naweek geparty.  Dit was eers dood onskuldig, ‘n bier hier, ‘n dagga zol daar.

 

Teen die tyd dat ek in matriek was, was ek totaal buite beheer.  Ek was meer as net rebels. Ek sou enige iets doen om enige vorm van gesag te ondermyn.  Van die pliggie wat altyd haar skoolwerk sou doen voor sy uitgaan, het daar niks oorgebly nie.  Ek weet nie hoe ek deur matriek gekom het nie.  Dalk was dit my ma se gebede.”

 

Odette vee haar lang blonde hare oor haar skouer.  Dan kyk sy so skielik met haar see groen oë na die joernalis voor haar, dat dié haar asem skerp intrek.

 

“Het tannie kinders?”

 

“Uhm, ja.  Ek het ‘n seuntjie van ses”

 

“Ek het altyd gesê ek wil nie kinders hê nie.  Die lewe is te wreed daarvoor.  Maar na skool het ek aangehou party.  Elke naweek was rowwer as die vorige een.  Soms het ek glad nie eers huis toe gegaan nie.  Ek het by vriende van my ma gewerk.  Daar was sommige Maandae dat die supervisor my eers huis toe gestuur het, want ek het gaan werk met dieselfde klere as dit waarmee ek Vrydag by die werk weg is.”

 

´Toe vind ek uit dat ek swanger is.  Ek was nie heeltemal seker wie die pa was nie en dit het ook nie saak gemaak nie.  Ek was beslis nie mamma materiaal nie.  Tog het iets binne my ingeskop en ek het effe rustiger gekuier.  Dis asof iets binne my, bedaar het.

Leah is gebore en hoewel ek van plan was om haar op te gee vir aanneming, kon ek nie.  Die eerste keer toe ek haar vashou, het ek geweet, sy verdien nie ‘n lewe by vreemdelinge nie.  Nie dat ‘n lewe saam met my vir haar enige vooruitsig was nie. Ek het vir ‘n rukkie nog by my ma gewoon, maar het toe besluit om na ongeveer drie jaar, my eie plekkie te kry.  Dit was moeilik en ek het my vriende gemis.

 

Weet tannie, geen mamma kyk ooit na haar klein dogtertjie en wens vir haar ‘n lewe van verslawing nie.  En tog, dis wat ek vir Leah gegee het.

 

Toe sy vier jaar oud was, het hulle haar weggevat.  Sy het by my ma gaan bly.  Elke keer as ek haar onder toesig gesien het, het sy verward gevra wat aangaan.´

 

´Mamma, wanneer gaan ons huis toe?”  Dit het my gebreek.  Dan het ek daar weggery en ‘n fix gaan soek.

 

Dit was nie lank nie, toe verloor ek my werk.  Verslawing is nie ‘n goedkoop speletjie nie.  My ma het gesê sy sal help met my huur tot ek weer ‘n werk het, maar dis nie asof dit op my prioriteitslys was nie.  Die huurgeld is in een naweek weg geblaas, gespuit of gesnuif. Ek het nie omgegee hoeveel mense ek langs die pad seermaak, of oor Leah nie, want wie wil ‘n mislukking soos ek vir ‘n ma hê. Ek was op ‘n spiraal na ‘n donker plek en hoewel ek dit besef het, was my enigste prioriteit om my volgende fix te kry. Dis al wat my laat vergeet het.

 

Teen die tyd dat ek my blyplek verloor het, was dit nie al wat ek verloor het nie.  Van my self respek het daar niks oorgebly nie.  Vir ‘n ruk het ek op my junkie vriende se banke gecrash, maar dit het ook net so lank gehou.

 

Tannie sien. ‘n Verslaafde sien niks en niemand oor as jy jou fix soek nie.  Ek sou sonder om te blik of te bloos ‘n dood onskuldige ou tannie op straat plat stamp en haar handsak gryp.  Self al was daar net R20 in, was dit al iets.  Die strate is ‘n rowwe plek en ek het altyd een of ander wapen gehad.  Selfs ‘n wheel spanner.  Dis nie asof mens jou gesig wil wys waar jy groot geword het nie.  Daar is te veel judgement.

 

Ek het my kind gemis.  Ek het my familie gemis, maar my siel het behoort aan poeiers en naalde en rookgoed wat nou my meester was.

 

Teen die tyd dat Leah 6 was het ek vir die vierde keer probeer om my eie lewe te neem.  Elke poging wat misluk het, het my nog meer soos ‘n failure laat voel.  Daardie oggend het ek op ‘n mat rondgekruip op soek na ‘n stukkie rock.  Ek verkies om te glo dat dit wat ek probeer rook het ‘n droë broodkorsie was, want die ander opsies was ondenkbaar.  Ek het ‘n woonstel gedeel met 15 Nigeriërs,maar hulle was uit.  Hoeveel ek gespuit het, weet ek nie.  Ek het in die hospitaal wakker geword.

 

Hulle het my uitgeplaas na ‘n rehabilitasie sentrum. Ek het nie hoop gehad nie.  Ek meen, ek was al in soveel.  By party plekke is ek ‘n fix aangebied nog voor ek my bed gesien het.  Hierdie plek was anders.

 

Die personeel en ander pasiente het vir 4 dae langs my bed gebly.  Ek was maar 35 kg en my organe was toast.  Ek kon nie self eet nie. Kon nie sluk nie.  Kon myself nie help by die badkamer nie.

 

Dag 4 het ek weer gevoel of die lewe begin terugkeer.  Ek het sere om my mond gehad van ‘n vuil hosepipe wat ek met nog vuiler mense gedeel het.  Hierdie mense het nie omgegee daaroor nie.  Hulle het nie gejudge nie.  Daar was soveel liefde.  Sonder bybedoelings.

 

Maar dit was nie maanskyn en rose nie.  Die duiwel wat my siel besit het, wou steeds elke dag ‘n tantrum gooi.  My liggaam wou dit gehad het wat hy ken.

 

Stelselmatig het ek met medikasie, berading en belangrikste van alles, geloof, weer myself gevind.  Ek kon regmaak met mense wat ek te na gekom het.

 

Ek is vandag weer amper ‘n heel mens.”

 

“Amper sê jy?”

 

“Ek sal altyd ‘n verslaafde wees, maar ek werk elke dag daaraan.  Dis nie soos ander siektes waar jy genees kan word nie.  Elke dag vir die res van my lewe, gaan ek moet veg as ek skoon wil bly.”

 

“En Leah?”

 

“Ek het na die rehab weer ‘n werk gekry by wonderlike mense wat my gehelp het om weer vir Leah terug te kry.  Dit was ‘n moeilike pad.  Hulle het my ook gehelp om ‘n blyplek en ryding te kry.”

 

“Tans studeer ek deeltyds.  Dis nie altyd maklik nie, maar ek het al moeiliker dinge oorkom.  Ek weet ek moet vorentoe kyk, want Leah verdien ‘n mamma op wie sy trots kan wees.”

 

“Odette, as jy iets kan sê vir enige iemand daar buite wat vasgevang is in die kloue van dwelms, of wat daaraan dink om dit te probeer, wat sal dit wees?”

 

Odette kyk ‘n oomblik lank na die bome en voel die sonnetjie op haar gesig.  “Niemand van ons is beter as ‘n ander nie.  Ons kry nie ‘n goeie of ‘n slegte lewe nie. Ons kry ‘n lewe.  Dis ons keuses wat dit goed of sleg maak.  Moet nooit sê, dit kan nie met my gebeur nie.  Winston Churchill het gesê, Sukses is nie finaal nie en mislukking is nie fataal nie : dis die moed om voort te gaan wat tel.”  In haar gedagtes besef Odette dat hy beslis nie weet hoe fataal verslawing kan wees nie.

 

Odette bly nog ‘n oomblik sit na die joernalis geloop het.  Sy drink nog ‘n slag die vrede in hierdie stil tuin in voor sy haar koppie agteruit stoot en opstaan.  Sy moet by die huis kom.  Sy het ‘n dogtertjie en ‘n verloofde wat vir haar wag.

 

 

 

 

Audrey Bierman

Augustus – Aanhalingsprojek

Winston Churchill – Sukses is nie finaal nie en mislukking is nie fataal nie : dis die moed om voort te gaan wat tel.

1555 woorde.

 




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed